toe, man!” Lydia gryp na een van die winkelpakkies.
“Los,” brom Cat, “dis net ’n paar goedjies van Victoria’s Secret vir vanaand vir my en Vic, en jy dink al klaar ek is die een of ander pervert!”
“Het ek miskien so iets gesê?”
“Nee, maar ...”
“Nee, maar niks,” terg Lydia, bly om ’n bietjie die verleentheid na Cat se kant toe te skuif, “wys my nou, toe, dan kan jy my help skottelgoed was.”
Cat is duidelik nog lank nie klaar met Lydia nie. Sy hou haar egter in totdat Lydia haar afsien by die voordeur.
“Baai, vriendin. Dankie vir die tee,” sê sy ewe onskuldig en trippel heupswaaiend die tuinpaadjie af op haar luiperdvel-stiletto’s.
Toe kom dit.
“Daar is niks soos ’n stukkie plumber’s butt om ’n girl se hormone bietjie op te jaag nie, nè, of wat praat ek alles?” roep sy oor haar skouer. Lydia dog sy bars ’n aartjie net daar waar sy op haar eie drumpel staan.
Selfs toe Lydia later die aand haar lekker sagte flennies aanhet en met die gewone dankbaar-dat-die-dag-verby-is gevoel haar duvet oopvou, bly die ongedurigheid in haar lyf spook. Hoekom weet sy nie. Dis nie asof sy nie gewoond is aan mans óf aan Cat se skerp tongetjie nie. Van albei het sy heelwat ervaring. Cat het tog immers nog nooit ’n geleentheid laat verbygaan om haar uit te torring nie. Sy bedoel niks daarmee nie, dis maar haar manier om te wys sy gee om.
En sy wat Lydia is, is mos min of meer immuun teen mans, dan nie? Nou waarom kan haar lyf nie sy gewone lê kry nie? Sy waardeer dan deesdae haar eie bed so baie.
Buiten die groter goed, soos die gerieflike studio waar sy na hartelus mag skilder sonder dat Bernard haar daaroor kwalik neem, is een van die klein vreugdetjies in haar lewe sedert sy by hom weg is die feit dat sy nie meer die bed met sy fiemies hoef te deel nie. Met hom in haar bed was daar geen rus of duurte nie. Sy obsessiewe gevroetel om die duvet met militêre presisie oor sy lyf te vou het haar mal gemaak.
En dan was daar die kussings wat loodreg moes lê, die bedlamp en sy leesbril, sy waterglas en stapeltjie sielkundehandleidings wat nooit heeltemal met die wiskundige formasie in sy kop wou saamspeel nie. Einde ten laaste moes hy dan weer opvlieg om seker te maak die voordeur is gesluit, die stoof af, of die agterste vensters almal toe. Partymaal was dit ’n druppende kraan. Dan moes die hele petalje hom weer van voor af afspeel, totdat Lydia van pure uitputting in ’n soort slaperige koma verval het.
Vandat sy weg is by Bernard, was dit tot dusver een van haar klein private heerlikhede om haar voete oor die koel laken te gly, haar uit te strek en die duvet lekker deurmekaar te krap en dit knus om die kontoere van haar lyf te vou. Maar wat is dit nou dat sy nie haar gewone lê kan kry nie?
Sy stamp knorrig die stapel kussings agter haar rug rond en gee die duvet so ’n ergerlike pluk dat sy haar voete ooptrek. Ten einde laaste gee sy op en trek moedeloos haar kopie van Alexander McCall Smith se The No 1 Ladies’ Detective Agency nader, wat sy met soveel vreugde in die plaaslike biblioteek opgespoor het. Sy geniet die man se boeke gewoonlik baie, al het Bernard snedige aanmerkings gemaak oor intelligente vroue wat drek lees, maar teen bladsy veertien besef sy dat dit nie dié keer vir haar die ding gaan doen nie.
Die prentjie in haar kop het niks te make met die boek nie. Nee, dis die beeld van die verduiwelse man wat haar wasbak kom regmaak het wat soos ’n stout film op haar retinas vasgebrand bly sit. Teen elfuur gee sy moed op, gooi die boek op die bedkassie neer, stel haar selfoonwekker en skakel vies die bedlampie af.
Die gepiep van ’n SMS maak haar skaars ’n halfuur later wakker. Sy dog eers dis oggend, toe vroetel sy die foon dronkerig van die bedkassie af en voel na haar leesbril.
Dis Bernard.
Mis jou erg. Wat nou?
Ag tog. Sou Bernard so wraggies al weer verwag dat sy hom moet oornooi? Een oomblik lank oorweeg sy dit. Sy is op stuk van sake nou wakker en die arme Bernard ... As hy maar net kon weet hoe swaar dit vir haar was om haar van hom los te skeur. As hy maar net kon weet hoe lief sy vir hom was ... Steeds is?
Haar vingers huiwer oor die gloeiende lettertjies op haar foon. Daar was tog goeie tye. Veral aan die begin. Bernard was haar alles. Doktor Bernard le Fleur, kliniese sielkundige en hoogaangeskrewe senior lektor by die sielkunde departement van die Universiteit van Kaapstad. Sy was so trots op hom en kon aanvanklik nie glo nie dat hy haar, ’n eerstejaarstudentjie in visuele kuns, uitverkies het bo die stringe hubare vroumense – ook ’n hele paar op sy personeel – wat hul oogtande en etlike ander liggaamsdele wou gee om hom nader te hark.
Wil jy oorkom? tik sy haastig, maar sy kom nie so ver om “send” te druk nie. Sy kan hom voor haar geestesoog oproep, daar in die halfleë huis in Oranjezicht. Sy skraal, sensitiewe vingerpunte wat vat-vat na sy goedjies langs die bed. Die sexy groewe om sy smal lippe. Die bleek, asketiese gelaatstrekke met die donker, broeiende oë. Sy swart hare is seker deurmekaar.
Nee! Wat makeer haar? Dis die ou Bernard aan wie sy dink. Die een op wie sy verlief geraak het die eerste dag toe sy hom in die hoofgebou van die universiteit sien verbystap het, met sy kenmerkende kromskouer-hinkstappie en die diep plooi tussen sy oë. Sy was onmiddellik absoluut gefassineer deur die enigmatiese man. Hier was die diep denker, die dromer na wie sy gesoek het. Sy was daarvan oortuig dat sy hóm wou hê en niemand anders nie.
Ongelukkig was sy nie al een wat so gedink het nie, en Bernard het dit goed geweet. Ook dat hy sy werk kon verloor as hy sou lol met ’n student. Maar dit alles het bygedra tot die opwinding van hul liefdespel. Die skelm ontmoetings. Die openlike bewondering waarmee elke derde vroumens op kampus na hom gekyk het, terwyl Lydia geweet het dat sý die een was wat in sy arms mag lê, het haar tegelyk waansinnig en permanent op hitte gemaak. En sy was pas agttien.
Presies so oud soos hul meisiekind, Tania, die resultaat van hul stomende klandestiene sessies in sy woonstel, besef Lydia weereens. Geen wonder die kind ... Wag, laat sy liewer haar gedagtes hokslaan. As sy eers oor Tania en haar dinge begin wroeg, slaap sy nie weer nie.
Haar vinger huiwer oor die knoppies. Nee. Die Bernard wat sy geleidelik leer ken het ná hul troue, was helaas ’n heel ander persoon. Wat sy aanvanklik as die puntenerigheid van die sielvolle akademikus bewonder het, het geleidelik sigself geopenbaar as ernstige obsessief-kompulsiwiteit. ’n Sprekende voorbeeld van die stereotipiese wounded healer, soos Cat hom dadelik opgesom het. Sy wat Lydia is, het haar bloedig vererg vir haar vriendin, al moes sy later erken dat Cat, soos altyd, reg was. Sy dwangneurose het haar daaglikse brood geword.
Hoe sou hy en sy neuroses sonder haar regkom? Wie sou sy pantoffels vir hom aangee wanneer hy oortuig voel dat die vloer gekontamineer is met wie weet watter kiem? Wie sou die deurknoppe vir hom met Dettol-water afwas? Hoe sou hy by die werk regkom sonder dat sy darem tuis sake vir hom reghou?
Haar hart krimp van verlange na hom, bekommernis oor hom. Dan onthou sy weer sy rou gewaste hande en sy bloedrooi geskropte lyf wanneer hy uit die stort geklim het nadat hulle liefde gemaak het. Dit was dalk die laaste strooi: dat hy alles van haar, insluitend haar geur, dadelik van sy liggaam moes afskrop voor hy kon kalm word. Dit, en Tania wat moes kant kies.
Liewer nie, Bernard, besluit sy uiteindelik. Dit help nie. Al is sy hoe lief en jammer vir hom, sy sien nie kans nie. Nee. Nie om alles weer van voor af te moet beleef nie.
Nee.
Lydia sit haar selfoon neer en woel die duvet weer agter haar rug in. Bernard se angstige gesig terwyl hy worstel om sy obsessies hok te slaan, bly by haar. Sy weet presies hoe hy daar op die rand van hul dubbelbed sit, te bang om sy skraal, kaal voete op die grond te laat sak omdat hy soos gewoonlik nie weet waar sy pantoffels is nie, en sy is nie daar om te help nie.
Die hartseer dreig om haar te oorweldig en sy sluk swaar aan die knop in haar keel. Tog raak sy geleidelik rustig en die beeld van Bernard wat agter haar ooglede skuil, word stadig verplaas deur dié van die harde, bruingebrande rug van ’n man in ’n wit T-hemp wat voor haar wasbak kniel. Die laaste ding wat sy sien voordat sy wegdommel, is die fyn oliestrepie op sy wang toe hy omdraai