miniatuur-babasaal, ’n kwart so groot soos ’n volwasse ruiter s’n. Dieter verstel die stiebeuels tot hy seker is Albie se voete het ’n behoorlike greep om die ponie se buik. Ook Albie se een hand is in die perd se maanhare en die ander een aan die saalknop. Dan lei hy die ponie aan die teuels uit die stal, op in die smal gang en tot buite op die grasperk.
Albie is sprakeloos. Hy geniet elke oomblik van die nuwe avontuur, meer gesteld daarop om die ponie se nek te streel as om sy oom en Mamma met sy vertoning van dapperheid te beïndruk.
Dieter stap met Albie en Piet-perd ’n draai oor die grasperk, om die stalle en die motorhuise. Hy kom voor Rothea tot stilstand.
“Sê ekskuus,” terg hy.
Rothea besef sy het onnodig soos ’n viswyf te kere gegaan. Dieter is verbasend goed met sy hantering van kleuters. Hy sal ’n goeie pa wees, dink sy met hartseer en ’n pynlike leemte in haar binneste. Hy sal trou en seker kinders van sy eie hê, maar dan is sy lankal terug op Upington, terug in haar eensame woonstel. Hierdie tydjie op Schloss Hoffnung sal net ’n herinnering wees, brandhout vir die lang winter wat troosteloos voor haar uitstrek.
“Ekskuus.”
’n Vreemde klank in haar stem laat Dieter ondersoekend na Rothea kyk. Hy knoop die ponie se teuels aan ’n tak en draai terug na haar.
“Rothea?” vra hy en plaas sy wysvinger onder haar ken om haar gesig op te lig. “Wat is verkeerd?”
Rothea draai haar kop vinnig weg, te trots dat hy haar hartseer en verlange in haar oë moet lees en sy eie afleidings maak.
“Ja, goed. Dis 3-1.”
“Dis nie wat ek gevra het nie.” Dieter trek haar nader. Met sy handpalm teen Rothea se wang dwing hy haar gesig weg van die skaapkrale en die stalle.
’n Vorige keer het Dieter gesê haar gesig is ’n spieëlbeeld van haar gedagtes. Rothea is bang hy kan sien watter verlangens in haar gemoed is. Toe hy sy arm om haar skouers sit, rem sy weg.
“Waarheen wil jy gaan? Kom hier,” beveel Dieter.
“Nee! Moenie! Ek moet Albie huis toe neem. Hy moet gaan ... gaan slaap. Hy slaap elke middag. Soos by die kleuterskool. Anders raak hy moeg en iesegrimmig en dan wil hy weer nie ... nie eet nie. Hy moet ’n bietjie rus van twee tot drie. Of drie tot vier ...”
Dieter se arm is sterk om haar skouers toe hy haar terugtrek. “Ek het voorheen gesê jy praat veels te veel ...”
Rothea se hart klop met sulke wilde hamerslae teen haar ribbes dat sy seker is Dieter moet dit hoor. Sy druk haar hand teen sy bors en stoot sy arm weg.
“Ek is nie Ilse nie!”
“Ek weet. Dink jy my sig is so swak dat ek nie een vroumens van ’n ander kan onderskei nie?”
Rothea stoot harder teen sy bors en wikkel haar skouers onder sy arm los. Toe hy haar aan die elmboog wil neem, staan sy vinnig tru.
Dieter probeer nie verder nie. Sy hande bly slap langs sy sye hang en sy mondhoeke lig in ’n spottende glimlag.
“Is jy bang vir my? Hoekom soveel teëstand? Ek is nie besig om jou te verlei nie, Rothea Beukes. Wat het jy gedink? Dat ek jou wil soen? Al wat ek wou doen, is om uit te vind hoekom jy in trane wil uitbars. Wat is verkeerd? Reken jy nog Albie is te klein om op ’n ponie se rug te ry?”
“Nee.”
“Moes ons met middagete vir jou gewag het? Carl het gesê jy is nie honger nie. Of is dit jou kamer? Het Klara vergeet om vir jou handdoeke te gee?”
“Ek het laat ontbyt geëet en ek het handdoeke, dankie.”
“Nou wat skort dan? Wil jy my nie sê nie, dan sorg ek dat dit regkom?”
Regkom? Hoe kan dit, as hy met Ilse gaan trou en sy moet weggaan Upington toe?
“Dis net dat ... dat Albie moet gaan slaap. Dis al halfvier.”
Dieter kyk op sy horlosie. “Dis nou twintig oor drie.”
Rothea het ’n raaiskoot gewaag, gedink dis later. Dis asof sy ure lank hier by Dieter gestaan het en sy voel nog sy palm teen haar wang, sy arm om haar skouers ... Hoekom kon sy Carl nie verkies het nie? Carl hou van haar en vind haar aantreklik. Met Carl sou alles soveel makliker en minder pynlik gewees het. Dalk selfs moontlik.
“Kom ons begin van voor af,” stel Dieter voor. “Ek sal nie aan jou raak nie. Kom staan hier by my en vertel my hoekom jou oë netnou soos dié van ’n vasgekeerde wildsbok gelyk het. Is dit Albie? As jy wil, kan jy ’n paar weke langer bly. Selfs maande. Susan sal jou woonstel en jou werk oppas.”
“Ek wil nie weke lank bly nie.”
“Ek weet ons het anders besluit, maar wil jy dan liewer ’n volgende vakansie by Albie kom kuier?”
“Nee. Dankie, Dieter, maar wanneer ek weggaan, wil ek nooit terugkom nie.”
Dieter wens hy kon weet wat agter die koppigheid en Rothea se weiering skuil. “Ek is jammer as jy ongelukkig by ons is. Sal Salamander help?”
“Wat is Salamander? Salf of medisyne?” vra Rothea.
Dieter kyk nog ’n oomblik na die hartvormige gesig met die ry sproete oor die neus. ’n Fyn, gevoelvolle gesig, skraal en vroulik-mooi. Maar met die tekens van onlangse trane ...
“Kom kyk wat Salamander is, Rothea.”
Dis ’n vosperd, mooier selfs as die ponie.
“Kan jy ry?” vra Dieter.
“Toe ek vyf was, het ek een keer by die dieretuin op ’n perd se rug gery.”
“Dan kan jy nie ry nie. Salamander is nie ’n ponie nie en om van sy rug af te val, is verder as van Piet-perd s’n. Jammer, ek is nie beskikbaar om jou te leer nie, want hulle sê dis erger as om saam met ’n vroumens muurpapier te plak of haar te leer motor bestuur. Ilse sal by my oorneem.”
Salamander is skielik minder mooi en Rothea is nie lus om die bles teen sy voorkop te streel nie.
Dieter kyk vraend na haar. “Hoekom nie? Ilse is ’n uitstekende ruiter wat al trofeë gewen het, onder meer vir onderrig en dressering. Sy sal beter weet om jou touwys te maak as ek of Carl.”
Rothea wil nie. “Ilse is seker baie besig en ek wil nie op haar tyd inbreuk maak nie.”
“Al wat sy bedags doen, is handdoeke koop en tafeldoeke borduur. Om jou te help sal vir Ilse afleiding wees. Goeie ontspanning, wat sy nodig het.”
Hoewel meer subtiel gestel, sluit Dieter se opmerking aan by wat Carl gesê het. Emosioneel en soms ongebalanseer. Goeie afleiding en ontspanning? Sodat Ilse besig sal wees en van Albie vergeet? Nie weer die bal aan die diep kant van die swembad gooi nie?
Rothea besef sy is oorkrities, want sy het geen bewyse nie. Soos Carl volgehou het, kon dit die hond of die wind gewees het. En wanneer Ilse haar leer perdry, sal hulle weg van die plaas af wees, terwyl Hanna ’n oog oor Albie hou.
“Of val ’n perd in dieselfde kategorie as ’n been en ’n suigstokkie?” wil Dieter weet.
Waarvan praat Dieter? Watter kategorie?
“Onthou jy nie?” terg hy. “Jy het my daarvan beskuldig ek kan ’n hond met ’n been omkoop of ’n baba met ’n suigstokkie, maar gewaarsku jy is van sterker stoffasie gemaak.”
“Dit was minder mooi van my,” erken Rothea. “Dankie vir die gebruik van Salamander.” Sy haal ’n keer diep asem. “Goed. Sal jy by Ilse hoor of sy kans sien?”
“Ek het klaar by haar gehoor. Ilse wil met jou vriende wees, Rothea. Sy is baie alleen en sy hou van jou. Sy wil bitter graag jou vriendskap wen.”
Dus het Ilse daarin geslaag om Dieter ook te bluf, soos vir Carl. Rothea sê niks nie, knik net.
Dat Ilse alleen is, is korrek. Carl en sy ma is seker nie genoeg