Ettie Bierman

Ettie Bierman Keur 8


Скачать книгу

nie. Dieter vermaak? Hom terugbetaal oor ’n vorige potjie wat hy en sy broer oor ’n nooi geloop het? Of was Carl ernstig, dat hy meer as vriendskap vir haar voel? Dié dat hy uitdagend teenoor Dieter was en haar nie wou laat gaan toe sy op ’n stoel wou gaan sit het nie? Rothea weet nie. Haar hoofpyn van Vrydag is terug en sy het min lus vir Ilse en haar eerste les in perdry.

      Ilse is laat. Dis tien oor nege toe Rothea perdepote hoor en Ilse op ’n groot swart hings verby die stalle galop. Rothea is seker die Duitse meisie het haar gesien, dog sy groet of wuif nie en ry voort huis toe.

      Halftien kom. Kwart voor. Tienuur ... Rothea weet nie of van haar verwag word om agter Ilse aan huis toe te loop nie. Sy wil nie steur as Ilse eers ’n rukkie by Dieter wil kuier nie.

      Elfuur kom Ilse eindelik saam met Dieter deur die tuin aangestap. “Rothea?” roep sy. “Waar kan sy wees, Dieter? Ek soek die hele wêreld vol na haar, maar ek kry haar nie. My keel is hees geroep en ek was al drie keer by die stalle. Dink jy sy wil nie meer gaan ry nie? Dan moes sy mos net so gesê het, pleks van weg te kruip en ons vir die gek te hou.”

      “Hier’s ek,” sê Rothea kortaf.

      Dieter lyk verbaas toe hy haar sien staan. “Waar was jy die hele oggend?”

      “Ek het by die stalle gewag, van vyf voor nege af.”

      Ilse laat haar nie van stryk bring nie. Sy lag ongeërg. “Jy het seker agter ’n pilaar of om die hoek gestaan en nie gehoor ek roep nie. Alles reg, Rothea. Ek is nie haastig nie en kan begryp dat jy sku is. Ontspan en moenie bang wees nie. Ek is goed met beginners.”

      “Ilse is geduldig en jy hoef nie vir haar skaam te wees as jy sukkel nie, Rothea,” moedig Dieter haar aan. “Jy sal gou regkom.”

      Ilse kyk met ’n glimlag na Rothea se verbleikte seilbroek. “Het jy nie ’n rybroek nie?”

      “Nee.”

      “Ek sou met die grootste plesier vir jou een van myne leen, maar die broek sal vir jou te klein wees. Toe maar, dis niks nie, jy lyk piekfyn en ons sal seker nie ander mense langs die pad kry nie.”

      “Geniet die les,” groet Dieter. “Ek het ’n vergadering by die boerevereniging. Sien julle om eenuur.”

      “Hans, hou vir haar die stiebeuel vas,” beveel Ilse terwyl sy liggies op haar perd se rug wip en Rothea se gesukkel suur beskou.

      Toe die Mercedes verbykom, wuif Ilse vrolik. Sy hou Salamander aan die toom vas en laat die twee perde rustig stap.

      “Waaroor het jy en Dieter Vrydag so lank by die stalle gesels?” vra sy koel.

      Rothea besef Dieter en die huismense kan hulle sien, maar nie hoor nie ...

      “Vrydag?” Rothea dink na. “Oor Albie en sy hond en ponie. Oor Upington, Salamander en of ek kan perdry.”

      “Upington en wanneer jy daarheen teruggaan?”

      “Ja.”

      “Wanneer gaan jy?”

      “Ek het nog nie besluit nie.”

      “Jy is ’n las vir die huismense. Jy stoot Mutti se bloeddruk op en arme Dieter kan nie sy werk doen as jy gedurig om hom rondhang nie. Die idee was dat jy net die naweek kuier. Om langer van die Richters se gasvryheid misbruik te maak, is dikvellig. Die kind het jou nie nodig nie.”

      Dis nie vir Ilse om te besluit of Albie haar nodig het of nie, dink Rothea. Wat praat sy altyd van “die kind”? Albie het mos ’n naam.

      Ilse spoor die perd aan en kies koers kloof af, in die rigting van die rantjies.

      “Is dit al waaroor jy en Dieter gesels het? Hoekom het dit dan gelyk of Dieter baie naby aan jou staan?”

      Rothea wil haar vervies, maar sy is bang die onskuldige Albie sal dit dan weer ontgeld.

      “Hy het nie naby my gestaan nie.”

      “En hoekom wou jy nie agterna kom koffie drink nie? Wou jy my vermy omdat jy skuldig gevoel het?”

      “Ek was nie dors nie, dis al.”

      Ilse kyk skepties op. “Ná jy ook nie middagete gehad het nie? Moenie dink ek is onnosel nie. En moenie my onderskat nie. Het Dieter Salamander vir jou gegee of net geleen?”

      “Wat sou ek met ’n perd in ’n woonstel maak as hy hom vir my gegee het?”

      “Dis wat ek ook gewonder het. Tensy jy nie beplan om weer na jou woonstel terug te gaan nie ...”

      Rothea vryf Salamander se ore en antwoord nie. Sy moes nie gekom het nie. Sy kon haarself leer perdry het of dit gelaat het.

      “Carl sê die naweek toe Dieter jou op Upington gaan besoek het om oor die kind te praat, het julle die hele Sondag saam deurgebring. Wat het julle gedoen?”

      “Ons was by die Rosetuin.”

      Die paadjie word te smal vir twee ruiters langs mekaar. Ilse ry op ’n drafstap vooruit.

      “Alleen?” roep sy oor haar skouer uit.

      “Albie en honderde ander mense was by.” Rothea probeer konsentreer om saam met die perd se ritme te beweeg. Op te wip wanneer sy rug opkom en af te sak saam met hom. Van ’n les is geen sprake nie. Of sy regkom of nie, kan Ilse nie skeel nie.

      “Is jy nog bo?” Dis eerder ’n beskuldiging as ’n vraag.

      Rothea byt op haar tande en klou vas.

      Hulle ry onder ’n digte plaat soetdorings deur, met hier en daar ’n kiepersol en aalwyne wat soos oranje kandelare tussen die rotse blom. Rothea het egter nie kans om die uitsig of die natuurskoon te waardeer nie. Om op die sweetvos se rug te bly en vir laaghangende takke te koes, verg al haar aandag.

      Toe sy om die draai tussen die twee klipkoppies uitkom, wag Ilse haar in. Die groot hings staan dwars getrek sodat hy die paadjie versper en Ilse se hand skiet uit om Salamander aan die teuels tot stilstand te dwing.

      “Reg, nou kan ek en jy praat,” lig sy Rothea in. “Jy is nie so onskuldig soos jy probeer voorgee nie, Dorothea Beukes. Ek ken jou soort, jou en jou suster se soort. Goedkoop flerries, net daarop uit om ’n man te vang, al steel julle hom van ’n ander meisie. Dieter is ryk en boonop aantreklik, nè? ’n Dodelike kombinasie vir ’n gewetenlose fortuinsoeker, nè?”

      Rothea is spierwit. “Wat insinueer jy?”

      “Moet ek dit duideliker stel?” Ilse ruk Salamander se toom nader sodat sy Rothea in die gesig kan kyk. “Ek sal nie toelaat dat die geskiedenis hom herhaal nie. Dieter Richter is myne. Gehoor? Barbara was ’n groter dief as Ernst en jy aard na haar. Ek waarsku jou: bly weg van Dieter af.”

      Rothea se weerstand is skielik laag. Ter wille van Albie het sy kalm gebly. Maar wat Barbara betref, kan sy nie stilbly nie. Barbara is dood en nie hier om haar naam te verdedig nie.

      “Jy praat van soort? Barbara was tien van jou soort werd. Sy was eerlik en fatsoenlik. Warm en liefdevol en verfynd. Geen wonder Ernst het jou gelos om met haar te trou nie. Dieter sal ook sy fout uitvind. Jou ware kleure herken en ook baie vinnig van jou ontslae raak.”

      Ilse se kop ruk op en haar oë blits. “Feeks!” sis sy. Sy pluk ’n karwats uit haar kamas en haar arm swaai in ’n boog omhoog.

      Rothea verwag sy gaan die hou deur haar gesig kry en keer met ’n opgeligte hand vir haar oë. Maar die karwats swiep by haar verby om Salamander met ’n venynige slag teen die nek te tref. Terselfdertyd skop Ilse hom hard in die lies en los die toom.

      Van skrik runnik die sweetvos skril. Sy oë rol wild in hul kasse en hy spring paniekbevange weg. Rothea val skuins oor sy nek, haar verskrikte greep dwarsoor die plek waar die karwats sy nekvel oopgekloof het. Die nuwe steekpyn wat deur sy nek brand, vererger die perd se angs. Hy byt die stang vas en skuim tou uit sy trillende neusgate. Sy bene pomp vinniger en sy hoewe vlieg oor die grond in ’n poging om die brandpyn agter te laat. Graspolle, klippe, gate en sandkolle trek in ’n