Nee. Ek het nie eers besef hier ís ’n glasdeur nie. Was Albie buite?”
“Buite, op die reling,” beaam Dieter grimmig. “Of het jy ook nie geweet daar is ’n reling nie, Carl?”
“Nee, ek het geweet.” Carl sit sy bord neer, die skyf koek en roomtert onaangeraak. “Wat ek nie geweet het nie, is dat Albie buite was en probeer opklouter het. Mensdom, dis hoeveel meter! Es mach überhaupt nichts! Ich fühle mich fiebrig.” Ter wille van Rothea slaan hy weer oor na Afrikaans. “Dit maak glad nie saak nie. Ek voel skoon duiselig. Het hy nie afgeval nie?”
Dieter wys na die ongedeerde Albie, wat ’n voorliefde vir roomtert ontwikkel het, veral om dit met sy vingers te skep en af te lek.
Rothea laat hom begaan, nie in ’n toestand om hom tafelmaniere te leer nie. As hy afgeval het, het hy nooit weer roomtert of sjokoladekoek of ’n vistrein geëet nie, mymer sy. Dit was ’n ongeluk. Blote nalatigheid, sê sy vir haarself. Maar in haar hart weet sy dit was nie. Soos dit ook nie die wind of die hond was wat Albie se bal in die swembad laat beland het nie.
Die vensters het knippe wat maklik oopgemaak kan word, selfs deur ’n kleuter. Daarom het Dieter diefwering laat aanbring. Die glasdeur is egter moeiliker. Albie kan nie ’n sleutel draai, en ’n Yale-slot en terselfdertyd ’n deurhandvatsel nie. Sy koördinasie is nie goed genoeg nie. Dit moes ’n grootmens gewees het. ’n Volwassene wat weet kleuters hou van nuwe ervarings en die balkon sal Albie na buite lok; wat weet die reling is smal; wat weet die pure seun, die twee-en-’n-halfjarige Albie sal nie die gevaar besef nie en probeer bo-op klim.
Wie het ’n grief teen Albie? Wie haat ’n klein, onskuldige ou seuntjie genoeg om hom te wil verongeluk?
Rothea voel siek en naar, haar verstand afgestomp. Haar nagmerrie-val en seer skouer is vergete.
Ilse Bauer? vra sy instinktief. Sy het vroeër gewonder wat Ilse wou bereik deur Salamander op loop te jaag. Of Ilse wou hê sy moet afval en haar nek breek, sodat sy uit die pad kan wees en Ilse Dieter vir haarself kon hê, sonder kompetisie. Nou kom ’n tweede vraag by haar op: Wou Ilse haar wegkry sodat sy vinnig kon terugkom huis toe, na Albie, sonder dat sy tante by is om ’n wakende oog te hou?
Carl het gesê Ilse was van kleins af emosioneel ongebalanseer. Wat met haar en Ernst gebeur het, kon haar toestand vererger het, in so ’n mate dat sy steeds ’n grief teen Ernst koester. Teen Barbara ook. Maar veral teen hul kind ...
Rothea is nie seker wanneer sy en Dieter beplan om te trou nie. Maar sy voel aan Ilse hou nie van kinders nie. By die swembad was dit ook baie duidelik dat Albie op haar senuwees werk. Wanneer sy haar intrek as die nuwe mevrou Richter van Schloss Hoffnung neem, sal sy nie ’n lastige kleuter in die huis verwelkom nie; een wat raas en lawaai, stories wil hoor, met koek en koeldrank mors en haar irriteer nie; een met wie sy Dieter moet deel nie. Haar eie kinders eendag dalk. Maar nie ’n ander s’n nie. ’n Ander man s’n, ’n man wat haar veronreg en in die steek gelaat het. Is dit genoeg rede dat sy vroegtydig van Albie ontslae wil raak?
“Ek het uitdruklike bevele gelaat dat die glasdeur altyd gesluit moet wees,” sê Dieter skerp, “en dat Albie in geen omstandighede op die balkon toegelaat mag word tensy Rothea, Hanna, ek of iemand anders by is nie.”
“Herr Richter, ek is die skuldige een,” erken Hanna.
Olga Richter se kop draai van die een mens na die ander, asof sy nie in staat is om te verstaan wat aan die gang is nie. Maar die ander vier mense verstar ná Hanna se bekentenis. Rothea weet nie of haar vrees en agterdog ook by hulle opgekom het nie. Saam met hulle staar sy gespanne na die Duitse vrou, wat haar hande inmekaar wring en heel duidelik diep ontstig is.
“Jy?” Dieter se vraag het die skerpte van ’n sweepslag.
“Toe sy mamma vanmôre met die perd weg is, het die kleine vreeslik oor haar gehuil, mein Herr. Om hom te troos, het ek gesê ons sal ’n teepartytjie hou, met sy Grossmutter grootmoeder en Onkel Carl en Onkel Dieter as hy betyds terug is van die vergadering. Met koek, tee en koeldrank. Asseblief, ek was besig om tee te drink en ... en ek het geslaap ... nie gesien die deur is nie gesluit nie. Die Herr kan my maar wegjaag ...” Sy begin hygend huil, druk haar voorskoot teen haar gesig en vlug weg na haar kamer.
“Nee, dit was nie die arme Hanna se skuld nie, want sy het dit goed bedoel en sy was te besig om na die deur op te let,” sê Rothea. “Sal ek agterna gaan en haar gerusstel?”
Dan kan sy terselfdertyd die geleentheid kry om by Hanna uit te vind of Ilse vanoggend in Albie se kamer was, dink Rothea. Dalk terwyl sy by die stalle gewag het. Of miskien later, toe Ilse teruggekom het om Dieter en die honde te kom haal om na haar te gaan soek.
“Nee, bly,” keer Dieter. “Jy het self ’n onaangename ondervinding gehad en ek sal later met Hanna praat.”
“Gode sy dank dat Albie ongedeerd is,” sug Ilse, self bleek geskrik. “Hier kon vandag lelike drama plaasgevind het as ons ’n minuut te laat was.”
Rothea hou haar onderlangs dop. Goeie toneelspel? Of is die bleekheid nog as gevolg van haar woedebui in die kloof? Miskien omdat sy so styf teen haar verloofde op sy perd se rug gesit het, sonder dat Ilse iets daaraan kon doen?
“Ek dag die drama was dat Rothea van ’n perd afgeval en byna haar nek gebreek het,” merk Carl op. “Sy is nog springlewendig. Wat het gebeur? Was prins Valiant betyds op die toneel met sy wit perd en sy honde, om ’n dame in nood te hulp te snel?”
“Sy was halfpad terug huis toe, duskant die rantjie, toe ek en Dieter haar gekry het,” antwoord Ilse. “Sy het van Salamander afgeval, maar gelukkig in ’n sandkol.”
“So het ek afgelei. Salamander het netnou ruiterloos hier aangedraf gekom, skuimbevlek en met loshangende teuels. Ek wou inderhaas in my Ferrari spring en Rothea se lewenslange dankbaarheid gaan verdien, maar ek het geweet my bekwame ouboet sal die situasie goed onder beheer hê. Hy het klaarblyklik ook.”
“Is Salamander hier? Het hy self huis toe gekom?” wil Rothea weet.
“Ja. Hy weet waar sy kos en water is.”
Rothea spring op. “Ek wil hom gaan help.”
“Help?” Carl aarsel ’n oomblik. “Praat jy van die nekwond? Hans het kom sê. Toe maar, Hans sal hom roskam en versorg. Hy en sy seun weet meer van perde en honde en lammers af as ’n veearts.”
Rothea sien dat Dieter op ’n vreemde manier na haar kyk en sy kan raai wat hy dink. Dat sy ’n wreedaard is, dat sy diere mishandel ... met ’n karwats ’n perd se nek oopslaan ...
Rothea wil verduidelik wat werklik gebeur het, maar nou is nie die tyd nie, ook nie terwyl almal by is nie. Sy onthou Ilse is Dieter se verloofde, die meisie wat hy liefhet en met wie hy gaan trou. Sal hy vir haar dankie sê as sy sy aanstaande vrou swartsmeer en haar in ’n swak lig stel? Of sal Dieter glo sy vertel leuens en minder van haar dink?
“Wel, Rothea, nou kan jy perdry,” spot Carl. “Hulle sê ’n mens kan nie voor jy ’n slag goed afgeval het nie. Hoe het dit met die les gegaan?”
“Nie te goed nie.”
“Swak,” erken Ilse kamma verleë. “Die mislukking was aan my te wyte, want Rothea het nie genoeg vertroue in my gehad nie. Sy was heeltyd te bang vir die perd. Ek het haar probeer gerusstel dat Salamander ingebreek is en Dieter nie vir haar ’n wilde perd sou gegee het, wetende sy is onervare nie. Maar ek dink Rothea was steeds bang die sweetvos byt of skop haar.”
“Byt of skop?” Carl kyk ongelowig na Rothea. “Salamander? Hy is die sagmoedigste dier in die stalle.”
Rothea wens hulle wil oor ander dinge praat. Oor Albie. Probeer vasstel wie die glasdeur oopgemaak het.
“Rothea is ’n dorpsjapie, Carl,” verduidelik Ilse. “Sy het nie soos ek en jy en Dieter op ’n plaas grootgeword nie. Sy ken nie perde nie. Vir ’n oningewyde is ’n groot hings seker vreesinboesemend, met sy lang tande en skerp hoewe. Moenie vir Rothea lag omdat sy ’n karwats wou hê om haar teen so ’n monster te verdedig