on>
Die rooikop van Sonnerus
Susanna M. Lingua
Melodie
1
Deur die oop venster word ’n louwarm luggie op ’n ligte windjie na die twee en twintigjarige, lewenslustige Elise Veldman gedra waar sy stil in die hoë hospitaalbed lê. Sy lê gretig en wag op die koms van haar besoekers.
Dis alreeds ses dae dat sy hier in die hospitaalbed lê na ’n noodoperasie vir ’n gebarste blindederm. Sy voel vies en ongeduldig, want met al hierdie dae in die bed gaan die skoolwerk skandelik agteruit … en binne drie weke moet die kinders eksamen skryf.
Sy verlang ook na haar dierbare ouers wat so inskiklik was om aan haar toestemming te verleen om onderwys te kan gee. Dis alreeds twee jaar dat sy hier op Sonnerus onderwys gee en net naweke huis toe gaan.
Aanvanklik was die gemeenskap van Sonnerus bitter skepties en gekant daarteen dat die welvarende Hendrik Veldman se dogter onderwyseres wou word, en almal was van mening dat dit maar net ’n nuwe metode van mansoek is.
Maar algaande het hulle hul fout uitgevind en al meer respek en toegeneentheid getoon jeens die rykmansdogter wat in alle opsigte besonder bekwaam en pligsgetrou is. Ook haar opregte vriendelikheid, nederigheid en bedagsaamheid jeens die minderbevoorregtes het die gemeenskap met nuwe oë na haar laat kyk.
En nou, na twee jaar, is sy die liefling van hul dorpie. Deur oud en jonk word sy geëer en gerespekteer. En alles wat Elise doen of voorstel, word in ’n goeie gees aanvaar en goedgekeur – ou ryk Hendrik Veldman se dogter kan in die oë van hul klein gemeenskap niks verkeerd doen nie.
Gedurende die ses dae wat sy nou al hier in die bed lê, was sy ook nog nooit een dag sonder besoekers nie. As dit nie een of meer van die dorpie se inwoners is wat haar kom besoek nie, is dit iemand van die omliggende plase, want Hendrik Veldman is oral in die distrik bekend en bemind. En die operasie wat sy oudste kind ses dae gelede ondergaan het, was die nuus van die dag en dit het soos ’n veldbrand versprei.
Hoewel Elise ’n lewenslustige, lieftallige meisie is, bly die feit nie agterweë dat sy so effens verwen is en ’n wil van haar eie besit nie.
Van die dorp en die omliggende plase se jongmense hou sy besonder baie. Hulle het almal saam op die skoolbanke gesit, saam kattekwaad aangevang en saam slae gekry. Maar wee die vreemdeling wat te vrypostig raak. Dis nie verniet dat sy so ’n fraai bos kastaiingbruin hare besit nie, of ’n rooikop soos die ouer geslag dit noem.
Maar wat die ouer geslag van die ryk, warm kleur van haar hare dink, skeel Elise min. Sy het lankal tot die slotsom gekom dat hulle uit die oude doos is en tog nie weet wat die regte naam van haar haarkleur is nie.
Sy voel egter besonder trots op haar rooibruin hare wat in sagte krulle tot by haar skouers reik, asook haar groot groen oë wat die kleur van haar hare so treffend aksentueer.
“Middag, Elise,” groet die nuwe jong dokter haar met ’n warm glimlaggie. Vir die eerste maal in dae het die werk darem tot so ’n mate afgeneem dat hy ’n paar oomblikke met hierdie pasiënt van hom kan staan en gesels. “Reken, ek het so ’n spesmaas dat jy Vrydag losgelaat gaan word uit die gevangenis,” vervolg hy bedaard.
’n Vrolike laggie borrel oor haar lippe.
“Dokter Beukes, is dit hoe jy die hospitaal en jou werk beskou?”
Hy neem haar koorskaart en bestudeer dit terwyl hy onverstoord sê: “Hoegenaamd nie. Dis julle ondankbare pasiënte wat dit so beskou! En terloops, hoeveel maal moet ek nog sê my naam is Piet, P-I-E-T, hè? ’n Mens sal nooit sê ek en jy het in dieselfde buurt grootgeword nie, Elise. Jy spreek my alewig aan asof ek ’n vreemdeling is, en nie die seun van oom Lang-Hans Beukes van Bloukrans nie! En boonop vergeet jy hoe ek as jong student ’n standerdsessie eendag ’n oorveeg gegee het omdat hy jou ’n rooihaar-katwyfie genoem het, nè? Nou is ek ewe skielik vir jou dokter Beukes!”
Hy kyk haar berispend aan en Elise bars hartlik uit van die lag.
“Jy lag verniet, meisiekind. Ek kom een van die dae met jou afreken; sommer vir die slaaplose ure ook wat jy my die nag van jou operasie besorg het!”
Hy hang die koorskaart terug aan die voetenent van die bed en kom langs haar bed staan.
“Het iemand jou al ooit vertel dat jy ’n dekselse mooi nooi is, Elise?” vervolg hy op sy gewone bedaarde toon.
’n Glimlaggie pluk om haar mond toe sy sê: “Maar natuurlik, dokter … ag, ek bedoel Piet! As my ma dit nie elke dag persoonlik vir my vertel nie, vertel sy my dit oor die foon.”
“Ek praat nie van tant Irma nie, meisiekind, en jy weet dit,” knip hy haar kort. “Ek wil weet hoeveel aspirantvryers jou dit al vertel het … insluitend ons nuwe Don Juan, natuurlik!”
“Sulke goed soos aspirantvryers ken ek nie, en ons nuwe Don Juan van De Wilgers nog minder. Maar al my ou skoolmaats vertel my dit gewoonlik by elke ontmoeting. Ek is al so gewoond daaraan dat hulle my net sowel kan vertel hulle hou van my haarstyl of die geur van my reukwater. Ek beskou dit nie eens meer as ’n kompliment nie, maar veel eerder as ’n vorm van groet, weet jy?”
“H’m, ja, ek hoor jy is so populêr in die buurt en onder die jongmense,” glimlag hy geamuseerd.
“Populêr se voet, man,” glimlag sy terug. “Jy weet tog ons het almal saam soos een groot familie opgegroei!”
“En die nuwe Don Juan?” Hy kyk haar agterdogtig aan, want hy het al klaar besluit dat Elise die nooientjie is met wie hy eendag wil trou. Hy ken haar nie verniet vanaf die oomblik wat sy haar eerste waggelende treetjies gegee het nie, en hy was ook nie verniet haar beskermheer toe sy nog ’n snuiter in die laerskool was nie! Die sewe jaar van sy mediese studie, en toe weer die twee jaar wat hy in die buiteland studeer het, het hul weë nou wel laat skei, maar nou gaan dit weer goed – veral noudat die noodlot hom so begunstig het met haar operasie en dat sy juis sý pasiënt moes wees. Hy voel net ’n bietjie lugtig vir die nuwe eienaar van De Wilgers. Volgens wat hy al verneem het, is Armand van Rijn glo ’n regte haan onder die henne.
“Sowaar, ek ken die Romeo nie, Piet,” lag sy geamuseerd. “Ek het hom nog nooit eens van naby gesien nie. Jy moet weet, ek was twee maande in Durban met siekverlof, en ek was nog nie eens behoorlik ’n week in die tuig nie, toe jy my weer soos ’n wafferse slagter onder hande neem met jou ontleedmes. Wanneer moes ek nou eintlik met hom kennis gemaak het? Jy weet tog dis nou maar drie maande sedert hy hom hier op De Wilgers kom vestig het, kêrel!”
Hy kyk haar onverstoord aan en merk ewe bedaard op asof hy die weer bespreek: “Wel, bly in elk geval in jou pasoppens, meisiekind. Ek wil geen stories of klagtes omtrent jou hoor nie. En as jy jou baie soet gedra, sal ek jou môre self tuis besorg. Jou skoolhoof het die voorstel gemaak dat jy nog ’n week moet rus om aan te sterk, en moenie met die Van Rijn-kêrel gaan staan en sukkel nie, hoor!”
Die laaste twee sinne voeg hy haar in een asem toe, en vir Elise klink dit so komieklik dat sy sommer weer klokhelder uitbars van die lag.
“Ai, Piet, die jare het aan jou waarlik niks verander nie,” en sy vee die trane uit haar oë. “Jy is nog steeds dieselfde ou Pieta van ouds! En dankie dat jy my môre plaas toe sal neem. My ryding is juis op die plaas.”
“Aan jou het die lewe ook niks verander nie, Elise. Jy lag nog steeds so lekker aansteeklik soos altyd,” glimlag hy terug. “Maar sê my, is jy nog steeds so ’n klein kat … ek bedoel rissiepit soos in die ou dae?”
“Ja, toe, sê maar katwyfie,” lag sy. “Dit is tog wat jy wou sê!”
Toe lui die klok wat die besoekuur aankondig en Piet moet van sy pasiënt afskeid neem.
Hy was ook net by die deur uit toe Anette, Marie en Bettie, drie van haar gewese skoolmaats, die klein privaat saaltjie binnestap. Die hele vertrek word gevul met ’n atmosfeer van vrolikheid.
Met vriendelike uitroepe en baie komplimente word Elise gegroet, en elkeen kom druk ’n soentjie op haar wang.
“Ek merk hier is net twee stoele, julle!” laat Anette ongeërg hoor.