Susanna M Lingua

Die rooikop van Sonnerus


Скачать книгу

hiet en gebied en te beledig soos jy wil? As jy maar net van daardie perd wil afklim, sal ek jou wys wat ek met sulke onbeskofte mans soos jy maak!”

      Met een beweging wip hy uit die saal en kom reg voor haar staan. Sy donker oë boor in hare toe hy sag, onheilspellend sê: “Toe, hier is ek. Wys my nou wat jy my so graag wil wys. Maar ek verseker jou, vandag is die dag wat jy jou lewe lank gaan berou.”

      Verder kom hy nie, want Elise se fyn handjie skiet uit en klap hom netjies deur sy mond. Soos blits sluit sy kragtige vingers om haar pols, en nou is hy bleek van woede.

      “So, dan dink jy jy kan my klap en daarmee wegkom!” sis hy. “Jou klein vuurvreter! As jy ’n seun was, het ek jou nou hier uitgelooi dat jy vir dae nie kan sit nie. Maar nou is jy ’n meisiekind. Ek voel lus en skud jou dat jou tande klap!”

      Maar in plaas van haar te skud, stoot hy haar van hom af weg. “As ek jou ooit weer voor my oë sien, breek ek jou dun nekkie in twee,” waarsku hy bars.

      ’n Oomblik lank dink Elise die man gaan haar oor sy skoot trek en haar ’n loesing gee. Maar noudat hy blykbaar nie sulke planne koester nie, voel sy dat sy haar vroulike geslag ’n bietjie meer kan laat geld. Sy pluk haar baaipet af en wou hom net ’n tweede oorveeg daarmee gee, toe sy merk hoe sy blik ineens op haar rooibruin krulle verstar.

      “Ek … ek is jammer, juffrou,” stamel Armand opvallend verleë, want dis vir hom nou baie duidelik wie die nooientjie is. Daar is inderdaad net een meisie in die hele kontrei met sulke fraai kastaiingbruin hare. “Regtig, ek is baie jammer …”

      “Jammer se voet,” val sy hom in die rede. “Maak liewer dat jy wegkom voor my oë, jou … jou …” Maar in haar woede kan sy geen geskikte benaming vir hom vind nie, dus draai sy plotseling om en stap driftig na die rondawel om haar te gaan verklee.

      Toe Elise in die rondawel verdwyn, plooi daar ineens ’n glimlaggie om die jongman se mond. Hy dink nou daaraan dat hy Hennie en sy suster vanoggend per telefoon genooi het vir vanaand se partytjie, en hy wonder geamuseerd wat haar optrede sal wees as sy vanaand moet uitvind wie hy is. Sy glimlag verbreed toe hy op sy vurige swart hings klim en al langs die grenslyn terugry.

      Minute later kom Elise by die rondawel uit en stap na die boom waar Pronk nog steeds geduldig op haar staan en wag. Sy gooi die teuels oor sy nek, plaas haar voet in die stiebeuel en hys haar met gemak in die saal.

      Met donderende hoefslae stuur sy Pronk in die rigting van Vergesig se werf en voor die stalle gly sy liggies uit die saal. Op die voorstoep tref sy haar moeder aan waar sy besig is om die varings water te gee.

      “Jy is net betyds vir tee, Elise,” merk haar moeder op. “Gaan vra tog Marja moet vir ons tee maak en dit hier na die stoep bring, my kind.”

      Met ’n “Goed, Mammie,” begeef sy haar na die kombuis om die opdrag te gaan uitvoer. Sy kom dadelik terug na waar haar moeder alreeds gemaklik op die bank sit.

      “Kom sit hier langs my, Elise,” beduie sy. “Ek wil graag ’n rukkie met jou gesels. Jy was so lank weg … meer as twee maande. Ek het al so dikwels gewens jy wil die skoolhouery staak en huis toe kom, my kind.”

      Sy neem langs haar moeder plaas en sê sag: “My ou moedertjie, wat sal ek tog met myself aanvang hier op Vergesig? Laat ek maar aanhou onderwys gee. Ek hou daarvan en dit hou my ten minste besig. Watse bouery is daar teen die koppie op ons buurman se plaas aan die gang?”

      “Armand van Rijn laat vir hom ’n nuwe huis bou, Elise. Terloops, hy het Hennie vanmôre gebel en gevra of julle twee vanaand sy gaste sal wees. Daar gaan glo ’n informele partytjie wees.”

      “Maar, Mams, ek het mos nie lus om nou al partytjies by te woon nie,” stribbel sy teë. “Hennie kan gerus maar alleen gaan. Ek het regtig nie lus vir sulke doenighede nie!”

      Van haar ontmoeting met die vreemdeling onder by die rivier meld sy niks.

      “Ek vrees jy kan nie nou uitdraai nie, Elise. Hennie het alreeds die uitnodiging namens julle albei aangeneem. En ek is seker ons buurman sal verstaan as jy nie wil deelneem aan die dansery nie. Almal weet tog dat jy gister eers uit die hospitaal ontslaan is.”

      “Watter tipe persoon is hierdie buurman van ons nou eintlik, Mammie? Ek het die afgelope ruk al so baie van hom gehoor. Soos dat hy so ’n haan is onder die nooiens,” glimlag sy goedig. “Net gister is ek weer daarvan verwittig dat hy so ’n onweerstaanbare bekoring het.”

      “Dit sal ’n ou vrou soos ek nie weet nie, Elise,” antwoord haar moeder met ’n spotlaggie. “Jy sal maar self vanaand moet gaan vasstel hoe onweerstaanbaar sy bekoring werklik is, my kind. Hy kom nogal dikwels met Hennie en jou pa gesels.”

      “Waar het hy geboer voor hy De Wilgers gekoop het, Mammie?” wil sy verder weet.

      “Nee, kind, hy het nie voorheen geboer nie. Sy vader boer glo in die Vrystaat, maar hy was ’n advokaat totdat sy gesondheid hom gedwing het om plaas toe te vlug.”

      “Is hy dan ’n sieklike man?” verneem sy verbaas.

      “Wel, nee, nie nou meer nie. Hy het glo voortdurend brongitis opgedoen totdat die een of ander dokter hom aangeraai het om Johannesburg te verlaat.”

      “Hoe oud is hy, Mams?” hou sy aan uitvra.

      “So twee en dertig, of drie en dertig jaar.”

      “En was hy nog nooit getroud nie?”

      “Nee, maar van sy praat het ek afgelei dat hy ’n nooientjie of ’n verloofde in die Vrystaat het.”

      “En hy flankeer so rond met die meisies!” roep sy verontwaardig uit.

      “Elise, laat Mammie nou vir jou die waarheid vertel. Hierdie dinge wat jy gehoor het van sy rondflankeerdery met die nooiens is nie waar nie. Hy, net soos enige jongman, soek slegs geselskap. Die fout lê by die nooientjies, my kind. Dis hulle wat sy vriendskap verkeerd vertolk, te ernstig opneem, en dan meer van hom verwag as wat hy bereid is om te gee. Sy vriendskap met die teenoorgestelde geslag is heeltemal onskuldig. Ek het al self gemerk dat daar by hom geen aansien des persoons is nie. Hy behandel almal met dieselfde hoflikheid en respek. Maar wag, hier kom jou pa en Hennie al. Ek sal moet gaan kyk of daar tee vir hulle is.”

      Met hierdie woorde kom haar moeder orent en stap die huis binne. Langsaam volg Elise haar voorbeeld. As sy en Hennie dan vanaand ’n party moet gaan bywoon, sal sy beslis inspeksie moet gaan doen in haar hangkas om te sien wat geskik sal wees vir so ’n informele geleentheid.

      3

      “Is jy al gereed, ousus?” bulder Hennie se diep stem voor haar kamerdeur.

      “Ek kom, boetie!” roep sy terug, raap haar handsak op en verlaat die vertrek. “Waarom jaag jy my so aan, jou ongeduldige mansmens? Dis mos nog vroeg!” raas sy.

      “Kyk, ousus, ek wil nou nie snaaks wees nie. Maar ek meen te sê, ’n ou wil darem nog sy nooi ook gaan oplaai!”

      “So! Is dit nog steeds Estelle Meyer?” glimlag sy tergend.

      “Reg geraai, oor ’n rukkie Estelle Veldman.”

      “H’m, jy is glad nie haastig nie, nè?” spot sy weer.

      “Luister, ousus, jou broer is nie ’n man wat hom met ’n jare lange vryery ophou nie. Maar kom ons gaan groet eers vir Ma en Pa. Ek vermoed hulle sit maar weer op die stoep soos gewoonlik.”

      Met ’n “Tot siens, Ma! Tot siens, Pa!” draai Hennie om en stap uit na waar sy motor voor die deur geparkeer staan.

      Elise, egter, gee albei ’n vlugtige soentjie en volg Hennie dan.

      “Ousus, ek wil jou nie vlei nie, want soos jy self weet, pas vleitaal my nie,” sê hy en hou vir haar die motordeur oop. “Dink jy nie daardie geel rokkie wat jy aanhet, is ’n bietjie deftig nie? Begryp my mooi, ek hou daarvan om voor ander ouens met my ousus te spog, maar jy weet ons is maar ’n eenvoudige spul in hierdie kontrei en glad nie so geleerd en wêreldwys soos