’n Langsteel-dweil, die bleek klos styf en hard, leun teen die muur – iemand moes dit gebruik het vir skoonmaak. Outanna? Dalk toe die polisie Woensdag klaar was. ’n Rilling kruip oor haar nek en arms.
Jirre ons, Freddie.
Dit verg alle wilskrag om haar voet oor die drempel te sit.
Sy haal diep asem en stap deur die portaaltjie. Swenk regs na die kombuis, verby die spensdeur wat links uitgaan.
Alles lyk tegelyk bekend en vreemd.
Die ou koolstoof staan steeds in die hoek van die kombuis, links. Dit word jare lank al nie meer vir kook gebruik nie, eerder ’n bêreplek vir potte en panne. Langsaan staan die gasstoof wat Pa nog ingesit het. Twee ou gasyskaste, leeg, met die deure oop. Outanna het hulle seker leeggemaak en afgeskakel, welwetende dat daar vir eers nie mense hier gaan wees nie. Die res van die vertrek lyk onveranderd: granietwasbak en kouekraan onder die venster teen die oorkantste muur, groot eettafel in die middel van die vertrek. Die ou buffetkas uit die vyftigerjare teen die muur aan die eetkamer se kant, sy horlosie wat stomonnosel die tyd byhou.
Daar’s ’n foto in ’n houtraam bo-op die kas, Freddie met ’n laggende dogtertjie op haar skoot: dowwe, ligbruin haartjies in ’n donskransie om haar kop en swart amandelogies, skuins soos ’n Siamese kat s’n, haar vel ’n mengsel van goud en olyf, mondjie wat nat en rosig oophang. As jy nie weet nie, sou jy nie sê daar is iets verkeerd met die kind nie.
Was. Wás iets verkeerd met die kind nie ...
Die kombuis se binnedeur staan oop, soos altyd. Dit lei na ’n breë portaal met deure na die res van die huis. Links gaan die deur na die eetkamer uit. Aan die oorkantste muur is die deur na Pa en Ma se ou slaapkamer. Die deur staan toe – Pa se lessenaar wat nog steeds direk links van die deur staan, in die hoek van die portaal. Pa se ou rekenaar is vervang, sien sy, met ’n nuwer model. Regs uit is die deure na die badkamer en die gang, wat die voorste deel van die huis in twee skei: dit loop deur die sitkamer voordeur toe, met twee deure wat regs uitgaan na die slaapkamers – haar en Freddie se slaapkamers van vroeër. En die kamers waar ... Sy ril.
Die gangdeur staan oop. Soos altyd. Hulle het nooit deure toegemaak nie, vroeër. Niks ooit gesluit nie.
Sy loop versigtig nader. Sy weier om in die gang in te kyk. ’n Donker reuk walm daarby uit, soos ’n vrot asem. Saar maak haar mond oop om nie deur haar neus asem te haal nie. Met ’n lang arm stoot sy die gangdeur saggies toe. Druk hom op knip en sleep dan ’n kombuisstoel nader. Die rugleuning wig sy stewig onder die deurknop in. Sy besef dis ’n onsinnige handeling, maar doen dit tog.
Die plankvloer kraak onder haar treë, ’n harde geluid in die doodse stilte. Sy loop op haar tone, besef sy. Deur die portaal na haar ouers se slaapkamer, maak sy die deur stadig oop. Die kamer is ruim. Groot skuifraamvensters, ’n deur links uit na ’n badkamer en ’n dubbeldeur in die muur regs. Dis ’n outydse deur, met glaspanele en sy knop en grendel op kniehoogte. Dit loop uit op die stoep – wat weer om die hele voorste deel van die huis span.
Saar tree versigtig na binne. Twee groot esels met skilderye doem in die skemerdonker voor haar op. Sy loop dieper in en skuif die swaar gordyne voor die grootste venster weg. Freddie moes die vertrek as werkkamer gebruik het. Die dubbelbed is nog daar, maar daar’s ’n tafel met verfgereedskap ingedra, ou konfytbottels met gebruikte kwasse daarop, verfbemorste lappe, buisies verf en stukke portretraam, die fyn reuk van terpentyn wat oor alles hang. Sy kyk na die twee skilderye op die esels – landskappe met vreemde wesens wat daaroor sweef.
’n Groepie skilderye is regop teen die muur by die vensters gestapel. Sy stap nader, kantel die gespande doeke een-een na vore, stut hulle teen haar knieë en blaai deur.
Sy huiwer by een. Dis ’n soort selfportret. Freddie in ’n rooi rok. Sy sit langbeen op die grond, haar rug teen ’n houtstoel aangeleun. Daar’s iets wat sy vashou. Saar buk nader. Sy hou dit na ’n stokkerige figuur op die voorgrond toe uit, asof sy dit vir hom aanbied. Sy snak skielik na asem: Freddie se hare! Dis stomp afgeskeer, dryf in goue bondels om haar kop! Sy lyk soos Saar haar vanoggend daar in Postmasburg se lykshuis gesien het!
Here, dit kan nie wees nie.
Sy tel die skildery versigtig uit die stapel en dra dit na die lig by die venster.
Dis nie ’n rooi rok nie, sien sy. Dis bloed uit ’n lang sny aan Freddie se borskas. En dis haar eie hart wat sy in haar hand uithou na die grysgroen insekfiguur. Lyk soos ’n Marsman. Nee, besef sy dan. ’n Mantis! Hottentotsgot, die magiese figuur van die San.
Liewe Vader, wat sou dit beteken? Saar laat sak die skildery en staar deur die venster na buite. Sy kan haar hart hoor klop.
Dit kan tog nie toevallig wees nie – so iets? Dit lyk behoorlik of sy haarself ... amper soos die polisieman beskryf het, hoe hulle haar hier aangetref het! Wat sou die skildery beteken? En hoekom lyk dit so – nes Freddie moes gelyk het. Here, dis mos darem te vergesog?
Tog.
Dis die ding met Freddie. As jy nie weet wat in haar kop aangaan nie, sal jy nie verstaan wat sy skilder nie. Ook nie vreemd vir haar om haar lyf aan flarde te pluk in ’n skildery nie. Saar onthou die eerste keer toe sy dit gedoen het. Ma het nog gelewe. En was bitter ontsteld. Gesê sy gaan die kind se kwasse verbrand as sy weer iets so naars aanvang. Freddie het ’n vrou geskilder wie se kop ontplof, kompleet met bloeddruppels wat in sierlike patrone oor die papier krul. Ma kry hoofbrekens, het sy onderaan geskryf, na aanleiding van wat Ma altyd vir hulle gesê het. Pa het soos gewoonlik die swye gehandhaaf en sy wat Saar is wou haar doodgiggel.
Maar haar giggel het sedertdien opgedroog. Want Freddie se skildery was eintlik profeties: Ma se lang tye van depressie later, die klinieke ...
Saar sug. Sy’t nie die krag hiervoor nie.
Dan spoel die beeld van Freddie op daardie koue tafel in Postmasburg se lykshuis weer oor haar. Die weerloosheid van haar mooi gesig. Wie sou daardie liewe gesig só wou skend?
Sy staan nog so en tob as ’n geluid tot haar deurdring. Sy hou haar asem op. Sy is seker sy het iets gehoor. ’n Vloerplank wat kraak ...
Haar hart begin kliphard bons. Here, sy’s ’n sitting duck. Enigiemand kan haar hier oorval. Sy’s vingeralleen op hierdie plaas. En die agterdeur staan nog oop!
Sy staan vir ’n ruk tjoepstil, te bang om asem te haal. Die geluid het van die kombuis se kant af gekom.
Dan hoor sy dit weer.
Hoofstuk 14
14
Beeslaar gaan sit ongemaklik op die bank in Nelmari Viljoen se kantoor. Die ding lyk of sy fênsie pootjies enige oomblik onder hom kan padgee. Dis sy eerste keer hier en hy kyk onbeskaamd rond: die duur elegansie in die luimige roomyskleure. Die lugreëlaar wat yskoud suis. En oorkant hom, op ’n ligrooi gemakstoel, die dun figuurtjie van Viljoen haarself. Sy’s nie sy tipe nie, dink Beeslaar. Net oë en hare, plat soos ’n plank. Maar hy kan miskien verstaan hoe sy ’n prins soos Buks Hanekom se koerasie sal opja.
“Sy was my beste vriendin, inspekteur. En ek het nie familie nie, jy weet?”
“Wie het die meeste by haar gekom?”
Sy skud haar blonde hare effe. Dit was in ’n soort gedraaide bolla toe Beeslaar binnekom, maar sy het dit losgemaak en uitgeskud. Haar ore se bopunte steek effe deur, soos ’n kabouter s’n. “Seker maar ek,” sê sy met ’n ligte frons. “Jy kan maar sê ons was soos familie. Ek het haar ontdek, weet jy? Haar soort van bestuur. Sy het nogal swaar staatgemaak op my. Ek het haar eerste groot uitstalling in Johannesburg gereël, en nou weer dié een, wat ons vir later vanjaar beplan ... het.”
“Hoe was haar geldsake?”
Nelmari lig ’n wenkbrou. “Sjoe, maar jy’s direk, inspekteur.”
Beeslaar sê niks.
Haar gesig raak weer ernstig. “Toe ek haar leer ken het, was dit beroerd, om die minste te sê. Sy’t maar ’n skooljuffrou se salaris gekry. En hier op die plaas ... Huilwater is nie die soort