tannie, “dan maak ek vir ons tee.”
“Ek moet seker eers polisie toe gaan,” keer Saar.
Maar die vrou vat haar ferm aan die arm en lei haar deur die huis na die agterstoep. “Dis nog koel hier. Rek jy solank jou bene, dan bring ek die tee. Dis klaar gemaak. En jy moet iets inkry voor jy hierdie dag begin.”
Saar kyk teësinnig om haar rond. Na die sementstoep met sy sink-oordakkie, die potplante wat die ruimte verswelg, die afgeleefde rottangstoele met hul slap kussings. Sy voel angstig, asof ’n geteedrinkery nou tydmors is. Maar dalk is dit beter dat sy eers bykom voor sy polisie toe gaan. Dalk moet sy eers bad, iets vars aantrek. Haar hare kam.
Sy kyk af na haar kaal bene en voete. Sy dra nog die kort minirompie van denim waarmee sy gister werk toe is, haar plakkies moet nog in die kar lê. Haar T-hemp het ’n koffiekol op die bors. Sy lek ’n vinger nat en vryf daaroor, sonder veel energie. Dan haal sy die rekkie uit haar hare, laat val haar kop vooroor en vat die hare weer in ’n bondel en bind dit in ’n poniestert vas.
’n Halfuur later stap sy by die voordeur uit polisiestasie toe. Dis naby genoeg vir stap. Die dorp is bitter klein – een lang hoofstraat, geteer, en ’n paar stowwerige dwarsstrate wat hom kruis. Die polisiestasie is in die hoofstraat, ’n halwe blok met die hoofstraat af uit Driedoringstraat.
Saar stap met stywe, haastige treë, bewus van die hitte wat klaar oor die teerpad hang. En dis nog vroegoggend. Net na agt, toe sy laas gekyk het. Op die trappies voor die stasie gaan sy ’n oomblik staan, stryk met klam palms oor die kreukels van haar romp. Dan haal sy diep asem, skuif die sonbril op haar kop om die los hare uit haar gesig te hou en gaan binne.
“My naam is Saar Swarts,” sê sy vir die vrouekonstabel agter die toonbank. “Ek is hier oor die ... e ... dood van my suster. Swarts. Frederika. Sy is gister ...”
Saar sluk ongemaklik, sien die lig van ontsetting en medelye wat skielik in die gesette polisievrou se oë opgaan. Op die naamplaatjie op haar bors staan Kgomotse.
“Hai!” sê die vrou met ’n besorgde tongklap, “wag net, juffrou. Ek roep gou iemand.” Sy steek ’n hand uit en vou dit sag oor Saar se arm op die toonbank – asof sy bang is Saar se moed begewe haar. Met die ander hand lig sy ’n foon en sê iets in Tswana.
’n Oomblik later verskyn ’n rietskraal jong man in ’n deur regs van die aanklagtoonbank. “Gaan saam met hom, juffrou,” sê konstabel Kgomotse met ’n sagte stem, “hy gaan jou na die inspekteur toe vat.”
Die dun mannetjie stap haastig voor Saar uit tot by ’n oop kantoordeur. “Juffrou Swarts is hier,” sê hy gedemp in die kantoor in en draai dan om na Saar en beduie vir haar sy kan maar ingaan.
Saar verskuif die skouerband van haar groot handsak, haal die donkerbril van haar kop af en stap in. Dis ’n groot vertrek met staalkabinette langs een muur af en vensters na die warm hoofstraat langs die ander. Sy stap af op ’n reus van ’n man wat sukkel om betyds uit sy stoel uit op te staan om haar te groet.
“Beeslaar,” mompel hy verleë en bly half gebukkend in sy stoel staan, sy een hand wat ’n rooi das terughou, tot Saar op die stoel oorkant sy lessenaar gaan sit het.
“Dankie, sersant Pyl,” sê hy vir die jong man wat Saar by die aanklagtoonbank kom haal het. Die sersant se nuuskierige blik huiwer nog ’n oomblik op haar voor hy by die deur uit verdwyn.
“Ek waardeer dit dat u ingekom het,” sê die inspekteur effe kortasem. “Ek wás eintlik op pad na mevrou Lambrechts. Iemand het my laat weet u is hier. Klein dorpies ...” beduie hy met ’n glimlag.
Saar knik.
“Kan ek vir u koffie aanbied?” Hy wys met ’n groot hand na die skinkbord, eenkant op sy lessenaar, waarop twee koppies en ’n termosfles op ’n gehekelde lappie gereed staan. Plus ’n geblomde piering met gemmerkoekies. Saar skud eers haar kop, maar bedink haar dan.
“Asseblief,” sê sy sag.
Die polisieman lig homself dié keer met groter sukses uit sy stoel en draai met stywe vingers die fles se rooi dop af. Hy skink die sterk, swart vloeistof met ’n hand wat liggies bewe. Hoeveel melk en suiker? wil hy weet. Sy het twee gevra, maar hy gooi drie lepels suiker in, roer dit stadig en sit dan die koppie voor haar neer. Die pierinkie met koekies sit hy langs haar koppie neer, neem versigtig twee vir homself.
Hy’s nog langer as wat sy aanvanklik gedink het, besef sy voor hy weer agter die lessenaar inskuif. ’n Eertydse rugbyslot dalk, wat homself laat gaan het namate hy die veertig-merk nader. Die swart hare begin terugtrek van sy voorkop en gooi sout en peper rondom die slape. Hy’t een van daardie gesigte wat permanent na donderweer lyk. Ligte gesigvel, ingekleur met swaar, dramatiese lyne: groot, reguit neus, swaar, swart wenkbroue met ’n permanente diep fronskeep tussenin. Sy mond is wyd, maar sagter, met diep kuile op die bolip en onder die ken. Hoekige, sterk kakebeen.
Hy maak keel skoon en roer sy eie koppie koffie, kyk ’n oomblik van onder die swart wenkbroue opsommend na haar.
“My opregte simpatie,” begin hy die gesprek. “Voel u ... e ... in staat ...? U moes deur die nag gery het?”
Saar knik. “Ek kon nie op so kort kennisgewing ’n vlug uit die Kaap uit Upington toe kry nie.” Sy leun effe vorentoe in haar stoel, kan die man nie duidelik hoor nie. Dit klink of hy binnensmonds praat, soos een wat nie graag praat nie. So nie is dit haar ore wat nog toegeslaan is van die byna 900 kilometer-rit, die geraas van die grondpad tydens die laaste paar honderd.
“Daar is ’n paar formaliteite wat ek graag eers wil afhandel,” sê hy en trek ’n bruin dossier nader. Saar knik en neem ’n groot mondvol koffie. Dis onverwags warm. Sy sluk vinnig en voel hoe dit in haar slukderm afbrand.
“U’t al die pad alleen gery?” Meer stelling as vraag. Hy wag ook nie vir ’n antwoord nie, maar verseker haar dat hy bondig sal wees.
“U is die enigste familielid van die oorledene?” Sy stem is nou effe harder, asof hy meer tuis voel noudat die beleefdheidsgedeelte van die gesprek afgehandel is. Hy begin skryf.
“Sy was my suster.”
“Haar volle naam?”
“Frederika Cornelia Swarts.”
Hy knik sonder om op te kyk en skryf die naam met ’n skewe gekrabbel uit.
“Freddie vir kort,” voeg Saar ongenooid by en die polisieman kyk vir ’n oomblik op.
“Haar geboortedatum, plek van geboorte ...”
“Huilwater, die plaas waar ... waar dit gebeur het. Ons is albei op die plaas gebore ...”
“Jaar?”
“E ... 1976. Sy was drie en dertig.” Pas geword, onthou Saar met ’n skok. Sy’t Freddie nie eens gebel nie. Goeie Here. As sy opkyk, sien sy Beeslaar loer onder sy wenkbroue deur na haar. Daar’s ’n sagter trek in sy oë.
“U voel nog reg om aan te gaan ...”
Saar knip haar oë vir ja, raak bewus van haar een knie wat senuweeagtig spring en kruis haar bene.
“Die plaas. Huilwater ...” Hy staar na die vorm voor hom. “Was dit u suster se eiendom?”
“Familieplaas. Sy het op die grond aangebly nadat my pa dood is.”
“Wanneer was dit?”
“Omtrent so agtien maande gelede.”
“U moeder?”
“Oorlede. Ongeveer twintig jaar gelede ... 1989, daar rond.” Sy vee oor haar oë, verleë oor sy skielik nie die juiste datum kan onthou nie. “Maar Freddie ...” Sy sluk. “Freddie kom eintlik van Johannesburg af. Sy’t daar gewerk as ’n kunsonderwyseres. En eers onlangs, kort voor my pa siek geword het. En toe hy siek word ...”
Haar keel trek toe. Dis waar die moeilikheid tussen haar en Freddie begin het.
Beeslaar maak ’n aantekening