“Ek is baie, baie jammer oor jou verlies. Dis ’n geweldige skok. ” Sy hou Saar se hand vir ’n oomblik, laat val dit dan. “Freddie het so baie van jou gepraat.” Sy gaan sit.
“Ek gaan vir jou iets maak om te drink, my kind,” sê tannie Yvonne en staan swaar op. Saar wil nog aanbied om dit te doen, maar sy voel te lam. Sy tel een van die wolhondjies van ’n stoel af en gaan sit. Iets skuur in haar nek en sy kyk om. Dis die blaar van ’n delicious monster, ’n swaargroen ding so groot soos ’n kinderbad wat uit die versmorende nes van plante in ’n plankstellasie weggebeur het en soos ’n vermanende vinger in haar nek krap.
Sy skuif die stoel met ’n effense rilling vorentoe en gaan sit weer.
Heeltyd voel sy die ander vrou se oë op haar, maar maak nie oogkontak nie. Sy weet nie wat om te sê nie. Hierdie vrou. Nóg ’n skim uit Freddie se lewe wat gestalte gekry het.
Vir ’n tyd lank, voor Freddie plaas toe gekom het, was dit net Nelmari voor en Nelmari agter.
Sy en Freddie het daai tyd gereeld gepraat – dikwels Sondagaande in goedkooptyd. Hulle sou mekaar bel as daar iets gebeur het. Nooit uitgerekte gesprekke nie, maar genoeg om te weet wat in die ander se lewe aangaan. Soos toe Saar uit die algemene nuusredaksie bevorder is, uit haar donkiewerk van ambulanse jaag en padongelukke en standbeeldonthullings en sosiale funksies dek. Toe sy uiteindelik na die omgewingsakeredaksie bevorder is.
Maar die eintlik groot veranderings was by Freddie. Wat haar eerste klein uitstalling iewers in Melville gehou het. Sommerso by ’n vriendin se huis. En toe iemand ontmoet wat haar oortuig dat sy voltyds moet begin skilder. Freddie het betowerd geklink. Dis ’n sakevrou, het sy opgewonde vertel. Een van die top-sakevroue in Johannesburg. En sy wil Freddie se werk aan die wêreld bekend stel.
Freddie was oorstelp. En toe Saar weer hoor, het Freddie haar onderwyspos bedank om op haar kuns te konsentreer.
“Dis so onwerklik,” hoor sy Nelmari skielik hier langs haar sê en sy wip effe van die skrik. “Ek kan dit eenvoudig nog nie glo nie. Nie Freddie nie. Sy ...” Saar kyk vinnig op na haar, merk die ligte trilling in die blonde hare wat oor Nelmari se hoë voorkop hang. “Sy was vir my ... sy was my beste vriendin. Ek het nie meer familie nie, jy weet.”
Saar knik en kyk weg. Vir ’n rukkie sit hulle weer in stilte.
“Jy was by die polisie,” sê Nelmari dan. Sy sit met haar bene oorkruis, hande in haar skoot gevou.
Saar knik. Ja, wil sy beaam, maar kry nie die woord uitgespreek nie. Sy weet nie mooi wat om vir haar te sê nie. Of waar om te begin met die baie vrae wat sy het nie. Vrae oor Freddie. Hierdie mens was tog die naaste aan Freddie. Maar sy kry nie boe of ba gesê nie.
“Weet hulle al iets?” hoor sy Nelmari vra. Haar stem is asemrig, warm en vroulik. Maar sy klink gespanne.
Saar skud haar kop, verwens haar stomgeslaanheid.
“Is daar dalk iets wat ek jou mee kan help? Wat ek kan doen?”
“Dankie,” hoor sy haarself fluister en maak dan hard keel skoon. “Ek bedoel ... Daar’s niks wat ek nou aan kan dink nie. Ek het nou maar pas hier aangeland. Ek weet eintlik self nog nie wat ...”
Nelmari glimlag simpatiek. “Ek moet self nog vir inspekteur Beeslaar gaan sien. Hy’t gevra ek moet help met die opspoor van die pleegkinders, om Klara se ma op te spoor en so aan.”
“Vertel my van Klara.”
“Daar’s nie veel nie. Haar ma is ’n druiweplukker op een van die plase by die rivier. Alkoholis, swerf agter los werkies en drankgeld aan. Sy het in ’n stadium verdwyn. Ek weet nie eens of sy nog leef nie. Daar’s nie ’n pa sover ek weet nie. Ek bedoel, die ma het nie juis geweet wie of waar hy is nie. Klara was ’n Fas-kind. Fetale Alkoholsindroom,” voeg sy vinnig by as sy die vraag op Saar se gesig sien. “Sy’t ’n jaar gelede by Freddie beland – uit die hospitaal. Sy was erg verwaarloos, ondervoed ... Freddie het toestemming gekry om Klara vir ’n tyd lank in pleegsorg te neem. Nou ja, Freddie het baie lief vir haar geword en het begin met amptelike stappe om haar aan te neem.”
Dan kom tannie Yvonne met ’n rinkelende skinkbord by die agterdeur uit en Nelmari staan op om dit by haar te vat.
“Hemel, Yvonne, ek het nie besef jy maak vir my ook nie. Ek is eintlik haastig. Dit gaan regtig ontsettend rof. Die bouery op Red Sands moet begin en alles draai nou op ’n mespunt,” sê sy.
“Dis orraait, Nelmari. Ek en Saar sal dit drink,” sê die ouer vrou inskiklik.
“Ek sal dalk later weer ’n draai kom maak. Alles is so deurmekaar en ek was juis die afgelope twee dae nie hier nie ...” Sy buk en tel ’n ligblou leerhandsakkie op – dieselfde kleur as haar skoene. ’n Enkeldiamant aan ’n fyn goue kettinkie om haar nek vang die lig en skitter vir ’n oomblik terwyl sy buk. In haar ore dra sy twee fyn diamantknoppies, merk Saar, verder net die goue pand om haar middelvinger en ’n goue Michel Herbelin-horlosie aan haar regterpols.
“Saar,” sê sy met die handsakkie oor haar skouer, “ek kom weer later vanaand hier aan. Intussen moet jy asseblief nie huiwer om te bel as jy enigiets nodig het nie. Ek sal regtig graag iets vir jou wil beteken. Dis die minste ...” Haar oë blink van die trane.
Saar kry ’n hees “dankie” uit voor Nelmari haar arms om Yvonne slaan, haar vlugtig op die wang pik en dan in die huis in verdwyn, ’n fyn parfuum wat agter haar bly draal.
“Ek het nie besef sy lyk só nie,” sê Saar en kyk na Yvonne se ritueel met die tee, wat sy bietjies-bietjies in ’n piering uitgooi om te drink.
Die ouer vrou se lippe tuit plooierig om die piering se rand. “Ja,” sê sy en blaas klein rimpeltjies oor die dammetjie tee. “Sy’s nou nie wat jy hier rond sou verwag nie. Sy lyk so fyntjies en netjies. Maar daar’s ’n kop op daai skouers, hoor.” Sy gooi die laaste bietjie tee in die piering en sit dit dan op die grond neer vir die hondjies.
“’n Beter vriendin sal jy seker nie kry nie. Sy en Freddie was nou regtig soos ...” Sy sluk die res van haar woorde in.
Maar Saar hoor dit tog.
Hoofstuk 5
5
Beeslaar vang oom Koeks se oog. Dis nog te vroeg vir drank, maar hy’s reg vir ’n Tafel Lager – kry dit in ’n spierwit bevrore glasbeker. Hy neem sy eerste sluk en sak gemaklik in sy hoek in. Hy hou van die donkerte van die hoek, sukkel nog met die vreemde blootgesteldheid van die lewe in ’n klein gemeenskappie. Die aanhoudende gegroetery. Die amper uitspattige ingenomenheid waarmee die boeregemeenskap hom verwelkom het: asof hy die messias is waarop almal gewag het. Hy begryp dit wel, want hier het omtrent niks aangegaan nie: ’n paar konstabels wat dronkies en huismoles moes uitsorteer. Die laaste speurder is twee jaar gelede al weg – pakket gevat. Vir ernstiger goed moes die kantoor op Upington ingryp, met al die gepaardgaande frustrasie.
Tot Beeslaar se koms. Toe is twee van die konstabels opgeklap na hom toe saam met ’n rangbevordering: Johannes “Janus” Ghaap en Gershwin “Ballies” Pyl.
Hel, hy mis die stad. Veral op dae soos vandag. Hy mis die anonimiteit, die gesigloosheid waarin jy kan wegkruip.
Sy selfoon tjirp. Sersant Ghaap wat sê hy’s terug by die kantoor. ’n Ander vent, dié Ghaap, dink hy nadat hy die oproep beëindig het. Bejeën Beeslaar na twee maande nog steeds van ’n afstand, praat net die nodige met hom. Hy’s ’n bietjie van ’n toe boek, dié Ghaap. Boorling van die omgewing, praat stadig, met ’n swaar Noord-Kaapse aksent wat sy a’s en o’s plat trek, asof sy mondhoeke permanent met twee rekkies aan sy ore gehaak is.
Beeslaar glimlag by die gedagte en glip die foon terug in sy hempsak, kyk oor die rand van sy glas na ’n dik jong man wat deur die kroeg se swaaideure ingeslof kom.
Polla Pieterse, sien hy, en skuif laer af in sy stoel. Polla is een van die eerste locals wat hy uit sy sak moes skud. Hy’s ’n blonde vetsak wat saam met sy pa en broers boer, en een van die redes waarom Beeslaar naweeksaande, wanneer die kroeg regtig besig