Marzanne Leroux-Van der Boon

Lewensblik


Скачать книгу

n>

      

      Lewensblik

      Sketse oor die lewe

      Marzanne Leroux-Van der Boon

      LUX VERBI

      Rooi papawers

      In Mei bars daar donsige ligpers en geel blommetjies deur die struikgewasse wat soos ruie wenkbroue op ’n ou man se gesig uit Kotel* se klippe groei. Voorjaar! Mossies tjier onvermoeid tussen hulle deur. Om my wieg sobergeklede Chassidiese vroue, gebedeboek in die hand, eindeloos muurwaarts. Anderkant die afskorting davven die voorste ry swart hoede met dieselfde ritme teen die klaagmuur. Net hier en daar dobber ’n veelkleurige kalotjie tussendeur. Seuntjies, swiepende klossies, bengelende oorlokke en kalotjies wat wonderbaarlik nie van hul koppe val nie, jaag mekaar oor die plaveisel tussen die bidders deur.

      In ’n groef in die eeue oue klippe sit ’n duif stil oor die toneel en uitkyk. Dis die stilte van dié eensame duif wat David Hatuel se gesig weer voor my laat opdoem. Jerusalem se milde voorjaarslug word kil op my rug.

      Vanmôre was daar in ’n tydskrif ’n foto van David by sy vrou en vier dogtertjies se begrafnis. Drie weke later steier die land nog. Die joernalis se ontroering was voelbaar. Meirav, die tweejarige, was veiligheidshalwe in haar kinderstoeltjie vasgegordel, skryf sy. Maar kinderstoeltjies bied nie beskerming teen koeëls nie, en teen die tyd dat die reddingswerkers die stasiewa bereik het, was Meirav dood. So ook haar sewejarige suster, Roni. En Hadar die negejarige. En Hilal, elf.

      Agter die stuurwiel was hul ma ook dood. Tali Hatuel, 34, was ’n welsynswerker wat dikwels slagoffers van terreur moes troos en bystaan. Sy was agt maande swanger met haar eerste seuntjie en op pad Askelon toe vir ’n sonar. Daarna wou sy en die dogtertjies David ontmoet by ’n byeenkoms van mense wat Israel se onttrekking uit Gasa teenstaan. Die Hatuel-gesin is per slot van rekening inwoners van die Gush Katif in Gasa.

      David sou sy vrou en dogters nooit weer lewend sien nie. Dieselfde Sondagaand, 2 Mei 2004, begrawe hy hulle. Omring deur duisende roubeklaers huil hy ontsettend: “Ek is heeltemal alleen, daar het niemand oorgebly nie.”

      Ek baan my weg versigtig deur die biddende, wiegende, or­to­dokse vroue heen. Van anderkant die afskorting waar ’n bar mitzvah begin het, kom die diep stemme van kantors wat voorsing. By die muur, my hande teen die koel stene, bring ek David Hatuel in sy onbeskryflike ellende voor Adonai van Israel.

      Maar toe ek later terugstap tussen die mense deur, bly my hart verslae oor die verskrikking wat hier voortduur. Woorde van ’n Nederlandse geestelike kom by my op: “God is niet grijpbaar, daarom vergrijpt men zich aan zijn volk”.

      Laatmiddag is die klippe roesbruin in die laaste lig. Skadu’s begin hoër teen die muur kruip, net bolangs nog streep die son goud. In die klipgroewe nestel die duiwe teen die wind. As ek ’n jong vrouesoldaat snikkend teen dié klaagmuur sien ineenkrimp, draai ek weg. “Waarom moet die heidene sê: ‘Waar is hulle God nou?’ ”(Psalm 79:10).

      Die trappe terug na die Joodse buurt is meteens baie, die luggie skraal oor die Hurva-plein. Toe gaan ek botstil staan. Teen een van die verwoeste mure van die eens pragtige Hurva-sinagoge bibber twee bloedrooi papawers op die sagte wind. Selfs in die laatlig gloei hulle. Voorjaarslewe!

      Hy lééf, onthou my droewe hart meteens. Hy, ons Messias, is ook hul Moshiach. Hy kom terug, Hy kom regeer. Hy sal die trane afdroog. Ek vou David Hatuel in my arms toe, ek druk sy verwese gesig teen my skouer vas. “Kyk, dis voorjaar,” fluister ek, en my eie hart word lig, “Hy leef en ons sal leef!”

      * Raadpleeg die woordelys agter in die boek vir die betekenis van Hebreeuse woorde.

      Die gelykenis

      Hy is s-o-o mooi. Gesigsmaskertjie en pote, swart, fyn tierlyfie, blouste blou oë. Ons het hom Shlomo gedoop voor ons nog geweet het hoe slim hy regtig is. In die koerant het hy geadverteer gestaan vir “a very spirited kitten”! Wel, hy is inderdaad ’n Salomo en ongetwyfeld “spirited”. Dis ons agt maande oue Siamees.

      “Moet ons weer ’n kat kry?” het my man vertwyfeld gevra ná ons vorige Siamees, Misha, voor die huis doodgery is. Die nag voor ek in Januarie Jerusalem toe is. Ek kon sy huiwering verstaan, maar by my bidplek het ek tog gepleit: “Asseblief Abba, nog net hierdie een keer!”

      Toe gaan ons hom haal. Totaal onbevange sit hy op my knie in die motor. Kombersie en mandjie genegeer. Tuis raak hy binne dae die twee Jack Russels baas. Daar is ongetwyfeld geen gebrek aan persoonlikheid nie. Hy is alles wat ek ooit in ’n kat kon vra. Maar binne my veg ekstase en vrees ’n ongelyke stryd. Wat as die renbaan-voorstraat hom ook eis? Op die veearts se aandrang hou ek hom die eerste twee weke binnenshuis. Maar Shlomo se on­geduld is baie gou sigbaar.

      Ons hang ’n klokkie langs sy naamplaatjie om sy nek om te hoor waar hy is. Toe laat ek hom versigtig in die agtertuin uit. Glo naarstiglik die drie mak eekhorings, ’n swerm duiwe, die honde, die bome, sal hom besig hou. Ek bid en ek hardloop en ek raas en ek paai. Maar Shlomo is Shlomo. Hy hardloop moeiteloos oor die dak en gaan sit uitdagend in die straat. Snags lê en spin hy, sag soos ’n baba, tussen ons onder die duvet. Maar bedags doen hy sy eie ding.

      My buurman, twee meter in sy sokkies, lui die voordeurklokkie. “Your kitten,” sê hy, “is in my garden, I wanted to bring him, but he bites.”

      Weet ek! Die onderwerp van ons gesprek verskyn skigtig op die grasperk agter ons. Daar sit hy hom ongeërg en was. Ek probeer hom bykom, maar hy ontglip my blitsig, spring op die prieel en grinnik van bo af vir my.

      Ons veearts het gesê ’n mens kan ’n kat leer om met sononder in te kom en nie snags rond te loop nie. Dis wanneer hulle raakgery word. Wonder bo wonder laat Shlomo hom dit leer. Skemer­aand kom hy op my skoot voor die rekenaar sit.

      Hy verken die ganse woonbuurt. My (ook dier-besete) oorkantste buurvrou waarsku my dat hy gereeld die straat argeloos oorsteek. “Abba,” soebat ek, “daar is geen manier hoe ek Shlomo kan oppas nie! Hoe ek kan keer dat hy nie ook doodgery word nie!”

      “Jy kán hom nie oppas nie,” hoor ek Hom in my hart sê.

      Ek kyk deur die oop venster na waar Shlomo agter ’n eekhoring die boom op skarrel.

      “Wat moet ek doen?” vra ek moedeloos.

      “Laat hy vir jou ’n gelykenis wees . . .”

      ’n Gelykenis? Ek sit stil voor Hom om te kan weet wat Hy bedoel. Mettertyd begin dit sin maak. Ek kan Shlomo nie be­skerm nie. Nie vir hom nie, nie my kinders of my man of my ander geliefdes nie. Ek kan niks doen nie.

      Maar my hart hoor weer sy dierbare stem daardie eeue oue woorde bevestig wat Jeremia eenmaal gebid het: “Niks is vir My onmoontlik nie!”

      Dit moes Hy my deur Shlomo weer laat verstaan. Sodat ek kan weet om aan Hom vas te hou. Net aan Hom. Nóú terwyl ek hier in die hospitaal se voorportaal sit en skryf terwyl ons kleindogter, Aliyah, vir breinchirurgie in die teater is.

      Die Kersfees-Kind

      Op Oupa en Ouma Karoo se plaas was niks dennebome vir ’n Kersboom nie. Ons moes klaarkom met ’n siprestak. Een wat in ’n blik sand gestaan het. Versiersels moes ons self maak. Sipresboomknolletjies is met die blinkpapier uit ’n sigaretdosie oorgetrek en aan toutjies van Ouma se gekleurde hekelgare gehang. Engeltjies is met groot konsentrasie uit skoendose geknip en met wit papier geplak. As daar nog silwerpapier oor was van dié wat Ouma heeljaar van die ooms gespaar het, kon hulle blink vlerke kry. Elke Kersfees is die goue ster wat ons tante uit Engeland gebring het, in die boomtop vasgebind. Wattepluisies was sneeu, al het die kraaie buite gegaap. Onder die boom het ons my sussie se pop lê gemaak. Dit was Jesus.

      Kersfees het vir my na sipres geruik.

      Ons Namakwalandse oupa en ouma het nooit ’n Kersboom gemaak nie. Op asemlose warm Oukersaande op die pastorie se lang stoep het ons geluister wanneer Oupa die Kersverhaal elke keer nuut vertel. Dan het ons gekyk hoe helder die sterre teen Namakwaland se hemel hang. In ons gedagtes kon ons die ster daardie nag bo die stal sien skitter. Oupa het oor Jesus gepraat asof hy Hom self geken het. Hy wou nie dat ons ’n popkrippie maak nie.

      “ ’n Seun is vir ons gebore,” het hy gesê en sy blou