pas opgestaan het – uiteindelik is al die gepraat verby!
Aileen sug. Sy het gehoop hulle kan vinnig ontsnap. Sy is honger en het nou ’n groot glas rooiwyn nodig. Met ’n stywerige glimlag draai sy terug.
“Hallo, Maria,” groet Nadia vriendelik en vat Aileen aan die arm. “Dis my vriendin, die een van wie ek so baie praat, wat in Frankryk was en nou haar eie pâtisserie gaan oopmaak. Aileen, dis Maria.”
Die ouer vrou kyk glimlaggend na haar en Aileen se glimlag word vanself wyer. Maria se lippe is bloedrooi geverf en haar groot glimlag trek ’n mens in, maak jou lus om self te lag.
“Hallo, mevrou,” begin Aileen, maar sy word toegevou in ’n omhelsing voor sy verder kan praat.
“Nee, o aarde, kind, noem my asseblief Maria. ’n Ge-mevrouery maak my heel verbouereerd. Pâtisserie, sê jy? Dit klink wonderlik, so Frans! Waar is jou plekkie? Ek kom sommer môre ’n draai maak.”
Aileen lag effe senuweeagtig. “Ek is bevrees dit gaan nog ’n tydjie wees. Ek is nog op soek na die regte adres.”
Maria se glimlag word nóg breër. “Nou maar dan praat jy hier met die regte persoon. My –”
“Maria, kom hoor gou hier!”
Maria skud haar kop ongeduldig en kry half rigting na die een wat roep.
“Wag julle net gou hier, ek moet . . .”
Maar genadiglik vir Aileen, skud Nadia laggend haar kop. “Ons kan anderdag kuier, Maria. Ek het nog vir Aileen ’n glas rooiwyn belowe. Ek bel jou, dan maak ons ’n koffie-date.”
“Maria!” roep die stem weer ongeduldig van iewers in die bolling mense.
Maria beweeg daarnatoe, maar praat nog oor haar skouer met hulle. “Ag tog, ek moet nou gaan, maar ons moet praat kind, hoor?” roep sy vir Aileen.
“Gou, kom ons maak ons uit die voete voordat nog iemand jou vaskeer,” sê Aileen en stuur Nadia in die rigting van haar motor.
“Ja, ek het seker iets geleer, maar sjoe, sy’t ’n lang asem,” sug Aileen en lig haar glas rooiwyn vir Nadia. Hulle kon gelukkig nog ’n tafel kry in die besige Buena Vista Social Club. Die plek is duidelik nog net so gewild soos voor sy oorsee is.
Nadia lag haar uit. “Maar dis vir my vreeslik interessant. Gaan jy jou vraelys invul?”
“Ek sal maar sien. Dit was maklik toe sy net van die vier temperamente gepraat het. Maar toe is daar kombinasies en nou klink dit vir my net na ’n deurmekaarspul. En boonop sommer, wat, sestien persoonlikheidstipes! Ek is skoon deurmekaar, ek het geen idee in watter een van die blokkies ek myself moet sit nie, wat nog te sê daai simpel vent.”
“Nee man, die punt is juis dat g’n mens suiwer net een van die temperamente het nie. En dat persoonlikheid ook belangrik is.” Nadia haal ’n notaboekie uit haar handsak. “Kom ons neem vir jou as voorbeeld. As ek moet sê, sou ek dink jou temperament is die van ’n FlegSan. Jy kom gewoonlik goed oor die weg met mense – party rooikoppe natuurlik uitgesluit.” Sy glimlag stout vir Aileen en kyk weer af na haar boekie. “Jy het nie altyd die nodige motivering nie, want jy het die rustelose siel van die sanguin. Hoewel ek dink dat jy nou, ná die kursus in Frankryk, uiteindelik weet wat jy wil doen.”
Nadia frons en blaai om na haar volgende stel notas. “Maar ek weet ook nie. Die flegmaat word nie maklik versteur nie en het gewoonlik haar emosies onder beheer, maar ná Maandag weet ek nie meer of jy as flegmaties beskryf kan word nie,” sê sy doodernstig.
Aileen lig haar ken verontwaardig op. “Presies! Dit was nie in my aard nie, dis nie ek nie – dis daai man, ek sê jou! Oe, ek vervies my sommer weer van voor af.”
Nadia sit haar boekie neer en lig haar glas. “Soos ek sê . . .”Sy glimlag, tel die boekie op en blaai vinnig daardeur totdat sy vind waarna sy op soek is. “Ja, hier’s dit . . . as ons van persoonlikheidstipes praat, sou ek sê jy’s ’n ENFP.”
“Is dit nou een van daai blokkies? Darem snaaks om so as letters beskryf te word.”
“Dis omdat jy so sit en vroetel het dat jy niks hiervan weet nie, jy’t glad nie geluister nie! Ja, dis een van die blokkies. Die letters staan vir ekstroversie, intuïsie, gevoel en persepsie. Dit beteken,” sê sy met ’n vinger in die lug, “dat jy hou van mense, jy soek harmonie in jou lewe, jy maak vinnig konneksies tussen gebeure en inligting, jy wil van geweet wees, maar jy ondersteun ander mense ook. Jy’s spontaan, buigsaam en maak staat op jou vermoë om te improviseer. Die P vir persepsie is jou basiese modus waarmee jy met die wêreld daarbuite te werk gaan. Dit dui daarop dat jy jou oordeel uitstel of oophou en nie soos ’n J vir judgement vinnige afleidings maak en tot definitiewe konklusies kom nie.”
“En jy kan dit alles aflei ná een praatjie? Ek wens ons kon daai man ook so maklik opsom. Dan kon ek dalk weet hoe om hom te benader.”
“Wel, het jy nou al aan ’n manier gedink om om verskoning te vra sonder om om verskoning te vra?”
Aileen sug. “Nee, ek weet nog nie hoe ek dit gaan doen nie. Ek sal regtig iets moet uitdink.” Sy vat ’n sluk wyn en dink ’n oomblik voor sy weer praat. “Ek moet dalk by Julian hoor, dis ’n –”
“Hoor ek my naam?” vra ’n geamuseerde manstem langs hulle.
Aileen kyk vinnig op. Julian staan daar, reg langs hul tafel, met sy hande om vier bottels bier gevou.
“Dis nou ’n verrassing! Ons praat nou net van jou,” sê Nadia laggend.
“Ek hoor so. Ek sal graag hoor wat julle als oor my te sê het.” Hy hou sy hande met die bierbottels op. “Ek gaan net gou hierdie biere afgee, ek’s nou terug,” roep hy en verdwyn tussen die mense.
Aileen volg hom met haar oë totdat hy by ’n groepie aan die oorkant van die vertrek gaan staan. Daar is te veel mense wat rondstaan en sy kan nie uitmaak vir wie hy die bier gee nie.
Sy draai terug na Nadia en skep ’n slag asem. Haar hart klop vinnig, haar hande is skielik klam, haar mond droog – en dit net omdat sy gedink het die rooikopman is dalk in die omtrek. Sy kam haar vingers deur haar hare. Hierdie verspottigheid moet end kry!
“Hier kom hy. Gaan jy hom sommer nou vra?” fluister Nadia.
“Ek sal hoor of ons ’n afspraak kan maak. Ek wil nie sommer hier –” Aileen hou meteens op met praat toe sy sien hoe Nadia se wenkbroue die hoogte in skiet toe sy verby haar loer na Julian.
Nog voordat Nadia haar mond oopmaak, weet Aileen. Die een mens wat sy gehoop het sy nooit weer hoef te sien nie sal nou vanaand, van alle aande, uit al die honderde eetplekke in en om Stellenbosch, ook besluit om by Buena Vista te wees.
“Jy sal nooit raai wie’s ook hier nie,” fluister Nadia dringend voordat haar groot glimlag haar gesig verhelder.
“Ongelukkig kan ek. Dis daai vent,” sis Aileen, en vat ’n groot sluk van haar wyn.
Toe Julian vir hom tussen die skare mense deur beduie het om saam te stap, het Allen gedink hulle gaan buite asem skep. Die kos is baie lekker, die girls wat saamgekom het, is heel vriendelik en aantreklik en, te oordeel aan die enetjie wie se hand heeltyd op sy bobeen bly, heel gewillig, maar hy voel . . . ontspoor is dalk die regte woord om sy gemoedstoestand te beskryf.
Hy wil nog vir Julian beduie hy stap in die verkeerde rigting, toe sien hy haar. Die rooikopmeisiekind van ’n paar dae gelede.
Iets in sy binneste skuif. Vir ’n millisekonde ontmoet hul oë en sy mond is kurkdroog. Dan kyk sy vinnig weg en sluk aan die glas rooiwyn in haar hand.
Bliksem. Weer daai voorhamer-teen-die-voorkop-gevoel. Wat is dit met die vroumens? Sy is vrek mooi, ja, maar g’n mooi girl het hom al so verstrik in sy eie gedagtes en gevoelens gehad nie. Sy is al waaraan hy kan dink.
“Haai, kyk wie’t ek saamgebring,” sê Julian en gaan sit op een van twee oop stoele by die meisies se tafel. Die enigste stoel wat oorbly,