hom!
Sy ma fladder haar hande in sy rigting. “Ek het my altyd so verknies oor jou. Jy werk so hard en sulke lang ure en die ou meisietjies wat jy date, is sulke ou leëkop-goedjies en hou nooit lank nie. Maar nou verstaan ek.”
Allen glimlag. “Watter kwasisielkundige se boek het Ma nou weer beet? Ma het nou maande lank oor die ‘secret’ gepraat wat Ma glo gekry het. Was dit toe nie die laaste antwoord nie?”
Sy ma lig haar wysvinger kamstig streng in sy rigting. “Hierdie is honderd persent wetenskaplik. Volgens die Myers-Briggs-indeling van persoonlikheidstipes het mense nou eenmaal verskillende persoonlikhede. Daarom weet ek jy sal nie by daai oulike kind pas nie. Tog jammer, maar nou ja.”
Hoogs geamuseerd eet Allen die laaste happies van sy ontbyt. “O, ja? En watse soort persoonlikheid sou Ma sê het ek?”
Sy spring op en gryp ’n notaboekie wat op die kombuisrak lê. “Ons het gisteraand by die besprekingsgroep ’n baie interessante spreker gehad wat vir ons die hele ding verduidelik het. Eers van temperamente en toe van persoonlikhede. Laat ek sien,” prewel sy en lig haar leesbril wat altyd om haar nek hang op.
“Hmmm, hier is dit. Jy het die temperament van ’n ChlorMel,” roep sy ma triomfantlik uit. “Dis hoekom jy so ’n onmoontlike mens is. Luister hier,” en met haar vinger in die lug begin sy lees: “Die ChlorMel is hardwerkend, ingestel op detail, verbaal aggressief, baie outokraties en eiewys. Klink iets hiervan vir jou bekend?” vra sy en kyk hom bo-oor haar bril aan.
Allen lag. “Die eiewys-deel? O ja, vir seker. Dis my ma daai!”
Sy ma pluk haar bril af en kyk hom vies aan. “Dis jý wat hier beskryf word! Luister,” en sy lig weer haar bril op om te lees: “Choleriese mense is geneig om dominerend te wees en wil in beheer wees van alles. Die melancholiese persoon is weer perfeksionisties. Dink jy nie die twee saam som jou perfek op nie? Dis hoekom jy vir jou meisietjies uitsoek wat nie veel tussen die ore het nie. Hulle val in by al jou planne en wil nie in beheer wees nie. Voeg daarby jou fobie om enigiemand te vertrou . . .”
“Dis nie waar nie.”
“Ek was baie lief vir jou pa, maar vandat hy so ingeloop is, het hy baie bitter geword. En ek weet baie van wat hy gesê het, het jy absorbeer.”
“Die rede hoekom ek suksesvol is in besigheid, is juis omdat ek versigtig is. Jy kan nie elke mens vertrou nie. Ja, ek het dit by Pa geleer, maar ek glo nie dis ’n slegte ding nie.”
“Dit raak ’n slegte ding as jy niemand naby jou wil toelaat nie. Daarom die flossies. Jy weet jy sal nooit oor een van hulle ernstig raak nie. En jy is altyd in beheer.”
Allen glimlag. “In beheer wees, sê Ma? Ek ken nog so iemand . . .”
Sy ma ignoreer hom en lees verder uit haar notas. “En jou persoonlikheidstipe sou ek sê is ENTJ. Die E staan vir ekstroversie – dit dui op die invloed van die eksterne wêreld op jou, jou ingesteldheid op die dinge buite jou. Die N is vir intuïsie, dit gaan oor die manier waarop jy inligting versamel. Jy is meer geneig om inligting te vertrou wat abstrak en teoreties is. Jou benadering tot probleemoplossing is intuïtief en innoverend. Die T staan weer vir Thinking. Anders as die J-persoonlikheid, neem jy besluit op ’n objektiewe, rasionele, logiese en konsekwente manier. Die J staan vir judging. Dit dui daarop dat jy tot definitiewe konklusies en waarde-oordele kom. J-persone is gewoonlik ook meer linkerbrein-georiënteerd. Jy is een van life’s natural leaders. En jy’s reguit,” sy skep asem en loer na hom oor haar bril. “Natuurlik ’n eufemisme vir iemand wat soms maar net ongeskik is.”
Maar sy’s nog nie klaar nie, daar loer sy al weer notas toe! “Jy sien dadelik onlogiese en oneffektiewe prosedures en standpunte raak, jy kan die nodige sisteme ontwerp en implementeer om organisatoriese probleme op te los – dié dat jy so hou van baas wees. Jy hou van langtermynbeplanning. Ai, dis so waar – jy sukkel om sommer net spontaan iets te doen. En natuurlik hou jy daarvan as ander mense saam met jou stem. Jy is ook skoorsoekerig en kan onbevoegdheid en onbekwaamheid nie verdra nie.” Triomfantlik hou sy die papier in die lug. “Wat sê jy daarvan?”
Allen staan op en buk om sy ma ’n soen te gee. “Ek weet nie waarvan jy praat nie, Ma, maar as jy my nou klaar ontleed het, moet ek gaan werk. Ek gaan vandag seker maak dat ek beheer uitoefen, baasspeel en . . . wat nou weer alles?”
Sy ma druk hom weg en staan ook op. “Toemaar, jy hoef nie te wonder nie, vir jou kom dit sommer vanself. Maar dis nie hoekom ek jou gevra het om ’n draai te kom maak nie.”
Allen begin aanstap voordeur toe, sy ma kwetterend langs hom. “Wat ek jou eintlik wou vra, is of jy nog ’n spasie in jou nuwe gebou het wat jy wil verhuur? Die oulike meisiekind waarvan ek nou net gepraat het, sy soek ’n plek.”
Sy bui is dadelik opgemors. Hy maak die voordeur oop en draai terug na sy ma. “Daar is ’n vroumens wat belangstel. Sy wil glo cupcakes verkoop. Bid jou aan! Dis bedoel om ’n kantoorblok vir hoogs gesiene sakemense te wees, nie ’n speelgoedwinkel vir rykmans-rooikopdogtertjies nie.” Hierdie keer probeer hy nie eens om die irritasie in sy stem weg te steek nie.
“Rooikop?” vra sy ma met ’n verbaasde laggie.
Hy wys na sy eie hare, skud sy kop en buk om sy ma ’n drukkie te gee. “Twee rooikoppe. Geen manier waarop dit kan werk nie. Maar sy het in elk geval haar stert so in ’n krul getrek vir my, ek dink nie ek sal haar weer sien nie. Julian het my intussen oortuig dat ’n tipe eetplek nie so ’n slegte idee is nie. Die girl van wie Ma praat, waarvoor soek sy ’n winkelruimte?”
Sy ma glimlag breed en maak haar keel skoon. “Uhm . . . nee, weet jy, ek weet nie. Laat ek eers uitvind, ek bel jou,” sê sy vinnig en druk hom amper by die voordeur uit.
“Baai, Ma.” Allen draf by die trappies af, maar gou gaan die voordeur weer agter hom oop. Hy kyk om.
“Is jy vandag een of ander tyd by die nuwe gebou?”
“Ja, so oor die etensuur. Daar’s iemand wat na die kantoorruimte op die tweede verdieping wil kom kyk. Hoekom?”
“Nee, ek wonder maar net,” sê sy ma vinnig en druk weer die deur toe.
Sy ma is weer met die een of ander ding besig, Allen kan sy kop op ’n blok sit. Maar hy het ’n vergadering wat oor ’n paar minute begin, hy sal wel later uitvis wat sy in die mou voer.
“So interessant vir my dat dinge nou só uitwerk. Dink julle nie ook so nie? Jy soek ’n ruimte in ’n gebou, ek het ’n seun wat ’n plek wil verhuur en ons ontmoet mekaar net gisteraand?” babbel die vrolike vrou met die bloedrooi lippe.
Aileen is nog nie heeltemal seker hoe sy in Maria se motor beland het nie. Sy het vir Nadia gaan oplaai sodat hulle na die plek in Andringastraat kan gaan kyk. Nadia het dadelik opgewonde begin vertel dat Maria gebel het, gesê het haar seun het nog ’n ruimte in sy gebou en hulle moet dadelik kom, dan vat sy hulle soontoe.
Maria het daarop aangedring dat hulle met haar motor ry en het nog nie vir ’n oomblik ophou praat vandat hulle ingeklim het nie. Nadia sit voor langs Maria.
“Waar is die gebou?” vra Nadia haar vir die soveelste keer.
“Jong, ek sê vir jou, dit het die wonderlikste ligging. Net reg vir wat jy in gedagte het, Aileen. Aileen, so ’n mooi naam vir my. Is dit Skots?”
“Ja,” antwoord Nadia namens haar. “Haar van is McLachlan, pure Skots.”
“Nou toe nou! My man was ook ’n trotse Skot. Weet jy hoe lyk julle familiewapen?”
Aileen hap ’n paar keer in die lug op die agtersitplek. In haar hele nege-en-twintig jaar het niemand haar al ooit dít gevra nie. “Uhm . . . Ek weet daar hang ’n ding in my pa se studeerkamer, maar ek kan nie onthou presies wat daarop is nie.”
“Jy moet tog uitvind wat julle motto is, dis altyd so interessant. Die Muirs se familiewapen het die kop van ’n man op, die Skotte praat van ’n ‘savage’, en die leuse beteken iets soos “ek oorkom moeilikhede deur geduld”. Sy lag.