het in Aileen se brein ontplof op dieselfde oomblik dat sy opgekyk het en besef het hulle is byna voor dieselfde gebou in Dorpstraat waar sy ’n paar dae vantevore die mislike rooikopvent ontmoet het. Allen Muir. Hy het dieselfde van wat Maria nou net genoem het. Wat beteken . . . Allen is haar seun.
Nadia kyk om na haar, haar oë groot en vol lag. “Ek het nie geweet wat haar van is nie, ek belowe! Ek kan vir haar sê . . .”
Maar Maria pluk reeds Nadia se deur oop. “Kom, julle tweetjies, kom. Ek wil ook so graag sien hoe dit lyk. Ek dink dis die wonderlikste, wonderlikste ligging. Absoluut ideaal vir jou Franse plekkie, Aileen.”
Nadia klim uit, maar Aileen bly verdwaas sit. Hoe op aarde het sy in dié situasie beland? Sy was op pad om na die plekkie in Andringastraat te kyk, en nou sit sy weer hier. Voor daai man se gebou. Die laaste plek waar sy wil wees.
Sy klim stadig uit. Daar is nie ’n manier waarop sy met grasie uit hierdie situasie kan wegkom nie. Hopelik is hy nie hier nie. Sy kan rondkyk en al die regte geluide maak en dan net later laat weet dankie, maar nee dankie.
Die motordeur is halfpad oop langs haar toe sy sy stem hoor.
“Nadia?” hoor sy hom verbaas uitroep. “Is dit jý wat belangstel?”
Aileen klim maar uit die motor en Allen se kop swaai in haar rigting. Sy oë rek.
Nadia lag verbouereerd. “Ons het nie geweet Maria is jou ma nie. Toe sy sê haar seun het ’n plek beskikbaar, het ons nie geweet jý is . . .” Nadia se stem raak weg en sy kyk smekend na Aileen.
“Wil jy vir my sê . . . Ag, ek glo dit nie!” Maria lag vrolik en wys met haar vinger tussen Allen en Aileen. “Is Aileen die rooikop van wie jy vanoggend gepraat het? Is dit nou nie toevallig nie! Wel, ons is nou hier, ons kan netsowel gou weer kyk.” Sy wink vir Aileen nader. “Kom, kind, ek besef nou jy het al die plek gesien, maar dis altyd goed om met nog ’n paar oë na so iets te kyk.”
Allen lyk net so oorbluf soos Aileen voel. Hy staan met sy hande op sy heupe en staar na sy ma. “Ma, ek het vir jou gesê dat sy –”
Sy ma druk vinnig haar hand oor sy mond. “Jy kan nie sê wat jy vanoggend gesê het nie, dan gaan sy nooit die plek vat nie.” Sy knipoog vir Aileen en vir Nadia. “Ek het vir hom gesê hy is ’n ChlorMel en hy val in daai laaste blokkie van die persoonlikheidstipes, ek kan nie nou die vier letters onthou nie. Maar ek onthou dat die persoonlikhede wat daaronder val, skoorsoekerig en eiewys is. Nadia, watse temperament sou jy sê het Aileen? Ek ken haar mos nog nie so goed nie.”
Nadia glimlag en vermy Aileen se oë. “Ons het net gisteraand daaroor gepraat. Ek dink sy is ’n FlegSan. En sy val ook onder een van die ekstroverte blokkies. Sy kom maklik met mense oor die weg, is baie gelukkig en is meer emosioneel as wat ’n mens dink as jy haar die eerste keer ontmoet. Sy is nie altyd vreeslik gemotiveerd nie, maar ek dink sy het nou haar nis gevind. Sy is spontaan en –”
Maria lag en gooi haar hande in die lug. “Maar dis g’n wonder julle het dadelik vasgesit nie. Alles bots. Allen het in sy lewe nog nooit iets spontaans gedoen nie. En dan het julle nog al twee rooi hare ook. Nou kyk, soos ek die ding sien, hoef julle nie van mekaar te hou om besigheid te doen nie. En wanneer die papiere geteken is, hoef julle mekaar nooit weer te sien nie. Aileen, het jy al iets gesien wat nicer is as hierdie plek?”
Is sy op ’n ander planeet, of wat op aarde gaan hier aan? Aileen kam haar vingers deur haar hare en probeer dink aan woorde wat sy kan gebruik. Enige woorde. Op die oomblik twyfel sy of sy hoegenaamd ’n logiese sin agtermekaar kan sit.
“Nie . . . nie regtig nie,” stamel sy uiteindelik. “Maar Allen wil nie so ’n plek in sy gebou hê nie.”
Maria trek haar aan die arm. “Hy het intussen van plan verander. Ook ’n wonderwerk, sê ek jou. Gewoonlik as hy op iets besluit het, laat hy hom deur niks en niemand van iets anders oortuig nie. Maar skynbaar het Julian dit reggekry om hom die sin van ’n eetplek te laat insien.”
Voor Aileen en Maria om die hoek stap, kyk Aileen terug. Allen se mond is halfpad oop, so asof hy iets wou sê, maar dan skud hy net sy kop en kyk hulle met ’n effense glimlag agterna.
Allen leun teen die deurkosyn van die leë vertrek en kyk met skrefiesoë na sy ma. Hy het mos geweet sy konkel met iets. Kamma vreeslik verbaas dat hy en Aileen mekaar ken! Sy moet twee en twee bymekaar gesit het. En sy het die een of ander plan met die meisiekind, daarvan is hy seker. Net snaaks dat sy vir hom bly vertel die girl pas glad nie by hom nie.
Sy ma het by Aileen ingehaak en is armswaaiend aan die babbel terwyl hulle twee deur die ruimte stap. Sover hy kan uitmaak, kry Aileen nie kans om ’n woord te sê nie.
Sy oë gly oor die rooikop se lyf. Haar reguit vosrooi hare hang laag af oor haar rug. Die jeans, wat styf om haar netjiese boudjies pas, beklemtoon haar lang, lang bene. En voorlangs vlei die sagte top haar wonderlike kurwes. Sy mond word droog en hy kyk vinnig weg.
Nadia kom stadig nader gestap. “Ek is jammer, Allen. Ek het werklik nie besef Maria is jou ma nie. Ons ken mekaar deur die besprekingsgroep, maar ons ken eintlik net mekaar se name. Toe sy bel en van hierdie plek vertel . . .”
Allen staan regopper en druk sy hande in sy broeksakke. ’n Vreemde soort opgewondenheid het in sy binneste kom nesmaak en hy weet regtig nie hoekom nie. “Moenie jou daaroor bekommer nie.” Hy kyk weer in sy ma en Aileen se rigting. “Maar jou vriendin het mos klaar besluit sy stel nie belang nie. Sy moet dit maar net duidelik maak vir my ma.”
“Uhm, sy wil eintlik graag –”
Sy ma kom handeswaaiend op hulle afgepyl. “Allen, skat, jy is mos die salesman. Vertel nou vir Aileen hoekom hierdie plek ideaal is vir haar. Nadia moet terug werk toe, ek neem haar gou. O gats, Aileen, jou motor is nog by my huis. Allen, wanneer julle tweetjies klaar is, sal jy so oulik wees en gou vir haar vat, ek het ongelukkig iets anders aan. Dankie, jy is so ’n ou staatmaker,” en sy gee hom ’n klapsoen.
Die volgende oomblik is hy en Aileen alleen in die leë vertrek. Sy maak haar handsak oop en soek na iets. “Dis orraait. My pa of my broer kan my gou kom haal,” sê sy vinnig en haal haar selfoon uit.
Met twee treë is Allen by haar en hy vou sy hand om hare en die selfoon. “Moenie laf wees nie, ek vat jou. Ons kan dadelik ry, jy stel mos nie belang in die plek nie, of het jy van plan verander?” Hy klink moedswillig, hoor hy.
Haar oë blits en sy probeer haar hand uit syne trek, maar hy hou vas. Hy hou daarvan om so naby aan haar te wees. Sy ruik na . . . Wat is die geur? ’n Sweempie roos, ’n titseltjie angelier, ’n knypie spesery? ’n Beeld van middernagswart satynlakens doem voor hom op. Haar rooi hare oor ’n kussing gesprei . . .
Haar oë vlieg op na syne. En word pers. Gefassineerd hou hy die proses dop. Hy onthou die blou van haar oë. Hel, dit spook nou al dae lank by hom. Maar hier, naby aan haar, word dit ’n dieper kleur. Sy asem raak weg, hy beweeg sy kop laer af na haar . . .
“Hallo, hallo,” roep Julian van die deur af. “Het jy toe ’n ander huurder gekry?”
Sentimeters voor sy lippe aan hare sou raak, tree Allen terug. Hy hou haar oë nog ’n oomblik lank vas voordat hy haar hand los en na Julian draai.
“Nee, die huurder waarvan my ma gepraat het, is toe al die tyd ook Aileen.”
Julian stap laggend nader. “Ja? Dis nou interessant. Wat sê jy vandag, Aileen? Of het jy iets anders gekry?”
“Ek . . . Daar is ’n plek in Andringastraat waarna ek wil gaan kyk. Maar ek het gedink dat julle nie van ’n pâtisserie in julle kantoorblok gaan hou nie. Wat het julle van plan laat verander?”
Julian lig sy hande verontskuldigend op, die pes. “Ek het nog altyd gedink dis ’n goeie idee. Allen is die een wat die probleem gehad het.”
Allen kruis sy arms voor hom. “Ek het mos gesê ons oorweeg dit nou wel.” Hoekom maak hulle dit so moeilik vir ’n man!
Julian lag hom uit. “Wel, julle moet dit maar uitstoei.