Скачать книгу

      

      Susanna M Lingua

      ’n Lang, vreemde pad

      Melodie

      1

      Elise is moeg maar tog diep gelukkig en tevrede toe sy haar en Estelle de Beer se kamer binnestap. Sy neem op die bankie voor die spieëltafel plaas en begin haar natgeswete goudblonde hare met lang hale borsel.

      Toe sy daarmee klaar is, plaas sy die borsel terug op die spieël­tafel. Ken in die handpalm gestut, bekyk sy haar spieëlbeeld krities.

      Hm, nie te onaardig nie, sê sy in haar gedagtes aan haarself, terwyl sy die mooi, intelligente voorkop, viooltjieblou oë met die sagte, byna veraf uitdrukking, fynbesnede neus, hartvormige gelaat, sensitiewe mond en effens spits kennetjie beskou. Ja-nee, jy lyk beslis nie onaardig nie, Elise Eybers. Jy is nou wel aan die kort kant, maar jou figuur laat darem niks te wense oor nie . . . Ja-nee, so bolangs lyk dit glad nie of jou een en twintig lewensjare uit hartseer, eensaamheid en swaarkry bestaan het nie.

      Sy sug. Dit was ’n moeisame pad, en nou lê daar nog ’n lang, vreemde pad voor . . . Wie weet wat die toekoms vir my inhou?

      Haar gedagtes dwaal terug na haar kinderjare in die Jaka­randa-kinderhuis. Dit was lang jare van hartseer en verlange na ouers wat sy nooit geken het nie, ouers wat haar op die tere ouderdom van een jaar deur die dood ontneem is. Toe was sy ’n weeskind. Die soektog na ’n enkele familielid het niks opgelewer nie, en die maatskaplike werksters moes later aanvaar dat die blonde meisietjie, Elise Eybers, geen naasbestaandes het nie. Sy was soos ’n eensame bootjie op ’n groot oseaan van mense, sonder anker of hawe, totdat sy in die kinderhuis opgeneem is.

      Die jare wat daarop gevolg het, was eensame jare waarin sy nooit ’n enkele besoek ontvang het nie. Party van die kinders het naasbestaandes gehad wat hulle soms by die kinderhuis besoek en vir hulle lekkers en geskenkies gebring het, maar daardie voorreg het sy nooit geken nie. Niemand, behalwe die personeel, het ooit in haar belanggestel nie. Die enigste geskenkies wat sy nog ooit ontvang het, was dié wat hulle elke jaar met Kersfees by die een of ander liefdadigheidsvereniging gekry het.

      Terwyl sy nog ’n kleuter was, het hierdie dinge haar nooit juis gehinder nie – in elk geval, nie sover sy kan onthou nie, want sy het nooit ouerliefde of selfs haar eie ouers geken nie. Die enigste liefde en aandag wat sy geken het, was dié wat sy van die matrone, haar sekretaresse en die res van die personeel ontvang het. Sy het later eers besef dat sy in werklikheid aan niemand behoort nie. In die kinderhuis was sy maar net een van ’n groot groep kinders wie se enigste tuiste die kinderhuis was. Dié besef was hartverskeurend.

      Hierdie wete dat sy aan niemand behoort nie en heeltemal alleen is, het haar soms bitter ongelukkig, eensaam en hartseer gestem. Dit was dan dat sy na ’n afgesonderde hoekie in die tuin gevlug het waar sy ongesteurd haar hartseer en eensaamheid kon uithuil.

      Die verskil tussen haar eie lewensomstandighede en dié van haar klasmaats op skool, meestal rykmanskinders, het by haar ’n minderwaardigheidsgevoel laat ontstaan wat haar uiters fyngevoelig gemaak het. Haar fyngevoeligheid was dan ook die rede waarom sy nooit, soos ander tienderjariges, haar diepste emosies en verlangens met meisies van haar eie ouderdom kon bespreek nie. Sy het haar gevolglik begin afsonder en later hopeloos in haarself gekeer geraak.

      Maar ten spyte van haar teruggetrokkenheid was daar tog mense vir wie sy baie lief was, soos matrone en haar sekretaresse. Vir haar onderwysers en onderwyseresse het sy ’n heldeverering gekoester. Hulle was vir haar ’n simbool van kennis en wysheid, maar haar gevoel vir matrone was iets wat heeltemal los gestaan het van haar gevoelens vir ander mense. Tot vandag toe is sy nog net so lief vir dié innemende en lewenswyse vrou wat die kwesbaarheid van ’n kinderhartjie so goed verstaan.

      Sy kan nie meer onthou wanneer die gedagte aan ’n loopbaan as onderwyseres by haar ontstaan het nie. Wat sy wel onthou, is dat sy die matrone gaan spreek het voordat sy hoërskool toe is. Sy wou leervakke neem, want sy het toe reeds die droom gehad om eendag onderwyseres te word, al moes sy bedags werk en saans studeer.

      Sy het die matrone skugter van haar hartsbegeerte vertel en was inderdaad verras toe die ouer vrou met daardie mooi, sagte glimlag gesê het: “Ek is bly dat jy die begeerte koester om ’n professionele loopbaan te volg, Elise. Dit wys jou net dat die spreekwoord ‘’n aardjie na sy vaartjie’ ’n ware woord is. Jou oorlede pa, doktor Gert Eybers, was ’n geleerde man en ’n knap argeoloog. Jou oorlede ma was sy assistente, dus self nie ’n ongeletterde vrou nie. Ek dink hulle sou baie trots gewees het op hierdie besluit van jou. In elk geval, leer maar die volgende vyf jaar mooi en lewer jou beste. Ons sal weer oor hierdie onderwerp gesels sodra jy matriek geslaag het.”

      Dit was vir haar ’n goue dag toe sy vyf jaar later van die matrone verneem het dat haar hartewens vervul sou word en dat sy haar as onderwyseres kon bekwaam.

      Sy was ’n skrander skolier en ’n studielening is aan haar toegestaan. Ná matriek moes sy dus haar intrek in ’n meisieskoshuis neem . . . en dit was van daardie oomblik af dat sy die lewe in al sy werklikheid leer ken het.

      ’n Skaduwee skuif oor haar gesig toe sy aan die afgelope drie jaar dink. As kind was sy gewoond aan die eenvoudige dinge van die lewe, maar sommige van haar koshuismaats was net aan die beste gewoond. Aan klere het dit hulle nooit ontbreek nie. Haar eie klere was eenvoudig, haar sakgeld so gering dat sy verplig was om naweke te werk.

      Haar kamermaat, Estelle de Beer, en nog twee medestudente, Linda en Marie, het haar getrou in haar soektog na werk bygestaan. Ná twee weke het sy eindelik werk as kassier in ’n bekende restaurant bekom. Dáár sou sy tydens haar vakansies ook kon werk.

      Hierna het sy geen ernstige geldelike probleme ondervind nie, maar haar vrye tyd was uiters beperk. Tog het sy altyd daarin geslaag om haar geliefde matrone een keer per maand te besoek en dan het sy gewoonlik die hele middag by haar gekuier.

      Mettertyd het sy al beter bevriend geraak met Estelle, Marie en Linda. Aan die einde van die eerste semester was daar ’n hegte band van vriendskap tussen die vier. Al die studente het natuurlik geweet dat sy in ’n kinderhuis grootgeword het en met ’n lening studeer. Dit was vir hulle ook geen geheim dat sy naweke en vakansietye vir sakgeld moes werk nie. Sekere studente het hooghartig op haar neergesien weens haar armoede, terwyl ander haar weer gerespekteer het juis vanweë haar moedige poging om bo haar armoedige bestaan uit te styg.

      Met haar drie vriendinne se bystand het sy gou geleer om grimering kunstig aan te wend en om haar lang hare te krul sodat die punte netjies na binnetoe gekam kan word. Haar fyn kleresmaak was iets inherent, daarvoor het sy niemand se raad nodig gehad nie.

      ’n Moeë dog sagte glimlaggie speel om haar mond terwyl sy aan Estelle se spontane uitroep dink nadat die drie haar die eerste keer met hul grimering opgesmuk het.

      “My wêreld, maar is die meisiekind nie pragtig nie! Dit is nou mý idee van ’n mooi meisie,” het Estelle vriendelik en opreg laat hoor. “Ons Elise is nou wel nie ’n Mona Lisa of ’n Venus de Milo nie . . .”

      “Of ’n Cleopatra of ’n godin Diana nie,” voeg Marie by.

      “Julle het heeltemal gelyk,” het Linda bedaard van haar laat hoor. “Elise lyk baie beslis nie na daardie ou klomp vroumense nie. Maar wie wil nou ook soos ’n Venus lyk? Ek het nog nooit van so ’n . . . e . . . fris vroumens gehou nie. En Mona Lisa . . . Nou ja, om eerlik te wees, ek glo nie die kunstenaar sou Mona Lisa geskilder het as hy Elise geken het nie –”

      “Jy bedoel, hy sou liewer ons eie Elise wou geskilder het, nè?” het Estelle haar met ’n goedkeurende glimlaggie in die rede geval.

      “Baie beslis. Hy sou vervlaks onnosel gewees het as hy daarna nog steeds met sy Mona Lisa volgehou het,” was Linda se eerlike mening. “En wat Cleopatra betref . . . Wel, daardie amandelvormige oë van haar lyk vir my alte skelm en slinks. Ek hou nie van haar soort nie. Die godin Diana se gesig lyk vir my weer kompleet soos ’n volmaan . . . Nee wat, die hele klomp saam kan nie vir ons Elise kers vashou nie.”

      Elise onthou nog goed hoe bitter selfbewus die drie se vleiery haar laat voel het. Daarom dat sy met goedige spot gesê het: “Toemaar, jul vleiery flous my glad nie. Daar is ’n ou gesegde wat