Die glimlaggie om haar mond verdwyn en ’n sagte blik verskyn in haar oë terwyl sy aan haar en haar drie vriendinne se mooi vriendskap dink. Sy hoor ’n deur iewers toeklap en ruk haar gedagtes weg uit die verlede. Haastige voetstappe nader die kamerdeur en die volgende oomblik storm Estelle die vertrek binne.
“Ek veronderstel jou ouers is gereed om te vertrek, Estelle?” sêvra sy en kom orent.
“Ja, ou kammie, ek kom net groet,” antwoord Estelle. “Ek voel nou nog teleurgesteld omdat jy nie saam met ons plaas toe wil gaan nie. Ons twee kan so ’n heerlike vakansie op Groenheuwels deurbring . . .”
“Ek is seker dat ek die vakansie op jul plaas baie sou geniet het, Estelle. Ek waardeer jou uitnodiging baie, maar daar is soveel sakies wat ek tydens die vakansie in orde moet bring. Die matrone van die Jakaranda-kinderhuis het ook ’n rukkie gelede gebel en gevra dat ek haar vandag moet besoek. In elk geval, ek en jy en Linda en Marie was darem gelukkig om elkeen ’n pos hier in Pretoria te kry, al is dit nou nie by dieselfde skool nie.”
“Dis waar, ou kammie, ons vier het baie om voor dankbaar te wees,” stem Estelle saam. “Ons sal darem oor en weer kan kuier. Moet nou nie vergeet om vir my te skryf nie. Ek wil weet wat jy alles in ons afwesigheid aanvang en of jy van die nuwe losiesplek hou.”
Elise belowe om gereeld te skryf, en toe groet en vertrek Estelle.
Noudat die meeste studente al vertrek het, is die koshuis meteens baie stil. Daar is nog goed wat Elise moet inpak voordat sy na Die Tuine, haar nuwe losiesplek, kan verhuis. Sodra sy haar bagasie na Die Tuine geneem het, sal sy haar na die kinderhuis moet haas om te hoor waaroor matrone haar wil spreek. Sy kan glad nie raai waaroor matrone haar ontbied het nie, aangesien sy haar reeds telefonies gelukgewens het met haar een en twintigste verjaardag, asook met haar onderwysdiploma.
Dit is byna drie-uur toe Elise by die kinderhuis aankom. Die grasperk, sierbome, blombeddings en roostuine lyk betowerend in hul kleurryke drag. Sy bly ’n oomblik in die skaduwee van ’n boom staan om die tuin waarin sy as kind gespeel het te bekyk. Maar voor haar gedagtes weer koers kry na die verlede, kom die bejaarde matrone na haar toe aangestap.
Daar is ’n sagte uitdrukking in Elise se oë wat op die stemmig geklede ouer vrou rus.
Sy is ’n dierbare mens, die enigste ma wat ek ooit geken het, dink die jong meisie en loop die ouer vrou haastig tegemoet.
“O, maar die tuin is pragtig!” begroet Elise haar in ’n vrolike luim. Sy kyk die ouer vrou waarnemend aan en vervolg: “Dit lyk nie of u ooit gaan oud word nie, matrone. U lyk vir my nog steeds dieselfde as drie jaar gelede.”
“Wel, dis óf ’n kompliment, óf jy spot nou moedswillig met my, Elise,” glimlag die matrone terwyl sy die aanvallige jong meisie goedkeurend aankyk.
“Nee, ek spot nie, dis die waarheid, matrone. Maar laat ons daar onder die boom op die tuinbankie gaan sit. Ek is vreeslik nuuskierig om te hoor waaroor u my wil spreek. Ek veronderstel dit is iets wat ’n mens nie oor ’n telefoon kan bespreek nie.”
“Ja, jy het gelyk, kindjie, dit is nie iets wat ek oor die telefoon kon bespreek nie. Trouens, ek het hier persoonlike besittings wat aan jou ontslape ouers behoort het, goed wat ek al die jare vir jou in bewaring gehou het en graag vandag, op jou een en twintigste verjaardag, vir jou wou gee.”
Hulle neem op die bankie plaas, dan vervolg die ouer vrou: “Ek hoop jy neem my nie kwalik omdat ek jou al die jare niks hiervan vertel het nie. Ek kan verduidelik waarom ek dit gedoen het, Elise . . .”
“Ek is seker u kan, matrone,” stel Elise haar dadelik gerus. “Ek ken u as iemand wat nog altyd net aan my welsyn gedink het.”
“Ek is bly jy verstaan, kindjie. Trouens, ek het gevoel dat jy, as skoolmeisie, nog nie die goed na waarde sal kan skat nie en straks alles verlore sal laat gaan. Maar noudat jy mondig is, meen ek dat dit die aangewese tyd is om dit vir jou te gee.”
Daar is ’n veraf, weemoedige uitdrukking in Elise se oë toe sy half ingedagte sê: “Dis vir my so eienaardig dat albei my ouers gesterf het sonder om ’n sent vir my opvoeding na te laat. Ek kry al die indruk dat hulle twee onverantwoordelike mense was, of anders het hulle maar net nie vir hul kind omgegee nie . . .”
“Nee, jy moenie hul nagedagtenis met sulke onwaardige indrukke beswadder nie, Elise, kindjie,” keer die matrone. “Jou ouers is tydens ’n ekspedisie oorlede wat deur jou pa self gefinansier is, daarom dat die boedel byna niks opgelewer het nie.”
“Ag, nou ja, ek sal my gedagtes maar vir myself hou,” sê Elise met ’n verwese glimlaggie. “Maar vertel asseblief vir my, matrone, waar was ek dan tydens die ongeluk wat my ouers se lewe geëis het?”
“Jy was hier in Pretoria in die sorg van ’n middeljarige egpaar wat tydens jou ouers se afwesigheid vir jou moes sorg. Maar kom, dan stap ons na my kamer toe, want alles is in ’n groot reistas gepak.”
Die ouer vrou kom stram orent en Elise volg haar voorbeeld.
“Is daar ook foto’s van my ouers in die tas, matrone?” vra sy terwyl hulle stadig in die rigting van die gebou stap.
“Ek sal nie kan sê nie, my kind. Trouens, ek het nog nooit die tas oopgemaak nie. Die egpaar wat vir jou gesorg het, het dit self gepak en vir bewaring na my gebring.”
“As dit ’n groot reistas is, sal ek ’n taxi moet ontbied . . .” begin Elise, maar die ouer vrou val haar goedig in die rede.
“Laat staan maar die taxi, kindjie. Ek sal jou met my motor huis toe neem, dan kan ek sommer ook kyk hoe jou nuwe verblyfplek daar uitsien. Jy is nou wel sedert jou mondigwording nie meer in die sorg van die welsyn nie, maar vir my sal jy maar altyd die kind bly wat ek grootgemaak het.”
Sy glimlag gemoedelik. “Ek het deur die jare baie lief vir jou geword, Elise. Jy was so mooi en intelligent en in baie opsigte so anders as die ander kinders. Glo my, ek het dikwels skuldig gevoel omdat ek so teer teenoor jou voel. Maar ek het darem altyd daarin geslaag om jou nooit bo die ander kinders te begunstig nie. Vandag kan ek jou al hierdie dinge vertel, want ek tree die einde van die maand af, dan sal dit nie meer saak maak dat ek een ou meisietjie twintig jaar lank in my hart bo al die ander kinders begunstig het nie.”
“Dankie vir al die liefde, matrone,” sê Elise sag en dankbaar. “Ek is vir u ook lief, want u was al die jare die enigste ma wat ek geken het.”
Hulle stap die gebou binne en toe hulle eindelik in die privaatheid van die matrone se kamer staan, sê Elise met kommer in haar stem: “Ek hoop nie u gaan Pretoria die einde van die maand vir goed verlaat nie, matrone. Het u al op ’n permanente verblyfplek besluit?”
Die aangesprokene skud haar kop. “Nog nie. Ek sal maar eers die familie besoek, dan later oor verblyf besluit . . .”
Daardie middag in haar losieshuiskamer, met die tas op haar bed en die matrone as toeskouer, sluit Elise die reistas ná twintig jaar oop. Haar blik val dadelik op ’n plat, vierkantige pakkie wat sorgvuldig met bruinpapier toegedraai is. Sy maak die pakkie versigtig oop. Toe kyk sy vas in die glimlaggende gelaat van ’n bruid wat haar ewebeeld is, behalwe dat die bruid swart hare het. Die bruidegom is ’n groot, blonde man en vir Elise baie aantreklik.
“Dis bepaald jou ouers se huweliksfoto,” hoor sy die matrone sê. “Jy is die bruid se ewebeeld.”
Elise knik afgetrokke. In haar oë en om haar mond is weer die ou weerlose trekkie wat so kenmerkend van haar as kind was.
Daar is nog etlike foto’s van haar en haar ouers. Die res van die tas se inhoud bestaan uit ’n tee- en koffiestel van silwer, twee silwerkoekborde, etlike waardevolle ornamente en ’n tiental kruike in verskillende vorms wat honderde jare oud is. Binne-in die grootste kruik is ’n notaboekie waarin haar pa die geskiedenis van elke kruik op skrif gestel het. Daar is ook twee eienaardige beeldjies, duidelik van Egiptiese herkoms. Die laaste artikel in die tas is ’n handgemaakte juwelekissie van stinkhout wat haar oorlede ma se juwele bevat.
Sy neem