Susanna M. Lingua

'n Lang, vreemde pad


Скачать книгу

belangrik by die naaste swembad dat ons in aller yl daarheen moet haas? Ek verroer nie ’n voet hier van die stoep af voordat jy my die belangrike nuus meegedeel het nie.” Sy draai na Estelle. “Waarvan praat sy, jong?”

      “Man, ja, ons moes natuurlik eers verduidelik het,” sê Estelle en neem ’n bekende Afrikaanse tydskrif uit haar strandsak. Terwyl sy in die tydskrif rondblaai, vervolg sy ter verduideliking: “Dis die Santiago-brouery wat ’n skoonheidswedstryd ten bate van die een of ander liefdadigheidsfonds reël. Die eerste prys is ’n gratis reis na Portugal en ’n maand lange verblyf daar, plus sakgeld. Die tweede prys is ’n gratis reis na Portugal en veertien dae verblyf daar, plus sakgeld.”

      “Is daar net twee pryse?” vra Elise sonder veel belangstelling.

      “Ja, hier is die advertensie, kyk self,” sê Estelle en druk die tydskrif sonder meer onder Elise se neus. “ ’n Mens het nie eens nodig om persoonlik vir die keurders te poseer nie. Hulle vra net ’n kleurfoto en ’n inskrywingsfooi van ’n paar rand. Die wenners sal per brief in kennis gestel word, en die inskrywingsvorm kan gratis by die brouery verkry word.”

      Elise lees die advertensie vlugtig deur en gee Estelle se tyd­skrif terug.

      “Wel, wat dink jy daarvan, Elise?” vra Marie opgewonde. “Ek sê jou, as een van ons drie nie die eerste prys verower nie, is my naam nie Marie Verster nie.”

      “Het ek jou reg gehoor, Marie, het jy gesê ons drié?” Elise kyk haar snaaks aan.

      “Maar natuurlik gaan jy saam met ons aan die wedstryd deelneem, ou kammie!” sê Estelle ernstig. “Die Santiago-brouery behoort aan ’n ryk Portugees, gevolglik sal al die Portugese meisies hier in Suid-Afrika aan die wedstryd deelneem en –”

      “Presies,” val Elise haar bedaard in die rede. “Al die Portugese skoonhede sal aan die wedstryd deelneem, en die beoordelaars sal so ’n witrot soos ek nie eens raaksien nie.”

      “Wat, ’n witrot?” Marie kyk Elise verbaas aan. “Laat ek jou dit vertel, my hartjie, daardie klomp Portugese het nog nooit in hul lewe so ’n mooi nooi soos jy gesien nie. ’n Witrot . . . inderdaad! Nee, jong, gaan haal jou baaikostuum en hou op om met ons te argumenteer. Trouens, ons maak staat op jou om die eerste prys te verower.”

      “Marie het gelyk,” gee Estelle antwoord. “Die Latynse meisies gee altyd voor dat hul swartkopmeisies die mooiste ter wêreld is, maar, ou kammie, hulle het óns drie nog net nie gesien nie. Glo my, ons beskik oor alles wat ’n meisie mooi en aantreklik maak. En wie, vra ek jou, het meer persoonlikheid en sjarme as ons drie . . .? Ons sal maklik albei pryse verower, daaraan twyfel ek geen oomblik nie.”

      “Ek stem volkome saam met Estelle,” laat Marie weer hoor. ’n Guitige glimlag verskyn om haar mond toe sy vervolg: “Die een wat die eerste prys verower, moet sorg dat sy vir haar ’n ryk, aantreklike Portugese kêrel daar in die vreemde aankeer en hom vir ons kom wys.”

      “Wat, is dit ook deel van jul planne?” vra Elise droog.

      “Maar natuurlik!” antwoord Marie. “Wat anders dink jy wil ons daar gaan maak? Ek soek lankal na so ’n lang, donker ou met baie geld.”

      “Nou kyk,” sê Elise beslis, “ek is heeltemal bereid om saam met julle te gaan swem, maar vervlaks of ek ’n foto van my gaan laat neem om aan die wedstryd deel te neem. Al is ek net een en twintig jaar oud, weet ek darem waar om die streep te trek.”

      “O, nou goed,” stem Estelle vriendelik in, maar werp Marie ongemerk ’n betekenisvolle blik toe. “As jy so sterk daaroor voel, ou kammie, sal ons net foto’s van jou neem vir ons eie plesier, maar ek verseker jou dat ek en Marie elkeen ’n foto vir die wedstryd gaan instuur.”

      “Dit kan julle met my komplimente doen,” sê Elise. “Moet net nie verwag dat ek dieselfde moet doen nie. Ek het trouens nog nooit gevoel dat ek in ’n posisie is om met ander mee te ding nie. Maar as julle twee voel julle het ’n kans om die Portugese meisies uit te stof . . .”

      “Natuurlik voel ons so!” knip Marie haar vriendin se betoog teleurgesteld kort. “Eintlik voel ons so oor jóú, Elise. Jy was veronderstel om die eerste prys te verower . . . ek bedoel, ons voel oortuig daarvan dat jy wel die eerste prys sal inpalm.”

      “Luister, ou kammie,” gooi Estelle ook weer haar gewig by Marie in,“ek was drie jaar lank jou kamermaat in die koshuis, en ek weet presies hoe beskeie jy is. Maar bewys ons asseblief hierdie een guns en neem dan net vir die pret aan die wedstryd deel. Onthou, elke rand wat die brouery insamel, word aan ’n liefdadigheidsfonds geskenk. Die deelname aan die wedstryd is maar net vir die pret en . . . wel, dis tog interessant.”

      “Ag, nou toe dan maar,” swig Elise eindelik voor haar twee vriendinne se geneul. “Ek sal die geld skenk, maar meer as dit wil ek nie met die hele affêre te doen hê nie. As julle wil hê ek moet my vir die wedstryd inskryf, moet julle dit maar self doen. Ek gaan my glad nie eens moeg maak om ’n inskrywingsvorm te bekom nie en nog minder om dit in te vul.”

      “Dankie, ou kammie,” sê Estelle met ’n joviale glimlag. “Ek en Marie sal die ou sakie vir jou behartig. Laat ons net toe om ’n paar foto’s van jou in jou baaikostuum te neem.”

      “O, pragtig!” roep Marie opgewonde uit. “Kom, laat ons dadelik by die swembad foto’s gaan neem, voordat Elise straks van gedagte verander en al ons pret bederf.”

      “Ja, dit word laat, ons sal beslis nou aanstaltes moet maak om te gaan,” laat Estelle versigtig hoor. “Ek het die kamera en die inskrywingsvorms alles hier in my strandsak.”

      “Nou ja, laat ek dan maar my baaikostuum en handdoek gaan haal,” sug Elise.

      Sy staan traag van die stoel af op en besluit dat sy maar net sowel vandag kan gaan swem. Die swembaddens sal bepaald een van die dae sluit en dan het sy nog nie eens ’n laaste plonsie geniet nie. Laat Estelle en Marie maar voortgaan met hul planne vir die skoonheidswedstryd. Sy sal maar net lekker gaan swem.

      2

      Elise voel skoon pootuit en sy kry ellendig warm toe sy uit die bus klim en in die rigting van die losieshuis stap. ’n Saterdagoggend in die stad was nog nooit vir haar ’n aangename ondervinding nie. Trouens, sy probeer altyd om die stad dan te vermy. Dit is net wanneer sy iets dringends nodig het dat sy die stad op so ’n besige dag aandurf.

      Met elke tree wat sy gee, word haar pakkies nou ook swaarder, maar eindelik bereik sy die losieshuis en bestyg die treetjies wat na die voorstoep lei.

      “Wel, dis ’n verrassing!” sê sy met ’n vriendelike glimlag toe sy Estelle en Marie op die stoep sien sit. Sy sit al haar pakkies op ’n rottangtafeltjie neer, sak moeg op ’n stoel neer en skop haar skoene uit. “Sê ’n mens môre, of is dit al middag?”

      Estelle kyk na haar horlosie. “Dis byna halftwee, maar vergeet van die groetery, ou kammie. Vertel liewer vir ons, het jy al iets van die Santiago-brouery gehoor?”

      Elise skud haar kop. “Moes ek dan al iets van hulle gehoor het?”

      “Wel, die finaliste is gister aangewys,” herinner Marie haar, “en ek is seker jy is een van die finaliste.”

      “En wat van julle?” vra Elise.

      Marie skud haar kop. “Nee wat, ons het nêrens gekom nie, maar ek is seker die beoordelaars het gekierang. Een van ons twee moes baie beslis in aanmerking gekom het. Maggies, as ek dink hoe mooi ek vir die kamera se lens geglimlag het, en ek kom sowaar nêrens nie.”

      “Toemaar, ’n volgende keer kom jy straks in aanmerking,” troos Estelle met ’n guitige glimlaggie en draai weer na Elise. “Het jy al vanoggend gekyk of daar vir jou pos is?”

      “Nee, ek het nie. Maar hoe lyk dit vir my julle weet iets? Om die waarheid te sê, ek het twee dae laas na ons posrak gekyk,” bieg Elise. “Ek het al heeltemal van die skoonheidswedstryd vergeet.”

      ’n Terglustige glimlaggie verskyn om haar mond. “In elk geval, ek het julle gewaarsku dat die Portugese