Sarah du Pisanie
Die voorskootbataljon
Jasmyn
1
“Meneer, ek is bevrees ek verstaan dit nog nie … Sal u omgee om dit asseblief weer te verduidelik?”
Anna Joubert skuif vorentoe, tot op die punt van die stoel. Haar hele liggaam is gespanne, haar hande geklem om die bruin handsak.
“Mevrou, ek het dit tog reeds in my brief verduidelik. U erf net ’n gedeelte van Standersfontein. Op dié gedeelte is ’n woonhuis en die nuwe eienaar is bereid om met u te onderhandel om u gedeelte by u te huur of te koop.”
“Ja, meneer Visser, dit verstaan ek. Maar . . . maar in u brief het u nie gemeld dat ek net tien hektaar grond erf nie. Ek . . .” Anna lek oor haar droë lippe en loer bekommerd na Karlien wat doodsbleek voor haar op die tafel staar.
Jan Visser speel ingedagte met die potlood tussen sy vingers.
“Ek is op Standersfontein gebore . . . ek het daar grootgeword. Ek ken die plaas en ek weet hoe lief my pa vir daardie stukkie grond was. Dit was sy hele lewe!” Haar hande gaan in ’n magtelose gebaar in die lug op, val dan weer hulpeloos in haar skoot terug.
“Ek kan verstaan dat hy dalk ’n verband sou neem op die gedeelte van Standersfontein wat hy later jare aangekoop het, maar . . . dat hy op die oorspronklike plaas ’n verband sou neem, is nie vir my aanvaarbaar nie. Hy sou eerder een van die ander . . .” Anna kyk hom pleitend aan.
“Ek dink ek verstaan, mevrou. U voel dat hy liewer van die plase wat hy later aangekoop het, sou verkoop in plaas van om ’n verband op Standersfontein te neem,” sê Jan Visser geduldig.
“Ja, dit is wat ek bedoel. Dit moes ’n geweldige groot besluit vir hom gewees het . . . hy moes in ’n baie groot finansiële verknorsing gewees het om so iets te doen.”
Die prokureur sug. Hy het verwag dat hier ’n uiters plofbare situasie gaan ontwikkel.
“Mevrou, ek dink nie dit alles is nou ter sprake nie. Al wat wel ter sprake is, is dat u net ’n gedeelte van Standersfontein geërf het.”
Anna skud haar kop in magtelose ongeloof.
Toe sy die brief van die prokureur ontvang het waarin sy aangewys is as ’n mede-erfgenaam, het sy nie een oomblik daaraan getwyfel dat dit die gedeelte met die woonhuis op die oorspronklike Standersfontein is nie. Nou blyk dit dat dit net die huis en tien hektaar grond is.
Volgens meneer Visser is daar geen kontant in die boedel oor nie. Daar was ’n verband op Standersfontein en die verband is opgeroep drie maande voor haar pa se dood. Toe is ’n koopkontrak geteken en die plaas is vir die bedrag van die verband aan die eienaar verkoop.
“Ek . . .” Anna stotter en lek oor haar lippe. “Standersfontein was altyd ’n pragtige plaas en my pa het nooit finansiële probleme gehad nie . . . Ek weet nie wat om te dink nie.”
“Mevrou, u was baie lank gelede hier by u vader, nie waar nie?” vra Jan Visser.
Anna laat haar kop ’n oomblik in skaamte sak. Sy lig haar wimpers stadig op en stoot haar ken verdedigend vorentoe, terwyl sy Jan Visser vierkant in die oë kyk.
“Dit is lank gelede, meneer Visser . . .” Sy dink ’n bietjie na. “Dis seker byna twintig jaar.”
Jan Visser kyk op sy hande, want hy wil nie hê hulle moet die verwyt in sy oë sien nie.
“Wel, mevrou, dan is ek bevrees dat ek ook nie graag meneer Stander, wat ’n baie goeie kliënt van my was, se persoonlike sake met u wil bepreek nie. Die beste sal wees om maar te aanvaar dat dit al was wat meneer Stander aan u bemaak het.”
“Ons . . . e . . . ons het gereeld gekorrespondeer, veral nadat sy tweede vrou oorlede is. Ek . . . ek het gereeld geskryf, maar ek het van hóm net so een of twee briefies per jaar ontvang . . .” sê Anna en knip die trane weg terwyl sy swaar sluk aan die knop in haar keel.
“Ek is jammer, mevrou. Dit sou dalk beter gewees het as u eers met my in aanraking gekom het, voordat u hiernatoe gekom het,” antwoord Jan styf.
“Ons is natuurlik nou in ’n groter penarie as wat ons was,” sê Anna en probeer die trane wegsluk.
Jan Visser kyk haar net stil aan.
“Ons het met al ons aardse besittings hier aangekom en Karlien het haar werk bedank.”
“Wou u dan self kom boer het, mevrou Joubert?” vra hy reguit.
“Nie ek nie, eintlik Karlien . . .” Sy beduie na die stil meisie wat nog nie ’n woord gesê het nie. “Sy . . . sy het die liefde vir diere en plante van haar oupa geërf.”
“Maar mevrou, was dit nie ’n bietjie . . . e . . . hoe sal ek nou sê . . . bietjie halsoorkop gewees om sommer alles te verkoop en hiernatoe te kom nie? U het nog nie eens presies geweet wat u erfporsie is nie.”
Anna sug swaar en die lyne keep diep langs haar mond in.
“Ja, meneer Visser, dit was seker. Maar . . . maar dinge het vir ons ook in ’n doodloopstraat beland.”
“Ek dink ons moet gaan, Ma!” Karlien se stem klink ver en dof soos dié van ’n ou mens.
“Sit nog ’n rukkie, juffrou, dan bestel ek vir ons tee. Ek dink ons sal hierdie sakie eers deeglik moet bespreek. Ek kan julle nie so aan jul lot oorlaat nie. Julle is net die twee vroue . . .”
“Sewe, meneer Visser,” antwoord Anna kalm.
“Ekskuus?” vra Jan Visser verbaas.
“Ek sê ons is sewe vroumense, meneer Visser.”
Karlien staan op en stap na die venster. Sy gaan staan met haar rug na hulle toe en probeer om nie verder te luister nie.
Jan Visser kyk na Anna met ’n dom uitdrukking op sy gesig. As Anna nie so verslae was nie, sou sy hardop gelag het.
“Ek het vyf dogters, meneer Visser, en my man se suster Maud woon ook by ons.”
Jan Visser laat sy kop moedeloos in sy hande sak. Om so iets onbesonne aan te vang is net wat ’n mens van ’n klomp vroumense kan verwag.
“Ek . . . ek dink ons moet maar liewer gaan. Die meubelwa is reeds hier met die meubels. Ons sal maar sorg dat hulle dit gaan aflaai en . . . en dan moet ons maar die huis in orde kry.”
Sy staan op en steek haar hand na hom uit.
“Baie dankie vir al die moeite.”
“Wag, mevrou, ek tref net gou reëlings met my sekretaresse en dan sal ek vir u gaan wys waar die huis is.”
“Dit is nie nodig nie, dankie, meneer Visser. Otavi lyk nog net soos hy twintig jaar gelede gelyk het. Ek weet waar die huis is.”
Jan Visser byt sy onderlip ingedagte vas.
“Mevrou, ek . . . die huis op u gedeelte van die grond . . . is nie die ou plaashuis van Standersfontein nie.”
Karlien swaai vinnig om voor die venster en staar hom verslae aan.
Anna sak stadig terug in die stoel, haar oë vasgenael op sy skraal gesig.
“Dit . . . dit is nie?”
“Nee, mevrou.”
“Maar . . . is daar ’n huis?” Haar stem is ’n skor fluistering.
“Ja, mevrou, daar is ’n huis.”
Karlien skuifel stadig om tot agter haar ma se stoel. Haar hande rus warm en stewig op haar ma se skouers.
“Meneer Visser . . .” Karlien klink baie jonk en onseker. “Die huis . . . hoe ver is dit van die dorp af? U sien . . .” Sy vryf onbewustelik haar ma se skouer asof sy die versekering dat alles reg is, daaruit wil put.
“Sien . . . ons het geweet dat die plaashuis van Standersfontein maar omtrent drie of vier kilometer van die dorp af is . . . My twee sussies moet skool toe gaan en . . .”
“Dit