“Wag, ek bestel vir ons tee,” sê Jan Visser en lig die gehoorstuk om sy sekretaresse te skakel.
“Dit sal sterk moet wees, oom Jan. Jy sal nou vir my dié storie baie breedvoerig moet vertel.”
Jan sak terug teen die leuning van sy stoel en stadig, asof hy bang is dat hy iets sal uitlaat, skets hy die oggend se gebeure.
“Johan, wat my hinder, is die feit dat daar beslis ’n geldskaarste is. Jy moet hul ou motor sien! En die een meisie is beslis nie gesond nie. Ek sal my oogtande verwed dat dit die rede is hoekom hulle hiernatoe gekom het. Die kind is bleek en moeg met donker kringe onder haar oë. Die ander neem al die werk uit haar hande en sorg net altyd dat sy gemaklik is. Dit versterk my vermoede dat sy baie sieklik moet wees.”
“Maar ek kan dit amper nie glo nie; nie dat daar by Jaap Stander se dogter ’n geldskaarste is nie. Hy het seker maar gereeld vir haar geld gestuur,” sê Johan fronsend.
“Nie waarvan ek weet nie. Haar oorlede man het maar in die bank gewerk.”
“En nou, oom Jan?” vra Johan moedeloos.
“Nou weet ek nie, Johan. Dit is hoekom ek so naarstig na jou gesoek het. Ek wil hê jy moet daar op die plaas ’n koei en ’n paar skape van my gaan haal, en dit daar op die punt van hul grond gaan aflaai. Hulle sal dink dit is hulle s’n.”
“Dit sal nooit werk nie, oom Jan. Hulle sal dink dit is van die bure se goed wat op hul grond loop,” protesteer Johan.
Johan beskou die ouer man met ’n diep frons en vra toe: “Maar hoekom kan ons dit nie maar net vir hulle gaan gee nie?”
Jan skud sy kop. “Hulle sal dit nooit aanneem nie. Ek het so ’n vae vermoede dat hulle vreeslik fyngevoelig en onafhanklik is. Hulle moet net dink dit is van hul erfgoedjies, dis al,” verduidelik hy.
Johan Lindeque sit diep ingedagte. Die idee van sewe vroumense byna op sy agterstoep, staan hom glad nie aan nie.
“Aarde, oom Jan! Ek is reeds so besig; ek kan nie nog heeldag en aldag na ’n klomp vroumense ook omsien nie . . .”sê hy en stap vererg op en af in die kantoor.
“Kan hulle nie maar net oppak en teruggaan nie? Noudat hulle besef hulle het nie ’n ekonomies vatbare plaas geërf nie, maar in werklikheid net ’n baie verwaarloosde huis, kan hulle mos maar net sowel teruggaan,” sê Johan.
“My kind, ’n mens kan sien jy het nog nooit regtig swaargekry nie. Die feit dat hulle ’n huis het en nie een hoef te gaan huur nie, is al klaar vir hulle baie werd. Die oudste dogter hou skool en sy het ’n pos hier aanvaar. Dit het ou Eben nou net vir my vertel.”
“Ek weet nie wat om te sê nie, oom Jan,” antwoord Johan ongemaklik.
“Jy moet maar vir Mossie en sy vrou oorstuur, as jy hulle kan spaar. Hulle moet maar daar gaan help waar hulle kan. En Johan, ek sal die helfte van Mossie se salaris betaal.”
“Dit is ’n baie goeie plan, oom Jan. Mossie kan dan sommer die koei melk en die ander plaaswerkies doen. Ek weet net nie hoe om aan hulle te verduidelik wie Mossie is nie.”
“Ag, sê maar net hy het altyd vroeër daar gewerk,” sê Jan met ’n sug en kyk bekommerd na Johan. “Ons sal in elk geval ’n waterdigte storie moet uitwerk. Daardie klomp vroumense is nie dom nie, hulle sal sommer raai ons knoei en dan sal hulle nie die goed wil hê nie. Veral die een meisie sluk swaar aan hierdie storie van die verband.”
“Maar hoekom is oom Jan skielik so bekommerd oor die vreemde klomp vroumense? Jy en oom Jaap was nou wel vriende, maar ons weet tog almal dat sy dogter hom bitterlik afgeskeep het. Sy het nooit kom kuier nie, maar noudat sy kan erf, is . . .”
“Ag, ek weet nie, Johan. Ek het ook so gevoel, maar toe hulle vanoggend hier voor my sit – sy en die een dogter – was ek net skielik onverklaarbaar jammer vir hulle. So sonder sorg en . . . ag, dis moeilik om te verduidelik. Ek het nooit kinders van my eie gehad nie . . . en . . . ek het genoeg om vir hulle almal te sorg. Wat wil ek tog eendag met al my besittings maak? Ek kan dit tog nie saamneem nie!” verduidelik hy onbeholpe.
“Ja, oom Jan, as dit nie vir jou was nie, dan was meer as een mens op hierdie Otavi onderdeur. Jy is die eerste eerlike en goeie prokureur met wie ek nog te doen gekry het,” sê Johan en lag.
Jan Visser grinnik ook verleë. “Jy weet, my vrou het altyd gesê: Alle mense is in hul wese goed en wil graag goed wees vir ander, maar om iemand te kry om te ontvang is moeiliker as om te gee. En weet jy, dit is die waarheid. Ek het ook – soos oorlede Essie – al baie ondervind dat mense dink jy het bymotiewe as jy sommer net vir hulle iets wil gee of goed wil wees.”
Johan klop hom op die skouer. “Nou ja, ou Kersvader, ek sal dan ook maar ’n klompie van my hoenders neem en vir hulle sê dat ek hulle moes versorg totdat hulle kom.”
Jan staan vinnig op en sê ingenome: “Dit is nou ’n uitstekende plan, Johan. Ek sal die koei en skape oorstuur na jou toe, dan neem jy dit sommer alles gelyk oor.”
“Die hoenderhokke is heeltemal vervalle en die kraal ook. Ek sal maar net vir hulle gaan sê van die diere en dan eers iemand oorstuur om alles ’n bietjie te gaan regmaak.”
“Jy is darem ’n slim seun, dit is seker hoekom ek so lief is vir jou.”
Johan lag goedig. “Tot siens, oom Jan. Ek moet maar liewer loop, want soveel komplimente op een dag is nie goed vir my ego nie.”
“Johan!”
“Ja, oom Jan?” Johan draai vinnig by die deur om toe Jan hom in ’n ernstige stemtoon terugroep.
“Ek . . . ek is bekommerd oor Bert Landman. Hy is weer hier in die omtrek. Hy gaan moeilikheid maak,” sê Jan bekommerd.
Johan stap stadig terug.
“Waar is hy?” vra hy kortaf.
“Op Tsumeb. Mense van die omgewing het hom Saterdag daar gesien,” antwoord Jan.
“Ek het gedink hy is landuit met die laaste geld wat hy uit oom Jaap het.”
“Ek het ook so gedink. In elk geval, ons sal moet ligloop vir hom. As hy weet dat die Jouberts hier is en wie hulle is, sal hy weer met sy ou streke begin,” sê Jan waarskuwend.
Johan kou ingedagte aan sy onderlip. “Arme oom Jaap. Sy tweede troue met die jong vrou het vir hom net hartseer en ongeluk gebring. Om nie van die seuntjie te praat nie!” Johan se stem is hees van ingehoue woede.
“ ’n Mens kan mevrou Joubert se standpunt eintlik insien. Ek sou daardie vrou ook nie graag in my ma se plek wou sien nie. Dit is in elk geval nie ons probleem nie, oom Jan.”
“Dink jy so? Dink jy nie Bert Landman sal dit ons probleem maak nie? Hy haat jou reeds so!”
“Baie dankie vir die moeite om my vroegtydig te waarsku dat ek bure het en dit nogal ’n hele voorskootbataljon! Ek sal moet ligloop. Hoe lyk die dogters?” vra Johan met ’n breë glimlag.
“Ja, meneertjie, jy sál moet ligloop! Hulle is mooi! Al vyf van hulle.”
“Jy sukkel reeds so om vir my ’n vrou te kry, oom Jan! Miskien met die nuwe talent op die dorp . . . ’n Mens weet nooit!” terg Johan voordat hy die treetjies afdraf na sy groot bakkie wat nog nuut blink in die laatmiddagson.
Johan ry sonder om te konsentreer, sy gedagtes ver en glad nie by wat hy doen nie.
Hy rem skielik, ry agteruit en draai dan regs met die grondpaadjie af. Daar is nie ’n beter tyd as juis nou nie. Hy kan net sowel sy nuwe bure gaan ontmoet.
Hy kan die gewoel en gewerskaf al van ver af waarneem. Die stadsmense is egter so gewoond aan ’n lawaai dat hulle glad nie die bakkie hoor wat ’n entjie van die huis af tot stilstand kom nie.
Johan stap ingedagte na die stoep. Op die stoep kom hy skielik tot stilstand.
Diep in ’n gemakstoel sit ’n pragtige meisie.