“Meneer Lindeque, ons Kapenaars is ongelukkig weer mense wat nie ons verantwoordelikheid op ander mense afskuif nie. As ons vroue kans gesien het om te kom boer, dan behoort ons kans te sien om ons eie hokke te herstel. Moenie dat dit jou ’n slapelose nag besorg nie. Ons kom al jare sonder ’n man in die huis klaar.”
“Luister, juffrou, doen en sê julle altyd dinge op die ingewing van die oomblik? Dink julle dan nooit voordat julle iets aanpak nie?” vra hy, die ongeduld hoorbaar in sy stem.
“Presies wat bedoel jy?” vra sy sarkasties.
“Net wat ek sê. Julle het sak en pak hier aangekom, al jul brûe agter julle verbrand, sonder om eens vas te stel presies wat jul erfporsie is.
“Nee,” sê hy en hou sy hand op toe sy hom briesend in die rede wil val, “oom Jan het my vertel, omdat ek jul buurman is en hy wil hê ek moet hier ’n ogie hou. En wanneer hy dit van my vra, sal ek dit doen, of julle nou daarvan hou of nie.”
“Van al die verregaande vermetelheid! Niemand het jou hulp gevra nie. En . . . as ek so persoonlik mag wees . . . iets hinder my. Waar boer jy?”
“Hier by julle op Standersfontein!”
“Ek het so gedink. Snaaks genoeg, toe ek netnou jou van hoor, toe fluister ’n vaal duiweltjie my dit in die oor!”
“Wat het hy gefluister, juffrou?” vra hy gevaarlik sag.
“Dat jy die verbandhouer is wat ’n plaas so maklik in die hande gekry het. Daar was mos net ’n sieklike, ou man en ’n klomp onnosel vroumense om mee rekening te hou.” Die woede en teleurstelling en frustrasie van die afgelope tyd slaan in rooi kolle teen haar nek uit.
“Nou kan ek verstaan hoekom jy so graag hier ’n ogie wil hou! Sê liewer jy wil ons onder oë hou. Dalk grawe ons dinge uit wat liewer ’n geheim moes gebly het.”
Johan kyk haar geskok aan. Dan is dit werklik so dat hulle twintig jaar lank byna geen skakeling met Jaap Stander gehad het nie. Hy kan hom goed indink wat het in daardie een of twee jaarlikse briewe van hom af gestaan. Seker net dat dit goed gaan en reën al dan nie. Van al die ander dinge weet hulle natuurlik niks nie.
“Maar dit sê ek vir jou, meneer Lindeque, ek is nie my ma nie. Met my sal julle nie mors nie. Iets is vir my nie pluis nie en ek sal dinge nie sommer net aanvaar nie.”
Johan staan stadig op en hou sy hand na haar uit om haar op te help, maar sy ignoreer dit.
Hy stap om na die hokke en dan weer na die koeistal toe waar hy ’n bietjie rondkyk. Sonder om te groet klim hy in sy bakkie en ry weg.
Karlien blaas van woede. So ’n vermetele, voorbarige mansmens! Dan is dit die nuwe eienaar van Standersfontein, die verbandhouer wat die verband opgeroep het toe dinge vir haar oupa op die moeilikste was.
Sy stap woedend huis toe.
“Is hy nie fantasties nie, Karlien? Hy lyk net soos Terence Hill met sy blou oë. O, ek kry eintlik sulke krampies op my maag,” sê Orpa in ekstase.
“As jy nie oppas nie, kry jy nou-nou krampies op jou sitvlak; daarvoor sal ek sorg,” antwoord Karlien humeurig.
“Jy raak net so goor soos Maryna. Hoewel . . . ek het darem ook gesien hoe blink haar oë toe sy hom groet. Sy dink seker ook hy is fantasties!” tart Orpa haar.
Karlien slaan haar ’n brandhou met die plathand op haar sitvlak.
“Ma sal hierdie twee juffroutjies moet regsien of ek gaan hulle nog vermoor!” sê sy vir Anna.
Anna kyk verbaas na haar. “Nou wat gaan nou met jou aan? Hier kom die aantreklikste buurman aan en hy bied aan om ons te help met die hoenderhokke en jy is . . . is kwaad!”
“Weet Ma wie dit is?” vra Karlien en probeer nie die fyn sarkasme uit haar stem hou nie.
“Ons buurman, meneer Lindeque. Hy het mos so gesê.”
“Ons buurman, Ma, die man wat nou op Standersfontein boer. Die verbandhouer . . . die een wat die plaas oorgeneem het toe ’n ou, sieklike man op sy knieë was. Hy het sy tyd baie goed afgewag, want drie maande voor Oupa se dood, toe neem hy oor, toe slaan hy toe! Hy kon nie eens wag dat ’n ou man in vrede op sy eie grond sterf nie!” vaar Karlien woedend uit.
Daar heers ’n swanger stilte in die kombuis. Tannie Maud sak stadig op die stoel neer en waai haar liggies koel met ’n vadoek.
Maryna en Anna staar haar geskok aan. Die tweeling besef nie wat aangaan nie en Orpa probeer een van haar kwinkslae wat heeltemal onvanpas is.
“Wel, Maryna kan maar met hom trou, dan kry ons weer die plaas terug en dan gaan bly ons almal in die groot huis.”
Karlien storm woedend op haar af. Orpa probeer weghardloop, maar Karlien kry haar aan die poniestert beet. “Eina! Ma!” gil sy.
Karlien ruk haar om en pen haar op die grond vas. Maryna laat nie op haar wag nie en soek wild na ’n slaanding. Die enigste ding wat gou bekombaar is, is tannie Maud se aanglipskoen wat liggies aan haar voet swaai.
Maryna buk, trek die skoen vinnig van tannie Maud se voet af en streep Orpa twee vinnige houe op haar sitvlak, terwyl Karlien haar nog stewig vasdruk. Toe draai Maryna om en druk die skoen ongeërg terug waar sy dit gekry het.
Tannie Maud knik effens en met ’n sarkastiese “dankie” waai sy haar verder koud asof niks gebeur het nie.
“Ai, kinders, kan julle julle nie net soms soos meisies gedra nie? Kan julle nie net af en toe vroulik en beskaaf wees nie?” Anna klink moeg en moedeloos en stap werktuiglik na die wasbak om die ketel vol water te maak, sodat hulle kan tee maak.
“Geen mens kan vroulik wees met sulke satanskinders in jou midde nie,” sê Maryna vies en druk haar hare vinnig in die rekkie wat dit agter haar kop moet vashou.
“Ja,” stem Karlien hierdie keer saam met Maryna, “om te dink dat Ma hulle nogal twee Bybelname gegee het.” Karlien krap in die kis op soek na ’n groot tang.
“Gmf . . .” sê Maryna en kyk verontwaardig na Ester en Orpa, wat op ’n veilige afstand vir haar allerhande aaklige gesigte trek. “Terwyl Ma hulle dan nou Bybelname wou gee, kon Ma hulle liewer Sodom en Gomorra gedoop het.”
Die tweeling skater dit uit van die lag. “Ek sal Sodom wees, dan kan jy Gomorra wees,” sê Ester, maar gee vinnig pad toe dit vir haar lyk of Maryna in hul rigting kom.
“Ugh . . .!” Maryna maak ’n geluid wat enigiets kan beteken. Susan kom lusteloos ingestap en sak langs die kombuistafel neer.
“Het jy lekker gerus, poplap?” vra tannie Maud simpatiek en streel liggies oor die skraal wit handjie wat slap op die tafel rus.
“Ja, dankie, tannie Maud. Julle moes my kom wakker maak het, want toe ek wakker skrik, sien ek net die mooiste mansmens in ’n bakkie klim en wegry. Wie was dit?” vra sy nuuskierig.
“Ugh!” sê Karlien met ’n vies trek op haar gesig en stap vinnig by die deur uit.
Anna sit vir hulle koppies reg en verduidelik geduldig aan Susan wie Johan Lindeque regtig is.
“Hy lyk darem nie vir my soos iemand wat ander mense sal kul nie, Mamma!”
“Vir my ook nie, hartjie, maar Karlien sal uitsnuffel wat aangaan. Julle ken haar mos; sy sal nie sommer dinge aanvaar nie. Ek wens net sy wil dit liewer laat soos dit is.”
’n Halfuur later hou die wit bakkie weer op die werf stil. Johan en ’n ou Herero laai ’n rol ogiesdraad van die bakkie af en Johan stap toe sommer by die agterdeur in.
“Mevrou Joubert!” sê hy en ignoreer Karlien wat al weer styf en regop, oorgehaal vir enige woordewisseling, regop kom.
“Hier buite is ’n ou Herero, sy naam is Mossie. Hy het altyd hier gewerk. Sy huis staan op die grens tussen ons. U kan hom weer in diens neem as u wil. Hy is baie betroubaar en sy vrou is ook baie bekwaam. Sy