moet die sieklike een wees, dink hy. Elke leek kan sien dat sy ernstig siek moet wees.
Binne gesels vrouestemme rustig, maar dan deurklief ’n hoë gil skielik die lug.
Johan hoor ’n geskarrel van hardlopende voete wat almal in die rigting van die kombuis, waar die gil vandaan gekom het, beweeg.
Om nou te klop sal hopeloos wees, want niemand sal hom hoor nie, besef hy en stap met lang treë deur die huis en kom toe geamuseer in die kombuisdeur tot stilstand.
’n Meisie, geklee in ’n T-hemp en denimbroek waarvan die pype opgerol is, staan gebukkend bo-op die tafel en loer beangs na onder. Sy hou ’n besem soos ’n spies in haar hand.
Rondom teen die kombuismure neem die res van die bataljon stelling in met hul wapens.
Daar is ’n tweeling met blonde poniesterte wat naby mekaar staan, elkeen met ’n verestoffer in die hand. In die spensdeur staan ’n middeljarige vrou, wat beslis die ma van die meisies is, want hulle lyk almal na haar. Sy is skraal soos hulle, maar haar hare is vol grys strepe en die plooie om haar mond getuig van swaarkry en vreugde.
Styf teen die wasbak vasgedruk, asof sy elke oomblik daarop wil klouter indien die gevaar te naby kom, staan ’n meisie. Sy is jonger as die een op die tafel. Haar hare is kort en krul sag om haar gesig. Die sproetjies oor haar neus laat haar ondeund lyk.
’n Groot, statige vrou kom versigtig nader.
Johan sukkel om nie uit te bars van die lag nie. Tannie Maud het ’n paar geel plastiekhandskoene aan om haar hande te beskerm, en sy klem ’n stoofyster baie vasberade vas.
Sy druk een van die tweeling opsy.
“Pasop, laat ek sien. Waar is hy?”
Almal se oë is vasgenael op ’n leë kis onder die tafel, waaruit breekgoed blykbaar so pas gepak is. Die gehandskoende vrou kom treetjie vir treetjie nader.
“Julle moet keer! Moenie dat die vuilgoed wegkom nie, anders sit ons een van die dae met ’n hele familie hier!”
Die ander beweeg nie ’n sentimeter nie, hul oë is vasgenael op die brawe vrou met die handskoene.
“Karlien,” spreek die groot vrou die sproetgesiggie aan, “kry vir jou ’n slaanding en moenie soos ’n verskrikte haas teen die wasbak probeer opklim nie!”
Karlien voel agter haar totdat haar hand ’n skropborsel raakvat, maar sy neem haar oë nie ’n oomblik van die gevaar af weg nie.
Johan wag in spanning vir die uitslag van hierdie drama wat hy vir geen geld ter wêreld sal wil misloop nie.
Die gehandskoende vrou druk versigtig aan die kis en ’n vaal veldmuisie spring verskrik uit en pyl reg op die sproetgesigmeisie af. Sy gil en gooi hom met die skropborsel wat hom skrams teen die kop tref en ’n oomblik lank bedwelm laat rondtol.
“Mooi, Karlien! Slaan, tannie Maud!” lewer die meisie met die denimbroek aan van die tafel af deurlopend kommentaar.
“Slaan, tannie Maud! Hy is net disnis. Keer, Ester, hy kom na jou kant toe! Ester!”
Ester spring egter by tannie Maud verby en met nog ’n tree staan sy by haar ousus bo-op die tafel. Maryna druk haar styf teen haar vas.
Die ander een van die tweeling hou haar brawer en steek die verestoffer na die muis toe uit. Sy beur agteroor en haar nekspiere trek styf soos sy sukkel om nie te naby aan die muis te kom nie.
Tannie Maud mik ’n hou na die muis met die stoofyster, maar gril en gil gedemp toe sy langs die booswig slaan.
Johan gee twee treë nader en skop die muis by die agterdeur uit waar hy doodstil bly lê. Hy stap uit, tel die muis aan die stert op en gooi hom in die vullisblik. Toe draai hy met ’n vriendelike glimlag om na die klomp verskrikte, verdwaasde vroumense.
Die twee bo-op die tafel staan nog steeds met hul arms om mekaar. Die sproetgesiggie het die wasbak gelos, maar haar arms hang slap langs haar sye. Die ouer vrou wat soos die kinders lyk, hou die ander aan van die tweeling nog steeds styf teen haar vas.
Tannie Maud kom eerste tot verhaal. Sy sit die stoofyster versigtig op sy plek neer en trek toe haar een plastiekhandskoen stadig uit. Sy vee eers haar hand versigtig aan haar oorrok af en hou dit toe na hom uit.
“Goeiemiddag, jong man! Ek is Maud Crawford. My man was . . .”
“Goeiemiddag, meneer,” praat die meisie met die denimbroek aan vinnig tussenin, terwyl sy van die tafel af spring, “ek is Maryna Joubert en dit is tannie Maud, my ma en my susters.”
Sy hou haar hand na hom uit. Hy druk eers haar hand ook voordat hy kans kry om homself aan hulle bekend te stel.
“Aangename kennis! Ek is Johan Lindeque, jul buurman.”
Hy steek sy hand na die ander uit en groet hulle elkeen afsonderlik.
“Oom Jan het vir my gesê dat ek nuwe bure gekry het . . . en toe het ek besluit om eers te kom . . .” Hy kom voor Karlien tot stilstand en neem haar hand in syne. Die waaksaamheid in haar oë bring hom heeltemal van stryk en hy stotter verder, “. . . om te . . . hm . . . te . . . kom kennis maak.”
“Aangename kennis, meneer Lindeque, en baie dankie vir die hulp met die muis.”
Iewers wil daar vir Karlien ’n klokkie lui. Lindeque? Het sy nie die van vandag iewers gehoor nie?
Johan draai na die ander.
“Mevrou Joubert, daar by my op die plaas is ’n melkkoei en omtrent ses skape, asook hoenders wat in my sorg geplaas is. Dit behoort aan u en ek sal dit laat oorstuur.”
“ ’n Koei! O, maar dis wonderlik! Nou kan ons ons eie melk hê. Dit is vreeslik gaaf van jou om dit vir ons op te pas, meneer Lindeque. Het jy my pa geken?” vra Anna nuuskierig.
“Baie goed, mevrou.”
“Karlien, julle sal na die stal en die hoenderhokke moet gaan kyk, dit is seker vreeslik bouvallig.”
“Ja, Ma. Ek sal sommer nou gaan voordat dit donker is.”
Sy draai na Johan en daar is nou ’n vriendeliker lig in haar oë.
“Baie dankie, meneer Lindeque. Dit is ’n vreeslike verrassing! Ons eie koei, skape en hoenders ook!”
Karlien vee haar hande aan haar denimbroek se sitvlak af. Sy krap in ’n kis en kom met ’n kissie gereedskap te voorskyn waarmee sy vinnig by die agterdeur uitstap.
Johan keer haar toe sy by hom verbykom.
“Juffrou, ek sal gou vir julle na die hoenderhokke gaan kyk. Ek sal van my werkers gaan haal en ons maak dit in ’n japtrap reg.”
“Dankie, meneer Lindeque, maar ons kan dit self doen. Ons is so gewoond daaraan om sulke dingetjies self te doen, dit is regtig nie nodig dat jy ons help nie.”
Toe sy die hoenderhokke bereik, gaan sy egter moedeloos staan en beskou die drade, plek-plek met groot gate daarin. Van die stutpale het ook omgeval en druk die hokke komieklik skeef.
As sy tog net iets van hoenderhokke af geweet het. As sy net geweet het hoe hulle presies moet lyk wanneer hulle heel is, kon sy immers probeer het.
Sy stap om die hok, maar word niks wyser nie. Sy buk en kruip by die gat in waar die hekkie was. Die hokke binne-in is oud en stukkend, maar sy kry darem ’n idee van hoe dit moet lyk en sy sien kans om dit te vervang. Dit is net toe sy by die draad kom dat sy nie weet watter kant toe nou nie.
Sy kruip weer uit die hok, net om ’n paar lang bene in ’n kakiebroek voor haar te sien. Die koedoeleerskoene is vol stof en versper haar weg. Sy bly sommerso hande-viervoet staan en kyk stadig op.
Sy sien hoe die lang bene buig en toe verskyn die bruingebrande gesig met die helderblou oë voor haar.
Johan buk stadig af om by haar posisie aan te pas, sodat hy haar vierkant in die oë kan kyk.
“Luister,