ek tog doen om jou terug te betaal vir al jou moeite?”
Sy hou Alet se hande styf vas met haar maer, vereelte vingers. “Die Here sal jou seën, juffrou . . . jy sal sien.”
Alet maak haar hande glimlaggend los.
“Dit is juis omdat die Here my so seën, mevrou, dat ek graag vir Hom of vir sy kinders iets uit dankbaarheid wil doen.”
Alet was die siek vrou en maak die bed netjies terwyl die kinders eet. Sy gee vir haar kos en maak daarna ’n lekker koppie tee, met melk en suiker wat sy saamgebring het.
Die winkel kom lewer ’n klompie kruideniersware daar af, goedjies wat Alet sommer met ’n briefie bestel het. Dié pak sy in die kassies weg en help gou die kinders om alles weer skoon en netjies te kry.
Angstig wonder sy wanneer die pa huis toe kom. Die kinders noem nooit sy naam of sê iets van hom nie.
“Truia, is jou pa ook by die huis . . . ek bedoel, is hy op die dorp . . . moet ons nie vir hom ook kos bêre nie?”
Onmiddellik raak die kinders gespanne en aan die geslote gesigte besef Alet dadelik dat dit nie juis ’n onderwerp is wat aangeroer moet word nie.
“Juffrou kan . . . as juffrou wil . . . maar . . . dit was gister die end van die maand . . .”
Alet snap dadelik wat dit beteken. Die einde van die maand beteken betaaldag . . . en as hy geld het, dan kom hy blykbaar nie vroeg huis toe nie.
Angstig bekommerd loer sy na Martha se kamer toe. Wat sal van haar word . . . sy is so siek?
“Truia . . . ek dink . . . ek dink jy moet vir jou pappie by Willem-hulle bed opmaak, dan slaap jy vannag by jou mammie op die dubbelbed . . . miskien kry sy jou vannag nodig.”
“Goed, juffrou.” Die uitdrukking op die mooi, jong gesiggie spreek van intense verligting, want nou kan sy mos vir haar pa sê dat die juffrou en die dokter dit aanbeveel het.
Dit is donker voordat Alet kan huis toe gaan. Willem bied aan om saam te stap, maar buite waai ’n geniepsige windjie en Alet sien nie kans dat hy met sy dun truitjie nou moet uitgaan nie.
“Ag, nee dankie, Willem. Julle moet nog huiswerk doen en dit is mos net hier anderkant . . . ek stap sommer vinnig . . . Die spoke sal my nie vang nie . . . een ou spook vang nie ’n ander een nie.”
Alet stap vinnig, haar kop gebuig teen die wind wat van voor af waai. Sy is haastig, want sy het nog ’n klomp nasienwerk. Haar en Louis se verhouding is meer ontspanne, maar sy sal geen kanse waag nie.
Sy kom verskrik tot stilstand. ’n Donker figuur kom van voor af . . . skaars vier tree van haar af.
“My . . . my . . . dis dan die skoolmies!” Daan Venter swaai soos ’n riet in die wind. “As jy my soek . . . poppie, dan het jy my gekry.”
Alet staan vasgenael. Die skok klop benoud in haar bors. Gehipnotiseer staar sy na die wiegende figuur van die maer, walglike mansmens wat al nader kom.
“Ek is lus vir jou, my poppie . . . ek het nog nooit so ’n mooi vrou in my hele lewe gesien nie.”
Alet besef dat hy net genoeg gedrink het om gevaarlik te kan wees. Sy sal hom nie kan uitoorlê of vir hom weghardloop nie, daarvoor is hy nie besope genoeg nie.
Sy beweeg stadig agteruit. Daan Venter is bedag op so iets en hy spring skielik vorentoe. Sy hande gryp na haar skouers. Sy gil, maar besef terselfdertyd dat die wind haar stem heeltemal wegwaai. Niemand sal haar hoor nie. Sy ruk en probeer uit sy hande wegkom. Die klouende vingers skeur haar rok en die mou val slap op haar arm. Sy gil, slaan, skop en spartel, maar die besef dring geleidelik tot haar deur dat die benewelde man te sterk is vir haar.
Met ’n desperate poging sak haar tande weg in die sagte vleis van sy boarm. Hy vloek en gryp na die seerplek. Alet spring vinnig om en hardloop.
Die sand is sag en sy struikel en val. ’n Drankasem sak soos ’n roofdier van agter op haar neer en sy gil lank en deurdringend. Sy druk haar kop teen haar arms en bid hardop.
Sy voel die drukking skielik van haar bene af verlig word. Sy krul haar in ’n bondel op terwyl die warm trane oor haar wange stroom en sy gespanne wag.
’n Gevloek en geskree van meer as een stem dring stadig tot haar deur. Sy neem haar arms stadig van haar ore af weg om te kan hoor wat aangaan, maar dan word sy hardhandig orent geruk.
Sy kyk vas in Louis se woedende oë.
“Is jy . . . is jy nou heeltemal van jou sinne berowe . . .?” Sy stem is gelaai van woede terwyl hy die woorde uitsis. “Wat soek jy hier alleen in die nag . . . het jy dan geen verstand nie . . . of . . .?”
Hy gryp haar aan haar skouers en skud haar heen en weer. Sy hande is koud op haar vel waar die rok geskeur het. “Of . . . soek jy dit dalk?”
Die woede maak hom onredelik en hy sien nie haar bewende, verskrikte mond of die trane wat weer vinnig oor haar wange vloei nie.
“Antwoord my . . . wat wil jy hê? As jy aan geklou en gedruk wil word . . . my magtag, vroumens! Dan kan jy mos darem beter kry . . .”
Alet ruk haar skouers uit sy wrede greep los. Sy probeer die afgeskeurde mou weer optrek tot bo. Haar trui het sy iewers langs die pad verloor en die wind waai koud teen haar gloeiende vel.
Snikkend storm sy voor hom uit huis toe. ’n Woedende Louis is met twee treë weer langs haar.
Sy vingers omklem haar boarms soos staal toe hy haar tot stilstand ruk.
“Julle is almal eenders . . . enige man is goed genoeg . . .”
Hy voel die bewing van haar skraal liggaam daar waar sy hande met haar kontak maak. Sy staan met geboë hoof voor hom terwyl harde, droë snikke haar hele liggaam ruk.
Stadig trek hy sy baadjie uit en hang dit om die rukkende skouertjies. Sy arm gaan stewig om haar skouers en sonder om ’n woord verder te sê, stap hy met haar aan huis toe.
Sy probeer buk om die sleutel onder die matjie uit te haal, maar hy hou haar teë met sy arm wat nog om haar skouers is. Hy buk, haal die sleutel uit en sluit die deur oop.
Hy stoot haar voor hom by die deur in en sonder om op ’n uitnodiging te wag, stap hy agter haar aan om vir haar die lamp aan te steek.
Sy haal stil sy baadjie van haar skouers af en hou dit na hom uit. Haar oë ontwyk syne.
“Baie dankie . . .” ’n Verlate snik ontsnap onverwags diep uit haar binneste.
Louis draai ongemaklik rond. Hy besef dat hier êrens groot fout is. Maar in sy ontsteltenis het hy dinge gesê . . . vreeslike dinge wat hy nie maklik vergewe gaan word nie.
“Is jy seker jy sal nou regkom . . .? Kan ek nie vir jou iets gee vir die skok nie . . . ’n bietjie tee maak dalk . . .?”
Alet antwoord nie, skud net haar kop stadig, terwyl sy die fyn kantsakdoekie in ’n bondeltjie draai.
“Wil . . . wil jy nie maar by tannie Grieta gaan slaap nie?” Alet skud net haar kop.
Louis kom ’n tree nader, maar Alet deins verskrik agteruit.
“Ek . . . ek . . . dan sê ek maar eers goeienag . . .”
Alet staar stil na die vloer. Louis draai ongemaklik rond; hy wil haar nie graag in hierdie geskokte toestand alleen laat nie, maar hy weet nie wat om te doen nie.
Hy draai om en stap vinnig by die deur uit. Alet sluit die deur agter hom toe.
Dan druk sy haar kop teen die skurwe houtdeur. Rou snikke skeur uit haar binneste.
Louis stap kop onderstebo na sy huis. Op die stoep staan hy ’n paar oomblikke stil voordat hy omdraai en weer met die trappie afklim en na tannie Grieta se huisie toe stap.
“My aarde, Louis, as jy nou vanaand kom kuier? Jy is mos nie ’n mens wat in die middel van die week rondloop nie.”
“Ek kom soek sommer