die nodige leerkragte, het al sy simpatie, maar van volgende jaar af sal die Departement van Onderwys maar net eenvoudig ’n ander plan moet maak. Hy bly nie ’n dag langer as die einde van die jaar nie. Hierdie keer sal niks hom oortuig om weer sy bedanking, wat hy gereeld indien, terug te trek nie.
Alet se gevoelens is ’n absolute deurmekaarspul. Sy betrap haarself soms dat sy gretig uitsien dat die vakansie moet verbygaan. Gedagtig aan die seer wat Pieter haar aangedoen het, sien sy nie kans om haar gevoelens vrye teuels te gee nie. Sy onderdruk alle gevoelens met mag en mening en dwing haar gedagtes in heeltemal ander kanale.
Nadat Louis terug is, is sy bly dat sy geen waarde geheg het aan sy vreemde optrede die aand voordat hy weg is nie, want hy is weer die stil, bot Louis wat sy van die begin van die jaar af geken het.
Die kinders is egter uitgelate en onhanteerbaar ná die vakansie.
Die Ventertjies is vrolik en opgewek en volgens hulle is hul ma weer op die been en volstoom aan die gang. Die kinders lyk almal baie beter en Alet wonder of die kos wat sy gereeld elke week daar laat aflewer, nie baie daartoe bydra nie.
Louis is baie besig. Die rugbyseisoen is in volle gang en wanneer hy nie besig is met skoolwerk nie, gooi hy sy volle gewig by die rugbyklub in. Alet wonder of hy kaptein, bestuurder én sekretaris van die klub is, want alle reëlings gaan deur sy hande.
Die dorp se gesellighede neem ook geleidelik af. Saterdae speel die mans rugby en met die geweldige afstande tussen die dorpe is dit gewoonlik ’n hele naweek wat daardeur in beslag geneem word.
Selfs die paar keer wat hulle wel op Walvisbaai speel, gaan die mans maar alleen na die ontspanningsklub toe.
Ilze kuier ook weer op Walvisbaai. Sy het saam met Louis gekom ná die vakansie, en sy kuier nou al langer as ’n maand hier. Sy daag ’n paar keer tydens pouse by die skool op en drink dan saam met hulle tee.
Sy is nog steeds vriendelik, maar deesdae kan Alet iets anders in haar houding aanvoel wat sy nie mooi kan verklaar nie . . . iets waaksaams. Sy is ook baie besitlik teenoor Louis, veral wanneer Alet in die nabyheid is.
Alet se bloed kook elke keer wanneer Ilze haar so doelbewus uit die geselskap sluit deur van mense en voorvalle te praat waarvan Alet geen kop of stert kan uitmaak nie, veral as sy by haar “onthou jy nogs” kom. Dit is sulke tye wanneer sy haarself verskoon en na haar klaskamer teruggaan.
Vandag is weer een van daardie dae. Die inspekteur is hier en toe Ilze ook nog pouse opdaag en haar uitsluit met haar eksklusiewe storietjies, maak Alet vinnig verskoning en soek haar klaskamer op.
Sy voel die dowwe geklop van ’n volbloedhoofpyn agter haar oë. Die kinders is vandag weer onmoontlik . . . en juis vandag dat sy so graag ’n goeie indruk op die inspekteur wil maak. Die warm oosteweer help ook geensins om haar beter te laat voel nie.
Johani en Dirkie vlieg mekaar vroegmôre in die hare. Dit is ’n ernstige geveg. Johani tree natuurlik as oorwinnaar uit die stryd, maar met ’n mooi, duidelike tandemerk-horlosie op haar arm wat baie vinnig van kleur verander.
Die inspekteur is gelukkig eers na Louis se klas. Sy voel die senuweeagtige plukkies hier diep onder in haar maag. Van hierdie klomp vabonde in haar klas kan sy enigiets verwag. En veral vandag . . . die kinders het lankal haar senuweeagtigheid aangevoel en buit dit terdeë uit.
Alet besef dat sy vandag niks verder met hierdie spannetjie uitgerig sal kry nie.
“Ek dink ons bêre nou eers al die boeke en dan lees ek vir julle ’n mooi storie, maar dan moet julle baie stil en soet wees.”
Die kinders laat hulle ook nie twee keer nooi nie. Dit is iets waarvoor hulle altyd te vinde is. Juffrou kan reeds so mooi lees en die stories lewe en kry ’n heel ander betekenis wanneer sy dit vertel.
Alet het reeds al die boekies wat sy saamgebring het, vir hulle gelees. Sy wens sy het iets nuuts om vir hulle te lees sodat sy hul onverdeelde aandag kan hê.
Sy krap in die kas en kry dan ’n Kinderbybel in die hande. Sy blaai ’n bietjie daarin rond, maak dan die Bybel toe en vertel vir hulle met baie gebare die mooi storie van Jesus se eerste wonderwerk, toe Hy water in wyn verander het.
Die kinders luister aandagtig. Dirkie en Johani drink elke woord in en die mooi verhaal hou hulle twee stil en rustig totdat die klok vir die tweede pouse lui.
Die inspekteur is ’n joviale oubaas met ’n taamlik breë middel. Sy grys hare en vriendelike glimlag stel die kleinspan dadelik op hul gemak. Die handjies gaan fluks op om vrae oor hul broers en susters, oumas en oupas te beantwoord.
Alet wonder beangs of hierdie informele vrae om die kinders op hul gemak te stel, nie dalk die verkeerde benadering is vir haar spannetjie nie.
Met ’n sinkende gevoel sien sy hoe Johani se handjie in die lug opgaan en daar bly. Vir haar vertrou sy geen oomblik nie; sy sal met die onheiligste dinge vorendag kom.
Dit is egter Dirkie wat haar wind heeltemal uit haar seile neem en nie Johani nie: sy wou sommer net vir die inspekteur sê dat hy soos haar oupa lyk . . . haar oupa is net nie so vet nie. Die inspekteur lag saggies en sy magie wip op en af en met sy grondige kennis van kinders besluit hy wyslik om nie vir Johani verder vrae te vra nie. Hy draai eerder na Dirkie se kant toe.
“Toe ek netnou hier langsaan by meneer Erlank se klas was, het ek deur die dun plankmuur gehoor hoe juffrou vir julle ’n storie vertel . . . Ja, julle dink ek het nie gehoor nie, maar ek het net hier agter die muur gestaan.”
Die inspekteur leun effens teen die tafel.
“Ek wonder of julle goed geluister het?” Hy kyk die klas gemaak ernstig deur.
Die kinders se handjies gaan almal in die lug op.
Die inspekteur sonder met sy oë vir Dirkie uit.
“Nou toe, ou grootman . . . maar sê eers vir my, wat is jou naam?”
“Dirkie, meneer.”
“Dirkie . . . hm . . . En sê vir my, wat is jou van?”
“Dirkie Burger, meneer, en my pa is Schalk Burger . . . en hy speel rugby ook.”
“So! Maar dan weet ek presies wie jou pa is. Hulle het verlede week in Windhoek kom speel, en ek het gaan kyk . . . Hy speel mos slot?”
“Ja, meneer.” Dirkie straal. Hy is baie trots op sy groot pa en die feit dat hy rugby speel, verhef hom in sy oë tot een van die gode.
“Nou toe, Dirkie, vertel jy nou vir ons die storie wat juffrou netnou vir julle vertel het.”
Alet is nie bang dat Dirkie die helfte van die storie sal vergeet nie, daarvoor is hy en Johani te lief vir stories. Hulle drink letterlik elke woord in.
Sy sug liggies van verligting dat dit vir Dirkie en nie Johani is wat die inspekteur oproep tot aksie nie . . . tot haar groot ontnugtering!
Die storie verloop mooi vlot tot op die punt waar Jesus die manne aangesê het om die kanne vol water te maak.
“En . . .” Dirkie se stem lewe saam met die vertelling. “En . . . Jesus sê vir die boys: ‘Jis, boys, maak vol daai kanne.’ ”
Alet smeek woordeloos dat die aarde moet oopgaan en haar insluk. Dirkie se pa se rugbytaal is so onvanpas in dié vertelling soos ’n vark in ’n sinagoge.
Die bloed stoot teen haar nek op en kleur haar wange ’n karmosynrooi. Sy staar geskok van Dirkie na die inspekteur.
Sy sien met verbasing hoe die inspekteur se nekare swel en hoe hy sy kieste vasbyt, maar op sy gesig is nie eens ’n teken van lag nie. Sy blaas haar asem stadig uit. Sy skuif vinnig agter hom in, sodat hul oë nie per ongeluk ontmoet nie, want sy is baie seker daarvan as hierdie vaderlike inspekteur, wat seker al sy eie kleinkinders het, nou in haar oë moet kyk, dan lag hy kliphard.
Die inspeksie verloop verder sonder voorvalle en dankbaar sien sy die inspekteur by die deur weg.
Uitgeput, en met ’n kloppende hoofpyn, sak Alet sommer met klere en al op die