met ’n swak reputasie verneuk het nie. Hoe sê die Engelse spreekwoord nou weer? Once bitten, twice shy?
Karli het misnoeg na die geel vlekke op haar duur wit bloes gekyk, die servette by Henk gevat en probeer red wat sy kon.
“Ag, dis net ’n ou ongelukkie, dit kan enigiemand oorkom,” het sy die hele gedoente met ’n glimlag probeer afmaak, toe haar amper leë glas op die tafel neergesit en haastig omgedraai. Sy moet so gou moontlik wegkom van hierdie charmer af.
Henk het blitsig voor haar kom staan. “Jy’s boosaardig kwaad vir my. Dis waarom jy weghardloop. Of wil jy stry?”
In daardie stadium het haar bemorste bloes glad nie meer saak gemaak nie. Dit was eintlik adrenalien wat gepomp het, die veg-of-vlugreaksie van iemand wat geweet het sy gaan haar vlerke skroei met hierdie ou.
Sy’t probeer om nie direk na Henk te kyk nie. “Nou waarom sal ek kwaad wees? Dis tog net ’n bloes.”
“Laat ek ten minste vir jou ’n ander sappie koop. Asseblief? Om te vergoed . . . vir jou te wys hoe jammer ek is.” Henk het mooi gevra. Sy oë het oor haar bolyf gegly terwyl hy gepraat het.
Karli het haar nek gerek, op haar tone gestaan en gesien André staan styf teenaan ’n skamel geklede meisie. Nes ’n koeksister ineengevleg met die girl. Nee kyk, ’n muurblommetjie wou sy beslis nie wees nie. Boonop het sy saam met André gery, so hoe kom sy terug by die huis? Sy sal nou maar ’n rukkie met die man móét gesels.
Alles omtrent Henk, sy manier van praat en kleredrag, het duidelik uitgespel dat hy lankal nie meer ’n student is nie. Wat soek hy hier? Tussen jollende studente en oorverdowende musiek? Ag, natuurlik, hoe dan anders? Sy date moet ’n student wees.
“Wat gaan jou meisie sê as jy vir my koeldrank koop?” wou sy weet.
Henk het sy hande gelig. “Ek’s alleen. Regtig. Ek’s nie op die oomblik in ’n verhouding nie.”
No way! Die ou is te juicy om nie ’n meisie te hê nie. Dalk lieg hy? “Wag jou vrou by die huis?” Sy het geglimlag asof sy grap, maar sy was doodernstig.
Henk het droogweg gelag. “Nee, dankie tog. Ek pleit onskuldig. Ek was nog nooit verloof of getroud nie.” Hy’t haar ernstig en vol in die oë gekyk. “Jy kan my glo.” Toe sy hand uitgesteek. “Henk Myburg.”
“Karli Wilken.” Sy handdruk was nét ferm genoeg om nie seer te maak nie. Intuïtief het sy geweet die ou is eerlik.
Sy het haar oë oor Henk se sterk nek en breë skouers laat gly en gevra: “Speel jy rugby?”
“Ek hét gespeel, maar ek speel lankal nie meer nie. Ek’s hopeloos te besig. Al rugby wat ek deesdae kyk, is wanneer ek op Ellispark of Loftus sit. En natuurlik op TV.”
Karli het van sy spontaneïteit gehou en effens ontspan. “Ek kyk ook rugby, dis nou wanneer ek kan. My broer is ’n rugbyspeler, en . . .” Sy het geesdriftig verder vertel.
Karli kon duidelik sien Henk was verbaas oor haar rugbykennis. Sy’t toe nie ’n ander lemoensap gekry nie. Henk het haar genooi vir Wimpy-koffie en ’n muffin en haar toe heelwat later eers teruggeneem woonstel toe.
Sjoe, sy onthou nog hoe deurmekaar die sitkamer was. Die stoele was vol klere soos sy en haar woonstelmaats aangepas en uitgetrek het. Henk het om hom rondgekyk, niks gesê nie. Sy oë het tot ruste gekom op ’n sexy bra en deurtrekkertjie en Karli het gevoel hoe haar wange aan die brand slaan. Sy’t dit gegryp, agter haar rug weggesteek en gesien hoe Henk ’n laggie probeer insluk. Dekselse mansmens!
Een van Karli se woonstelmaats het teruggekom en Henk het haastig gegroet. Die volgende oggend het hy haar gebel. “Het jy lus om vanaand saam met my te gaan eet?”
“Ek moet swot. Miskien liewer . . .” Sy wou hom afskud met ’n belofte van ’n ander aand, maar toe besluit sy een keer sal seker nie skade doen nie. “Oukei, maar net as jy beloof om my nie té laat terug te bring nie.”
Henk het woord gehou, haar vroeg teruggeneem. “Dit moet moeilik wees om saam met ’n klomp meisies ’n woonstel te deel,” het hy opgemerk voor Karli uit sy motor geklim het.
“Ag wat, ek’s fine. Mens raak anyway mettertyd alles gewoond. As die lawaai te erg raak, gaan swot ek in die bib,” het sy sonder bybedoelings gesê.
Twee weke later het Henk aangebied dat sy by hom intrek. Karli het ’n hele week daaroor nagedink. Sy’t net vir ’n oomblik oorweeg om haar ma en pa se mening te vra, maar vinnig daarteen besluit. Haar ouers het eers later gehoor.
“Alleenlik as ek huur betaal,” het sy gesê. “Dieselfde bedrag wat ek op die oomblik vir my deel van die woonstelhuur betaal. Dis nie baie nie, maar dis al wat ek en my ouers kan bekostig.”
Henk het geglimlag. “Nee, maar dan is dit reg so. Dis my eiendom, daar’s geen verband op die huis nie. So jy kan intrek wanneer jy wil. Die plek is groot, ons sal beslis nie in mekaar se hare wees nie.”
Die eerste maand ná Karli ingetrek het, was sy Henk se enigste vriendin en metgesel. Sy is saam met hom na ’n dinee, en nog ’n tedoe van Myburg en Myburg. Hulle het saam shopping gedoen, gaan fliek en sommer pizzas bestel en voor die TV geëet. Alles tussen haar en Henk was hunky-dory, totdat een van haar mansvriende kom koffie drink het en Henk die volgende aand ’n meisie huis toe gebring het. En twee weke later ’n ander meisie, en kort daarna nog een en nog een . . .
’n Lig het vir haar opgegaan en sy was nogal geskok. Henk is ’n player! Hy’s so wragtig ’n vrouejagter! Nie een van Henk se verhoudings het ooit langer as twee tot drie weke gehou nie. Sy’t Henk teen daai tyd goed uitgefigure gehad. Hy raak nie emosioneel betrokke by die meisies nie. Hy stel glad nie belang in permanente verhoudings nie.
Sy en Henk het begin vassit, soms oor die geringste dingetjie. Wanneer sy en ’n mansvriend in die woonkamer sit en fliek het, het Henk gekla die TV is te hard. Hy’t so fout gesoek, sy’t nie meer geweet waarheen nie. Dis nie asof sy so vreeslik gekuier het nie! Dit neem flippen baie tyd in beslag om regsvakke te swot. Sy en haar vriende het later maar liewer op die kampus koffie gedrink. Gmf, asof sý meisies engeltjies is!
Een van Henk se meisies het in Karli se kamer kom snoop en haar dansuitrustings aangepas en laat rondlê, toe gaan kla sy by hom. Hy was heeltemal onsimpatiek teenoor haar.
“Hou jou kamerdeur in die vervolg gesluit,” het hy gesê terwyl hy haar vas in die oë gekyk het.
“Moet ek nou in ’n bleddie tronk bly oor jy nie weet hoe om ordentlike girlfriends te kies nie?”
Henk het nie ’n oog geknip nie. “Kyk jy maar liewer na jou boyfriends. Hulle is almal nat agter die ore, en tussen die ore het hulle ook nie juis iets om oor huis toe te skryf nie.”
Dan was daar ook nog die bakleiery oor Henk wat nie spaarsamig is nie. Sy háát vermorsing van enige aard, terwyl hy met die spreekwoordelike goue lepel in sy mond gebore is. Daar was ’n hele spul goed wat sy as vermorsing gesien het en waaroor sy en Henk baklei het, maar die melk was die strooitjie wat die kameel se rug gebreek het.
Hy’t nie saans die melk in die yskas teruggesit nie en die volgende oggend moes sy dan aaklige poeiermelk drink omdat die melk suur was. Sy’t hom telkemale daaroor aangevat, maar sy kon sweer hy’t dit later aspris uit spite buite gelos.
Een oggend was Henk regtig nasty met haar. “Hel, Karli, as ek geweet het jy’s nie net ’n mooi gesiggie nie maar ook so ’n dekselse geitjie, het ek jou nooit genooi om hier te kom bly nie.”
Sy’t gevoel hoe haar hart soos ’n klip in haar maag val en haar onderlip bewe, toe draai sy liewer vinnig om en snip oor haar skouer: “Moenie worry nie, ek het anyway lankal besluit ek trek uit.”
Sy’t dieselfde dag haar details met ’n versoek om blyplek op ’n stuk papier neergepen en dit op die universiteit se kennisgewingbord opgesit, maar vir lank geen reaksie gekry nie. Sy’t Henk ’n hele week lank botweg geïgnoreer, selfs toe hy haar probeer vaskeer het en gevra het hulle moet vrede maak.
Die