Susan Pienaar

Sluimerliefde


Скачать книгу

nie vir Anchen vertel het hoe dit by die ruskamp lyk nie. Hy weet tannie Martie en oom Neels het die uithuuradvertensies stopgesit nog voor die plaas op hulle naam geregistreer was. Ook dat hulle beplan om eers nog heelwat hutte en ’n nuwe ablusieblok te bou voor hulle die hekke vir vakansiegangers oopgooi.

      Sy wens Anchen en Maritz het nie saamgekom nie. Henk hou van kampeer en vat dinge gewoonlik soos hy dit kry. Sy weet, hulle het al saam gekampeer. In ’n groep, nie alleen nie. Snaaks, al is Henk die enigste kind van skatryk ouers wat aan net die beste van als gewoond is, dat hy so hou van ru en in die oopte slaap. Hulle besit heelwat moderne vakansiehuise op verskillende plekke in die land, maar Henk is glad nie verwen nie – die teendeel is eerder waar.

      In die eerste maand – voor sy en Henk so erg begin ba-klei het – was hy twee keer saam met haar by haar ouers. Kort gelede ook, net voor Anchen ingetrek het, toe Surina en haar baba en hulle broer ook daar was. Henk het sowaar die vyf maande oue kleinding opgetel en gesus terwyl sy ma vir hom bottel gemaak het. Agterna het haar ma gesê Henk kon netsowel in ’n middelklasfamilie grootgeword het.

      “Ouers wat hul seun goeie maniere geleer het,” het haar pa bygevoeg.

      Maritz druk Karli se hand. “Waaraan dink jy so diep?”

      Karli vee sy blonde kuif uit sy oë. “Ag, sommer . . .”

      Hy trek haar nader asof sy ’n veertjie is, soen haar dan liggies. Sy luister na die mooi musiek in die agtergrond, maar druk haar gesig teen sy skouer vas toe dit voel asof hy haar lippe wil oopdwing.

      ’n Sanger sing gevoelvol oor die liefde, maar skielik word die musiek afgesny. Karli skuif terug op haar plek en kyk na die twee voor haar.

      Anchen kyk met swak verbloemde wrokkigheid na Henk. “Maar ek like die song.”

      “Speel iets anders. Dis te stroperig na my sin,” grom Henk.

      “Jy’s glad nie romantic nie, weet jy?”

      Karli trek ’n eina-gesig. Oeps! Anchen het haar kloue gewys.

      Anchen steek ’n arm uit, streel oor Henk se nek en verander blitsvinnig van deuntjie. “But it’s okay, lovey. Ek hou van jou nes jy is. Mans is mos van Mars en vrouens van Venus. Ek vat jou nes jy is,” spin sy sag.

      Karli kyk na Henk. Van wanneer af is die liedjie vir hom te soetsappig? Dis tog sý CD, hulle twee het voorheen baie daarna geluister. Maar Anchen sit die pot lelik mis. Henk is heavenly romanties. In die eerste ruk toe hulle nogal redelik goed klaargekom het, het Henk gereeld ná hulle die vorige aand by een van die werk se tedoes was of gaan uiteet het, die volgende dag vir haar blomme met ’n kaartjie laat aflewer.

      Karli frons liggies. Sy het glad nie blomme op die groot ysterhouttafel in Henk se eetkamer gesien nie. Dis gewoonlik waar haar blomme daar in die begin gestaan het, en later van sy ander meisies s’n ook. Kry Anchen ooit blomme? Dis ook nogal vir haar snaaks dat Henk geen liefdeswoordjies teenoor Anchen gebruik nie. Dis sy wat al die lovey-dovey dinge sê en doen.

      “Dít kan Karli nie van my sê nie,” verklaar Maritz met ’n tevrede glimlag. “Ek’s ’n romantic soos min, dis nou maar finish en klaar.”

      Karli sien duidelik hoe Henk sy kake op mekaar klem. Sy maak groot oë en beduie vir Maritz hy moet stilbly, maar hy ignoreer haar.

      “Ek dra time and again vir Karli blomme en perfume en Lindt chocolates aan,” gaan hy voort, leun dan oor na haar en fluister: “Ek sal jou báie meer gee as jy my net sal toelaat.”

      Praat hy van die juwele wat sy nie wil hê nie? Of oor bedsake? Sy wil liewer nie weet nie. Sy trek haar hand uit syne en kyk deur haar venster.

      Die pad vat hulle bo-oor ander snelweë. Dis mooi, die kronkelende teerpaaie met karre onder hulle. Dis ’n sonnige dag met ’n blou hemel en hulle is op pad na die mooiste plek in die Vrystaat. Vrystaters het Golden Gate die Klein Kaap gedoop, oor die berge en sandsteenkranse. Karli hoop regtig hulle almal kom goed klaar, en veral dat sy en Henk nie gaan baklei nie. Soos dit is, sal hulle meestal in mekaar se geselskap wees.

      Maritz was oorgretig om saam te kom. Karli is nou baie bly dat hy hier is, sy wil nie derdemannetjie speel nie. Maritz is haar verskansing teen die twee verliefdes hier voor.

      Karli kry haar handsak en haal sjokolade uit. Sy maak die boksie oop, sit vorentoe en hou liewer maar eerste vir Henk.

      “Hier, kry vir jou.”

      “Nee, lovey, dis nie goed vir jou nie,” sê Anchen toe Henk ’n hand uitsteek. “Dis heavy calories daai.”

      Henk vat ’n hand vol. “Thanks, ons is mos met vakansie. Nou wel net vir ’n paar dae, maar nogtans.” Hy tiep die hele spul in sy mond en kou geesdriftig.

      Anchen draai haar effens in die sitplek en glimlag katvriendelik vir Karli. “A moment on your lips, forever on your hips, dis wat van chocolates gesê word, so jy moet oppas, een van die dae is jy spekvet.”

      Karli gee haar ’n klein glimlaggie. Sy moet maar liewer stilbly, al wens sy soms Anchen wil oor ’n klip val. Sy kan Anchen ’n paar dinge vertel, maar sy durf nie dat sy en Henk ’n uitval oor die vroumens kry nie. Wie weet hoe ernstig hy dié keer is? Anchen is al twee weke verby haar vervaldatum.

      Buiten dat dit tans deeltydse werk verskaf, is Karli se hele toekoms verweef met Myburg en Myburg. Sy doen volgende jaar haar pupilskap by hulle, en die jaar daarna begin sy by hulle werk. Sy kan seker elders regkom, maar hoekom sal sy haar rooskleurige skip ter wille van Anchen laat sink?

      Henk kyk vraend na Anchen. “Het ek verkeerd verstaan dat julle twee al so ’n bietjie gesels het? Het Karli jou nie vertel van haar hobby nie? Sy doen kontemporêre danse. Eintlik dans sy gereeld soos ’n mal ding op maat van musiek wanneer sy dink niemand sien haar nie. En sy draf elke oggend voor sy stort.”

      Shucks, sy’t nie geweet Henk het haar gesien nie. Sy’t dan juis seker gemaak sy’s alleen wanneer sy dans.

      Henk kyk in die spieëltjie na haar. “Help jy nog Saterdae vir Sonja met die afrigting?”

      Karli knik. “Met dié dat sy nou so ver swanger is, kan ek haar nie drop nie. Ek geniet dit buitendien ook te veel.”

      “Ek het al gesien hoe wikkel Karli haar sexy lyfie,” sê Maritz, “maar sy’t my weggejaag, gesê ek pla haar en die ander girls.”

      Henk hou ’n bakhand na agter. “Gee daar nog so ’n bie­tjie lekkergoed aan, of het julle als opgeëet?”

      Maritz wil nie sjokolade hê nie, so Karli tiep sommer die hele pakkie in Henk se hand uit, druk dan die boksie in ’n leë inkopiesak en sit terug om deur die venster te kyk. Hulle ry steeds op die snelweg en onderdeur een van die gewraakte e-tolstelsels.

      Anchen trek aan haar veiligheidsgordel om dit te verslap, draai haar in die sitplek en glimlag vir Maritz. “Ek het vergeet, watse werk doen jy nou weer?”

      Karli kyk terloops na Anchen, maar dan kyk sy fyner. Vroeër by Henk se huis was haar aandag meestal op Anchen se borste, maar nou weet sy wat haar gepla het. Anchen se wangbene staan nou meer uit, amper soos twee ronde bolletjies. En haar lippe is voller . . . eintlik plomp. O genade! Anchen het haar wange en lippe met silikoon laat inspuit.

      “Ek spekuleer met eiendomme en so aan,” antwoord Maritz.

      “O?” Anchen se glimlag verdwyn vinnig. “So, dan verkoop jy huise?” Sy bly net so sit, duidelik lus vir meer gesels.

      Karli roep haar gedagtes tot orde. Is Anchen stupid of wat? Dink sy boonop sy gaan met ’n ou eindomsagentjie uit? Iemand wie se enigste doelwit dit is om mense rond te ry en huise te kyk en hulle dan verkoopskontrakte te laat teken? Nee wat, sy gaan die waarheid onder die snobistiese skepsel se neus vryf.

      Sy kyk liewer verby Anchen se gesig. “Maritz is ’n eien­domsontwikkelaar. Dis heeltemal anders as om huise te verkoop. Hulle koop eiendomme op, sloop dit en bou dan hengse groot wolkekrabbers en so aan. Hy’s een van drie vennote van ’n moewiese groot maatskappy.”

      Henk