en kam met lang naels deur die hare in Henk se nek. “Maar jy’s advokaat én vennoot. Surely maak jy huge amounts . . . millions meer as enigeen van ons.”
Karli kyk na Anchen se hand in Henk se hare en voel hoe wrewel in haar opstoot. So dís Anchen se storie. Sy’s ’n gold-digger. Sy’s so wragtig agter Henk se geld aan!
“Nee wat, ek glo nie ek maak naastenby soveel soos Maritz nie,” sê Henk, en Karli wonder of hy nou aspris so nederig is.
“O?” Dit lyk skielik asof Anchen ’n perdeby ingesluk het, maar dan glimlag sy. “Oh well, geld is ook nie só belangrik nie. Ons het net genoeg nodig om gemaklik van te kan leef.” Sy los Henk se hare, draai terug op haar sitplek en stoot ’n CD in die speler.
Karli kan nie met sekerheid sê nie, maar nou klink dit al vir haar asof Anchen nie weet presies hoe welgesteld Henk en sy ouers werklik is nie. Henk is maar oor die algemeen beskeie wat geld betref. Mense wat geslagte lank aan rykdom gewoond is, praat nooit oor hoeveel hulle werd is nie, dit het Karli lankal agtergekom.
As dit nie was dat sy al heelwat tyd in die Myburgs en hulle vriendekring se geselskap deurgebring het nie, sou sy nooit geweet het hulle werk met gróót geld nie. Nie alleen het hulle een van die grootste en suksesvolste regsfirmas met takke oral in die land nie, maar Henk en sy pa besit ook korporasies deur middel waarvan hulle eiendomme as beleggings aanskaf. Luukse wonings, woonstelgeboue, verskeie groot kantoorgeboue, selfs ’n winkelsentrum of twee – die lys is oneindig lank. Dis amper soos om ’n vinger in elke pasteitjie te hê, dink sy en glimlag vir die beeld wat die Engelse uitdrukking by haar oproep. Maritz se geld lyk teen Henk s’n soos ’n pennie teen ’n pond.
Karli wonder of Anchen al ooit kontak met Henk se ouers gehad het. Sy weet vir ’n feit dat tannie Caroline en oom Hendrik reeds die afgelope drie weke in die buiteland is. En voor hulle landuit gaan, is hulle gewoonlik vreeslik besig om reëlings te tref. Henk vry ook te veel in die bondel, so dis nie sy gewoonte om sy meisies aan sy ouers voor te stel nie.
Karli kyk na Maritz. Hy is die teenpool van Henk. Hy’s nogal lief daarvoor om so ’n bietjie te spog. Met dié dat sy ouers iewers in die Kaap bly, het sy hulle nog nie ontmoet nie. Hy praat nooit oor sy familie nie, maar dis oukei. Dis nie asof sy belangstel om dinge omtrent hulle te weet nie.
Skielik sit Karli regopper. Anchen het gesê: “Óns het net genoeg nodig om gemaklik van te kan leef.” Natuurlik! Anchen wil vir Henk inkatrol! Karli sit terug en voel haar mondhoeke lig. Jy kan probeer, maar jy ken onse Henk sleg as jy dink dit gaan só maklik wees, lag sy in haar mou.
Maritz trek Karli nader, vat haar hand en plant ’n soen op die rugkant. “Wanneer gaan jy my aan jou ouers voorstel?” Hy praat sag en vryf oor haar ringvinger. “Ek kyk al ringe.”
Sy sien Anchen draai die musiek harder en voel verlig dat Henk nie kan hoor nie. “Watse ringe?”
“Sommer enige mooi ringe, verloofringe ook.”
Sy kyk hom stomgeslaan aan. “Nee, o gats, man! Is jy mal? Ek ken jou skaars tien minute. Ons gaan nou maar eers drie weke uit.”
Die ding is, sy wíl Maritz nie beter leer ken nie. Eintlik moet sy haar flippen kop laat lees. Maritz het haar maande lank net nooit met rus gelaat nie. Toe gaan sy maar uiteindelik saam met hom op ’n date. En toe dine en wine hy haar en voor sy tot tien kon tel, het sy ingestem om vas met hom uit te gaan.
Sy drink eenvoudig nooit alkohol nie. Sy hou nie van die smaak nie. Selfs coolers, wat maar baie min alkohol bevat en wat soos koeldrank behoort te smaak, is vir haar die ene medisyne, en die heel eerste slukkie gaan na haar kop toe. Sy kyk na Maritz en wonder of hy dit daardie een spesifieke aand aspris gedoen het. Haar sjampanjeglas was net nooit leeg nie, en later het die dekselse drank soos koeldrank gesmaak. Sy was heerlik ontspanne en totaal onvas op haar voete toe hy haar huis toe gevat het. Sy’t die dag by Myburg en Myburg gewerk en glad nie genoeg vloeistof ingekry nie, so sy was vreeslik dors.
“Sal jy my ná die langnaweek aan jou ouers gaan voorstel?” onderbreek hy nou haar gedagtegang.
Sy dink vinnig. “My ma-hulle gaan oor ’n week vir ’n maand met vakansie. Hulle gaan by my suster in die Kaap bly,” lieg sy.
“Oukei, oor ses weke dan?”
Sy knik. “Maar jy moenie oor ernstige goed soos verloofringe praat nie. My pa sal ’n gasket blaas. My ma-hulle is baie nougeset . . . um, soort van outyds. So hulle sal beslis verwag dat ek redelik lank met ’n ou uitgaan voor ek in die verre toekoms dalk verloof raak.” Daarso, nou lyk dit asof Maritz haar met rus gaan laat.
Hy druk sy gesig in haar nek en sy draai haar kop effens. “Jy’s so sexy.” Hy vang haar oorlel tussen sy tande vas en dit stuur ’n rilling teen haar ruggraat af. Was dit haar verbeelding dat Henk ’n oomblik in sy truspieël na hulle gekyk het?
Karli druk Maritz weg en hy kyk vraend na haar. “Jy kielie my.” Sy skuif terug op haar plek teen die venster. R59 na Vereeniging, sê ’n groen bord. Karli kyk op haar horlosie. Dis skaars vyf-en-dertig minute later en Henk draai in by ’n Enjin-oase. “Vaal Meander” wys die bordjie regs.
Henk hou stil, maak sy gordel los en kyk agtertoe. “As enigiemand iets nodig het, moet julle nou uitklim. Dis ons laaste stop voor Bethlehem. Ons ry verby Heilbron, nie deur die dorp nie.”
Karli bly sit terwyl die ander uitklim. Sy het koeldrank en water by haar voete, so sy sal oukei wees. Sy wag nie lank voor die drie terug is nie. Maritz maak ’n pak skyfies oop en hou vir Karli, maar sy skud haar kop. Sy kry haar bottel water uit die klein koelsakkie by haar voete en drink ’n paar slukkies.
Anchen lag en kyk na Henk. “My layout vir Meimaand gaan ’n wenner wees. I’m so excited!” Sy sit haar blikkie Tab in die houer tussen haar en Henk se sitplekke.
Henk kyk na haar, lig dan sy donker wenkbroue. “Nou hoe dan so? Ek dog elke maand is ’n wenner by daai tydskrif van jou.”
“Dit ís, lovey! Maar hierdie keer het ek myself oortref met die theme. Ek het ’n brainstorm gekry en alles gaan absolutely fabulous wees.”
Karli begin lag, maar sy vang Henk se oë in die spieëltjie op haar en koes gou om haar water terug te sit. Langs haar sit Maritz en kou skyfies asof hy uitgehonger is, maar dis duidelik dat hy luister.
“Is dit klere én makeup?” vra Karli.
Anchen draai haar lyf effens na agter. “Yes, maar die klere is glad nie jou gewone herfskleure nie. Dis in midnight blue en rich copper brown to soft creams, and emerald green to lightest greens. En die eye-shadows is absolutely gorgeous. Dis smokey eyes in cosmic brown, sparkling silver en starry night blue. En die lipsticks is divine! Dis flashy copper and shining cherry and wine red.”
Henk skud sy kop. “Ongelooflik! Jy ken darem jou grimering, om al daai kleure se name sommer so af te rits.”
Anchen glimlag en knik herhaaldelik. “I told you! Ek’s ’n expert op my gebied.” En aan Karli. “Jy sal maar die magazine moet koop as jy ’n paar tips wil vang.” Anchen druk haar Armani-sonbril effens af en kyk oor die raam na Karli. “Jy ís nogal bleek. You should wear lipstick and eyeliner and mascara and blusher, girl! Sal die kleur in jou oë uitbring.”
Maritz vergeet van sy skyfies en Karli gaap Anchen oopmond aan. Nee flip, sy wil g’n soos ’n nar lyk nie!
“Ek like nie om ’n girl met rooi lipstick te soen nie, hulle besmeer my klere,” brom Maritz en bêre die skyfies by sy voete.
Anchen bekyk Karli deur skrefiesoë, kompleet soos ’n kat wat sy prooi bekruip. “Het jy nog nooit van stayfast lipstick gehoor nie? Lees jy nie my rubriek nie?”
O genade! “Ek lees . . . ek weet van stayfast, maar ek sal jou tydskrif gaan koop en liewer al jou tips vir die volgende seisoen daarin lees,” maak Karli ’n einde aan die gesprek en skuif sommer nader aan Maritz, al is sy nie lus om so naby hom te sit nie.
Anchen slurp die laaste van haar Tab deur ’n strooitjie, sit die blikkie by haar voete neer en kondig aan: “Ek gaan