uit. Maar waarom kies Anchen toe ligbruin? As sy wou gehad het haar wimpers moet natuurlik lyk, het sy haar lelik misgis. Mens kies tog swart as jou hare ’n diep auburn is.
Henk kom sit sy arm om Anchen se lyf en kyk af na haar. “Is jy nou seker jy’t alles wat jy nodig gaan hê?”
Anchen lyk onseker, lig dan haar besemwimpers op na Henk. “Ek hoop so, maar daar’s seker darem shops daar? Dis nou as ek dalk iets vergeet het.”
Karli is nou so geïrriteerd, sy’s lus en loop iets storm, maar sy hou haar stem egalig.
“Kobie sê daar’s heelwat winkels in Clarens, maar ek dink régtig nie jy gaan van hulle goed hou nie. Ek bedoel nou maar, jy weet, met dié dat jy net aan die duurste en beste gewoond is.”
Henk gee Karli ’n kyk wat sy goed ken, maar sy maak asof sy nie sien nie.
Anchen knik, die innuendo van Karli se woorde ooglopend op haar verkwis. “Ook weer waar, maar mens weet nooit.” Sy praat met ’n sagte, soet stemmetjie.
Henk beduie viertrek toe. “Nou maar klim julle meisies solank in terwyl ek gaan sluit. Maritz, trek solank jou kar in die garage.”
Karli stap agter Henk aan en sien hoe hy vlugvoetig met die trappe boontoe hardloop. “Moenie my toesluit nie,” roep sy terwyl sy gou na die gastebadkamer toe hardloop. Terwyl sy hande droogmaak, kyk sy ingedagte na haar spieëlbeeld. Sy gebruik net getinte vogroom en lipglans. En sonskerm as sy enigsins buite is. Dankie tóg dat haar wimpers dig en pikswart is, soos haar hare.
Karli is voor Henk by die voordeur. Agter haar hoor sy hoe hy die alarm aanskakel. Maritz kom orent waar hy by Anchen se venster ingeleun staan en gesels het. Of het hy na haar borste gekyk? Weet Maritz ooit dis aangehelp? Anchen het voorheen kwaai opgestopte bra’s gedra. Maritz het Anchen nog net een keer vantevore gesien, en toe het sy ’n losserige katoentoppie aangehad. Wanneer sou sy die operasie laat doen het? Karli het nie ’n clue hoe lank dit vat om gesond te word ná so ’n operasie nie.
Karli klim agter Henk se sitplek in terwyl Maritz duidelik trots na sy nuwe BMW stap. Sy haat dit as Maritz neerhalend van haar karretjie praat. En dít net oor haar motor ’n vyf jaar oue model is. Voor Karli kom skuif Henk agter die stuurwiel in en maak sy deur toe. Daar parkeer Maritz nou sy motor langs Anchen se splinternuwe broodblikkie. Henk se silwer Mercedes staan ook binne.
Maritz wou gehad het hulle twee moet op hulle eie ry, maar Henk het geredeneer dat dit geselliger sou wees as hulle almal saam in sy viertrek ry.
“Ons kan lekker gesels en die natuur saam geniet,” het hy gesê.
Maritz het nie teengestribbel nie. Hy’t nie ’n sê gehad nie. Sy en Henk het die naweek beplan en bespreek lank voor hy óf Anchen in die prentjie gekom het.
Maritz kom klim langs Karli in en sit sy hand op haar been. Sy stoot sy hand weg. Sy’s nie lus dat hy aan haar vat ná hy so kwylend na Anchen gestaar het nie. Henk skakel sy voertuig aan, kyk in die truspieël en reverse deur die groot hek. Soos gewoonlik wag hy dat die hek eers toeskuif voor hy wegtrek.
Henk streel oor Anchen se hare en sy glimlag liefies vir hom. Anchen help haar rooibruin haarkleur uit ’n bottel aan, maar dis nie ongewoon nie. Die meeste vrouens doen dit. Anchen se haarwortels het op ’n slag, voor Karli uitgetrek het, net-net uitgegroei, toe sien sy dis muisvaal.
Karli se oë rus eintlik op Henk se hand teen Anchen se hare. Sy naels is kort gevyl en silwerskoon. Hy’t groot hande, maar sy vingers is lank en slankerig, soos dié van ’n kunstenaar. Daar’s fyn swart haartjies op die agterkant van sy hand. A, daar vat Henk nou sy hand weg.
Maritz kyk strak voor hom. Hy’t hom nou natuurlik vir haar gewip. Karli oordink die situasie. Dit gaan nie goed lyk as Henk en Anchen liefie-liefie met mekaar is en Maritz sit dikbek langs haar nie. Sy wil nie die naweek bederf nie. Sy vat Maritz se hand en glimlag vir hom. Hy grinnik darem terug.
Karli keer hul ineengevlegte hande om en bekyk Maritz se hand, vergelyk dit dan met Henk s’n. Sy hande is kleiner as Henk s’n, maar darem steeds baie groter as hare. Maar sy hande doen eenvoudig net mooi níks vir haar nie. Daar’s geen sparks nie, ook nie in sy soene nie. Sy weet dis haar skuld, want Maritz se reaksie op haar kan sy baie duidelik aan sy lyf sien en voel. Maar gelukkig gril sy darem nie te erg vir hom nie, dis net . . . sy haat sy tong in haar mond.
Dis stil binne-in die kar terwyl hulle die paar strate na die sekuriteitshek ry. Henk hou stil, steek sy arm by die venster uit, druk ’n vinger teen die knoppie en die sperpaal lig sodat hulle kan deurry. Hy lig ’n hand, groet die wag en gou is hulle om die sirkel en op pad. Karli kry nou eers regtig ’n vakansiegevoel. Sy kan nie wág om in Clarens en tussen die berge te wees nie. Weg van die alewige boeke af.
Lewenslus bruis deur Karli. “Hier kom ons, Golden Gate!” lag sy en sien terloops hoe lagplooitjies om Henk se oë waaier terwyl hy in die truspieël na haar kyk.
Anchen skud haar kop asof ’n lastige vlieg daarom draai, terwyl Maritz vir Karli ogies maak en ’n soen op haar hand plant.
“Right, nou het ons net musiek nodig om ons in die regte mood te kry, of wat sê julle?” Henk wag nie op ’n antwoord nie. “Soek daar vir ons ’n CD en sit dit in,” sê hy vir Anchen.
Anchen blaai deur die leerhouer, stoot ’n CD in die speler en die eerste opgewekte musieknote van ’n bekende liedjie, gesing deur plaaslike sangers, klink op. Karli tik met haar voet die ritme en volg die woorde.
“Maar ’n vrotsige vryer gewees, daai ou. Om darem vier-en-twintig jaar lank te sukkel om iets vir die meisie te sê,” breek Maritz sy stilswye tot nou toe en wikkel sy wenkbroue vir Karli.
Karli weet haar glimlag is afgewater. Alice se ou was rêrig te stadig, maar Maritz is weer hopeloos te vinnig. Dis maar drie weke dat hulle vas uitgaan, en reeds wil hy verder gaan as wat sy ooit sal toelaat.
Anchen beloer haar gesig in die sonskerm se opknapspieëltjie. Sy kry ’n houertjie en ’n kwassie uit haar handsak en trek skewe lippe terwyl sy aanverf. Karli probeer ongemerk loer. Dalk is dit ’n nuwe soort lipstiffie wat ’n mens se lippe voller laat lyk, al word hulle dun getrek.
“Waar gaan ons nou eintlik bly?” Anchen sit die houer in haar handsak en kyk na Henk.
“Ek het jou mos gesê. Iewers tussen Clarens en Glen Reenen.”
Anchen kry ’n bottel water uit die houer tussen die twee voorste sitplekke, skroef dit oop en druk ’n strooitjie in. “Ek wil weet wáár ons gaan bly. Het die plek ’n naam?”
Henk kyk voor hom. “Kobie se ouers het ’n huis op hulle plaas –”
Anchen val hom in die rede. “Gaan ons in die plaashuis bly?”
Karli kan nie gló wat sy hoor nie. Vergeet Anchen maar net gou, of het Henk haar nie ordentlik ingelig nie? Of het Anchen so min in die naweek belanggestel dat sy eenvoudig nie wóú luister nie?
Henk hou stil by ’n rooi robot, kyk dan na Anchen. “Nee. Kobie se ouers bly in die plaashuis. Ek het jou mos vertel van die kleihutte waarin ons gaan bly.”
“Kleihutte?” Haar mond hang ’n oomblik verdwaas oop. “Ek dog dis rondawels.”
“Dit ís rondawels, gebou met klei.” Henk tik ongeduldig met ’n vinger teen die stuurwiel. “Jy sal daarvan hou. Dit gaan lekker wees, jy sal sien.”
Karli sit betyds ’n hand oor haar mond toe sy wil lag. Flip, en almal maak net grappies oor blondines!
“Hey, Henk, die robot is groen,” waarsku Maritz net toe ’n kar agter hulle toeter blaas.
Anchen sit ’n hand teen Henk se nek, skuif nader en fluister hard genoeg sodat Karli kan hoor. “I can’t wait to be alone with you. Jou tone gaan krul van ons lovemaking.”
Karli kyk by haar venster uit en wens sy’t dit nie gehoor nie. Sy voel skielik onvergenoegd. Anchen weet net watter knoppies om te druk waar dit Henk aangaan. Sy praat altyd mooi en sag met hom, en streel sy ego met elke hofsaak wat hy wen.