Susan Pienaar

Sluimerliefde


Скачать книгу

en dan regs om die dorp.

      Karli gaap en sit gou ’n hand voor haar mond. “Skuus, ek’s moeg.”

      Henk kyk ’n oomblik in die truspieëltjie na haar. “Het jy Kiewie toe by jou ma-hulle gaan aflaai, soos jy beplan het?”

      “Ja, gisteraand. Ek het by hulle geëet en jy weet hoe hulle kan gesels. Ek het laat in die bed gekom.”

      “Is hulle oukei?”

      Sy lig haar kop effens. “Ja, hulle het gesê ek moet vir jou groete stuur.”

      Maritz druk haar kop teen sy skouer vas. “Nou maar maak jou oë toe en probeer ’n rukkie slaap.”

      Die min slaap van die afgelope laat aande se swot en gisteraand eis nou sy tol. Sy’t oor die foon vir haar pa gesê sy kom net haar ringnekpapegaai aflaai, sy ry dadelik weer. Maar haar ma het kos gemaak sodat sy saam kon eet.

      “Gaan jy en Henk alleen Golden Gate toe?” wou haar ma later weet terwyl hulle in die woonkamer tee gedrink het.

      “Nee, Ma. Ek het mos vir Ma gesê ons is nou vier wat saamgaan.”

      “O, ja, ek onthou nou,” het haar ma geknik en gevra: “Sien jy Henk darem nog noudat jy uitgetrek het?”

      “Eintlik maar min. Ons loop mekaar so af en toe raak wanneer ek by die firma werk, en hy was darem ’n keer of wat daar by my. Ma moet onthou Henk is baie besig, en ek ook.”

      Karli frons liggies. Dis kompleet asof haar ma en pa nie wíl hoor dat dinge tussen haar en Henk platonies is nie.

      “Ek het ook deesdae ’n vaste ou,” het sy gesê, maar nie haar ma of pa het oor Maritz uitgevra nie.

      “Oulike man, dié Henk,” het haar pa gebrom en afgehaal gelyk. “Ek het nogal gehoop daar kom iets van . . . maar nou ja,” het hy gesug.

      Karli het opgestaan, Kiewie se kombers oor sy hok loop gooi, haar ouers gegroet en haar ry gekry.

      Maar sy wil nie nou aan sulke goed dink nie. Die bande se gesuis op die teer is byna hipnoties, en sy voel hoe sy indommel.

      Karli word stadig wakker. Die voertuig het tot stilstand gekom. Waar is hulle?

      Maritz plant ’n soen op haar voorkop. “A, my slapende skoonheid is wakker.”

      Karli sit regop en kyk verdwaas om haar rond. Hulle is op Bethlehem. Die viertrek staan voor ’n inkopiesentrum geparkeer en links is daar ’n vulstasie.

      “Het ek sowaar die hele pad tot hier geslaap?” praat sy met niemand in die besonder nie.

      Henk se deur is oop. Hy staan reeds buite en kyk oor sy rugleuning na Karli. “Toemaar, jy en Anchen het niks gemis nie. Hulle werk oral aan die paaie – dit het my later rasend gehad. Ons moes op twee plekke amper twintig minute vir aankomende verkeer staan en wag.”

      Karli klim uit en Henk maak die deur toe. Die mans praat van KFC koop en uit gewoonte gaan stap Karli langs Henk. Sy kom dit eers agter toe hy omdraai om te kyk waar Anchen is. Karli voel dadelik afgehaal en vies vir haarself. Sy’t totaal van Anchen en Maritz vergeet.

      Maritz kom vat haar hand, maar nie voor Karli die vuil kyk sien wat Anchen na haar kant toe gooi nie.

      Maritz kyk na die verligte spyskaart bo teen die muur. “Watter package gaan jy vat?”

      “Hm, dit ruik watertandlekker hier binne. Kry sommer vir my dieselfde as wat ons nou die dag geëet het, dankie.”

      Karli stap eers kleedkamer toe, was haar hande en loop soek dan plek vir vier tussen die volgepakte tafels. Voor die toonbank staan Henk en Maritz tussen ander mense en wag vir hulle kos. Anchen se kop is agteroor gekantel soos sy na die verligte spyskaart kyk. Sy soek natuurlik iets wat nie vet maak nie.

      Daar kom die mans nou aangestap, elkeen met ’n skinkbord vol houers. Anchen hang aan Henk se arm, kompleet asof sy hom iewers tussen die tafels gaan verloor. Karli het groot simpatie met vroue wat klein borste het. As sy Anchen was, sou sy ook die operasie laat doen het, maar flip, sy sou beslis ’n kleiner borsmaat gekies het.

      Met die houers op die tafel uitgepak, kom skuif Maritz langs Karli in. Henk kom sit oorkant Karli en Anchen langs hom.

      Henk stoot sy aartappel en sous eenkant en trek sy hoender nader. “Wat is ’n wegbreek sonder ’n hoederboudjie?” Hy vat dadelik ’n hap en kou.

      “Die spyseniers van KFC moet ’n slag bykom,” mor Anchen. “Koolslaai wat versuip in mayonnaise is nou al regtig afgesaag.” Sy stoot dit eenkant en hou ’n vlerkie op. “Hoeveel vere dink julle is weggesteek onder dié kors?”

      Karli kyk ’n paar oomblikke na die vlerkie in Anchen se hand, dan na Henk wat skielik hardop lag.

      “Kom nou, Anchen. Soos ek jou ken, gaan jy in elk geval nou daai kors met vere en al afkrap voor jy eet.”

      Anchen fladder haar wimpers vir Henk en glimlag. “Jy ken my só goed, lovey.”

      Maritz kyk na Anchen. “Maar dis dan juis die kors wat die hoender so vorentoe laat smaak. Of hoe, Karli?”

      “Jy’s reg.” Maar Karli slaan liewer die vlerkie oor en vat ’n happie uit ’n boudjie. Sy’s nou so honger, sy meng van die sous by haar kapokaartappels en eet.

      Langs Henk is Anchen inderdaad besig om die heerlike kors van ’n hoenderborsie met ’n plastiekmessie af te skil. Niemand gesels nie, almal is ooglopend honger. Karli vang Henk se oë op haar mond. Hy kou nie, hou net ’n stuk hoender asof vergete in mid-air. Wat nou? Sy vee oor haar lippe, gryp ’n servet en sien hy eet verder voor sy wegkyk.

      Anchen eet nog ’n paar happies, verskoon haarself en loop kleedkamer toe. Karli het genoeg geëet. Sy stoot haar kartonhouer na die middel van die tafel.

      “Julle kan maar eet, ek het nie aan die hoender geraak nie.”

      Maritz knik, en Karli sien Henk lê reeds weg aan Anchen se porsies.

      Karli stap weer kleedkamer toe. Haar hande is vetterig. Net water en seep sal nou die ding doen.

      Binne, met haar rug na Karli gekeer, staan Anchen voor ’n spieël. Karli steek vas en kyk na haar, maar sy’s besig om haar gesig te bestudeer en sien Karli nie raak nie. Duidelik ingedagte, vat sy om die beurt ’n string lang hare weerskante van haar gesig vas en laat gly dit beurtelings tussen haar twee vuiste deur terwyl sy haar kop heen en weer draai.

      Karli stap na ’n wasbak, pomp seep in haar hand en druk op die kraan vir water. Anchen is die mees narsistiese vroumens wat sy nog ooit teëgekom het. Sy weet wragtig nie wat Henk in haar sien nie.

      Buite wag Maritz vir Karli. Sy hare blink goud in die herfsson en sy hand is warm, nes sy oë wat haar klere letterlik van haar lyf afstroop. Wie sal nie daarvan hou as ’n ou soos Maritz begerig na haar kyk nie? Haar medestudente sê gereeld hulle beny haar. Sy sien ook hoe die meisies Maritz aangaap wanneer hy haar soms by die universiteit kom oplaai.

      Karli klim sommer by Maritz se kant in, skuif dan oor sodat hy kan inklim. Henk trek uit die parkeerplek toe die deur toegaan. Dan is hulle op pad na die laaste stop, Clarens.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС