Marzanne Leroux-Van der Boon

Kavod Adonai


Скачать книгу

sonlig oor die bed val. Maar sy vrou is al wakker, sy lê met Natan styf teen haar aangekruip. Die helder lig laat haar haar oë toeknyp en verwytend uitroep: “Nee, man!”

      Marc sit die tee neer en gaan sit langs haar op die bed. Hy steek sy arm onder haar deur en lig haar op tot teen hom. Sy is warm en sag en klein in sy arms, en hy soen haar. “Dis tyd dat jy wakker word,” sê hy in haar hare. “Jou oudste kla al dat jy altyd slaap.”

      “Ag nee,” protesteer sy onder sy ken, “waar kom dit nou vandaan?”

      “Hy’s kwaad vanmôre.”

      “Oor wat?”

      “Oor alles. Ook oor ek kamp toe gaan vanaand.”

      “Jy moes hulle gewaarsku het.”

      “Ek weet, maar ek het nie die moed gehad nie.”

      Sy sug, tel die koppie op. “Ek ook nie.”

      “Hoe ook al, ek het lankal gevoel dis nodig om ’n slag met hom te gesels, te hoor wat hy op die hart het. Ek vat hom plein toe, ek gaan nie vanoggend shul toe nie.”

      “Nie?” sy klink verbaas.

      “Nee. Die Shabbat is ook vir die gesin en ek het die kinders ver­waarloos.”

      Haar oë versag bo die beker wat sy teen haar mond hou. “Jy verwaarloos nie jou kinders nie,” sê sy sag. En toe ná ’n oomblik: “Miskien doen ek dit omdat ek werk.”

      Hulle kyk mekaar stil aan voordat hy sê: “Ons sal hoor. Met Yhosh moet ons versigtig wees, chamud … dis … ons weet sy intelligensie is ver bo die gemiddelde. Baie vér bo sy ses jaar.”

      Sy knik. “’n Mens vergeet dit en dan ontstel jy jou oor sy gesegdes en vrae. Dis goed dat jy ’n bietjie alleen met hom is.”

      “Kan ek ook saamgaan, Abba?”

      Hulle het albei half vergeet van Natan, wat diep onder die duvet ingekruip lê.

      “Nee, Natani, Abba en Yhoshi gaan alleen. Ek en jy moet nog vir Shishi en Shmu’el kos gee en met Shmu’el gaan stap. Onthou?”

      Dit herinner Natan aan sy kat. “Waar’s Shishi?”

      “Ek het gisteraand gesien sy lê op die rusbank op die groot kussing. Sy’s seker nog daar.”

      Die kleintjie kruip dadelik onder die duvet uit. “Ek gaan haar haal.”

      Hy hardloop in die gang af en Marc trek Rivkah, wat haar tee klaar gedrink het, weer nader en hou haar styf vas. “Dit gaan ’n lang maand wees,” sê hy teen haar wang.

      “Ek weet,” sê sy en nestel haar gesig in die holte van sy skouer.

      Hy onthou die passie waarmee hulle laas nag liefde gemaak het.

      Op die Hurvah-plein is dit Shabbat-stil. Die dig geblaarde iepe gooi wye skaduwees oor die plein se plaveiklippe. Aan hul stamme blink laas nag se dou nog. Uit die wolklose lug skyn die son helder. Vandag gaan dit bloedig warm word. Marc gaan sit met Yhoshi op ’n bank in die skaduwee oorkant Moshe en Dov se verlate winkel.

      Hy sit sy arm om die kind se skouertjies en wag totdat hy voel die lyfie ontspan effens voordat hy begin praat. “Jy het vanoggend gesê Imma slaap baie wanneer sy by die huis is.”

      “Dit is mos so.”

      “Is dit?”

      “Wel, sy slaap baie.” Die kind swaai sy bene gegrief.

      “Miskien is dit eerder reg as ons sê sy slaap ’n bietjie meer as toe julle kleiner was en sy korter ure gewerk het. Dink jy nie so nie?”

      Yhoshi trek sy skouers op.

      “Weet jy watter soort werk doen sy?”

      “Ek weet, ja! Sy’s ’n paramedikus.”

      “Yhoshi, jy praat met mý, nie met een van jou maats nie.”

      “Slicha,” mompel hy.

      “Wat ek eintlik gevra het, is of jy dink aan hoeveel hart­seer sy elke dag in haar werk mee te doen kry en hoe moeg dit ’n mens maak?”

      “Hoekom moet sy werk?”

      “Omdat sy ’n hoogs opgeleide paramedikus is en die land haar nodig het.”

      Yhoshi sê niks, maar sy voete swaai nie meer so ontsteld heen en weer nie.

      “Sê nou maar jy het aan die universiteit studeer en jy kan die werk waarvoor jy lief is baie goed doen, maar jy kan nie werk nie. Al is daar baie werk in die land vir jou. Sou jy nie ook gefrustreerd wees nie?”

      Hy kyk vir die eerste keer op na Marc, en ná ’n oomblik knik hy.

      Marc vryf oor sy knieë. “Kyk, sy werk vyf dae van die week van sewe tot een, ses uur lank. Sy werk nie op Vrydae en Shabbat nie. As jy ongelukkig daaroor voel, kan ons almal saam daaroor praat en sien of ons iets daaraan kan doen.”

      Yhoshi sê niks. Hy kyk na twee van die plein se katte wat hulle behaaglik in die son op ’n bank uitstrek. Bokant hulle gloei die Hurvah se koepel in die skerp lig.

      “Yhosh?”

      Marc sien hoe hy sy vingers ineenstrengel voordat hy antwoord. “Sy’s nie soggens daar wanneer ons skool toe gaan nie. En ook nie middae wanneer ons huis toe kom nie; sy kom eers twee-uur.”

      “Maar ek is soggens daar, en Savta kom julle by die skool haal en bly totdat sy kom.”

      “Dis nie dieselfde nie.”

      Marc wil-wil hom vererg. “Wat wil jy hê, Yhosh?” vra hy so gelykmatig moontlik.

      Meteens begin Yhoshi huil. Marc skrik en tel hom vinnig op sy skoot. “Wat is dit, liefling?”

      Dit duur ’n rukkie voordat hy half onhoorbaar sê: “Jy gaan nie eens vir my verjaardag hier wees nie. Jy gaan ook weg.”

      Hy druk die kind vertroostend teen hom vas en besef dat Yhoshi nog nie al die vrees en onsekerheid van die vorige jaar afgeskud het nie. Hy onthou Yhoshi se woedeuitbarstings weens sy vrees dat hy of Rivkah kon weggaan.

      In Januarie 2010 het Rivkah saam met Israel se span paramedici ná die verwoestende aardbewing in Haïti gewerk. Sy het in ’n vreemde gemoedstoestand teruggekeer en Marc het nie kans gehad om vas te stel wat gebeur het nie, want ’n paar uur ná haar aankoms het hy Pole toe ver­trek vir die 65ste herdenking van die Auschwitz-Birkenau-bevryding. ’n Toer wat hy en Henok maande voor die Haïti-aardbewing bespreek het.

      Eers lank nadat hy weer by die huis was, het die oorsaak van haar kommerwekkende optrede aan die lig gekom. Sy het in Haïti te midde van die skokkende omstandighede seksueel betrokke geraak by ’n medeparamedikus. Hoewel dit kortstondig en eenmalig was, het dit ’n ontsettend emosionele uitwerking op hul huwelik gehad. Deur die loop van die jaar en met baie pyn het hulle dit egter leer verwerk en het hul verhouding eintlik inniger geword. Maar vanoggend besef hy opnuut watter nadelige uitwerking dit steeds op die kinders het. Al het hulle geen idee van wat gebeur het nie, moet hul ouers se optrede telkens die vrees by hulle wek dat een van die twee kan weggaan. Yhoshi sukkel duidelik nog daarmee, hoewel hy nie regtig weet wat hom pla nie.

      Die seuntjie het stil geraak, maar die gesiggie wat teen Marc se nek lê, is nog nat van die trane. “Yhoshi, ek is verskriklik jammer dat ek nie hier kan wees vir jou verjaardag nie, maar ek kan niks daaraan doen nie. Ons sal dit vier wanneer ek terugkom, dit belowe ek. Maar jy en Natani gaan mos lekker saam met Saba en Savta see toe.”

      ’n Snik ruk nog af en toe deur Yhoshi. “Ek wil nie hê jy moet weggaan nie. Nooit nie.”

      Marc vee die nat hare van sy voorkoppie weg en haal diep asem. Hy bid in sy hart dat Adonai hom die regte woorde in die mond sal lê. Hy bly die kind styf vashou.

      “Liefling, luister mooi na my.