Скачать книгу

      Marc kyk hulpsoekend na Rivkah.

      Sy glimlag toegewend. “Kom ons lees dit maar saam, dit kan net goed wees vir die Shabbat. Ons het mos nie shul toe gegaan nie.”

      Sy trek die siddur uit haar skouersak en gee dit vir Marc aan. Hulle maak ’n kringetjie onder die boom, Rivkah met haar arms om die twee seuntjies. Marc lees die gebed. Hy luister ontroer hoe Yhoshi byna foutloos die Hebreeus van die lang gebed sag saam met hom sê.

      “Vay’hee erev va’yhee boker yom hashishi …”

      “Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag. Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. Op die sewende dag was Elohim reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.

      “Geseënd is U, Adonai Eloheinu, Koning van die heelal, Skepper van die vrug van die wynstok.

      “Geseënd is U, Adonai Eloheinu, Koning van die heelal, wat ons liefgekry en ons deur sy verordeninge afgesonder het. In sy liefde en genade het Hy aan ons die heilige Shabbat as deel van ons erfenis gegee, om ons aan die Skepping te herinner. Die Shabbat is die heiligste van al die dae van heilige samekoms wanneer die uittog uit Egipte herdenk word. Voorwaar, U het ons uitverkies, U het ons afgesonder uit al die volkere, en in liefde en genade het U ons u heilige Shabbat as erfenis gegee. Geseënd is U, Adonai, wat die Shabbat geheilig het.”

      “Dis só mooi,” sug Yhoshi toe hulle klaar is.

      Marc hurk by hom. “Verstaan jy nou waarom ons altyd dieselfde gebede bid? HaShem het dit vir ons voorvaders in hul harte gegee en ons het dit al die eeue vasgehou.”

      Yhoshi knik en Natan kom gooi sy arms om Marc se nek. “Dankie, Abba,” sê hy.

      Marc en Rivkah se oë ontmoet oor die twee donker krulkoppies.

      1 Besonderhede en aanhalings van verhale van die oorloë in hierdie hoofstuk kom uit Brett Goldberg se A Psalm in Yenin.

      Hoofstuk 2

      Jerusalem

      Donderdag 18 Augustus 2011

      Dis net ná halfeen toe Rivkah uit die ambulans klim by MADA (Israelse Rooikruis) se hoofkwartier. Sy vee die natgeswete hare moeg uit haar gesig; dit was ’n vermoeiende oggend en dis swetend warm. Hulle is pas terug van ’n swembad in ’n pretpark, waar hulle ’n driejarige se lewe nie kon red nie. Die kleintjie was minute lank onder water voordat sy ontdek is en die paramedici se desperate pogings kon haar nie bybring nie. Hulle moes haar uiteindelik dood verklaar. Die wanhopige ma se gekerm weerklink steeds in Rivkah se ore.

      Dis somerskoolvakansie en haar eie twee is vir drie weke saam met haar ouers by die see in Bat Yam naby Tel Aviv. Sy moes haar met moeite daarvan weerhou om nie te bel en te hoor of hulle veilig is nie. Vreeslike gedagtes van verdrinking jaag deur haar kop. Yhoshi kan so onverskrokke wees in die see. Môre is sy sesde verjaardag, dan werk sy nie en gaan sy ook daarheen. Shabbat en Sondag is sy met verlof. Sy is dankbaar dat Chaim en Hadassah beskikbaar is om na die kinders om te sien noudat Marc vir die eerste keer in ’n skoolvakansie milu’im doen.

      Sy en ’n kollega is net besig om die swaar instrumentetas uit die ambulans te laai toe die depot se luidspreker begin skel. Hulle verstyf albei. Dit blyk ’n ernstige skietaanval op ’n openbare bus naby die suidelike hawestad Eilat te wees. Hulle haas hulle binnetoe, waar ander kollegas voor die televisie saambondel. Hoewel sewe passasiers, van wie twee kinders, gewond is, skyn dit nie so ernstig te wees soos verwag kan word nie. ’n Verslaggewer sê skote is uit ’n verbygaande motor op die Egged-bus gevuur. Die terroriste het militêre uniforms aangehad wat volgens die busbestuurder soos Egiptiese weermaguniforms gelyk het.

      “Noudat Moebarak nie meer aan bewind is nie, is daar chaos in Egipte.” Nahum skud sy kop. “Die wetteloosheid daar hou niks goeds vir Israel in nie.”

      “Al was hy ’n diktator, het Egipte ons minstens dertig jaar met rus gelaat. Ofskoon dit ook maar ’n koue vrede was. Maar …!”

      Voordat iemand op Itzik se kommentaar kan reageer, volg nog ’n skokkende berig. ’n Israelse patrollie-eenheid aan die Egiptiese grens het hulle na die toneel van die aanval gehaas en twee versteekte landmyne afgetrap. Ernstige beserings, twee soldate dood.

      “Adonai Elohei,” kreun iemand agter Rivkah.

      Sy draai om en sien dis haar kollega Chavah, wie se seun in die weermag op die oomblik aan die Egiptiese grens patrolliediens doen. Rivkah druk haar styf vas. Daar is geen trooswoorde wat sy kan bied nie, behalwe dat daar meer as een sulke patrollies is. Sy help die vrou haar besittings bymekaarkry sodat sy dadelik kan huis toe gaan. Maar voordat hulle nog klaar is, lui Chavah se selfoon. Dis die weermag. Rami is ernstig beseer. Rivkah help die hulpeloos huilende vrou in ’n taxi.

      Terug voor die TV word die nuus ál skokkender. Dit word duidelik dat die Egged-bus wat aangeval is, soldate wat met verlof is en hul gesinne na Eilat vervoer het. Terselfdertyd word berig dat mortiere oor die Egiptiese grens gevuur word.

      “Dan is dit miskien wel Egiptiese soldate wat betrokke is,” sug Nahum weer. “Of hulle kyk eenvoudig anderpad en los die terroriste om hul gang te gaan.”

      “Meer waarskynlik, sou ek sê. Dit doen die Libanese en Siriërs tog ook op ons gesamentlike grens,” sê iemand anders. “Ek dink dit was ’n do­de­like fout van Ehud Barak (Israelse minister van verdediging) en die rege­ring om Egiptiese soldate toegang tot die Sinai-skiereiland te verleen.”

      “Ek het nie eens daarvan geweet nie.” Itzik klink verontwaardig. “Ek dag onder Camp David mag hulle net klein patrollies daar instuur en dan net met vooraf toestemming van Israel.”

      “So was dit ook. Maar die regering het toegestem omdat Hamas en al-Qaeda ná Moebarak se verdwyning openlik daar bedrywig geraak het. Om nie eens van Iran te praat nie. Dit het ’n terroristenes geword.”

      Maar dit is nog nie die einde van die dag se ellende nie. Binne minute word verskeie tenkafweerprojektiele, waarskynlik RPG’s (vuurpylaangedrewe granate), afgevuur op ’n weermagbus, wat aan die brand slaan. ’n Privaat voertuig word ook getref en vier mense sterf. Nog ’n burgerlike sterf in sy motor en sy vrou word ernstig gewond, hoor hulle kort daarna.

      Die groepie voor die televisie kyk woordeloos toe.

      “Daar kom ongetwyfeld vergeldingsaanvalle,” merk iemand later op.

      “Marc doen milu’im in die Negev,” prewel Rivkah. “Sal hulle nie dalk nou opgeroep word nie?”

      Almal doen hul bes om haar te verseker dis buite die kwessie, maar sy glo hulle nie heeltemal nie. Hy antwoord nie sy selfoon toe sy bel nie, en haar vrees neem toe. Toe sy later klaarmaak, gaan sy nie huis toe nie want sy sien nie kans om daar alleen te wees met haar groeiende vrees nie. Sy bly dus saam met die ander voor die televisie.

      Daar word berig ’n spesiale polisie-eenheid het intussen die terroristesel opgespoor wat die eerste bus aangeval het en al drie terroriste is in ’n skietgeveg dood. Twee van die liggame was met plofstof bedraad. Nog vier terroriste is gevang en in die proses doodgeskiet. Die IDF het al die paaie na die suide gesluit en onderneem ’n uitgebreide soektog na nog terroriste en plofstof. Inwoners suid tot by Eilat, Israel se mees suidelike stad and hawe, wag gespanne op die IDF se vergeldingsmaatreëls. En die seker wete dat Hamas gewelddadig daarop sal reageer.

      Toe Rivkah se selfoon in haar uniformsak lui, verstyf sy. Maar dis Marc se naam wat op die skermpie flits. Nee, hy is nie by vyandelikhede betrokke nie, verduidelik hy haastig, sy moet haar nie bekommer nie, hy sal vanaand weer bel. Hoewel sy nie seker is dat dit die volle waarheid is nie, is sy meer gerus en besluit sy om huis toe gaan.

      Die aand se televisieprogramme verskaf veel meer besonderhede. Rivkah maak vir haar kos en gaan sit voor die televisie. Sy mis Marc