Marzanne Leroux-Van der Boon

Kavod Adonai


Скачать книгу

groef sy mondhoeke.

      “En in Quzah, toe ons die opdrag kry om in die nag in die heuwels stelling in te neem. Die ontruiming van die dooies en die beveiliging van die gewondes …” Hy bly lank stil.

      “Daardie nag is soveel verskriklik verminkte mense, dood en halfdood, by my verbygedra … Ek het naderhand niks meer gevoel nie. Dit kon net sowel dooie beeste gewees het wat hulle daar dra …”

      “Marc …”

      “In die eindelose, eindelose donker ure dat ons daar langs die grens gery en geloop het, was ek soveel keer weer terug by die Litanirivier. Het ek weer David se Black Hawk bo ons sien ontplof. Weer die bloed en die dood geruik van die verbrande oorblyfsels saam met my op die vloer van die helikopter wat my teruggevlieg het Israel toe …”

      Rivkah sien die sweet op sy voorkop uitslaan.

      “En Udi … Udi, wat in die Cast Lead-operasie in my arms gesterf het.”

      Sy buk oor hom. “Marc! Dis nou verby, liefling. Jy is by die huis.”

      Stadig kom lig terug in sy oë. “Ja,” sê hy en hou haar boarms met albei sy hande styf vas. So styf dat sy seerkry en sy vingers sag losmaak.

      “Jy moet nou slaap.”

      “Alles, al die dinge wat in daardie ure na my teruggekom het, al die hel, het ek versigtig soos met houtskool op ’n wit vel in my kop geteken.”

      “Chamud, dit sal weer regkom. Alles sal duidelik word wanneer jy weer kan teken en skilder!”

      Dis asof hy haar nie hoor nie, maar tog glimlag hy effens. “Weet jy hoe ek dit oorleef het, Rivkah? Daardie eindelose nagure aan die grens? Die angs wat elke geluid gebring het? Die wete dat ons soos die eerste patrollie aangeval kon word. Dat daar landmyne geplant is …”

      Sy stem raak weg, maar toe fluister hy weer: “Toe ek daardie laaste nag die stryd wou gewonne gee. Toe ek wou wegkom van hierdie verskriklike land. Wegkom van die vervloeking van Jood-wees. Weet jy hoe het ek oorleef?”

      Hy wag nie vir haar om te antwoord nie. “Bo-oor daardie hel op die wit papier het ek jou mond geteken en Yhoshi se oë … en ek het Natani se handjies geteken.”

      Toe huil hy. Sy druk sy kop teen haar bors en voel sy warm trane deur haar klere. Maar langsamerhand weet sy dat die stilte in hom terugkom. Eers toe sy seker is, laat sy hom gaan.

      In die flou lig van die bedlampie sien sy hy is weer by haar.

      “Ek het jou lief,” sê sy, want geen ander woorde kan haar emosies beter beskryf nie.

      Marc steek sy arms stadig uit soos een wat swak is en trek haar na hom toe. “Rivki, as ons mekaar verloor, het ons alles verloor.”

      So met haar teen hom, raak hy aan die slaap.

      Hoofstuk 3

      Jerusalem

      September 2011

      Rivkah maak Marc eers teen eenuur die volgende middag wakker. Hy het soos ’n dooie geslaap. Nou sien sy dankbaar dat daar ’n bietjie meer kleur in sy wange is en sy oë helder is. Sy sit by hom op die kant van die bed met ’n beker mud en kam met haar vingers deur sy donker hare, glansend weer ná die vorige aand se deeglike was.

      “Jy sal beslis ’n slag by die haarkapper moet uitkom voordat jy terug werk toe gaan.”

      Hy gaap en steek sy arms verlangend na haar uit. “Daar’s nog tyd daarvoor.”

      Sy sit die beker koffie op die bedkassie neer en buk oor hom. Hy vou haar in sy arms toe en soen haar lank.

      “Jy ruik na appels,” sê hy in haar nek.

      Sy lag en kom regop. “Net geëet,” sê sy. “Maar ek moet al byna weg wees. Hier, drink jou koffie. Wat kan ek vir jou bring om te eet?”

      Hy gaap weer en rek hom uit voordat hy die koffie by haar neem. “Sal self vir my iets maak wanneer jy weg is.” Hy frons. “Werk jy dan nou in die middag?”

      “Ek het gister met Tovah skof omgeruil oor ek geweet het jy sal laat kom en dan kom ek nie net ná ses in die oggend hier weg nie.”

      Hy kyk na haar in die donkerblou uniform met MADA se kenteken op die hempsak. Haar lang donker hare is in ’n poniestert hoog agter haar kop vasgemaak. “Jy’s mooi,” sê hy.

      Haar wange verkleur. “En jy’t ’n bril nodig.”

      Hy gryp haar hand. “Allesbehalwe. Hoe laat kom jy terug?”

      Sy trek ’n skewe mond. “Ek werk tot agtuur. Ek sal vir ons iets saambring om te eet.”

      Hy glimlag. “Ek het nie so agteruitgegaan dat ek nie meer kan kos maak nie. Sorg jy maar dat jy so vroeg moontlik kom.”

      Sy draai sy hand om en soen die kneus- en skaafplekke. “Ek’s bly jy’s terug,” sê sy sag.

      “Ek ook. Ek’s jammer dat ek gisteraand in so ’n toestand was.”

      Sy skud haar kop. “Lo! Dit was nodig. Maak seker jy rus vandag. Bevakasha, Marc! Môre kom die kinders terug, dan is die stilte verby.”

      “Ek gaan onder op die plein in die koelte sit.”

      “Moshe en Dov sal bly wees om jou te sien.”

      “En ek vir hulle. Jy gaan jou bus verpas.”

      “Neem jou skildertas saam wanneer jy plein toe gaan.”

      Hy lag. “Ek sal. Maar jy gaan jou bus verpas, dis kwart oor een.”

      Sy vlieg op. “Jy’s reg!” Sy soen hom haastig, gryp haar skouersak en verdwyn om die deur. Hy hoor haar met die trap af hardloop.

      ’n Rukkie lê hy nog na die dak en staar, onseker oor wat hy moet doen. Maar toe die donkerte hom wil toevou, staan hy vinnig op, stort en trek aan. Die T-hemp en kakiebroek ruik so heerlik vars en skoon dat hy die klere teen sy gesig druk en diep asemhaal. Eers dag hy hy het nie ’n eetlus nie, maar toe hy die vars brood in die kombuis ruik en die appels sien wat Rivkah geëet het, raak hy honger.

      Sy skildertas hang in die klein studeerkamertjie en toe hy dit optel en die bekende verweerde leer onder sy vingers voel, oorweldig emosie hom. Hy sak op die stoel neer met die tas op sy skoot. Die geur van verf en kwaste en houtskool oorweldig hom. Trane brand magteloos in sy oë.

      “Adonai, Adonai,” fluister hy, “dankie dat U my nie laat omkom het nie. Dankie dat U my teruggebring het toe ander in sulke verskriklike omstandighede gesterf het. Dankie dat U my nie verlaat het toe ek aan U gewanhoop het nie.”

      Hy ontdek sy houtskool en pastelle is byna gedaan en besluit om in die stad nuwe voorraad te gaan koop. Dié vooruitsig maak hom meteens opgewonde. “Vergewe my, vergewe my,” fluister hy weer, “dat ek die land ’n vervloekte land genoem het. Dat ek ú land vervloek het. Adonai Tzva’ot, vergewe my!”

      Dis warm buite, maar dis niks in vergelyking met die Negev se meer as 45 °C nie. Hy drafstap deur die Ou Stad en kom eers weer by die woelige Gershon Agronstraat tot stilstand, waar hy moet wag om oor te steek. Soos altyd grinnik hy in sy binneste oor die origens arrogante Israeli’s wat altyd gehoorsaam by ’n verkeerslig sal staan en wag totdat dit groen slaan. Selfs al is daar geen verkeer in sig nie. Hy luister na die ongeduldige geblêr van toeters wat oral opklink. Sodra ’n bestuurder enigsins stadiger reageer as wat jy reken toelaatbaar is, lê jy eenvoudig op die toeter. Nie dat die ander hulle daaroor ontstel nie. Noudat Jaffastraat afgestaan is aan die sogenaamde ligspoor, die elektroniese treinstelsel in die middestad, is die frustrasie nog groter. Die kakofonie van toeters raak by tye byna oorverdowend.

      Hy grimlag oor die Chassid langs hom, ten spyte van die hitte, Mid­del­eeus in sy lang jas, hoed en peyot tot byna op sy skouers, wat op sy selfoon kwetter en aan die skootrekenaarsak oor sy skouer klou. ’n Soldaat, geweer oor die skouer en gebreide kippah op sy agterkop, staan onge­duldig langs hom en wag vir die lig om oor te slaan. Hy neurie ’n