op die oopgevoude kaart vind. ’n Ortodokse ma met twee babas in ’n dubbele stootkarretjie en drie kleuters aan haar rokpante, kom uitasem aangehardloop in die hoop om die naderende bus aan die oorkant van die straat te haal.
Toe die lig groen word, spoel die rare versameling mense oor die straat.
“Jerusalem, o Jerusalem,” prewel Marc en voel hoe sy gemoed gaandeweg ligter word.
Aan die ander kant van die straat help hy die vrou met haar vrag kinders om in die haastige bus te klim. Sy wuif hom dankbaar toe toe sy eindelik swetend met almal aan boord is. Hy wonder hoe sy die hitte van die dag met ’n swart romp en dik kouse gaan oorleef.
Die versoeking om by die Steimatzky-boekwinkel in Jaffastraat in te loop probeer hy nie eens weerstaan nie. Die reuk van boeke en koerante werk salwend in op sy nog rou emosies. Hy trek ’n eksemplaar van Chaim Potok se My Name is Asher Lev uit ’n rak en gaan sit daarmee op die mat met sy rug teen die muur. Hy het nog nie weer sy selfoon se luitoon aangeskakel nie en voel net aan die trilling in sy broeksak toe dit lui. Dis Rivkah wat wil weet hoe dit met hom gaan. Hy kan hoor hoe verlig sy is toe sy verneem waar hy is. Hy koop wat hy nodig het, asook die Jerusalem Post. Hy sit alles in sy ruim skildersak. Toe koop hy ’n sagteband-kladboek en kryte vir Natani en vir Yhoshi ’n CD met kinderliedjies wat hy op sy rekenaar kan speel. Skielik verlang hy na die kinders. Vir Rivkah koop hy ’n bos rose by die blommewinkel oorkant die straat. Swaar belaai vat hy die pad terug huis toe. Ten spyte van die sagte oop sandale wat hy aan het, pyn sy voete van die skaafplekke en blase wat Rivkah die vorige aand ontsmet en skoongemaak het.
By die huis verwelkom Shmu’el hom geesdriftig sodat hy hom saamneem na die plein.
Op Hurvah-plein is dit allesbehalwe koel. Dis stil daar, want die meeste mense skuil binnenshuis teen die ademlose middaghitte. Marc gaan sit by die koffiekroeg onder die koeltebome regoor Dov en Moshe se Shorashim. Shmu’el lê by sy voete. Dis nie lank nie, toe kom die twee broers buitentoe.
“Selfs die toeriste skrik vir die hitte,” sê Dov en rek hom lui uit voordat hy oorkant Marc gaan sit. “Maar wanneer dit laatmiddag koeler word, kom hulle uit hul skuilings en dan raak dit besig.”
Moshe se selfoon lui en hy staan ’n entjie van hulle af en praat. Toe hy klaar is, wuif hy net na hulle en stap terug winkel toe.
“Seker ’n kliënt,” sê Dov, “want dit lyk nie of dit ’n krisis is nie.”
’n Ietwat hitteverwelkte kelnerin kom hoor wat hulle wil hê. Marc bestel vir hulle granaatsap en gaap self lustig. “Die hitte maak ’n mens vaak.”
“Maar is jy dan nie vroeg terug nie? Ek dag jy kom eers middel September.”
“Nee, weet jy, ons is gister al huis toe gestuur. Ons was mos in Tze’elim met die aanvalle op Eilat. Party van ons is toe sommer opgeroep om te help met die soektog na nog terroriste en plofstof in die gebied.”
“Natuurlik! Ek het vergeet jy was in die Negev. So, jy was met die Eilat-terroriste deurmekaar.”
Marc haal diep asem, want hy voel sy keel toetrek. “Ag, nie ernstig nie. Wat gebeur het, is dat hulle van ons wat in Libanon was en meer ondervinding het, opgeroep het om die grens te help patrolleer. Dié dat ons vroeër pas gekry het.”
“Die Egiptiese grens?”
“Wel, ek was onder dié wat aan die Gasagrens was.”
Dov skud sy kop. “G’n wonder jy sien daar so sleg uit nie. Dit was seker nie ’n aangename taak nie. Veral nie nadat daardie eerste patrollie ’n landmyn afgetrap het nie.”
“Dit was nie …” Hy huiwer en kyk af na sy hande. “Dit het vir my baie van die herinneringe van Libanon en Gasa teruggebring. Soveel van daardie spoke het snags op die grens saam met my in die Hummer gery.”
“Ek kan my voorstel. Julle het seker nie veel slaap gekry nie.”
Marc skud sy kop. “Snags uiteraard nie. En bedags was dit ondraaglik warm en die geraas te veel. Boonop was daar ander dinge om te doen. Ek het nooit meer as twee of drie uur op ’n dag geslaap nie.”
“Marc, ek wonder altyd hoe jy, so ’n sensitiewe mens, ’n kunstenaar, sulke omstandighede beleef. Hoe jy dit oorleef.”
Marc glimlag verleë. “Daar is baie soos ek, Dov. Moshe en jy is sulkes. Jul seuns en dogters. ’n Mens oorleef dit; daar’s nie ’n keuse nie.”
“Ons seuns en dogters is hier in Israel gebore; hulle het bedreiging en oorlewing met hul moedersmelk ingekry. Jy het maar anderdag besef jy’s ’n Jood.”
“Maar ek ís een,” sê Marc sag.
“Ja,” sug Dov en krap sy grys kenbaardjie ingedagte. “Dit is ook waar.”
“Dov … In daardie eindelose, bang nagte aan die grens, was daar oomblikke dat ek die land vervloek het. Die land én my Joodsheid.”
Dov se vriendelike oë versag. Hy kyk stip na Marc voordat hy sê: “Jy is nie die enigste wat dit al gedoen het nie.”
“Ek was by toe hulle die Levy’s se aanvaller aangekeer en geskiet het. Daar was iets in die man se gesig, wat my geraak het … Dov, ek het gedink: As ek in jou skoene gestaan het, sou ek dit miskien ook gedoen het.”
Dov glimlag moeg. “Marc, Jood-wees, Israeli-wees, laat ’n mens verskriklike moeilike oomblikke en gedagtes beleef.”
“In dié nag het ek gedink aan Deir Yassin. Aan die Sterniste, aan die Irgun wat die King David opgeblaas het. Ek het my afgevra: Is ek beter as jy?”
“Dit is vrae waarvoor elke Israeli met ’n gewete die een of ander tyd te staan kom. Maar dan moet jy probeer om al die feite voor jou op die tafel te lê en daarna te kyk in die lig van ons geskiedenis van die pogroms en die Shoah, en soveel ander vervolgings. En jy moet onthou: ‘Jode … is ’n bevolkingsgroep wat deur die helfte van die mensdom van die vroegste tye af voëlvry verklaar is. Hulle redeneer iedereen kan op ’n Jood skiet sonder om gestraf te word, selfs teen beloning. En die ander helfte van die mensdom laat dit toe.’2 Dít lei tot die ontstaan van bewegings soos die Irgun en die Sterniste en dat ’n Deir Yassin daaruit voortspruit. Nie dat dit verskoonbaar is nie, maar dit is in ’n mate verstaanbaar.”
Marc knik langsaam sonder om iets te sê.
“Palestyne word van hul geboorte af met Jodehaat geïndoktrineer. Hulle hoor Jode is ape en nie mense nie en dat ons hul land afgevat het. Sou jy nie sê hulle s’n en ons s’n is twee redelik verskillende beweegredes nie?”
“Miskien.”
“Jy weet, elke keer dat ek weer Israel se Onafhanklikheidsverklaring lees wat met die totstandkoming van die staat in 1948 in werking getree het, kan ek nie anders as om opnuut beïndruk te wees nie. Die nadruk wat byvoorbeeld gelê word op die belangrikheid van geregtigheid en menslikheid vir almal.”
“Hou ons ons daarby?”
“Ek sou sê in verreweg die meeste gevalle, ja. Kyk byvoorbeeld na godsdiensvryheid. Die verklaring waarborg vryheid van godsdiens en ander gewetensoortuigings en gelykheid van sosiale en politieke regte ongeag godsdiens. Dit beteken dat elke godsdiensgemeenskap die vryheid het, volgens die wet en in die praktyk, om sy godsdiens te beoefen, sy heilige dae en weeklikse rusdag te hou en om sy eie interne belange te bestuur. Kyk na die Hurvah-sinagoge hier reg voor jou. Ons het nie Islam se minaret langsaan verwyder toe ons die sinagoge – wat ná onafhanklikheid deur Moslems vernietig is – gerestoureer het nie. Daar staan hy nog. Op ons heiligste berg is drie moskees. Kan jy jou sulke vergunnings vir Jode in een van ons buurlande voorstel? Kyk maar hoe word die Arabiese Christene in Gasa behandel.”
“Nee, dit is so.”
“Ek hoor nou die dag Israel finansier meer as honderd moskees, betaal die imams se salarisse, koop die Korans aan wat in die moskees gebruik word. Israel finansier ook Arabiese en Islamitiese skole en kolleges.”
“Dis nuus vir my.”
Dov