Marzanne Leroux-Van der Boon

Kavod Adonai


Скачать книгу

‘Ek sal alles doen wat ek kan.’ En dit het hy ook gedoen. Hy het elke moontlike manier en invloed van die Verenigde State gebruik om ons te help. Ons is spesiale dank aan hom verskuldig. Dit spreek van die sterk alliansie tussen Is­rael en die Verenigde State. Hierdie alliansie is veral belangrik in dié tyd van politieke storms en omwenteling in die Midde-Ooste.

      “Ek wil ook graag verwys na die tussenkoms van die Egiptiese kommando’s wat ’n tragedie voorkom het. Ons was deur die nag regstreeks in verbinding met die Egiptiese owerhede. Dit was vir almal duidelik dat die verdediging van ’n ambassade, en in hierdie geval die Israelse ambassade, die verpligting van enige buitelandse staat is.

      “Om daardie rede stel ek die woorde van die Egiptiese minister van inligting, wat die aanval op die Israelse ambassade in Kaïro veroordeel het, geweldig op prys. Baie wêreld- en Arabiese leiers het hulle hieroor by hom aangesluit. Ek heg besondere waarde hieraan.

      “Israel sal steeds by die vredesverdrag met Egipte hou. Ons werk saam met die Egiptiese regering om ons ambassadeur so gou moontlik in Kaïro terug te kry. Ek wil egter eers seker wees dat die nodige vei­ligheidsmaat­reëls vir hom en sy hele personeel reeds bestaan en hul veiligheid ge­waarborg word. Intussen sal ons diplomatieke afvaardiging in Kaïro voortgaan om ons te verteenwoordig tot die ambassadeur se terugkoms.

      “In die loop van hierdie lang nag is daar van ons verwag om baie moei­like besluite te neem. Ek wil graag met julle een gesprek deel. Op die lyn was Yonatan, die ambassade se hoof van veiligheid. Hy en sy manne, ses van hulle, was in die ambassade vasgekeer. Die gepeupel het by die gebou ingebreek en tot in hul kantoor gevorder. Daar was net één deur tussen hulle en Yonatan en sy manne. Hoewel hy vir my absoluut kalm geklink het, het hy die situasie goed begryp waarin hy en sy kollegas hulle bevind het.

      “Terwyl die situasie ál gevaarliker geword het, het hy vir die veiligheidsoffisier in die binnelandse ministerie één versoek gehad: ‘As enigiets met my gebeur,’ het hy gesê, ‘moet my ouers van aangesig tot aangesig verwittig word, nie per telefoon nie.’ Ek het die telefoon geneem en vir hom gesê: ‘Yonatan, wees sterk. Ek beloof jou dat die staat van Israel alles in sy vermoë sal doen en alle moontlike bronne in die wêreld sal gebruik om jou en jou kollegas sonder letsel daar uit te kry.’

      “En, HaShem sy dank, hulle het vanoggend veilig in Israel geland. Ek het ’n rukkie gelede met Yonatan en sy ma gepraat. Hulle het wonderlik geklink.

      “Daar is nog een ding wat ek julle vanaand wil sê, my mede-Israeli-burgers, die Midde-Ooste is besig om ’n politieke aardbewing van historiese omvang te beleef. Miskien kan dit vergelyk word met wat ’n eeu gelede aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog gebeur het met die totstandkoming van ’n nuwe wêreldorde. In die aangesig van hierdie historiese beroeringe moet ons koel en met verantwoordelikheid optree. Ons moet verstaan dat hierdie voorvalle die gevolg is van diep en sterk politieke onderstrominge. Ons in Israel is geneig om te dink dat alles as gevolg van ons gebeur, dat ons op die een of ander manier aanleiding gee tot die oproer in ons omgewing. Daar is baie eksterne en sterk magte aan die werk hier. Meer as enigiets anders moet ons in hierdie tye optree om ons veiligheid te verseker. Dis die anker van ons voortbestaan, veral in hierdie onstuimige tye. Ons moet daartoe werk om op die toepaslike tyd ons nasionale belange in die streek te bevorder.

      “Ons sal voortgaan om vrede met Egipte in stand te hou. Dit is in die algemene belang van albei lande. Ons sal werk om te voorkom dat ons verhouding met Turkye verder versleg. Die huidige toestand van sake is nie ons keuse nie. In soverre die saak by ons berus, sal ons alles in ons vermoë doen om die spanning te verlig en betrekkinge te herstel.

      “Ons sal voortgaan om in die rigting van vrede met die Palestyne te werk. Wat dit betref, sal ons so gou moontlik moet terugkeer na die pad van regstreekse vredesonderhandelinge. Dis die enigste manier om vordering te maak en ’n vredesooreenkoms te bewerkstellig. Wat hierdie onderhandelinge betref, glo ek baie mense in ons volk en oor die wêreld wat vandag sien wat in ons gebied aan die gang is, sal ons geregverdigde standpunt oor die verdediging van ons veiligheids­belan­ge in enige toekomstige ooreenkoms verstaan.

      “Ek wil graag weer die minister van buitelandse sake en die minister van verdediging, die veiligheidsmagte en bo alles ons dapper jong manne wat ure lank in die ambassade vasgekeer was, bedank. Ons het as ’n hegte span saamgewerk om ’n tragedie vir die staat van Israel te voorkom en om ons manne veilig huis toe te bring.

      “Shavuah tov l’kol am Israel.”

      Toe hy afsluit met die tone van HaTikvah op die agtergrond, sê Riv­kah emosioneel: “Ag, ek het Bibi lief!” En met trane in haar oë: “Ag, en ek het Israel lief!”

      Natan klim besorg op haar skoot. “Hoekom huil jy, Imma?”

      Sy druk hom styf vas. “Oor ek so blý is!”

      “Maar ’n mens huil nie wanneer jy bly is nie.”

      “Ja, Natani, as jy baie bly is en dankie wil sê, huil jy.”

      “Is jy bly oor wat Bibi gesê het?”

      Sy lag en vee die trane met die agterkant van haar hand uit haar oë. “Ja, ek is bly oor wat hy gesê het. Ek is bly hóé hy dit gesê het. En ek is bly omdat HaShem hom vir ons gegee het. Verstaan jy?”

      Die kind knik.

      2 Aanhaling uit: Abel J. Herzberg, Drie Rode Rozen, Uitgeverij Querido, Amsterdam. Kopiereg ©1975 deur die nalatenskap van Abel J. Herzberg.

      3 Die gesprek met Esti Lehman geneem uit ’n e-pos uit Israel: Life in the South: a Mother’s Dilemma. Ontvang van [email protected], 4 September 2011.

      Hoofstuk 4

      Jerusalem

      September 2011

      Die somervakansie is verby en die skole en universiteite weer in volle gang. Aan die einde van sy klasse staan en wag Marc voor die Hebreeuse Universiteit op Mount Scopus vir ’n bus toe sy selfoon lui. Hy herken nie die nommer op die skermpie nie en ook nie die stem wat aan die ander kant sê: “Shalom, shalom, Marc, dis Gadi.”

      ’n Oomblik het hy ook geen idee wie Gadi kan wees nie. “Shalom …” sê hy onseker.

      “Gadi Levin van Parys.”

      Marc se gedagtes jaag langer as twaalf jaar terug. “Hemel …” is al wat hy kan uitkry.

      “Ja,” lag die een aan die ander kant, “jou verlede het jou ingehaal.”

      “Waar op aarde is jy?”

      “In Café Rimon.”

      “Nooit! Wat maak jy in Jerusalem? Hoe’t jy geweet ek’s hier?”

      “Lang storie. Waar’s jy? Kan jy hier kom koffie drink?”

      “Ek’s nog hier by die universiteit, wou nou net ’n bus haal stad toe.”

      “Kom jy vir koffie?”

      Marc aarsel ’n oomblik. Hy sal met Hadassah moet reël om by die kinders te bly totdat Rivkah tuiskom.

      “Kom jy?” vra die ander half ongeduldig.

      “Ken. Ek reël net gou. Sien jou oor ’n halfuur.”

      “Beseder.”

      Tien minute later is hy op die bus. Hy dink oor Gadi en die drie jaar dat hy in Parys se Le Marais-distrik ’n kamer in Gadi se ruim woonstel gehuur het. Toe hy ná sy matriekjaar ’n beurs kry om aan die Sor­bonne te gaan studeer, het Simon, die kunstenaar by wie hy is sy laaste skooljaar privaat kunslesse geneem het, vir hom huisvesting gekry by ’n kennis uit sy eie studentedae in Parys. Dit was Gadi.

      Marc grinnik effens toe hy daaraan dink dat hy in daardie dae nie die vaagste benul gehad het van wat Jood-wees werklik beteken nie. Die klein bietjie wat hy daarmee in aanraking gekom het, was met Baruch, die Israeli wat saam met Simon ekstra kunslesse op Stellenbosch aangebied het vir studente met uitsonderlike talent. Hy was een van hulle. Baruch was ’n beeldhouer uit Israel wat ’n paar jaar lank in Suid-Afrika gewerk het. Tussen