terroris gelikwideer is. Wanneer my twee seuns van basiese opleiding of van die een of ander oorlog of vyandelikheid terugkom en hulle hierdie stories vertel, bewe my Joodse hart ook. En ek sien dit in hul oë ook.”
Marc sug. “Ek weet nie hoekom dit my hierdie keer so verskriklik ontstel het nie.”
“Dit is omdat jy is wat jy is, Marc. Ná Libanon en Cast Lead loop jou beker eenvoudig oor. En jy is ook baie moeg. Vannag se slaap was nie genoeg nie. Ek dink jy moet weer jou bed opsoek.”
Meteens is Marc na aan trane sodat hy vinnig wegkyk. “Ek dink so,” mompel hy.
Shmu’el, wat dadelik die emosie in sy stem hoor, kom staan teen sy bene op. Marc neem die hondjie op sy skoot en druk die wolbondeltjie teen hom vas.
Dov het opgestaan. Hy tik Marc op die een skouer. “Chaver sheli, jy moet meer by jou skilderkwas uitkom. HaShem het jou ’n ongelooflike talent gegee wat jy verwaarloos.”
“Ag, ek voel meestal daar is soveel ellende en nood rondom ons dat ek my nie kan veroorloof om ure by ’n esel deur te bring nie.”
Dov gaan weer sit. “Dis net waar jy die fout maak! HaShem het jou nie hierdie talent gegee om dit vir jouself te hou nie. Jy moet dit uitdeel. Jy moet intieme tonele hier in Israel vaslê en dit uitdeel. Nie die stereotiepes van ultra-Ortodokse by die muur of soldate agter gewere nie, maar eg menslike tonele. En nie net van Jode nie. Dit moet uitgaan vir die wêreld om te sien wie ons is.”
“Dink jy so?”
“Ek dink bepaald so! Gaan slaap nou net eers, want jy is te moeg om helder te dink. Jy lyk soos doodgaan. Maar sodra jy uitgeslaap is, dínk aan wat ek gesê het.”
Toe Marc die paar keer dat sy bel nie die foon antwoord nie, skakel Rivkah Moshe en Dov benoud om te hoor of hulle hom dalk gesien het. Dov verseker haar dat hy slaap en dat sy selfoon se luitoon waarskynlik nog af is. Sy moet haar nie bekommer nie en liewer self iets vir aandete bring. Dit doen sy ook.
Nou, halfnege, staan sy by die bed. Hy slaap nog. Shmu’el lê styf agter sy rug ingekruip en het haar nie eens kom verwelkom nie.
Sy gaan sit by Marc en die beweging laat hom sy oë oopmaak. Dis duidelik dat hy ’n oomblik nie weet waar hy is nie. Totdat hy op haar fokus.
“Ek het huis toe gekom,” mompel hy.
Sy stoot die hare uit sy gesig en soen hom. “Is dit die man wat vir ons sou aandete maak?”
“Ek gaan nog,” sê hy. “Is jy nie vroeg nie?”
Sy lag. “Dis halfnege.”
“Nooit!”
“Beslis. En ek het aandete gebring. Dov het gesê jy slaap.”
“Dov?” Toe onthou hy. “Hemel, ek het vyf uur lank geslaap.”
“En dis nie genoeg nie. Vannag kan jy nog agt bysit. Ek skraap gou iets bymekaar om te eet. Stort jy solank.”
In die kombuis vind sy die bos rose wat hy gebring en net so in die sellofaanomhulsel op die wasbak laat lê het. Hulle het sleg verlep en sy probeer hulle so goed moontlik met yswater lawe.
Sy gaan kamer toe om vir hom dankie te sê. Hy het pas opgestaan en staan ietwat wankelrig langs die bed. “Ek het genoeg geslaap om liefde te maak,” sê hy.
Sy grinnik. “En ek was lank genoeg sonder kos om eers te eet.”
Hy glimlag en vir die eerste keer lyk hy weer soos die Marc wat sy ken. “Wie weet of ek so lank kan wag?”
Hulle hou mekaar lank vas voordat sy haar sag loswikkel om die ete te gaan maak.
Die volgende middag bring Chaim en Hadassah die seuntjies huis toe en daar is ’n emosiebelaaide hereniging. Marc moet sy aandag verdeel tussen Yhoshi, wat met ’n deurdringende stemmetjie verduidelik wat sy rekenaar alles kan doen en wat hý al alles gedoen het, en Natan, met sy kladboekie en kryt, wat sy pa se hulp nodig het om ’n kat te teken wat in ’n sonkol lê en slaap.
Toe almal in ’n mate tot bedaring kom, sê Chaim: “Ek sien jy het darem oorleef.”
“Net-net. Ek het al vreeslik geslaap vandat ek terug is. Voel nou weer mens.”
“Jy’t maer geword,” sê sy skoonma.
“Rivkah werk daaraan.”
“Môreaand kom ’n ou vriendin van my uit die IDF-dae by ons kuier. Ek wil graag haar storie hoor, want dis sy wat met Arutz Sheva oor die aanhoudende missielaanvalle gesels het. Sy kuier hier by familie in die Ou Stad.”
“Ek het van die onderhoud gehoor,” sê Chaim.
Van watter moshav is sy nou weer?”
“Shuva.”
Die kinders is al in die bed toe Esti Lehman3 die volgende aand kom kuier. Ter wille van Yhoshi se nuuskierige oortjies sit en gesels hulle eers lank oor al die dinge wat gebeur het sedert hulle mekaar tien jaar gelede gesien het. Toe Marc vasstel al twee slaap en hy hul kamerdeur toetrek, vra Rivkah Esti uit oor die aand waarna sy in haar gesprek met Arutz Sheva verwys en as voorbeeld gebruik het van hul voortdurende ervaring in Shuva in die suide.
“Ag, dit was die aand so warm dat ons die vensters oopgelaat het. Ek onthou daar het ’n effense luggie getrek en ’n mens kon die krieke buite hoor. Ek is vroeg bed toe, want dit was ’n snikhete dag en die kinders was ’n hand vol.”
“Julle het drie, nè?” vra Marc, wat nie by die eerste deel van die gesprek teenwoordig was nie.
“Dis reg. Vier, twee en vyf maande. ’n Dogter en twee seuntjies. Wel, ek wou net-net wegraak toe die luidspreker buite aangaan. ‘Red Alert! Red Alert!’ Dan weet jy daar’s op die langste 15 sekondes voordat ’n mortier of ’n kassam gaan val.”
“Aaklig!”
Esti knik. “Ek sê jou, dit vang my áltyd onkant, verlam my. Maar dan gaan dit eenvoudig sonder om te dink. Ek skud my man: ‘Hardloop, kry hulle!’ Ons spring gelyktydig uit die bed en val amper oormekaar soos ons probeer om so gou moontlik aan die ander kant van die huis te kom waar die kinders slaap. Weet julle, dis dan dat ek vir ’n oomblik voel ek word deel van al die Joodse ma’s van alle tye wat ook daardie verskriklike oomblik beleef het. Wie moet ek vat? Dis sekerlik die wreedste keuse waarvoor ’n ma gestel kan word. Watter van die drie moet ek eerste neem?”
“Dit laat my dink aan die Shoah-oorlewende wat ons in Pole rondgewys en vertel het hoe sy ma daarin geslaag het om hom, net één van vyf kinders, in ’n klein wegkruipplekkie te versteek toe die Nazi’s hulle kom haal het,” vertel Marc.
“Ja, Marc, Rivkah het my netnou van jul besoek aan Pole vertel. Dit moet ’n verskriklike besluit gewees het. Wel, ek het drie – die oudste was die vorige week vier en hy is swaar om uit die bed op te tel en met hom bomskuiling toe te hardloop. Gelukkig was my man dié aand daar en kon hy hom neem. Maar toe’s daar nog die baba en ons dogtertjie.” Sy vee haar hare van haar voorkop weg en sug. “Ek het dié aand ure gesit om haar aan die slaap te kry. Ure van stories en liedjies. Sy het net ’n uur tevore aan die slaap geraak – en ek het geweet ek gaan sukkel om haar weer aan die slaap te kry. Wel, ek tel haar toe maar met my een hand op en sukkel die baba tegelykertyd met die ander hand uit sy bedjie. Al klouende aan die twee hardloop ek toe lomp soos ’n pakesel na die kamer wat ons in ’n bomskuiling omskep het. Gewoonlik hoor ’n mens teen daardie tyd reeds die ontploffing iewers op die agtergrond. Maar dié aand het ek dit nog nie gehoor nie en ek het gebid dat dit net in die verte sal bly en nie op die huis val nie.”
Sy is skoon uitasem. Sy lag en drink haar glas tee. Die ander twee