die plek van kollegas met skoolgaande kinders wat verlof geneem het.
Eers is eerste minister Binyamin Netanyahu – alombekend as Bibi – aan die woord. Hy lig die nasie in dat diegene wat verantwoordelik was vir die skokkende terreuraanvalle “nie meer leef nie”. Nege Israeli’s het omgekom en dosyne is gewond in die aanvalle deur terroriste wat die Egiptiese Sinai oorgesteek en Israel op die mees suidelike punt ingesypel het. Minstens ses terroriste van die PRC (Populêre weerstandkomitees) is gedood. Onder andere die groep se leier, Kamal Nirab. Hy kondig ook aan dat vliegtuie van die Israelse lugmag op daardie oomblik besig is om PRC-installasies in die suide van Gasa aan te val.
Soos altyd in die demokratiese Joodse staat het elkeen ’n vry sê waarvan onverwyld gebruik gemaak word. Barak, stafhoof lt.genl. Benny Gantz en die hoof van Militêre Intelligensie word verkwalik dat hulle gefaal het om die suide te beskerm. Dit ten spyte van die feit dat hulle geweet het die Egiptiese weermag staan op die punt om ’n volskaalse teenterreuroperasie in Sinai te begin. Dié drie loop kwaai deur omdat daar gereken word hulle moes besef het Palestynse en al-Qaeda-terreurorganisasies sal dié optrede uitbuit. Dat dit Israel kan blootstel aan terreuraanvalle. Die voorbereiding vir so ’n goed beplande reeks aanvalle kon tog nie onopgemerk geskied het nie. Hoe het die aanvallers daarin geslaag om met een van die hoofroetes na Eilat te beweeg sonder om die agterdog van die Israelse weermag of die grenspolisie te wek? Het die minister en die stafhoof geslaap of het hulle nie omgegee nie?
Die emosies loop hoog. Nege mense is immers dood en dosyne ander gewond in veelvuldige terreuraanvalle waarin twee busse, twee privaat voertuie en ’n IDF-patrollie aan die Israeli-Egiptiese grens aangeval is. Hoe kon so iets onverhoeds gebeur in ’n land wat veronderstel is om uiters veiligheidbewus te wees? Waar was die intelligensie?
Laataand verskyn bedroefde familielede en vriende van die twee egpare wat op pad na Eilat in hul motor gesterf het op Ynet. “Ek moes hulpeloos toekyk hoe my broer sterf,” sê ’n getraumatiseerde Danny Gez. Net 50 m het Danny en sy broer Moshe van mekaar geskei toe terroriste Moshe, sy vrou en nog ’n egpaar, twee vriende van hulle, doodgeskiet het. Hy kon niks doen om sy broer en die ander mense in sy motor te help nie.
“Wat gebeur het, is omdat die polisie en die leër misluk het,” sê Danny.
Algaande ontvou die verhaal van twee susters, Flora Gez en Shula Karlinsky, en hul mans, Moshe Gez en Dov Karlinsky, wat vir ’n kort somervakansie op pad Eilat toe was toe hulle aangeval en vermoor is deur die terroristesel wat die gebied geterroriseer het. Die vier vriende het besluit om met Roete 12, pleks van die gewilder HaArava-hoofweg, na Eilat te reis. ’n Paar kilometer noord van die suidelike vakansieoord waar Roete 12 die naaste aan die Egiptiese grens loop, is hulle in ’n missiellokval gelei en afgemaai.
“Die motor is getref en ek het toe die terroriste na die bestuurder se kant sien kom, Dov se kant. Hulle het hom eerste geskiet en toe die ander drie. Dit het voor my oë gebeur, maar ek kon niks doen nie. Hulle het hulle van naby geskiet om seker te maak hulle is dood as hulle dalk die missiel oorleef het.”
Danny Gez het self nouliks aan die dood ontkom. Toe hy sien wat met sy broer en die ander gebeur, het hy sy motor onmiddellik in trurat gegooi en agteruitgejaag totdat hy kon draai. Die terroriste het op die motor geskiet. Die voorkant van die motor sowel as twee bande is raakgeskiet, maar hy het eenvoudig aanhou ry. “Ek het vir die mense in my motor geskree: ‘Hulle skiet op ons, lê plat!’” Dis ’n wonderwerk dat hulle ontkom het.
Familie en vriende van die Gez- en die Karlinsky-egpaar vertel van twee susters wat baie lief was vir mekaar, albei onderwysers, hoog aangeskrewe by hul kollegas, ouers en jong leerders.
“Hulle was toegewyde onderwysers. Dis ’n verskriklike verlies,” vertel een van Flora se kollegas aan Ynet. Albei egpare het in Kfar Saba gewoon, waar hulle die Sondag begrawe is.
Dié vier se motor was die tweede wat dié dag in ’n lokval gelei is. Ynet gesels ook met ’n familielid van Esther en Yosef Levy. Kort voor die Gez-en-Karlinsky-moord is hulle ook aangeval. Die Levy’s was op pad terug van Eilat na Holon met die Mitzpe Ramon-hoofweg. Hulle is voorgekeer deur ’n man in kamoefleerdrag wat onmiddellik op hulle begin vuur het. Yosef het probeer wegjaag, maar die motor het gegly en omgeslaan. Hulle is albei ernstig gewond en hy is daar dood.
“Dis ’n absolute wonder dat sy oorleef het,” vertel haar niggie. “In die hospitaal het sy ons vertel sy het 90 minute lank gemaak asof sy dood is. Sy sê sy het die terroris gesien en gebid dat hy nie moet kom seker maak dat sy wel dood is nie. Toe sy eindelik seker is daar is niemand meer nie, kon sy ons op haar selfoon bel en vertel wat gebeur het.”
Rivkah skakel oor na ’n ander sender, maar daar is weinig anders as nog beeldmateriaal oor die gruwels van die afgelope dag. Kort daarna piep haar selfoon. Dis Marc, wat haar ’n goeie nagrus toewens en verseker dat hy veilig is. Sy het egter ’n spesmaas dat hy allesbehalwe op ’n veilige plek is, anders sou hy gebel het.
Toe sy in die eensame bed klim, oorval die trane haar. Sy sien weer die bloubleek gesiggie van die kindjie wat verdrink het, hoor die ma se wanhopige krete. Chavah, wat Adonai Elohei agter haar fluister, Danny Gez se vertrekte mond wat prewel: “Ek kon niks doen nie …” Haar seuntjie wat môre ses word in hierdie verskriklike land. En Marc, waar is Marc? Toe hy vanmiddag met haar gepraat het, was dit so haastig en op die agtergrond kon sy geweervuur hoor. En vanaand het hy net ’n SMS gestuur. Kennelik wil hy nie hê sy moet vra waar hy is nie. Sy trek die duvet, wat nog na hom ruik, teen haar gesig op en huil hartstogtelik.
Die volgende oggend toe Rivkah gereedmaak om die bus Bat Yam toe te haal, is daar ’n onderhoud met Esther Levy uit haar hospitaalbed. Sy herleef die ontsettende anderhalf uur ná die aanval. “Die radio was nog aan nadat die motor gerol het. Ek kon oor die eenuur-nuus hoor van die ander aanvalle. Ek het net aanhou bid dat die terroris moet ophou skiet op ons. Oor die radio kon ek ook die skietgevegte tussen die terroriste en ons soldate hoor. Ek het nie geroer nie. Ek was so bang hy begin weer op ons skiet. Alles was onder bloed. Ek kon Yosef flouweg hoor roggel en toe het hy stil geword. Ek kon sy hemp sien, dit was met bloed deurweek.”
Rivkah skakel die TV vinnig af. Daar’s ’n koue sekerheid in haar dat Marc op die een of ander manier by die vergeldingsoperasie betrokke is. Vanoggend het hy ook nog nie gebel om Yhoshi se verjaardag met haar te deel nie. Dis nie hoe hy is nie. Maar sy weet van beter as om hom te skakel. Sy pak die eenvoudige skootrekenaartjie wat hulle vir Yhoshi gekoop het in haar tas en haas haar deur die nog geslote Arabiese shuk om by die Jaffapoort die ligspoortrein na die terminus te haal en daarvandaan die bus na Bat Yam. Buite is dit vroegoggend al warm, wat nóg ’n snikhete dag beteken. Mense skarrel in die strate om alles vir die Shabbat gereed te kry voordat die winkels sluit.
In die bus is die radio soos gewoonlik aan. Sy hoor Israel sit die vergeldingsaksie voort met ’n lugaanval op Hamas-teikens in Gasa. Volgens Palestynse bronne is daar indirekte skade en burgerlike slagoffers.
Hamas het reageer deur langafstand-Grad-missiele op Israel se suidelike stede af te vuur. Een hiervan het op die terrein van ’n yeshiva in Asdod geval. Tien studente is beseer, twee ernstig. Nog missiele het in die buitewyke van Askelon en Berseba geval, maar daar was tot dusver geen berigte van skade of ongevalle nie.
Sy hoor ook dat die PA (Palestynse gesagsowerheid) Israel vir die vyandelikhede verantwoordelik hou, ten spyte daarvan dat die toenemende geweld begin het met ’n Palestynse terreuraanval op Israeli-burgers. Saeb Erekat, die Palestyne se hoofonderhandelaar, beskuldig Israel daarvan dat die Eilat-terreuraanval as ’n “voorwendsel” gebruik word om wat hy noem “oorlogsmisdade” teen Gasa te pleeg. “Erekat,” sê die weermag se woordvoerder sinies, “beskou nie die Eilat-aanvalle – wat onskuldige, ongewapende burgerlikes geteiken het, baie van hulle op pad na ’n somervakansie – as oorlogsmisdade nie.”
Verskeie moedelose versugtinge gaan in die bus op by die aanhoor van dié nuus, maar niemand lewer kommentaar nie.
Yhoshi