Yossi skielik weer by die deur ingeloop.”
Die programleier vertel toe Yossi die lugalarms hoor afgaan, het hy dadelik in sy motor geklim om huis toe te ry sodat hy by sy swanger vrou en getraumatiseerde kinders kon wees.
Wat vir Lilach ’n dag van groot vreugde moes wees – die geboorte van haar derde kind en eerste seun – word nou ’n dag van hewige ontsteltenis.
Maar nie net Lilach het dié dag tragedie en pyn ervaar nie.
Verder noord in Kfar Saba, een van die dorpe in die middel van Israel, woon duisende mense die gesamentlike begrafnis van Moshe en Flora Gez en Dov en Shula Karlinsky by.
Beelde verskyn van die Gez- en die Karlinsky-kinders, wat sukkel om te midde van oorweldigende emosie hul ouers te huldig.
Twee dae voor die einde van Augustus bel Marc onverwags om te sê hy kom nog dieselfde aand huis toe. “Dit kan baie laat word, Rivkah.”
“Marc, is jy oukei?” Sy stem klink so vreemd.
“Ek kom vanaand.”
Dit is byna middernag toe hy van die bus af bel en sê hulle is naby die Sionspoort. Rivkah, wat heelaand ongeduldig vir die oproep wag, is bly die kinders is nog nie daar nie. Sy trek vinnig ’n ligte sweetpak oor haar slaapklere aan en hardloop soos ’n kind die trappe af. Buite is die nag louwarm en aan die hemel hang ’n bleek maan. Sy hardloop al langs die eeue oue pilare van die antieke Cardo, by die bakkery en die klein supermark en die geslote Armeense winkeltjies verby en deur die Sionspoort met sy pokmerke van die Sesdaagse Oorlog. Toe die weermagbus met ’n gesuis van hidrouliese remme op die plein stilhou, is sy daar.
Dié busse doen altyd heel laaste by die Ou Stad aan wanneer hulle soldate aflaai. Net Marc en nog een soldaat is in die bus oor. Hy sukkel om sy swaar rugsak en geweer deur die smal uitgang te kry en gewaar haar in die donker eers toe sy voor hom staan. Toe laat hy die sak en die geweer kletterend op die stene val. Hulle gryp mekaar vas, onbewus van die bus wat wegry en die ander soldaat wat ook uitgeklim het. Dié hou hulle ’n oomblik stil dop voordat hy gebuk onder sy eie vrag deur die poort verdwyn.
“Jy het maer geword,” fluister sy vir hom.
Hy reageer nie daarop nie; hy hou haar net styf vas.
Toe hy haar eindelik laat gaan, skrik sy toe sy in die flou lig van die maan sien hoe versonke sy oë in sy ongeskeerde gesig is. Sy verwilderde, langerige donker hare roer effens in die soel luggie. Sy neem sy gesig tussen haar hande en soen hom. Hy ruik na sweet en doodsvermoeienis.
“Kom, ons gaan huis toe.”
Maar hy hou haar nog vas. “Ek het verskriklik na jou verlang.”
“En ek was so, só bang dat iets met jou sou gebeur.”
“Ek het só na jou verlang.”
“Kom,” sê sy weer.
Dié keer laat hy haar gaan en buk om sy sak op te tel. Maar voordat hy sy geweer kan bykom, het sy dit al opgetel en maklik oor haar skouer gehaak.
“Nee, Rivkah.”
“Dink daaraan dat ek ’n soldaat was voordat jy nog van soldaatwees geweet het,” sê sy lughartig en haak by hom in.
Saam stap hulle die ent terug. Hulle praat nie en om hulle slaap die Ou Stad.
Die helder lig in hul voorkamer bevestig hoekom sy geskrik het. Hy het heelwat gewig verloor en onder sy dowwe oë lê donker skaduwees. Instinktief slaan sy weer haar arms styf om hom en hy laat sy ken op haar hare rus.
Shmu’el, wat hom stormagtig kom verwelkom het, gaan sit onseker eenkant toe hy geen aandag kry nie. Hy kyk hulle vraend met ’n skewe kop aan.
“Ek dink jy moet net eers ’n lekker warm bad neem voordat jy iets eet.”
Hy skud sy kop. “Ek is nie honger nie.”
“Wanneer het jy laas geëet?”
“Vanoggend.”
“Ek gaan water in die bad tap. Trek daai vieslike uniform uit. Dit sal jou al laat beter voel.”
Hy gehoorsaam haar sonder meer. Toe hy sukkel om sy stewels uit te kry, help sy hom sonder dat hy beswaar maak. Ontsteld sien sy hoe vol blare en rou geskawe sy voete is. Die skraal kunstenaarshande het bloederige eelte aan die binnekant. Sy naels is vuil en gebreek. Maar nie een keer sit sy haar skok in woorde om nie. Sy werk met hom soos met een van haar seuntjies.
In die bad was sy sy maer lyf en sy smerige hare totdat die water donkerbruin van die sand is. Hy kom nie agter dat haar oë rooi van ingehoue trane is nie. Sy versorg sy voete en hande versigtig met ontsmettingsmiddel en antiseptiese salf. Die hele tyd praat hulle byna nie, maar daar is ’n verbondenheid tussen hulle wat anderkant woorde lê. Sy vra hom nie waarom hy nooit laat blyk het met watter haglike omstandighede hy te kampe gehad het nie.
Toe hy gebad en skoon slaapklere aan het, bring sy vir hom roosterbrood en sop, en hy eet dit.
Toe sê hy: “Ek wil met jou liefde maak.”
Sy glimlag teer. “Jy’s moeg, my lief. Ons het nog baie tyd daarvoor. Jy moet kom slaap.”
Hy skud sy kop. “Ek droom wanneer ek slaap.”
“Ons gaan sáám slaap, Marc.”
“Ek wil met jou praat.”
“Dis goed, maar ons kan ook praat terwyl ons in die bed is.”
Ten spyte van die warm nag, trek hy die duvet tot onder sy ken. Hy lê met sy kop teen haar skouer en sy stoot haar vingers kalmerend deur sy skoon hare. Hy ruik weer na lewe. Op die wekker voor die bed sien sy dis halftwee. Sy is dankbaar dat sy gereël het om vandag middagskof te werk van twee-uur af omdat sy verwag het Marc gaan laat kom.
“Die man wat die Levy’s aangeval het …”
Sy knik.
“Ek was deel van die afdeling wat hom gejag het.”
Sy vryf sy rug en voel hoe hy ril. “Re’uven het my vertel.”
Hy bly so lank stil dat sy wonder of hy nie aan die slaap geraak het nie. Sy kan nie sy gesig sien nie, want hy lê met sy gesig teen haar skouer.
“Marc …?” vra sy sag.
“Ons het hom vasgekeer,” sê hy toe. “Ek het sy oë gesien. Hulle was net soos myne. Verskriklik bang. Maar hulle het hom geskiet.”
“Hy was tog seker gewapen. As hulle nie geskiet het nie, sou hy.” Sy praat steeds baie sag. “Daar was geen ander uitweg nie, was daar?”
Hy draai op sy rug en kyk na haar. “Hy het ook gedink wat hy doen is reg.”
“Kan dit reg wees om ongewapende burgerlikes in ’n lokval te lei en te skiet?”
“Miskien is dit hoe hy oorlog sien.”
“Kan dit wees dat hy dit verkeerd sien?”
Daar kom ’n sweem van ’n glimlag om sy mond. “Jy praat met my soos ek met Yhoshi praat.”
Sy buk oor en soen hom. “Jy is terug, chamud, dis al wat op die oomblik vir my saak maak.”
Hy raak aan haar gesig. “Wanneer ek slaap, kom daardie oë altyd weer na my terug. Altyd.”
“Jy kon nie te veel geslaap het nie. Wanneer ek na jou kyk, lyk dit my jy het nooit geslaap nie,” probeer sy sy aandag speels aflei.
Hy maak sy oë toe en sy voel hom weer ril. “By Tze’elim het hulle dié van ons wat in 2006 in Libanon was, uitgesoek om die Gasagrens te patrolleer.”
Sy sê niks, maar bly sy rug vryf.
“Dit was asof ek terug was in Libanon. In Magrebeh … Daardie spookdorp wat gelyk het of niemand