Shlomit, wat die vakansiewoonstel langsaan vir die vakansie huur, se tweetjies en nog ’n maatjie wat ook daar met vakansie is, kom later die dag oor vir die geleentheid. Re’uven is egter gister onmiddellik nadat hy van die aanvalle in kennis gestel is, inderhaas terug Jerusalem toe en van daar na die Negev.
Yhoshi is buite homself oor die rekenaar. Dit duur nie lank nie voordat hy presies weet hoe dit werk en hy alles aan Natan en die nefie en niggie vernaam verduidelik.
Toe die kinders se aandag afgetrek is, sê Rivkah: “Ek het ’n baie sterk gevoel dat Marc-hulle ook by die vergeldingsoperasie betrokke is.”
“Het jy met hom gepraat?” vra haar pa.
Sy sug. “Abba, hy het my gistermiddag vlugtig gebel en net gesê hy is nie by die operasie betrokke nie en gisteraand ’n SMS gestuur om te sê hy’s veilig. Maar ek wéét dis nie so nie. Vandag het ek nog nie ’n woord van hom gehoor nie.”
“Wees maar rustig,” sê Chaim, “ons kan tog niks daaraan doen nie.”
Rivkah merk hoe moeg die rabbi daar uitsien. Sy weet dit het daarmee te make dat van sy gemeentelede waarskynlik agtergekom het wat sy standpunt oor die Messias van Israel is. Sy weet ook watter nadraai dit vir hom kan hê.
Ná afloop van die jolige kinderpartytjie word die laaste voorbereidings vir die Shabbat getref en begin dit rustig raak in die woonstel en in die meeste ander huise in die omgewing. Shlomit het van Re’uven uit die Negev gehoor dat Marc wel betrokke is by die soektog na nog vermeende terroriste en landmyne. Rivkah moenie verwag om vandag van hom te hoor nie. Hy kan nie bel van waar hy is nie. Re’uven self sal waarskynlik nie voor Saterdagaand ná Havdalah weer in Bat Yam terug wees nie. Alles is onder beheer; hulle moenie onnodig bekommerd wees nie.
’n Halfuur voordat die Shabbat-kerse aangesteek word, word selfone, radio’s en TV’s afgeskakel. Dit is die dag van die Ewige, alle ander sake word vir eers opsy geskuif. Die vrede van die Shabbat en al die vertroude gebruike wat daarmee gepaard gaan, bring ook vir Rivkah rus en die wete dat waar Marc ook al is, die Almagtige by hom is. Sy voel die trane in haar oë brand toe Chaim die Shabbat-seën oor die kinders uitspreek. Eers oor die drie seuntjies. Dat hulle sal wees soos Efraim en Menasse. En dan die een dogtertjie, dié van Re’uven en Shlomit. Dat sy sal wees soos Sarah, Rivkah, Leah en Rachel. Haar gedagtes is by die kinders van die vermoorde egpare en die ma van die kindjie wat verdrink het.
Net voordat hulle die volgende aand met Havdalah begin, kry Rivkah ’n SMS van Marc. Hy sal nie die volgende paar dae kan bel nie, maar hy is veilig. Baie liefde en goeie wense vir Yhoshi. Dit ontstel Rivkah opnuut, want sy weet nou vir seker hy is nie by Tze’elim, die militêre basis in die Negev nie, maar is met iets anders besig. Waarmee? En daar is nog drie weke oor voordat hy kan huis toe kom.
“Hoekom gebruik julle reserviste in die operasie?” vra sy kwaad vir Re’uven, wat kort daarna tuis kom, asof hy daarvoor verantwoordelik is.
“Omdat hulle op daardie oomblik in die Negev was. In Tze’elim,” is al wat hy kortaf sê. Hy lyk vaal en moeg ná die baie ure sonder slaap.
“Slicha,” maak sy verskoning. “Ek het van die begin af geweet hy’s iewers betrokke.”
Re’uven glimlag flou. “Was ook nie vir my nodig om te ontplof nie. Maar dit was nie maklik om te sien watter gruwels in so ’n kort tydjie aangerig is nie. Op die eerste bus was daar soldate met hul vroue en kinders. Die Gez’e het drie kinders gehad en die Karlinski’s twee. Almal is nou wees. Nogtans kon dit nie vir Marc maklik gewees het nie; hy was betrokke by die … likwidasie van party van die terroriste wat hulle opgespoor het.”
Rivkah byt op haar tande. Niemand weet beter as sy watter uitwerking so iets op Marc het nie.
“Wat is likwidasie?” vra Yhoshi. Hulle het half vergeet dat die kinders hulle hoor.
“Dis … dit beteken dat hulle doodgemaak is, Yhoshi,” sê sy oom.
“Het Abba hulle doodgemaak?”
“Nee, Abba het dit nie gedoen nie, maar dit was vir hom moeilik om by te wees toe dit gebeur het.”
“Maar dit was mos terroriste.”
Sy grootvader trek hom nader, sit sy arm om hom. “Yhoshi, terroriste is ook mense. Mense wat ’n verkeerde pad geloop het, maar nogtans mense wat die Almagtige van Israel, baruch Hu, geskape het. Hy leer ons om respek te hê vir alles wat lewe. Al word ons soms gedwing om ander se lewe te neem, mag dit nooit iets wees wat ons bly maak nie.”
“Maar, Saba, as hulle mý abba en imma doodgemaak het, sou ek bly gewees het hulle is doodgeskiet.”
Chaim druk hom teen hom vas. “Ek dink HaShem sou jou verstaan het, Yhoshi.”
“Daar is darem ’n bietjie goeie nuus ook, Rivki. Ek het verstaan die reserviste wat by die vergeldingsoperasie betrokke was, kom vroeër huis toe. Hulle het gepraat van einde Augustus.”
“Jy speel!”
“Nee, regtig.
“Yoffi!” Sy klap haar hande opgewonde.
“Máár, jy moet ook weet hulle blý voortaan nog op grenspatrollie. Lang, vermoeiende ure.”
“Wel, toe hy netnou SMS dat hy die volgende paar dae nie sal kan bel nie, het ek geweet hy’s nie by die basis nie.”
“Ons kom ook die 31ste terug,” reken Hadassah haastig tussenin uit. “Dit sal wonderlik vir die kinders wees as hy dan huis toe kom.”
Rivkah knik. “Beslis.”
“Rivkah …” Die toon in haar broer se stem laat haar vinnig na hom kyk.
“Wat?”
“Miskien is dit goed dat jy weet Marc-hulle patrolleer die Gasagrens. Dit is hoekom hy nie kan bel nie.”
Sy knyp haar oë ’n paar oomblikke styf toe. “O, ek was bang daarvoor.”
“Dit is so,” sê haar broer somber.
Hadassah en Shlomit bring vir Re’uven sy aandete, wat hy hongerig verslind. Toe die kinders weer rondom Yhoshi se wonderlike rekenaartjie vergader, vertel hy hulle ’n Grad-missiel uit Gasa het ’n huis in Ofakim getref net voor hy teruggekom het. Die huis het aan die brand geslaan. Skrapnel het ’n baba van vier maande, ’n negejarige seuntjie en ’n man van iets in die twintig ernstig beseer. In elk geval is missiele die ganse Shabbat op Askelon, Asdod en Berseba afgevuur, meer as 45 die afgelope 48 uur. Drie mense is ernstig gewond en ’n hele aantal is met ligte beserings en skok in die Soroka-universiteit se mediese sentrum in Berseba opgeneem. Die IAF (Israelse lugmag) het Vrydagaand verskeie lugaanvalle op die Gasastrook gedoen in reaksie op Donderdag se terreuraanvalle. Minstens een Palestyn is dood. Die spanning styg aan die Gasa- en die Egiptiese grens.
Sy selfoon lui en hy gaan buitentoe om dit te antwoord. Almal binne wag in angstige stilte. Toe hy terugkom, skud hy sy kop vermoeid. “Nog ’n Grad-missiel het ’n motoris op die hoofweg net buite Berseba getref. Noodlottig. Pa van twee met ’n hoogswanger vrou.”
“Elohei Yisra’el Avinu,” prewel Chaim.
Sondagaand is Rivkah weer by die huis in Jerusalem. Op TV is daar nog meer droewige verhale, onder meer skreiende tonele van die begrafnis van Yossi Shushan, wat op die hoofweg na Berseba die slagoffer geword het van die spervuur van honderd Palestynse missiele wat die naweek oor die suide van Israel neergereën het.
Bleek van skok en snikkend is Lilach Shushan langs haar geliefde man se graf te sien. Sy is nege maande swanger en lê op ’n draagbaar uit vrees dat sy sal begin kraam.
Later voer die Israelse dagblad Yedioth Ahronoth, ’n onderhoud met haar, wat ook gebeeldsend word.
“Sy gesin was alles vir hom. Hy was ’n fantastiese pa wat altyd sy kinders se belange voor sy eie gestel het. Hy kon nie wag vir die geboorte van hierdie eerste