hy by Gadi gebly het, het hy nog nie geweet hý is ook ’n Jood nie. Aan die ander kant het Gadi niks wat Joods is onderhou nie. Net maar half spottend na sy Joodsheid verwys. Hy was toe in die veertig, bogemiddeld artistiek, en ’n onderwyser by een van die skole in die omgewing. Jagter van faam was Gadi – vroue by uitsondering, maar hoofsaaklik mans. Al het Gadi Marc nooit gekompromitteer nie, het dit met verloop van tyd tog tot Marc deurgeskemer dat Gadi se vriende nie net vriende was nie. Marc het hom nie veel daaraan gesteur nie. Sy studies en Parys het elke oomblik van sy menswees in beslag geneem. Van kuns kon Gadi Marc met sy unieke begaafdheid niks leer nie. Hy het wel baie kontakte in die kunswêreld en kon Marc, jonk en naïef soos hy was, aan mense voorstel wat sy talent in nuwe rigtings laat ontwikkel het.
Toe Marc in 1999 aan die einde van die akademiese jaar terug Suid-Afrika toe is, het hy en Gadi aanvanklik nog met mekaar in kontak gebly, maar dit was van korte duur. In 2001 het Marc agtergekom albei sy ouers is van direkte Joodse afkoms en dat hy self dus Joods is. Die soektog na sy wortels het hom Israel toe gebring, na sy familie wat hy nooit eens geweet het bestaan nie. Na Rivkah, en uiteindelik vaste verblyf en Israeli-burgerskap. Onder die druk van die afgelope tien jaar het die gedagte aan Gadi en sy jare in Parys nooit werklik deel van sy gedagtewêreld uitgemaak nie. En nou skielik, ewe skielik, bel Gadi hom uit Jerusalem!
Café Rimon is somervol en hy sien Gadi nie dadelik raak nie. Dis inderdaad hy wat Marc herken, sy hand opsteek waar hy by ’n tafeltjie sit.
“Marc!” roep hy hard bo die geroesemoes in die restaurant.
Marc kyk in die rigting van die uitroep en sien Gadi sit. Behalwe dat sy donker hare stylvol grys geword het, het hy nie veel verander nie. Hy is steeds die skraal, lang, donker, aantreklike man. Die enigste verskil is dat Marc nou duidelik kan sien dat hy ’n Jood is – iets wat nie voorheen so opvallend was nie.
Gadi omhels hom met tipies Joodse gulheid, versterk deur sy Fransheid. Marc gaan sit en Gadi bestel ewe gul koffie en croissants.
“Vertel my hoe jy op my afgekom het.”
“’n Mens hoef nie op jou af te kom nie, Jerusalem weet van jou.”
“Kom nou, Gadi, jy weet dis nie waar nie. Hoe het jy geweet waar om my in die hande te kry?”
“Nu, die afgelope winter met die geweldige sneeu, loop ek op ’n dag hierdie allermooiste jong man in die Rue des Rosiers op die lyf …”
“Nu,” spot Marc hom, “dis niks nuuts nie.”
“Sekerlik nie, maar hierdie een. Beeldskoon!”
“Hy sou my nie geken het nie.”
“Jy dink so! Wel, hy het. Hy was een van jou studente.”
“O! Wie?”
“David Goldblatt.”
“O, ja, David.” Hy grinnik. “Ja, bepaald ’n aansienlike man. Maar hoe kom julle dan toe by my uit?”
“Soos ek gesê het, dit het vreeslik gesneeu en ek sien hierdie pragtige man wat die gladde straat probeer oorsteek in ’n swart jas en stewels met ’n toegewikkelde skildery onder die arm en ’n tas vol geskenke in die hand. Nu, iemand moes hom tog help …”
“Jy kon uiteraard nie anders nie.”
“En ek sien hy’s bepaald Joods, nes ek.”
“O, ja?”
Gadi bloos effens. “Wel, dit het soms sy voordele.”
“En jy vat die verkluimde jonge heer reguit Sacha Finkelsztajn toe.”
“Hoe sou jy dit nou weet?”
“Ek het darem nog nie vergeet dis die plek met die beste Joodse koek in Le Marais nie.”
“Metsuyan!”
“En so leer julle mekaar so goed ken dat jy nou vir hom in Jerusalem kom kuier. Hom Parys toe kom haal miskien? Al is jy dertig jaar ouer as hy.”
Gadi grinnik. “Daar het jy nou die kat aan die stert beet. Die jong man het op trou gestaan en spesiaal in Le Marais vir sy verloofde as trougeskenk ’n afdruk van Picasso se Two Brothers kom koop. Ek het hom in vrede laat trou. Sommige dinge moet ’n mens laat verbygaan, jy weet. Maar alle nonsies op ’n end nou. Ons het daar in Finkelsztajn gesels en hy’t my vertel waar hy kuns studeer het. En by wie.”
“O.”
“Ja, o! Hy kon nie uitgepraat raak oor die ongelooflike talent van dié jong lektor nie. Was hy verbaas om te hoor ek ken hom goed.”
Marc kyk verleë af na sy croissant.
“Ek het nooit geweet jy is ’n Jood nie, Marc. Nog minder dat jy nou in Israel is.”
“Ek het dit self ook nie voor 2001 geweet nie, Gadi. En ons het eintlik kontak met mekaar verloor,” verdedig Marc hom flou.
“Nu, hy het my ook vertel jy kon eers later jou afkoms vasstel, is met ’n Israeli getroud en woon nou hier. By die troue gister het hy selfs jou selfoonnommer vir my gegee wat hy by ’n kollega van jou afgebedel het.”
Marc keer homself om nie weer “o!” te sê nie.
“Máár, Marc, hy het my daardie eerste dag in Finkelsztajn ook iets vertel wat my … sal ek sê, verontrus het. Dit het my laat besluit om die uitnodiging na die troue te aanvaar en te kom kyk wat van jou geword het.”
Marc kyk vinnig op. “Wat was dit?”
“Dat hierdie talentvolle lektor van hom sy kuns verwaarloos. Nooit ’n uitstalling hou nie, byna nie meer skilder nie, ’n soort Chassid geword het.”
“Dis nie waar nie.”
“Wat is nie waar nie?”
“Dat ek ’n soort Chassid geword het.”
“Nou sê dan maar ’n behoudende Jood. Behoudend. Weerhou dié lewenstyl jou dan daarvan om jou kuns te beoefen soos jy behoort?”
Marc wil hom ’n sarkastiese antwoord gee, maar hy sien Gadi bedoel dit ernstig. Dat hy werklik oor sy welsyn bekommerd is. “Nee,” sê hy, “dat ek … gelowig is, beteken nie ek kan nie skilder nie. My gesin en my werk by die universiteit maak dat ek nie meer soveel tyd vir myself het nie. En ag, die voortdurende bedreiging hier ontneem ’n mens ook jou kreatiwiteit.”
“Dit klink nie na die beste verskonings wat ek al gehoor het nie. Baie groot kunstenaars het ’n vrou en kinders gehad. En wat die bedreigings betref, ek dag dan ’n Jood spog hoe benouder dit rondom jou word, hoe meer jy bedreig word, hoe meer kom jou talente na vore.”
“Hoe’s dit dat jy nou skielik onthou jy’s ’n Jood, Gadi? Ek was nie vroeër van sulke sentimente bewus nie?”
“Kyk, die meeste Judaïese tradisies en affêres is vir my sinloos, selfs belaglik. Jul storie met die Palestyne klink vir my allesbehalwe kosjer. Maar my bloed is Joods. Ek het jare lank daarby probeer verbyleef, maar dis nie heeltemal moontlik nie.”
“Wanneer die ouderdom ’n mens inhaal, begin dié dinge jou hart raak, Gadi.”
“Die ouderdom het my nie ingehaal nie. En wat weet jý in elk geval van die ouderdom? Buitendien, ons praat nou oor jóú, Marc, nie oor my nie. Moet nou nie weer probeer wegskram nie.”
“Slicha. Nee, maar ernstig, jy het miskien gelyk. ’n Goeie vriend van my het my die anderdag eintlik ook daaroor aangespreek. Oor die feit dat ek my kuns verwaarloos.”
“Van wat ek sien en hoor van mense wat jou ken, neem jy jou Jood-wees, veral jou Israeli-wees, so ernstig op dat dit al jou tyd in beslag neem.”
“Dink jy nie dis verstaanbaar as jy in gedagte hou hoe nuut albei vir my is nie?”
“Ná twaalf jaar kan dit nie meer so nuut wees nie. Het dit nie miskien tyd geword dat jy ’n bietjie minder aandag dááraan gee en meer aan jou kuns nie?”
“Ek