Helen de Kock

Sewende somer


Скачать книгу

tion>

      

      Helene de Kock

      Sewende somer

      Human & Rousseau

      1

      Vir die tweede maal in haar lewe laat ’n brief vir Esther Kolbe skrik dat dit vir haar voel haar liggaam sak onder haar weg. Die eerste keer was dit toe sy nog Esther Marais was, en pas klaar met die skool. Toe het ’n paar tref-en-trap-woorde op ’n stukkie blou papier haar laat dubbel vou van die seer. Blou is tog bedoel vir sagte, stemmingsvolle woorde; nie vir ’n bitter afskeidsgroet nie, het sy toe in haar ellende gedink.

      Sy skud haar kop driftig, voel hoedat haar kake klem soos sy verbete aan iets anders probeer dink. Jare lank al skool sy haarself daarin om sodra dié blou brief in haar gedagtes kom, aan iets anders te dink. Byna soos wat ’n mens ’n televisiestel van kanaal laat verander. Maar vandag is dit moeilik, want hierdie brief laat haar gemoed skommel tussen gister en vandag, al het die twee briewe en die skrywers nie juis iets gemeen nie.

      Esther staan op uit die leunstoel en leun met haar elmboë op die balkonreling, kyk afwesig hoe Loekie saam met die ander kinders onder in die betonbinnehof van die woonstelblok speel. Sy rooiblonde hare wip soos hy spring en sy plesierige gille weerklink in die kaal, vaal vierkant met die verweerde skoppelmaaie. En dit bring haar malende gedagtes dadelik weer terug na vandag se brief. Sy maak haar oë toe sodat die woorde ’n helder prentjie voor haar geestesoog teken. Loekie wat vry en uitbundig op die malse groen grasperk aan die noordekant van die sierlike sandsteenhuis speel … Loekie wat vanuit ’n mik in die stewige populiere die vraatsige muisvoëls in die bessiestruike met kwalik ingehoue lag dophou … En sy en tant Olga wat op die breë, blink stoep sit en tee drink terwyl die oostewind teen skemer opsteek. Die koel, syige wind van die Hoogland, wat ’n vars roering in die warmgebakte tuin bring sodat die swartoogtiptol in die appelboom opgewonde aan ’t kwetter gaan.

      En onwillekeurig reik Esther in haar rompsak na die brief wat vanoggend gekom het. Haar vingers stryk die twee dun, geurige velle stadig plat, en ’n klein fronsie vorm op haar voorkop toe sy begin lees. Maar sy glimlag tog ook effentjies. Tant Olga is nie iemand wat met woorde mors nie. Sy sê haar sê en basta.

      “… en omdat ek weet dat jy wonder oor my vlugtige besoekie van verlede week, sal ek jou inlig. Ek het kom kyk hoe dit met jou en Loekie gaan vandat Johannes dood is. Met dié dat jy uit die huis in daardie woonstel moes trek, het ek dinge aangetref soos wat ek gevrees het. Julle kan nie daar bly nie, Esther. Ek is dit aan jou oorlede mamma verskuldig om na jou en Loekie om te sien. En aan myself ook. Julle is immers al wat ek het. Susterskinders is ná aan ’n mens, veral as mens nooit jou eie gehad het nie. Om tot ’n punt te kom: ek hét toe vir my ’n huis gekoop soos wat ek beplan het. Wyle Zacharias Dijzel se huis. ’n Meer geskikte plek vir my én julle twee, kan ek my skaars indink. Soos wat jy goed weet, is die plek kolossaal. En nou, Esther, ek was lank genoeg Engels-departementshoof. Ek is moeg vir nasienwerk en moeg vir die onderwys. Dis eenvoudig te veeleisend vir iemand van my jare. Ek wil ’n boetiek oopmaak op die grondverdieping van die Dijzel-huis. Daar sal ons smaakvolle klere en handsakke en selfs skoene aanhou. ’n Vrou moet daar kan instap en in die huidige woonkamer ál haar onderklere kan koop, in die sitkamer ’n def­tige tweestuk en in die eetkamer skoene wat pas. Hoe klink dit vir jou? Goed, sou ek sê. Bedank jou pos in daardie muwwe ou kantoor waar jy jou dae omslyt. Kom terug na waar jy en Loekie elke dag skoon lug kan inasem, en waar die arme kind kan boomklim en ou Miss Pattie van langsaan se perskes steel sonder om toege­sluit te word! Dink net, in die somer sal ons uitry berge toe om ’n bietjie koelte te kry. Nes destyds toe julle jonges altyd Golden Gate toe gegaan het, onthou jy? En in die winter, Esther, sal ons vuur maak in die kaggel van daardie groot noordelike vertrek waar wyle mevrou Dijzel altyd haar onthale gehou het. Foei tog, my hart bloei nog as ek aan hulle dink. Om darem so in die fleur van ’n politieke loopbaan afgemaai te word, is verskriklik. Dit bly vreemd dat hulle nog nie die moord opgelos het nie. En ek weet jy sal dit aardig vind dat ek nou in daardie selfde huis gaan woon waar Zacharias en Denise Dijzel geskiet is, en waar jy en Zach so baie saam was. Maar kind, ons sal alles verander. Die verlede is verby en begrawe. Mense praat nie juis meer daaroor nie …”

      Nie? wonder Esther wrang. Ook net omdat hulle nie so be­trokke was nie. Selfs tant Olga het dit die afgelope jare gereeld weggepraat as sy kom kuier het. Dalk omdat sy vrees dat Esther so half stom sal raak soos destyds toe dit gebeur het.

      “Essie, my kind, práát met my en jou mamma, asseblief tog,” het sy gesmeek. “As jy ons net wil sê wat dit is wat jou so soos ’n dooie mens laat lyk.”

      Maar sy kon nie praat nie. Nie tóé nie. En nie tant Olga of haar liewe, onkapabele mamma het geweet van jong Zach se blou brief nie. Sy kon hulle ook nie daarvan sê sonder om alles, álles te ver­klap nie. Dit, en die klipsware wete van haar eie ondergang, het haar mond weke lank gesnoer. Maar oplaas kon sy nie meer swyg nie, en het sy met die een mens gaan praat wat sy geweet het op haar wag … Johannes Kolbe. Haar Afrikaansonderwyser. Maar selfs vir hom het sy niks oor die Dijzel-moord te sê gehad nie. Sy het nie veel dáárvan geweet nie. Dat dit haar platgeslaan het, was waar. Dit het haar hart fyngekerf om Zach se ontwil, en ook om­dat sy sy ouers leer liefkry het. Almal was tog diep geskok. Die dood van hul gesiene parlementslid het die dorp met al sy mense soos ’n Vrystaatse donderstorm getref. ’n Ruk lank het dit gevoel asof dit nooit weer gaan ophou blits en lawaai nie. En lank, lank daarna was almal nog verskrik. Ook sy was verslae, ja. Maar dit was nogtans nie waaroor sy haar bekommer het nie. Al waaraan sy kon dink, was Zacharias se wit, geslote gesig toe hy die brief in haar hande kom druk het. Sy mond het net ’n oomblik lank op hare gebrand voordat hy omgeswaai en met lang, ferm treë uit haar lewe geloop het. Maar toe sy uiteindelik met Johannes Kolbe gaan praat het, het ook sy geweet dat sy ’n pad inslaan wat haar onherroeplik van jong Zach Dijzel af wegneem …

      ’n Kil, roeterige trek kom tussen die geboue deur en laat haar ril waar sy staan sodat sy intuïtief terugtree. ’n Oomblik lank wonder sy of Loekie nie liewer moet inkom nie, maar sy raak weer bewus van die heerlike harlaboerla van die spelery daar onder, hoor die bons van ’n bal onder op die beton. Sy leun weer oor die reling om te kyk wat aangaan en sien hoe Loekie triomfantlik na die bal gryp en paaie deur die ander hardloop om sy drie net agter die skoppelmaaie te gaan druk. Laat hom begaan, maan sy haarself. Liewer môre verkoue as spyt dat hy nie nóg kon speel nie.

      Sy sak terug in die leunstoel en lig weer tant Olga se brief. Onwillekeurig klop haar hart hoër in haar bors. Dit voel kompleet asof sy ’n voëltjie agter haar ribbes herberg en nou wil hy uit, uit na waar dit oop en vry is … O, om terug te gaan! spring die gedagte spontaan in haar op, sodat sy vervaard ’n hand teen haar keel druk asof sy met dié gebaar kan keer dat haar hart haar verlaat. Terug na waar sy jonk was en voor haar tyd oud geword het. Terug na dié huis waar sy en Zach soms saam voor daardie kaggel in die ruim vertrek met sy antieke meubels gesit het. Esther sluk haar hart net betyds terug. Nee. Nooit nie. Dit het haar baie jare gekos om weer ’n mens te word. Iemand wat van haarself hou en wat haar hand aan die ploeg geslaan het. Want toe sy byna sewe jaar gelede met Johannes Kolbe getroud is, het sy nooit weer teruggekyk nie. Altans, korrigeer sy haarself gou, sy het nie vir elke bagatel omgekyk nie. Sy was Johannes se vrou en sy het haar só gedra. Haar gedagtes op hok gehou en haar herinneringe tot ou klasfoto’s gereduseer. Oplaas kon sy ook na haar fotoalbum kyk en sorg dat Zach mooi doodstil bly staan daar tussen Giel en Henk; want hy mag nooit weer vir haar lewe kry nie, het sy haar voorgeneem. Kyk sal sy seker altyd, maar met ’n waarskuwing aan die fotogesig. Bly waar jy is, wáár dit ook al is. Want vir my is jy net ’n afdruk op ou papier …

      Esther loer weer na tant Olga se brief. Dit lê gevou tussen haar vingers, maar dis of iets kragtigs daaruit reik na haar. En voor sy mooi weet, kyk sy om na waar dinge al effens dof geword het. Die verlange na lank gelede kom stuk-stuk in haar los om soos wrakgoed bo in haar helderste gedagtes te drywe …

      Dit was ’n kwaai winter. Die ergste in baie jare en die dorp was toe onder dik, wit kapok. Die mense het nie daardie jaar uitgery Maluti’s toe om in die sneeu te gaan speel nie; die kinders het mekaar sommer oor die heinings met sneeuballe gepeper. Sy het een middag van die skool af huis toe geloop, haar tone stokstyf verkluim in die skoolskoene en haar vingers bevrore om die tas se handvatsel. En toe, ’n skielike warm greep om haar hand voordat die tas by haar geneem word en sy opkyk in laggende