hy al weer heelwat hoër geklim het. Hy sit in die top van die boom en wys entoesiasties na die dak.
“Ek wil na doerie venster gaan kyk!” lag hy oopmond. En sy weet, sonder dat sy hoef te kyk, dat hy van die soldervenster praat. En toe sy dit oplaas regkry om iets te sê, bewe sy so, dat sy haar hande voor haar moet saamklamp.
“Kom áf daar,” sê sy stadig en afgemete, maar haar stem trek deur die tuin.
Loekie kyk onseker na haar en toe af na onder. Toe begin hy afklim sonder enige teken dat hy weet hoe hoog dit nou eintlik is. Hy ken nie vrees nie, dink Esther tam. Hy is verskriklik ondernemend van geaardheid. Kort voordat hulle uit die woonstel weg is, het sy hom betrap dat hy ’n dik tou van hul balkon na die een net langsaan gespan het met die doel om oor te klim. Miskien, dink sy wrang, moet ek bly wees dat dit net die top van ’n hoë populier is en nie die vyfde verdieping nie!
Sy wag totdat sy hom veilig op die grond gewaar en hoor hoe ou Lina, die huishulp, hom kombuis toe roep. Toe draai sy om en sak net daar op sy deurmekaar bed neer. Dis of ’n hele hoop herinneringe losgekom het en haar skoon tóésak …
Een Sondagmiddag ná ete het sy en Zach hier in die tuin gesit. Dit was warm en die grootmense het ’n bietjie gaan dut. Maar hulle twee het die son opgesoek, bly om ná daardie jaar se strawwe winter weer buite te kan kom. Sy was juis so moeg van die stram onbeweeglikheid toe haar been nog in gips was, en dit was vir hulle twee nuut om hand aan hand oor die gras te loop. Dit was pas ná die Septembereksamen en die sjampanje-somer van die Hoogland was in hul bloed.
Sy het mooi gelyk daardie dag. Tant Olga het juis die sagte turkoois rokkie vir haar present gegee en dit het haar vlamrooi hare en wit vel gekompleteer. Haar ma het ’n paar fyn wit sandale bygedra tot haar eerste besoek aan die Dijzels.
“Jy lyk baie, baie mooi,” het Zach gesê toe die populiere tussen hulle en die huis was. En toe direk: “Mag ek jou soen?”
Sy het dit lief gevind dat hy elke keer gevra het of hy mag, maar wou hom tog ’n bietjie terg. Sy het haar kop agteroor gegooi, uit die hoek van haar oog na hom geloer.
“Miskien … Maar daar is ’n voorwaarde.”
Daar was vonkies in sy bruin oë.
“En wat sou dit wees?” het hy gevra, en sy hande om haar smal middel geslaan.
“O wel, in die ou dae moes die ridders hul soene verdien! Om net te vrá, was nie genoeg nie!”
Hy het grimmig gelag, kamma gekwets na haar gekyk.
“Hm, en ek weet goed waar jy nou weer dááraan kom. Net ou Kolle kan so iets uitdink. Wat het hy nou weer nou die dag gesê? Terug na die klassieke! Meet jou aan die meesters! Of hoe?”
“Net so,” het sy geglimlag, en hy het sy hande in die lug gegooi.
“Waar moet ek ’n draak kry om te beveg?” het hy melodramaties laat hoor. “Watter kruistog moet ek nóú onderneem?”
Sy het ’n vinger gelig en bo-oor sy kop gewys na die soldervenster. Hy het omgeswaai en sy mond het oopgeval.
“Vind vir my uit wat agter daardie toe venster aangaan,” het sy beveel. “Ek wonder al daaroor vandat ek op die plek aangekom het!”
“Jy speel,” het hy geadem. “Die twee keer wat ék probeer het om daar in te klim, het my pa my velle afgetrek. Buitendien, daar’s niks, jong. Rêrig niks …”
Sy moet baie teleurgesteld gelyk het, want hy het sy hande op haar skouers gesit en mooi beduie: “Ek weet hoe graag jy wil hê daar moet iets geheimsinnigs aan daardie solderkamer wees, jong. Ek het dit ook altyd gewens. Maar net nou die dag het ons die hele huis laat uitverf en toe het my pa die luik in my kamer se plafon laat oopbreek en my gewys dat daar nie ’n enkele ding daar bo in is nie. Nie eers ’n leë karton nie. Stoorgoed lok net muise.” Hy het glimlaggend na haar toe oorgebuig. “Vergeet dit nou maar, toe …”
“Jy soek verskonings,” het sy koppig volgehou. “Wil jy my soen of wil jy nie?”
Hy het gesug, spytig gebrom dat dit nou is wat hy daarvan het omdat hy hom met ’n rooikop ophou … Maar toe skielik ’n plan gekry.
“Luister, volgens wat ek van die ridders weet, het hulle ook nie sonder ’n bietjie aansporing op hul sendings vertrek nie. Gee my iets wat my sal beskerm teen bose geeste en ongelukke, en dies meer … Hierdie hangertjie, sou ek sê!”
Hy het sonder meer die fyn silwerhangertjie wat ’n Kersgeskenk van haar ma was, afgehaal, aandagtig na die silwerhartjie daaraan gekyk en dit plegtig om sy eie nek vasgemaak.
“So ja, prinses, hou jy nou maar kywie terwyl ek klim. My pa is nie op sy beste as hy tydens sy Sondagmiddagslapie gesteur word nie.”
Sy het gelag en hom agternagekyk toe hy oor die grasperk draf om met soepele gemak teen een van die hoë populiere aan die oostekant van die huis op te klim. En sy het asem opgehou toe hy later oorklim op die dak en suutjies trap-trap tot bo-op die spits nok. Haar hart het amper gaan staan toe hy gevaarlik oorleun om kop onderstebo deur die soldervenster na binne te loer.
Net toe het sy pa by die hoofslaapkamer se venster uitgekyk en ergerlik boontoe geroep: “Zach …? Is dit jy daar bo?”
Esther het gesien hoe Zach sy kop stadig lig en gehoor hoe hy gedwee antwoord: “Ja, Pa, dis ek.”
“Maar my mag …” Hy het die woord kortgeknip toe sy oog op Esther onder in die tuin val, en sagter laat hoor: “Kom liewer af daar, jong. Netnou val jy!”
Val? Zach Dijzel wat al hoeveel maal Mount Aux Sources uitgeklim het, en kleintyd glo al Brandwagkop by Golden Gate met gemak uitgeseil het? Ag nee, meneer Dijzel, het Esther meteens geamuseerd gedink, vrees eerder dat iemand hom sal laat struikel. Want hy het kláár vir my geval!
Sy het ligweg geskrik vir die gedagte. Tog was dit waar. Sy het in haar hart geweet dat Zach aan haar behoort en dat hy nooit weer van haar sal kan afsien nie. Altans, so het sy geglo. Maar ’n onrustigheid het haar gepak terwyl sy hom dopgehou het toe hy van die dak af seil tot in die boom. Sy wou tog graag ’n goeie verhouding tussen haar en die Dijzels hê. Asseblief tog, het sy ’n skietgebedjie opgestuur, moenie dat die klimmery op die dak moeilikheid maak nie.
Maar Zach was ewe welgemoed toe hy hom by haar voeg.
“Ek het jou mos gesê,” het hy gelag. “My pa kan so goed hoor soos iemand op wie daar voortdurend jag gemaak word. Ek het mos vantevore ook daar probeer inkom.” Hy het opeens gefrons. “Dis net snaaks, die plek ruik steeds baie skerp na verf. En dis tog saam met die res van die huis ’n hele paar weke gelede geverf.”
“Miskien omdat dit toestaan?”
“Hm, dis moontlik, maar daar is tog ook ’n paar luggate. En dit ruik kompleet asof dit gister of eergister geverf is … Ag wel, daar is seker beter dinge om oor te praat, nie waar nie?”
“Soos wat?” het sy haar gemaak onskuldig gehou.
Maar hy was klaar gepraat. Hy het haar met een haal van sy arm agter ’n digte blomstruik ingetrek en haar gesoen tot haar wange brand.
“Sjoe,” het sy laat hoor, “só hoog het jy nou ook nie geklim nie!”
“Ha!” het hy gelag, “maar die gevaar was so groot! Buitendien, dié hangertjie kry jy nie weer nie. Eers eendag …”
Die “eendag” het stil tussen hulle bly hang. Eendag as hulle albei klaar gestudeer het … Eendag as hulle besluit dis tyd om te trou …
Die hangertjie het hy dan ook gehou. En dit het nie teruggekom saam met die blou brief nie. Nêrens het hy daarna verwys nie. Trouens, hy het geen blyke hoegenaamd in dié brief gegee dat hulle twee ooit ’n ernstige verhouding gehad het nie.
Wag, maan Esther haarself. Moenie begin nie. Juis hier in sy huis, in sy ou kamer, gaan dit moeiliker wees om op te hou tob. Sy staan gejaag op, bly ’n oomblik nog talm om na die vrolike rooi-wit-en-blou strepe van die muurpapier te kyk.