Gloed het terstond uit haar wange na haar vlamrooi hare gekruip. Sy was lus en gooi hom met die blomme. Maar natuurlik het sy nie. Want ten spyte van haar ontydige blosery en die legendariese kleur van haar hare, was sy koelkop Esther Marais wat met een kyk van haar blou oë menige windmaker sy bekkigheid laat kwytraak het.
“Kyk, Zach,” het sy ewe lief gesê, “dis nou genoeg. Dit was niemand se skuld dat ek geval het nie.”
“Ek het ook geval!” het hy kamma verontwaardig tussenin laat hoor, maar sy het net toegeeflik geknik en haar relaas voortgesit.
“Ja, jy kan maar sê dit was die noodlot wat ingegryp het nadat jy my tas gegryp het! Maar Zach, jy het nou heeltemal genoeg vir my gedoen. Jy … jy hoef nie blomme te koop nie.” Sy het vinnig asemgeskep en kil gesê: “En jy hoef ook nie meer te kom nie.”
Sy mondhoeke het in ’n stadige laggie geroer.
“Nou toe nou. Eers beskuldig sy my dat ek ’n werktuig van die noodlot is, en dan jaag sy my nog weg ook! Wel, dit wys darem dat jy laas mooi geluister het in ou Kolle se klas toe hy so geesdriftig was oor die nootlot en deus ex machina, en dié soort goed. Persoonlik staan literatuurstudie my nie juis aan nie. Maar dis gaaf as een van ons twee goed is daarin. Jy kan my van nou af altyd help daarmee. Sal jy?”
Sy het hom in magtelose verstomming aangestaar, maar nie kopgegee nie.
“Zach, ek is nou seker daarvan dat jy nie doof is nie. Jy hoor wel klanke en geluide. Maar lees my lippe: Jy en ek hoort nie bymekaar nie. Jy is Zach Dijzel en …”
“Dankie, Esther,” het hy haar knap in die rede geval, “maar ék het geen identiteitskrisis nie. Jy is die een wat probleme het met wie jy is. En tot jy jouself mooi uitgesorteer het, sal ek wegbly.”
Hy het opgestaan en voor haar oë uitgestap. Sy voetstappe het skaars gangaf weggeraak, of sy het in trane uitgebars. Dis natuurlik net wat hy gesoek het, die ellendeling! het sy gedink. ’n Gawe kans om los te kom uit ’n onmoontlike situasie wat hy sélf geskep het. Die pés! Sy het haar hart uitgesnik, en toe sy na die sneesdoekies in die laaitjie langs die bed tas, is ’n sagte, groot sakdoek in haar hand gestop.
“Mooi, ek is bly dat jy so gou by die kern van die saak uitgekom het! ’n Mens moet wéét wie jy is. En jy, my mooi ding, is Esther Marais, en ek is mál oor jou!”
Sy het verskrik oor die sakdoek na hom gekyk, en in sy steeds laggende oë gesien dat dit regtig waar is. Zach Dijzel was gek verlief op haar. Maar verstaan het sy dit nie, en sy het net haar kop geskud.
“Waarom het jy dan so lank geneem om my tas te gryp?” wou sy weet. “Ons is al jare saam op skool.”
“A, maar ek het begin besef ek is nie ál een wat ’n oog op jou het nie, Essie. Van die ander ouens het ook nou die dag gesê jy is sekerlik die mooiste meisie in graad twaalf. En toe ek sien dat ou Kolle ook leepoog na jou kyk. Wel …”
Sy het dit gerade geag om hom liewer nie tóé te sê dat ou Kolle, of mnr. Kolbe dan, juis die vorige dag vir haar kom kuier het nie. Nogal met ’n fraai toegedraaide botteltjie parfuum.
“Ek steur my nie aan onnies nie,” het sy wysneusig gesê.
En hy het skielik vooroor gebuk en haar vol op die mond gesoen.
“Jy moet nooit nie, hoor … Want ek weet ek gaan baie lief word vir jou.” En toe het sy geweet: hulle hoort tóg bymekaar. Al sê wie ook wat.
Dit was Zach wat haar met sy pa se Mercedes kom haal en gesorg het dat al die aantekeninge in die klas vir haar afgeneem word. Hy wat vir haar wiskunde verduidelik het en net so kloekend soos haar ma om haar bly draai het.
Nee, dink Esther nou, dáárdie sorgsame, liefdevolle Zach het nie die blou brief geskryf nie. Die blou brief is geskryf deur dié Zach wat ná die moord op sy ouers met dooie oë in ’n wit gesig geloop het. Die een wat deur die Veiligheidspolisie opgepas is omdat hulle gevrees het hy kan ook vermoor word. En tog, daar was daardie een enkele keer dat hy weer die ou Zach was … net die een keer. Juis daarom het die brief se woorde haar soos lemme gesny. Ons het aan die einde van die pad gekom, Esther, het hy geskryf. Dis beter so.
Selfs nou nog laat die woorde haar ineenkrimp by die blote herinnering aan hoe dit was om hulle vir die eerste keer te lees. Eers die volslae onbegrip. Toe die seer. En later die doodsheid wat haar kalm en bedaard na Johannes Kolbe laat gaan het.
Sy sit meteens orent.
Waarom aanvaar jy dit nie? vra sy haarself wroegend af. Waarom laat jy toe dat Zach Dijzel jou nou nog omkrap? As hy kon vergeet, kan jy ook. En wat daarvan as jy in die Dijzel-huis saam met tant Olga gaan woon? Dis waar wat sy sê. Die verlede is klaar verby. Dis tyd dat jy dit ook begrawe. Buitendien, Zach is weg. Hy is weg soos wat hy die afgelope sewe jaar wég was. Niemand weet iets van hom nie. Dis so goed asof hy in die niet verdwyn het. Die Dijzel-huis behoort nie eens meer aan hom nie. Waarom sal sy van haar tuisdorp aan die soom van die berge wegbly net omdat sy ’n skim vrees? Want dis wat Zach Dijzel geword het. Buitendien, sy sal teruggaan as Johannes Kolbe se weduwee, nie as Zach se meisie nie. Sy en Loekie sal in die eertydse Dijzel-huis woon en hy sal op die ruim erf speel waar so baie voëls vryelik woon. Sy onthou nog goed hoe voëlryk die plek was.
“Mamma!” roep Loekie skielik vanuit die kombuis, en sy besef met skrik dat dit doodstil geword het onder in die vierkant. Hy moes netnou al ingekom het, en sy was só verdiep in gister dat sy dit nie gehoor het nie.
Hy roep weer en sy gaan in, kry hom waar hy in die koekblik op die yskas grawe. Dis nog van die koekies wat tant Olga gebring het.
“Haai, Mamma!” sê hy in sy hoë, dringende stemmetjie. “Pietman is kwaad vir my!”
“Hoekom dan?” vra sy afwesig, en dink: Dit sal hom goed doen om tant Olga meer te sien. Hy soek na nog mense van sy eie vandat Johannes dood is. Dis skreiend om te sien hoedat hy die ander seuntjies se pappas dophou.
“Mamma … Ek práát met jou! Pietman is kwaad vir my, want ek het sy budjie laat wegvlieg.”
“Hoekom dan?” vra sy weer.
“Omdat hy in ’n hokkie is,” verduidelik hy. “Hy het die budjie afgebring ondertoe, en toe maak ek die deurtjie van die hokkie oop.”
En toe sy hom verslae aankyk, sê hy: “Ek hou nie van voëltjies wat in hokkies bly nie!”
“Luister,” sê sy op die ingewing. “Sal jy daarvan hou as ek en jy by tant Olga gaan woon? Sy het ’n mooi huis gekoop op die dorp waar Mamma eers gewoon het. Daar is ’n groot tuin vol voëltjies. En daar’s lekker, hoë bome …”
Sy sien hoe sy gesig eers botstil raak soos wat hy dink, en toe begin sy swartblink oë lewe kry soos altyd wanneer hy bly word.
“Oe! Kan ons môre al gaan, Mamma? Kan ons?”
“Volgende maand,” glimlag sy.
“As die somer begin?” wil hy doelgerig weet, en sy lag.
“As die somer begin, ja …”
Dis eers toe hy al in die bed is, dat sy kans kry om weer te sit en ’n slag deur die koerant te blaai. ’n Opskrif laat haar frons: “Bekende Sakeman en Vrou Tuis Vermoor.” Sy lees dit gedrewe deur. Dis Fouries van Vereeniging. Sy ken die mense nie. Weet nie eens van hulle nie. Maar onderaan die berig is ’n sinnetjie wat haar yskoud laat word. “Hierdie moord maak weer bespiegelinge rondom die Dijzel-moord wakker. Daar is ooreenkomste wat beswaarlik mis gekyk kan word. Fourie en sy vrou is ook in hul sitkamer geskiet deur iemand wat hulle klaarblyklik geken het, want daar was ook geen tekens van worsteling nie. Die motief is ook duister. Sou Fourie, nes Dijzel destyds, iets te wete gekom het wat vir sekere instansies of persone gevaar inhou …?”
Sy sug diep. Daar was al heelwat sulke berigte die afgelope jare. Dis of elke tweede moord die polisie, of die media dan, laat onthou van die onopgeloste Dijzel-moord. Dan flikker daar oral belangstelling op en mense verwys vaagweg daarna. Maar dan vergeet hulle weer …
Nee wat, dink sy, en vou