Elizabeth Wasserman

Anna Atoom en die digitale draak


Скачать книгу

vuurvliegies in die wêreld, maar hulle is almal familie van mekaar. Elke spesie flits sy liggie met ’n unieke ritme, en so ken hulle mekaar uit.

      Die liggies is natuurlik ’n manier om mekaar te vind in die donker, maar ook ’n waarskuwing vir insekvreters om liewer iets anders vir aandete te soek. Vuurvliegies smaak nie lekker nie, maar wat help dit as die aanvaller dit eers uitvind nadat hy reeds ’n hap gevat het?

      Hoekom brand ’n vuurvliegie dan nie uit nie?

      Die vuurvlieg maak sy liggie deur ’n chemiese reaksie wat spe­siale selle in sy onderlyf laat fluoresseer. Die liggolwe wat afgegee word, is van ’n spektrum wat “koue lig” genoem word omdat dit nie hitte oordra nie. “Ligvliegies” sou dalk ’n beter naam vir hulle gewees het!

slakke.jpg

      Anna stap om ’n bos oortrek met geurige maanblomme, en skielik is die ry liggies sommer hier by haar. Flits vuur­vliegies dan nie hulle liggies nie? wonder Anna. Die klein fakkeltjies wat kort voor haar neus verbyvlieg, gloei met ’n konstante neongroen lig, baie soos die skynsel wat die trappe na haar ma se laboratorium verlig. Een van die vuurvliegies vlieg so naby aan Anna se neus verby dat sy haar hand daarna uitsteek. Die vuurvliegie maak ’n netjiese landing op haar voorarm.

      Anna beskou die gediertetjie versigtig. Sy liggie gooi ’n kolletjie op haar voorarm en in die middel daarvan sit die vreemdste insek wat sy nog ooit gesien het. ’n Sekonde lank woer sy vlerkies nog en kom dan tot rus.

      Dadelik besef Anna dat dit nie ’n gewone insek is nie. Dit het wel ses pote en ’n stel stewige vlerke, maar in plaas van twee saamgestelde oë is daar ’n enkele kameralensie in die middel van sy ronde metaalkoppie.

      Dit is ’n bioniese vuurvlieg! Op daardie oomblik kom die vlerkies weer in beweging en die vuurvliegie styg op. Hy hang ’n oomblik om Anna se kop en trek dan weg in die rigting van die ander.

      “Kom terug!” roep Anna onwillekeurig. Sy strompel agter die ry liggies aan, maar dit is asof die vuurvliegies aspris vinniger vlieg om haar te ontduik. Een vir een verdwyn die liggies van die voorstes, en net betyds sien Anna hoe die laaste een by ’n skeur in die rotswand inglip. Sy druk haar gesig teen die growwe graniet. Sy kan die ry liggies duidelik sien wegsmelt in die donker grot binne die krans. Sy skyn die lig van die flits deur die gleuf: dit lyk asof dit diep in die rots af strek na die binnekant van die berg toe. Dalk is dit ’n tonnel wat na ’n grot onder hulle eiland lei?

      Die AardWag en die ondergrondse meer waar die Atoom-familie die JetKopter en die Onderwater-verkenner hou, is juis in so ’n stel grotte onder die eiland geleë. Wie sê daar is nie nog grotte nie?

      Wie weet watter interessanthede ’n mens dalk in sulke grotte sal aantref?

      Anna is nie iemand wat op haar laat wag nie. Sy moet weet waarheen hierdie vreemde vuurvliegies op pad is!

      Sy lig met die flits op en af langs die rotsgleuf. Onder by haar voete het die sagte grond ingekalwe en dit lyk asof die opening daar breër is. Sonder om twee keer te dink, hurk sy en kruip-rol deur die nou opening. Sy pas net-net daardeur.

      Anna steur haar min aan die modderstreep wat nou oor haar linkerwang lê. Die ligte katoen van haar kortbroek het ’n winkelhaak geskeur toe dit vasgehaak het aan ’n droë tak. Maar sy is deur die rotsgleuf! Die spasie rondom haar raak binne ’n tree of wat breed genoeg dat sy gemaklik kan loop. Sy kan steeds die gloed van die vuur­vliegies voor haar sien en sy volg dit haastig.

Verkenners.jpg

      Verkenners

      Anders as wat Anna gedink het, slaap nie almal op die eiland nie.

      In haar laboratorium leun professor Sabatina Atoom vorentoe om die rekenaarskerm voor haar nog beter te kan sien. Soos altyd staan haar kort silwer hare woes in alle rigtings, en haar halfmaanbril het afgesak tot op die punt van haar neus.

      “Maks, tel jy die seine van elke Vlioon op?”

      “Elke liewe enetjies, professor!” verseker die rekenaar haar. “Hulle vliegs mooi volgens hul programmerings, en ons ontvangs hul terugvoeringe duidelik.”

      “Fantasties! As ons loodsprojek werk, kan ons die bioniese vuurvliegies in elke aktiewe vulkaan ontplooi. Dit sal die vermoë van die AardWag om vulkaniese uitbars­tings te voorspel aansienlik verbeter.”

      “Ek integreers hulle beeldmateriaal nou, sodat ons kan siene wat hulle siene.”

      Die skerm voor haar neus flikker vir ’n oomblik, en dan sien Sabatina die buitelyne van rotse en blare. Die vuur­vliegies se kameras is sensitief vir infrarooi lig en vir temperatuur, en selfs in die stikdonker projekteer dit ’n duidelike beeld van die gebied waardeur hulle vlieg terug na die AardWag. Die beeld het weliswaar nie goeie kleurkontras nie en bestaan meestal uit skakerings van groen, blou en geel. Sabatina weet dat dit helderrooi sal wys waar dit uiters warm omstandighede teëkom, byvoorbeeld lawa in die hart van ’n vulkaan.

      Skielik vul iets onverwags die beeld van die skerm. Dit lyk soos ’n reuse-oog! Sabatina vroetel met die kontroles voor haar en verlaag die vergroting van die kamera op Vlioon D36. Die beeld zoem terug. Sy herken dadelik die bos stekelrige hare, baie soos haar eie, maar net don­kerder, wat bo die oog verskyn.

      Anna!

      Professor Sabatina trek haar asem skerp in.

      “Maks! Is dit my dogter? Wat maak sy daar?”

      Die rekenaar antwoord eers nie. “Dit moet ’n artefak weese!” beweer hy dan. “Anna is veronderstel om te slaape hierdie tyds van die nag, sodat sy kan groeis!”

      Haar ma pons ’n kode op die sleutelbord voor haar in. Dit plaas haar in verbinding met die Persoonlike Kommunikeerder wat Anna om haar arm dra.

      “Anna! Waar is jy?”

      “Dit helpe nie, professor, haar Kommunikeerder lê op haar bedkassie. Ek kan dit siens met my opspoorstelsel. Sy moes dit afgehaale het toe sy gaan slaaps het.”

      “Deksels! Dink jy sy is agter die Vlione aan? Dit sal gevaarlik wees! En ons is in die middel van ons toetsvlug! Kan jy die projek staak?”

      “Jammer, professor. Soos jy weete, is die Vlione op selfbestuur, en hulle vlieges volgens hulle eie programme­ring. Hulle is geprogrammeers om reguit na hul bestemming te vlieges, ons kan hulle nie stops of laat omdraaies nie.”

      “Skakel my deur na Ton se kamer!” beveel sy die rekenaar. Maks het dit reeds gedoen. Die beeld voor haar projekteer ’n slaperige Ton. Hy dra blou-en-wit gestreepte pajamas en vryf verbaas sy oë. Selfs sy kaalgeskeerde kop lyk effens gekreukel.

      “Ton, maak seker dat Anna nie iewers in die huis is nie. Indien nie, moet jy haar gaan soek. Ek dink sy is agter ons Vlione aan.”

      “Vlie-WAT?” vra Ton skaapagtig.

      “Dit is ’n lang storie!” Professor Sabatina byt haar lip senuweeagtig. “Dit is klein bioniese drone wat GROEN ontwerp het om vulkaniese aktiwiteit dop te hou. Ek en Maks is besig om hulle uit te toets!”

      “Drone?” vra Ton, steeds verbaas.

      “Ja, man! ’n Droon is ’n onbemande vliegtuig, dit weet jy tog! Hierdie outjies is egter baie klein, net so oor ’n sentimeter lank. Hulle is toegerus met miniatuur-videoka­meras en sensors sensitief vir temperatuur en vibrasies …”

      “Sowaar!” Ton is nou wawyd wakker. Hy is bitter lief vir enige elektroniese foefie, en dit is duidelik dat hy dodelik nuuskierig is oor hierdie klein bioniese drone. “Maar wat het dit met Anna te make?” vra hy dan.

      Maks projekteer dadelik die video-opname van Anna se oog en haar kuif, wat Vlioon D36 minute gelede teruggesein het. Ton snap dadelik wat aangaan.

      “Waar vlieg hulle