Elizabeth Wasserman

Anna Atoom en die digitale draak


Скачать книгу

professor se laboratorium waar die AardWag is, die klein kamertjie waar Maks se prosesseerders staan, en die ondergrondse meer waar die Onderwater-verkenner dobber. Maar dit is nie al nie: daar is ook ’n netwerk van tonnels wat vanaf die granietspits in die middel van die eiland lei. Een van die tonnels verdwyn aan die onderste rand van die kaart.

      “Waarheen lei daardie tonnel?” wil Ton weet.

      “Ons ken nie die presiese verloop van die tonnel nie, maar ons weet waar dit eindig. Ons het die samestelling van die atmosfeer in die tonnel getoets, en dit het dieselfde samestelling as … maar dit is ’n lang storie. Die netwerk tonnels onder ons eiland en die plato waarop dit lê, is juis wat MonPetit so ’n goeie plek gemaak het vir die Vlione se eerste vlug.”

      “Daar is vulkaniese aktiwiteit hier nabys,” wei Maks uit. “Die Afrika- en die Indo-Australiese tektoniese plate ontmoets nie ver van hier af nie. Onthou die Chivonne wat vasgevange was onder die gestolde lawa?”

      “Maar dit was tweehonderd jaar gelede!” roep Ton verbaas uit.

      “’n Blote oogwinks in die tyds van die heelal,” sê Maks.

      “Dit is nie nou die tyd vir aardrykskundelesse nie!” snou Sabatina. “Ons moet gaan kyk waar Anna is!”

      Ton is reeds besig om sy groot voete in sy plakkies in te druk. “Ek sal gaan, professor. Die naglug is sleg vir jou, en dalk is dit beter dat jy dinge monitor vanaf die AardWag.”

slakke.jpg

      Tektoniese plate en aardbewings

      Die aarde se kors is saamgestel uit ’n aantal reuserotsplate waarop die groot vastelande soos Afrika, Asië en die Amerikas lê. Dit word tektoniese plate genoem, en daaronder word ’n laag gesmelte rots gevind wat magma genoem word. Hierdie vuurwarm rots vorm die lawa wat soms by vulkane uitborrel.

      Daar is sewe groot plate, en natuurlik nog ’n klomp kleineres ook. Die tektoniese plate beweeg voortdurend, stadig maar seker, soos wat hulle ronddryf op die laag magma wat die kern van die aarde omhul. Aardbewings vind plaas wanneer hierdie tektoniese plate teen mekaar beur en skuur. Druk bou op, amper soos rugbyspelers in ’n skrum, en as iets iewers meegee, word energie skielik vrygestel, soms met katastrofiese gevolge.

      Die grond onder jou voete is nie so stewig as wat jy dalk mag dink nie!

slakke.jpg

      “Naglug sleg vir my?” vra professor Sabatina. Dit is nou haar beurt om skaapagtig te klink. “Daar is niks verkeerd met my vermoë om die naglug van MonPetit-eiland te hanteer nie!” Maar sy weet Ton is reg. Sy sal meer nuttig wees om die instrumente dop te hou hier vanaf haar laboratorium. Dalk kry sy Anna weer te sien op een van die Vlione se kameras. Dit is te sê as Anna nog naby die miniatuurdrone is! Dalk het sy al weer teruggekeer huis toe en is sy al terug in haar bed.

      Waar sy hoort – want môre is ’n skooldag!

      Die banneling

      Nadat doktor Uranus Draak in sy duikboot ontsnap het ná sy mislukte poging om die Magnetiese Meermin te gebruik om die aarde se as te kantel, het hy in Suid-Amerika gaan skuil.

      Alhoewel doktor Draak voorheen ’n gerespekteerde wetenskaplike was wat baie jare lank vir die Geografiese en Ruimtelike Organisasie vir Ekologiese Navorsing, alombekend as GROEN, gewerk het, was hy nog altyd stilweg besig met sy eie geheime planne. Hy het baie van sy tyd by sy familiehuis in Duitsland, Schloss Baumschmerzen, deurgebring en daar was goed toegeruste la­boratoriums in die kelders van die ou kasteel waarin hy kon werk. Maar Uranus het ook al jare lank ’n geheime laboratorium in Suid-Amerika, hoog in die Andesgebergtes van Patagonië.

      Die fasiliteit in die Andes is beskeie. Van buite af lyk dit nie of die geboutjie veel meer is as net ’n plaasskuur langs ’n kronkelende grondpad wat afloop na die vallei nie. Daar ver onder is ’n klein markdorpie waar boere op Saterdae hul produkte verkoop, en ’n meer wat op windstil dae die sneeubedekte pieke weerkaats. Hier het Uranus Draak die BioTron-ingewande van die reuse-inkvis aanmekaargesit wat Anna aangeval het toe sy op soek was na die Chivonne.

      Hoekom Uranus besluit het om juis hier ’n laboratorium te bou, is moeilik te verstane. Miskien is dit juis die afgesonderdheid van die plek wat hom aangetrek het. ’n Verdere oorweging vir sy besluit was sekerlik ook dat die mense in Suid-Amerika nie geneig is om baie vrae te vra oor die doen en late van vreemdelinge soos hy nie.

      Bowendien vermoed hy dat die Internasionale Polisiediens hom sal arresteer as hy weer sy verskyning in die Verenigde State van Amerika of ’n Europese land sou maak.

      Daar is wraak in sy hart. Hy verkwalik die kortsigtigheid van die wetenskaplike wêreld wat net nie die briljant­heid van sy planne kan insien nie! Hy het ’n renons in die Atoom-gesin wat voortdurend met sy sake inmeng. Bowenal haat hy die pes van oorbevolking, en die mensemassa wat steeds onverpoos voortgaan om die natuur te vernietig.

      ***

      ’n Seun kom in die stofpad verby met ’n troppie lamas wat hy oppas. Die son begin sak, en hy neem die diere terug van hul weiveld hoog teen die piek na die warm skuiling van die plaashuis onder in die vallei. Hy dra ’n gebreide bont wolmus met tossels, tipies van die kleredrag van die mense van hierdie omgewing. Die seun waai vir die lang man wat staan en kyk hoe sy twee werkers pakkies en kruideniersware uit die kattebak van ’n gehuurde trok laai. Die seun se ma verkoop gereeld kaas en melk aan die lang rooikopman, en omdat sy ’n gawe vrou is, het sy vir hom ’n mus gebrei baie soos die een wat haar seun dra. Sy wou hom welkom laat voel hier in die afgeleë berge.

      Uranus, wat van uitspattige kleredrag hou, het die mus onmiddellik opgesit en gereken dit pas uitstekend by sy donkergroen fluweeljas. Hy het ‘n paar rooi Cowboy-stewels aan wat hy op die klein dorpie onder in die vallei gekoop het. In die koue weer dra hy sy geliefde pienk hasiepantoffels slegs wanneer hy by sy lessenaar sit en werk.

      Brik en Frik steun onder die gewig van die pakkies.

      “Sjoe, wat het jy hierin, baas?” wil Brik weet. Hy sukkel nog om aan die dun lug hier bo in die berge gewoond te raak, en hy hyg na sy asem.

      “Hou op kla en roer julle!” snou Uranus en stap vooruit na die skuur toe.

      Dit is nie ’n weelderige woonkwartier nie. Brik en Frik slaap in die solder op twee lendelam ysterkatels met matrasse homperig gestop met hooi. Uranus slaap bykans nooit nie, want hy werk dag en nag aan sy nuwe plan. Brik en Frik beskou nie sy aktiwiteite as werk nie, want vir hulle lyk dit net asof hy op die gehawende rusbank voor die vuurherd lê terwyl hy voor hom uitstaar. Nou en dan spring hy kiertsregop en krabbel iets in ’n groot nota­boek.

      “Dink jy die baas is depressief?” wil Brik by Frik weet.

      “Wetie,” antwoord Frik stompweg. “Met hom weet mens nooit nie. Hy is half gek, as jy my vra.”

      “Maar hy betaal ons goed!” grynslag Brik, en die twee lag saam voor hulle weer begin kaart speel in die hoek.

      Doktor Draak is glad nie so lui as wat hy vir sy twee handlangers lyk nie. Sy briljante brein was nog selde so aktief. ’n Man soos hy pak nie al sy eiers in een mandjie nie. Sy plan met die oorgroeiing van alge en ook met die verskuiwing van die aarde se magnetiese as het toe nie gewerk nie. Maar deur sy lang loopbaan as wetenskaplike het hy al aan meer as een manier gedink om van die oormag van mense op aarde ontslae te raak.

      Want Uranus Draak haat die feit dat daar agt miljard Homo sapiens is wat die aarde in ’n stadige wurggreep beklem, en stelselmatig alle natuurlike ekosisteme uitwis om aan hul behoeftes van kos en brandstof te voldoen.

      “Verkeersknope!” gil hy skielik.

      Die twee wat sit en kaart speel, kyk skeef op. Het hulle baas ingedommel en