Haar gedagtes dwaal weg.
Die grot sal haar weer ’n kans gee om dit onder Darius se neus te vryf dat haar lewe hier op die eiland, verlate soos dit mag wees, baie meer opwindend en avontuurlik is as die grys klipgeboue waar hy heeljaar vasgevang is saam met tweehonderd ander seuns, en van die beste onderwysers wat daar is …
Sy dink weer aan al die stories wat Darius vir haar vertel. Maks het hulle gehelp om hulle skootrekenaars so op te stel dat hulle elke aand met mekaar kan praat. Daar is ’n drie uur tydsverskil tussen Switserland en die eilande, en Darius kan gewoonlik net ’n paar minute afknyp van die streng dissipline van sy kosskool. Nogtans kry hulle dit reg om bykans elke dag ’n kort video-gesprek met mekaar te hê.
Anna se huismense was nog te besig om op te let dat sy deesdae meer aandag aan haar voorkoms gee. Ton sou dalk iets agtergekom het as hy meer van meisie-dinge geweet het, maar alhoewel sy skerp oog ’n verandering by Anna bespeur, skryf hy dit bloot toe aan haar proses van grootword – ’n misterieuse storie vir hom!
Anna is so ingedagte dat sy haar toon teen ’n klip op die vloer van die grot stamp. “Eina!” roep sy uit. Haar stem eggo spookagtig teen die rotswande en sy ril.
Tyd om terug te gaan! Sy vind die tonnel waardeur sy gekom het en begin terugstap. Haar gedagtes begin weer dwaal en sy dink aan Pip. Hy is nou sewe jaar oud, en hy behoort saam met haar na die skool op die hoofeiland toe te gaan. Maar nee, haar ouers reken hy is te spesiaal en daarom kan hy privaat onderrig kry hier op die eiland. Daar is selfs ’n rooster vir hom opgestel: Ton leer vir hom wiskunde en meganika net na ontbyt, en daarna gaan hy na professor Sabatina se laboratorium toe vir lesse in spraak en taal. Anna het voorgestel Maks moet hulle daarmee help, maar niemand het gedink sy is snaaks nie.
Waarop Anna mees jaloers is, is die halfuur wat haar broer elke weeksoggend by die eetkamertafel sit terwyl hulle pa vir hom ’n biologieles gee vanaf sy RuimteArk. Dit is nie regverdig nie! Daar verveel sy wat Anna is haar elke dag dood in die skool op die hoofeiland, terwyl haar pampoenpit van ’n broertjie die lekkerste lesse kry op die eiland, en tussendeur saam met die dodo’s rondhardloop of visvang.
Sy is so diep ingedagte dat sy skaars agterkom hoe lank sy al loop. Dan tref dit haar: moes sy nie al lankal die einde van die tonnel bereik het nie?
Verdwaal
Ton drafstap teen die steilte op na die eiland se hoogste punt. In sy haas om na Anna te gaan soek, het hy net ’n sterk koplamp gegryp wat hy gewoonlik gebruik as die dodo’s ’n nagtelike strooptog op die groentetuin uitvoer. Hy dra nog steeds sy gestreepte pajamapak, en sy alewige plakkies. Dit is te betwyfel of Ton ander skoene besit.
Dit vat hom nie lank om die skeur in die rotswand te bereik waar Anna deurgekruip het nie, en daar kom sy reddingstog tot ’n einde.
Ton kan duidelik sien waar Anna deurgeskuur het. Hy vind rafels materiaal aan die tak wat die winkelhaak uit haar kortbroek geskeur het. Sy het sonder twyfel hier deurgekruip, maar die opening is gans te nou vir sy groot lyf.
Hy kom orent uit die gebukkende posisie waarin hy die skeur in die rots ondersoek het en kyk moedeloos om hom rond. Dit is besig om lig te word. Die silwer lig van die oggendson skuif reeds die nag opsy vanaf die oostelike horison. Hy kyk op sy horlosie: dit is net na sesuur.
Skielik bars ’n silwer streep deur die bosse en pyl reguit op die opening in die rots af. Dit is Brak! Instinktief gryp Ton na hom en vang die robothondjie aan sy stert. Die outjie spartel en skop met sy metaalbeentjies in die lug.
Brak grom. Dit klink soos ’n elektriese klitser wat deeg probeer meng wat te styf aangemaak is.
“Bedaar, kêrel!” sê Ton. Maar Brak het net een ding in sy rekenaarkoppie: hy wil by Anna uitkom. Toe sy wakkerwordprogram vanoggend aangeskakel het, op die kop sesuur soos gewoonlik, was sy eerste gewaarwording dat Anna nie in haar bed is waar sy hoort nie. Sy sensitiewe elektroniese neus het hom dadelik vertel in watter rigting sy is en hy het haar reuk gevolg.
Hy is geprogrammeer om by haar te wees, en hy sal aanhou spartel totdat hy hom kan loswoel om weer by haar uit te kom.
“Jy sal haar kan kry, nè, outjie?” besef Ton. Hy druk die wriemelende robothond ferm maar versigtig onder sy een groot arm vas, terwyl hy die Persoonlike Kommunikeerder wat hy om sy pols dra met die ander hand losgespe. Hy stel die Kommunikeerder sodat dit klank en videobeeld na Maks sal versend, en glip dit oor Brak se kop. Dan gespe hy dit stewig vas sodat die lens van die miniatuurkamera vorentoe kyk.
“’n Mooi nuwe halsband vir jou!” sê Ton en sit Brak weer netjies op sy pote neer. Soos blits glip die outjie weg en verdwyn deur die spleet in die rots. Ton hoor sy geblaf al hoe verder wegkwyn agter die rotswand.
Ton onthou die kaart van die netwerk tonnels en grotte wat Maks vir hulle op die rekenaarskerm gewys het. As Anna onnosel genoeg was om haar in hierdie tonnel te begewe, is die kans baie goed dat sy sal verdwaal.
Tyd en tydsones
Ure, minute en sekondes is hoe ons tyd meet. Horlosies is die instrumente waarmee dit gemeet word. Vir ons voorvaders was dit genoeg om tyd te meet volgens die seisoene, die fases van die maan, en dag en nag. Maar soos wat die beskawing ontwikkel het en mense besiger geraak het, was dit nodig om die tyd in fyner stukkies op te sny. “Kom ons ontmoet die dag na die nuwe maan, sodra die son hoog sit!” Die kans is goed dat julle nie al twee op presies dieselfde tyd by daardie ontmoeting gaan aankom nie. As jy baie ander dinge het om te doen, gaan dit jou irriteer.
Die ou Egiptenare was die eerste mense wat daaraan gedink het om die ure van daglig en donker elk in twaalf op te deel, en so het die 24 uur-horlosie soos wat ons dit ken, ontstaan. Elke uur is later nog fyner verdeel in 60 minute, en elke minuut in 60 sekondes.
Die presiese lengte van ure, minute en sekondes is aanvanklik volgens die beweging van ons planeet om die son bereken. Maar later het ons agtergekom dat dit nie so konstant is as wat ons eers gedink het nie, en deesdae definieer ons ’n sekonde as “die duur van 9 192 631 770 periodes van die straling wat ooreenstem met die oorgang tussen twee hiperfyn vlakke van die grondstaat van die sesium 133-atoom”.
Dit is nogal moeilik om sin daarvan te maak.
Om tyd te meet, raak nog meer ingewikkeld omdat dit nie ewe laat is op verskillende dele van die aardbol nie. Die dag breek eerste in die Ooste, en wanneer ma’s in Tokio hul kinders uit die bed boender vir die nuwe skooldag, is die outjies in New York nog besig om na die vorige aand se televisieprogramme te kyk. Om te keer dat dit chaos veroorsaak, is die wêreld opgedeel in tydsones. Al die streke wat in dieselfde tydsone val, stel hulle horlosies op dieselfde uur.
Hoe laat is dit nou in New York?
Besoek http://www.timeanddate.com/worldclock/ om uit te vind!
Anna se robothond kan selfs beter ruik as ’n gewone hond. Ton is seker Brak sal vir Anna kan opspoor, en haar hopelik ook kan help om haar pad weer terug te kry. Met die Persoonlike Kommunikeerder om Brak se nek het hulle minstens nou ’n kans om te sien wat daar diep onder die aarde gebeur, en om hopelik weer kontak met Anna te maak.
Ton sug. ’n Mens sou dink dit is maklik om kinders groot te maak op ’n afgesonderde plek soos MonPetit-eiland, sonder besige strate en rondloperboewe. Met Anna weet mens egter nooit nie: die meisiekind het ’n onfeilbare talent om gedurig in die moeilikheid te beland!
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте