dit weer. Die onsubtiele strofes skep beelde in sy kop –Yvonne Stoffberg, haar jong lyf sonder klere aan, onder hom, met sweet wat blink op die volronde borste …
Hy smyt die gedig en die koevert in die asblik en stap mompelend kamer toe. Nie nog só ’n nag nie. Hy sien nie kans nie. Hy gooi sy das op die bed neer, gaan haal die slapbandboek en loop daarmee na die sitkamer.
Hy konsentreer met moeite. Ná sewe hortende bladsye gaan haal hy die gediggie uit die asblik en lees dit weer, vies vir sy gebrek aan dissipline.
Moet hy haar bel? Net om dankie te sê.
Nee.
Haar pa kan antwoord. Hy wil niks begin nie.
Net om dankie te sê.
Hy het gedink sy lus is dood. Gister dié tyd het hy nog gedink sy lus is dood.
Die telefoon lui. Mat Joubert skrik, staan op en stap slaapkamer toe. “Joubert.”
“Radiobeheer, kaptein. Skietvoorval by die Holiday Inn in Nuweland. Oorledene is ’n blanke man.”
“Ek is op pad.”
Vyf
Die ander kollega wat nie moed opgegee het met Mat Joubert nie, is speurder-adjudant Bennie Griessel.
Want ondanks al sy sinisme drink Griessel soos ’n vis. Daarom verstaan hy Joubert se onttrekking. Hy glo iéts moet meegee in die lewe van ’n Moord-en-Roof-speurder, waar die dood jou konstante kameraad is, die oorsprong van jou brood en botter.
Griessel het die afgelope jaar of wat gesien dat Joubert net dieper en dieper in die dryfsand van depressie en selfbejammering wegsink – en nie noodwendig daar gaan uitkom nie. En vir homself gesê: Liewer dít as die bottel. Want hy wat Bennie Griessel is, ken die bottel. Dit laat jou vergeet van die skadu van die dood. Maar dit laat jou vrou en jou twee kinders op die vlug slaan, weg van die swetsende, slanende, dronk man wat hul lewe op ’n Saterdagaand hel maak. En die ander aande van die week ook, later.
Nee, Mat Joubert is beter daaraan toe.
Griessel is eerste op die toneel. Hy is ’n man van gemiddelde lengte, met ’n Slawiese gesig, ’n gebreekte neus en pikswart, langerige hare. Hy dra ’n gekreukelde blou pak klere.
Joubert wurm tussen die nuuskierige omstanders deur, buk onder die geel plastiekband waarmee die uniformmanne die toneel afgesper het en stap na Griessel, wat eenkant met ’n jong, blonde man gesels. Die uniforms het ’n kombers oor die lyk gegooi. Dit lê vormloos in die skaduwee langs ’n staalblou BMW.
“Kaptein,” groet Griessel. “Meneer Merryck hier het op die lyk afgekom en die stasie gebel. Van die hotel se ontvangs af.” Joubert ruik die drank op Griessel se asem. Hy kyk na Merryck, sien die goueraambril, die yl snorretjie. ’n Vlokkie braaksel kleef nog aan die man se ken. Die lyk kan nie ’n te mooi gesig wees nie.
“Meneer Merryck is ’n inwoner van die hotel. Hy het daar geparkeer en was op pad na die ingang toe hy die man sien lê.”
“It was quite awful. Sickening,” sê Merryck. “But one has to do one’s duty.”
Griessel klop Merryck op die skouer. “You may go now. If we need you, we know where to find you,” sê hy in aksentlose Engels. Hulle stap saam na die lyk. “Fotograaf is op pad. Ek het die patoloog, forensies en die vingerafdruk-ouens laat kom. En die meeste van die ander op bystand. Hy’s wit,” sê Griessel en trek die kombers weg.
Tussen twee starende oë sit die bloedkuil van ’n koeëlwond, gapend, spottend, in perfekte simmetrie.
“Maar kyk hier,” sê Bennie Griessel en trek die kombers verder weg. Joubert sien nog ’n wond, ’n swartrooi bloedgat in die borskas, in die middel van ’n smaakvolle pak, hemp en das.
“Jissis,” sê Mat Joubert en hy weet waarom Merryck siek geword het. “Groot kaliber.”
“Jip,” sê Griessel. “’n Kanon.”
“Voel sy sakke,” sê Joubert.
“Was nie roof nie,” sê hulle byna gelyk toe hulle die goue Rolex aan die arm sien. En albei weet dit laat die saak eindeloos verdiep.
Joubert se hand beweeg vinnig oor die lewelose oë, vee die ooglede toe. Hy sien die weerloosheid van die dooie, die manier waarop alle lyke uitgestrek lê, onmiskenbaar, sonder verweer, die hande en arms finaal weggevou om nooit weer beskerming aan die toonvenster van die lewe, die gesig, te gee nie. Hy dwing homself om sy gedagtes by sy werk te hou.
Stemme groet agter hom. Nog speurders van die bystandspan kom aan. Joubert staan op. Hulle kom kyk na die lyk. Griessel verjaag hulle toe hulle die flou lig van die straatlampe versper.
“Begin daar. Stap dié plek deur. Elke sentimeter.”
Die gewone geweeklaag gaan op, maar hulle gee gehoor, weet hoe belangrik die eerste soektog is. Griessel soek versigtig deur die oorledene se baadjiesakke. Dan staan hy op met ’n tjekboekhouer en motorsleutels in sy hand. Hy gooi die sleutels vir adjudant Basie Louw.
“Dis vir ’n BMW. Probeer dit op dié een.”
Griessel maak die grys tjekboekhouer van egte leer oop. “Ons het ’n naam,” sê hy. “J. J. Wallace. En ’n adres. Oxfordstraat 96, Constantia.”
“Die sleutel pas,” sê Louw en haal dit versigtig uit sodat hy nie vingerafdrukke op die motor laat nie.
“’n Rykgat,” sê Griessel. “Ons haal al weer die voorblad.”
Dit is jong speurder-konstabel Gerrit Snyman wat die doppie kry, half onder ’n motor wat naby staan. “Kaptein,” roep hy, nog onervare genoeg om onmiddellik opgewonde te raak. Joubert en Griessel stap nader. Snyman verlig die doppie met sy flits. Joubert tel dit op, hou dit teen die flou lig. Griessel leun sy kop ook nader, lees die syfers op die agterkant.
“Sewe komma ses drie.”
“Onmoontlik. Dis kort. Pistooldoppie.”
“Daar staan dit. Sewe komma ses … drie. Lyk dit na. Kan dalk net sleg gedruk wees.”
“Seker ses twee.”
Bennie Griessel kyk na Joubert. “Moet wees. En dit beteken net een ding.”
“Tokaref,” sug Joubert.
“Apla,” sug Bennie Griessel. “Fokken politiek.”
Joubert begin aanstap na sy diensvoertuig. “Ek gaan die kolonel radio.”
“Vir De Wit? Hy gaan tog net ’n kat op die kombers skiet,” sê Griessel en sy grynslag blink silwer in die straatlig.
Joubert het vir ’n oomblik vergeet dat Willie Theal nooit weer ’n moordtoneel sal besoek nie. Sy moed sak.
Die huis by Oxfordstraat 96 is ’n groot siersteen-enkelverdieping op ’n reuse-erf. Die tuin is gedissiplineerd welig en indrukwekkend, selfs in die halfdonker.
Die deurklokkie lui iewers diep in die huis, oorheers momenteel die klank van ’n televisieprogram. Die sekondes tik verby. Daar binne word hul tyd van sorgloosheid al hoe minder, dink Joubert. Die engele van die dood staan by die voordeur. Met nuus wat soos ’n parasiet die lewe, die vreugde, die rus uit jul lewe gaan suig.
’n Vrou maak die deur oop, geïrriteerd, ’n frons van fyn plooitjies. Lang, dik rooibruin hare hang oor haar skouer, oor die voorpant van die geel blokpatroon-voorskoot en lei eers hul aandag van haar oë af weg.
Haar stem is sag en melodieus en geïrriteerd: “Can I help you?”
“Mrs Wallace?” vra hy. Dan sien hy die oë raak. Griessel ook. ’n Onpaar, die een ligblou en helder, die ander ’n skakering van bruin iewers tussen lig en donker. Joubert probeer om nie te staar nie.
“Yes,” sê sy en weet dit is nie iemand wat iets verkoop nie. Vrees beweeg soos ’n skaduwee oor haar gelaat. Sy vee haar hande aan die voorskoot