van een van hierdie dooie sterre met ’n deursnee van 10 000 km is geweldig. ’n Vingerhoed hiervan weeg op die aarde ’n duisend ton! Wanneer die buitenste laag van so ’n ster in ’n pragtige ringnewel van hom wegdryf, is die buitekant van die ster nog baie warm – meer as 10 000 °C. Die ster krimp steeds en teen die tyd dat dit die grootte van die aarde bereik het, het die hittegraad tot 40 000 °C gestyg.
Die sterretjie, ’n witdwerg, skyn met ’n verblindende blouwit lig. Maar hy het gesterf. Hy sal aanhou afkoel, ’n proses wat feitlik vir ewig kan aanhou. Geleidelik straal witdwerge hul hitte in die koue, swart ruimte uit. Witdwerge is die algemeenste vorm van dooie sterre in die hemel.
Kyk ’n mens op in die naghemel, sien jy Sirius naby die konstellasie Orion. Dit is ’n opvallende, groot wit ster – die helderste in die hemel naas die son. Sirius word soms die Hondster genoem omdat dit die helderste ster in die konstellasie Canis Majoris (die Groot Hond) is.
Sirius het ’n dowwe maat wat net met ’n sterk teleskoop sigbaar is as ’n mens weet waar om te soek. Die donker maat (Sirius B) is ’n witdwerg. Sirius is dus eintlik ’n dubbelster met ’n gestorwe witdwerg.
Die meeste van die sterre aan die hemeltrans is dubbelsterre of veelvoudige sterre. Soms wentel hulle op ’n veilige afstand van mekaar en beïnvloed mekaar nie danig nie. As hulle egter naby mekaar wentel, het hulle ’n sterk gravitasie-invloed op mekaar.
Dít kan tot die heelal se skouspelagtigste dramas lei. Dit is egter ’n ander storie, wat in hoofstuk 6 vertel word.
Vroedvrou én lykbesorger
Gravitasie-ineenstorting word dikwels die vroedvrou én lykbesorger van die heelal genoem. Swaartekrag speel ’n dinamiese, oorheersende rol in die heelal. Dit is in swaartestortings dat sterre, sterretrosse en selfs galaksies gebore word. Dit is ook in swaartestortings waar sterre en hele sterretrosse sterf.
Die oorheersing van swaartekrag in die heelal lyk na ’n teenstrydigheid. Op die vlak van die atoom is dit baie flouer as die magtige wisselwerkende kragte binne die atoom, sowel as sy elektromagnetiese krag. Op die ontsaglike skaal van die heelal, waar die gravitasie-aantrekkingskrag van ontelbare atome saamspan, word dit egter ’n oorweldigende krag.
Die gesamentlike gravitasie van die triljoene en triljoene atome is sterk genoeg om te verwoes, en om nuwe sterre te baar: lykbesorger én vroedvrou.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.