ction>
GIDEON JOUBERT
DIE GROOT
GEDAGTE
abstrakte weefsel van die kosmos
TAFELBERG
Bokant jou draai die hemelse wiel met ’n ewige skittering, en steeds bly jou oë op die grond.
DANTÉ
Voorwoord by die tweede, hersiene uitgawe
“God het hulle (die nasies) gemaak om Hom te soek,
al sou hulle ook moet rondtas om Hom te vind.”
Handelinge 17:27
Een van die doelstellings van hierdie boek is die soeke na antwoorde op vrae waarmee elke denkende mens worstel.
Hoekom is ons hier? Hoe en waarom het die heelal tot stand gekom? Wat is die betekenis en doel van alles? Hoe het dit begin en hoe gaan dit eindig? Is daar ’n God, of is alles koue, doellose (soms denkende) atome, in ’n geweldige, rustelose heelal wat tot niks lei nie en tot niks kom nie?
Hoekom is daar hóégenaamd iets?
Wat is bewussyn?
Wat is waarheid? Wat is werklikheid?
Sonder antwoorde op hierdie vrae is ons bestaan betekenisloos.
Die mens het twee dimensies: die materiële én die geestelike. Enige ondersoek na die waarheid en die werklikheid is onvolkome as dit nie al twee hierdie dimensies omvat nie.
Die materiële dimensie word deur die natuurwetenskappe nagevors en die geestelike deur die geesteswetenskappe, waaronder religie.
Op al twee dié vlakke word na antwoorde gesoek. Met die feite wat ons moeisaam deurvors en deurdink, kry ons geleidelik gedeeltelike antwoorde. Finale antwoorde is seldsaam.
Die wetenskap en die godsdiens is die twee groot denkrigtings waardeur die mens antwoorde op sy vrae oor lewe, dood, ewigheid en die doel van alles probeer vind.
Sonder kennis van die materiële kosmos, maar beslis ook van die geestelike waarhede, bly gevolgtrekkings onvolledig, en dwaal die ellendige mens kortstondig deur sy tranedal na die dal van die doodskaduwee.
Toe die eerste uitgawe van Die groot gedagte in 1997 verskyn het, is ek heftig deur ateïste, en minder heftig deur welmenende wetenskaplikes, gekritiseer. Deur ateïste omdat my verwysing na God (wat hulle verwerp) hulle woedend gemaak het, en deur sommige, maar nie alle wetenskaplikes nie, omdat ek hoegenaamd na ’n Skepper in ’n boek verwys waarin na wetenskaplike waarhede gesoek word. God en die wetenskap word mos nie saam genoem nie!
Vir gelowiges is die materiële dimensie belangrik omdat God daarin geopenbaar word. Net so belangrik is die geestelike dimensie. Daarsonder is die mens se bestaan eendimensioneel, ’n kortstondige betekenislose verydeling.
Natuurlik is die godsdiens nie die vakgebied van die wetenskap nie, en andersom. Maar waarom kan die twee nie mekaar aanvul as antwoorde op worstelvrae gesoek word nie, waarhede wat deur die wetenskap én die godsdiens geopenbaar word?
Dr. Francis Collins, hoof van die Menslike Genoomprojek, is ’n deurwinterde wetenskaplike. Hy het deurslaggewende navorsing oor DNS en die kode van lewe gedoen. Vroeër was hy ’n verbete ateïs, maar hy het ’n gelowige geword nadat hy die menslike genoom in diepte bestudeer en ontrafel het.
In sy boek The Language of God – A Scientist Presents Evidence for Belief (2007. Londen: Pocket Books) skryf hy op bladsy drie dat as God werklik bestaan, en as sekere wetenskaplike gevolgtrekkings oor die natuurlike wêreld ook waar is, dan kan die twee nie mekaar weerspreek nie. “ ’n Volkome harmoniese sintese moet moontlik wees.”
Op bl. 6 skryf hy: “Vir my is daar geen botsing tussen om ’n nougesette wetenskaplike te wees en iemand wat in ’n God glo wat persoonlik in elkeen van ons belang stel nie.
“Die wetenskap se terrein is om die natuur te ontdek. God se terrein is die geestelike wêreld, ’n gebied wat onmoontlik is om met die gereedskap en taal van die wetenskap te ontdek. Laasgenoemde moet deur die hart ondersoek word, en die verstand en die siel – en die verstand moet ’n weg vind om al twee die gebiede te omarm.
“Ek beweer dat hierdie perspektiewe saam binne een mens kan bestaan. Dit kan dit ook op ’n wyse doen wat die menslike belewenis verryk en verlig. Die wetenskap is die enigste betroubare manier om die natuurlike wêreld te verstaan, en as sy gereedskap behoorlik gebruik word, kan dit diepgaande insigte in die materiële bestaan wek. Maar die wetenskap is magteloos om vrae te beantwoord soos: ‘Hoekom het die heelal ontstaan?’, ‘Wat is die betekenis van die mens se bestaan?’ en ‘Wat gebeur nadat ons gesterf het?’
“Een van die kragtigste motiverings vir die mensdom is om antwoorde op diepsinnige vrae te vind, en ons moet die volle krag van beide die wetenskaplike en die geestelike perspektiewe byeenbring om te verstaan wat gesien kan word en wat onsigbaar is.”
Daar is dinge wat nie met die wetenskap bewysbaar is nie, maar wat tóg waar is. In Die groot gedagte soek ek skaamteloos antwoorde by (hoofsaaklik) die wetenskap van die fisika en die kosmologie, maar ook by die religie, met my verstand én my gees.
Ek het die boek vir gelowiges geskryf wat soos ek worstel om die wetenskaplike en geestelike waarhede te versoen en te verstaan. Ek vertrou dat daar ook ongelowiges sal wees wat hierby baat sal vind. Ek het die boek ook vir myself geskryf, want ek was vol vertwyfeling en onblusbare nuuskierigheid.
Reeds in die Middeleeue het die Joodse filosoof, geneesheer en Talmoedis Moses Maimonides (1135-1204) geskryf dat die botsing tussen die wetenskap en die Bybel óf vanweë ’n gebrek aan wetenskaplike kennis, óf ’n foutiewe verstaan van die Bybel is. Daar kán net één waarheid wees.
Laat ons beskeie wees. Ons weet nog só min. En wat ons weet, is vae skimme in ’n dowwe spieël. Maar ons het geen keuse nie. Ons móét soek. Om te vind is die voleinding van ons bestaan.
Inleiding
Soek, en julle sal vind. . .
Matteus 7:7
Die kosmiese kode
Leonardo da Vinci het gesê die mens is tussen dít wat oneindig groot en oneindig klein is.
Hoe meer die angswekkende grootsheid van die makrokosmos geopenbaar word, hoe meer kom ’n mens onder die besef dat daardie grootsheid en volmaaktheid tot in die nietigste mikrodeeltjie deurloop. Die mikrokosmos is net so skrikwekkend wonderlik soos die groot heelal.
As ’n mens die kosmologie bestudeer, die wetenskap van die heelal, is jy met gróót dinge besig. Maar jy sal die wese en werking van daardie geweldige verskynsels en ontsettende kragte nooit verstaan as jy nie ook die ingewikkelde eenvoud van die atoom ken nie.
In die struktuur van die atoom en die wette wat sy bousteentjies beheer, moet die antwoorde op die heelal se tergendste vrae gesoek word. Die atoom is ’n mikroheelal, die heelal wat in ’n sandkorrel gevind word.
Net soos die geheim van die biologiese lewe by die samestelling van die sel, sy funksies, sy chemiese reaksies en stofwisseling, en uiteindelik by sy molekulêre en atoomstruktuur gesoek moet word, net so moet die mens na die atoom gaan as hy iets wil verstaan van die geboorte en die dood van die sterre, die gloeiende en vlammende hemelkolke en die groot en tydlose heelal.
Die verbysterendste wonder is dít: Met dieselfde nougesette deeglikheid waarmee die geweldige sterregalaksies en die enorme heelal gestruktureer is, met net soveel aandag vir die fynste en noukeurigste besonderheid is die atoom aanmekaargesit.
Niks is afgeskeep nie. In die Skepping is alles belangrik, watter nietige rol die onderdeel ook al speel. Hierdie reël geld ook vir lewende dinge, of dit ’n sel, ’n plant, ’n vlooi of ’n mens is. Alles is ewe volmaak.
Volgens prof. Heinz Pagels van die Rockefeller-Universiteit (hy het in 1988 in ’n bergklimongeluk op Pyramid Peak in Colorado gesterf) is die geheim van die heelal ’n boodskap wat in kode geskryf is – ’n kosmiese kode (1948. The Cosmic Code.