Gideon Joubert

Die groot gedagte


Скачать книгу

kwantumsprong is ook ’n geestesprong. Dit sal moed kos en die hoogste eise aan gees en verstand stel. God gaan Hom in majesteit en heerlikheid openbaar. Die mens sal oorstelp word deur die besef van sy nietigheid, kortstondigheid, beperktheid en die wonder dat hy aan dié openbaring blootgestel word.

      In die vreemde heelal is ons eie bestaan die gróót raaisel. Ons, ’n uiters verganklike samestelling van komplekse molekule: materie wat kan dink, materie met ’n selfbewussyn!

      Die Harvardse fisikus Steven Weinberg (1933—), wat die Nobelprys ontvang het vir sy navorsing oor die vereniging van die swak en die elektromagnetiese interaksies, het op ’n keer gesê: “Die pogings om die heelal te verstaan, is een van die min dinge wat die menslike bestaan bokant die vlak van ’n klug verhef sodat dit ’n bietjie van die grasie van ’n tragedie kry.”

      In hierdie wonderlike oomblik van bewuste bestaan het ons geen keuse nie. Ons móét soek. Ons is so gemaak. Dit is ’n goddelike opdrag. In ons soektog sal ons die werklikheid ontdek wat baie anders is as wat ons dit vir onsself voorgestel het. Ons sal vind dat die Skepping, soos sir James Jeans dit reeds in 1935 beskryf het, al meer na ’n groot gedagte begin lyk, en al minder na ’n groot masjien (1935. The Mysterious Universe. Cambridge University Press, bl. 137).

      DEEL 1

      Die makrokosmos

      1

      Die ontstaan

      Ek het alles gemaak en so

       het alles ontstaan, sê die Here.

      Jesaja 66:2

      In die begin het God die hemel en die aarde geskep

      Met hierdie woorde begin die Bybel. Só word die begin van alles beskryf. Maar wat was daar vóór die begin, vóórdat selfs die “hemelgewelf” of uitspansel daar was?

      Niks nie.

      Astrofisici is dit met die Bybel eens dat daar ’n begin was. En vóór die begin, volslae niks nie.

      Daar was nie ruimte nie. Daar was nie lig of donker, koue of warmte nie. Daar was nie eens ’n lugleegte nie, want selfs ’n vakuum is ook iets.

      Daar was nie tyd nie. Daar was hoegenaamd, volkome niks nie.

      Daar was selfs nie die afwésigheid van temperatuur, koue of donkerte nie; selfs nie die afwésigheid van tyd nie. Dit was net niks, hoe onbegryplik dit ook is.

      Teoloë noem daardie heel eerste bestaansoomblik, toe alles tot stand gekom het, die skeppingsoomblik. Astrofisici praat van die Oerknal, die breukdeel van ’n sekonde waarin alles, onverklaarbaar, uit niks ontstaan het.

      Om te vra wat vóór die Oerknal was, is net so onsinnig soos om te vra wat suid van die Suidpool is.

      In sy Confessionis (Belydenisse), waarin hy sy geestelike omswerwinge beskryf wat hom na die Kerk gelei het, het sint Aurelius Augustinus (354-430 n.C.) gesê dit is verkeerd om te vra wat daar was voordat God die heelal geskep het, want God, wat buite die heelal staan, het tyd saam met die heelal geskep.

      Die Britse sterrekundige sir Bernard Lovell (1913-2012) het dit só gestel: “Hier val ons in ons eie denke vas. Ons worstel met begrippe van tyd en ruimte voordat dit . . . bestaan het. Ek voel of ek skielik in ’n digte misbank beland het waarin die bekende wêreld verdwyn het.”

      Toe het God gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig

      “ . . . die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat gesien kan word nie.” – Heb. 11:3

      En toe, skielik, onverklaarbaar, uit die groot stilte, uit die groot niks, kom ’n ontságlike, gewéldige losbarsting van energie.

      Een oomblik, niks. Die volgende oomblik, alles. Die “in die begin” het begin. Tyd het begin. Die eerste breukdeel van die heel eerste sekonde van die Skepping was daar.

      Op daardie eerste triljoenste van die heel eerste oomblik het alles uit die niet, uit niks nie, gekom – alles waaruit die heelal, soos ons dit vandag ken, ontwikkel het.

      Dit was egter in ’n ander vorm. Die heelal was nét energie: lig en hitte, straling. Die ruimte was ’n ontsettende stralingsveld van hitte, die primordiale vuurbal waaruit die heelal gebore sou word.

      Einstein was die eerste wat dit ingesien en duidelik gestel het: Energie en materie is manifestasies van dieselfde verskynsel. Massa is gekonsentreerde energie, en energie kan in materie verdig word.

      Die skeppingsproses duur voort. Die omsetting van energie in materie en van materie in energie vind sonder ophou plaas, maar dit is nie dieselfde as daardie aanvanklike loslating van energie nie. Die prosesse wat vandag aan die gang is, is die omsetting van die energie wat by die Skepping ontstaan het in materie, en andersom.

      Met die Oerknal is energie sonder ophou in materie verdig, en materie is sonder ophou in ’n siedende kookpot van bedrywigheid in energie omskep.

      In die ruimte verskyn kort-kort onbeskryflike vrystellings van energie wat ons in die vorm van uitstralings kan waarneem. Dit gebeur as materie in energie omskep word wanneer ontploffings met sóveel geweld in die hemelruim losbars, dat dit meer energie vrystel en helderder skyn as al die miljoene sterre in ons ganse Melkweg saam.

      Nuwe sterre word elke dag gebore. Dit is materie in die vorm van gasse, wat só geweldig saamgepers en verhit word dat dit kernreaksies ontketen wat energie vrystel.

      ’n Ster is ’n kookpot waarin die stryd woed tussen energie-wees en materie-wees. Ná baie miljoene jare bly dikwels net ’n koue, “uitgebrande” kluit oor – ’n stuk materie in die vorm van yster, silikon en soms koolstof en ander elemente.

      Ons eie son en aarde het so ontstaan, uit siedende energie, baie miljoene eeue ná die Skepping.

      Vandag nog bestaan die ganse, groot heelal uit nét twee dinge: energie en materie. Materie is net gestruktureerde energie.

      Die skeppingsoomblik, daardie geweldige loslating van energie, was anders. Fisici noem dit die Oerknal.

      Hier het alles begin, hieruit het alles ontstaan. Wetenskaplikes het bereken dat alles in die grote heelal uit ’n plekkie gekom het wat duisende miljoene kere kleiner was as ’n enkele proton, een van die submikroskopiese deeltjies van ’n atoomkern. Baie fisici glo dit was net ’n denkbeeldige puntjie. ’n Enkelheid – ’n niksheid.

      In hierdie matematiese puntjie was álles saamgepers: al die biljoene galaksies met hul biljoene en biljoene sterre, planete, mane, newels, komete, stofslierte en meteoriete. Alle ruimte, alle tyd. Nie in die vorm van materie nie, net energie.

      En op ’n gegewe oomblik, die Oeroomblik toe álles begin het, het dit met onbeskryflike geweld ontplof. Losgebars. Uitgeskiet.

      Waarom? Hoe? Waarvandaan? Daar is teorieë wat oortuigend klink, maar wat nog groter vrae laat ontstaan. Net dít is seker: Die Oerknal was ’n ontsettende, ongelooflike ontploffing, só geweldig dat dit vandag nog voortduur. Die heelal bars steeds in alle rigtings uiteen.

      In sy boek Companion to the Cosmos (1997. Londen: Weidenfeld & Nicolson) skryf John Gribbin in die inleiding: “Die sleutelontdekking van die totale kosmologie is dat die Heelal wat ons om ons sien, aan die ontwikkel (evolving) is – dit is nou anders as wat dit voorheen was, en dit het beslis op ’n bepaalde oomblik ’n oorsprong gehad.”

      Dit sou verkeerd wees om die heelal voor te stel as ’n groot ballon of ’n borrel wat uitswel. So gesien, dink ’n mens aan ’n heelal met grense, iets met ’n buitekant en ’n binnekant.

      Hier kom ons voor nog ’n onbegryplikheid te staan. Daar ís en wás geen buitekant nie, net ’n binnekant. Om van ’n buitekant te praat, is betekenisloos. Dit is onbeskryfbaar. Dit is net so niks soos vóór die Oerknal.

      Die galaksies “ontplof” nie in ruimte soos die skerwe van ’n bom nie. Dit is ruimte self wat uitdy en die galaksies, en alles in die heelal, saamdra.

      Vandag nog is die binnekant so te sê ’n vakuum met hier en daar ’n stofnewel of ’n galaksie, of groepe