van die leptone en die hadrone.
In die Skepping word niks afgeskeep nie. Alles is ewe belangrik en volmaak, of dit ’n galaksie of net ’n haartjie op ’n mier se kop is.
In geweld ontvang en gebore
Die heelal is deur geweld gevorm en word deur die ewewig van botsende kragte in stand gehou. Sterre is die slagvelde van botsende magte. In die hart van elke ster is kernreaksies besig om ontsettende hoeveelhede energie vry te stel. Elektromagnetiese druk en hitte wil die ster laat oopbars. Hulle worstel teen die kragte van gravitasie, wat hulle teenstaan en onder beheer hou.
Die hele kosmos is ’n kookpot van woeling en botsing. Alles wat bestaan, ook die rustigheid van die stil aarde, is die uitvloeisel van geweld – die omsetting van energie in materie, die omtowering van ligte in swaar elemente wat tot stand gekom het in die vuurpoele van duiselingwekkende ontploffings en vernietigende kragte wat in sommige sterre woed.
Soms lyk dit of dinge handuit geruk het, of ’n ontsaglike ongeluk gebeur het. Uit elke katastrofiese ramp volg ’n nuwe geboorte en ’n nuwe ordelikheid. Die Wet wat oor alles heers, is magtiger as die grootste kosmiese Armageddon.
Die wonder is dat opponerende magte die een die ander nie onderkry nie. As dít sou gebeur, sal die heelal stil en leweloos word en alle skeppende aksies sal tot stilstand kom.
In al hierdie geweld en chaos is ’n merkwaardige ingeboude stabiliteit. Te midde van die woeste maling wat deur ontsaglike uitbarstings veroorsaak word, word nuwe elemente geskep, en word rus gebore. Onopsigtelike kragte hou die geweld in toom.
Die swaarder elemente waarvan die aarde en die mens gemaak is, het duisende miljoene jare gelede ontstaan in die ontploffende hitte en straling van supernovas wat kortstondig die ganse sigbare heelal verlig het.
Dít is die eerste groot wet van die heelal: Sonder geweld en oënskynlike chaos kan geen orde, lewe en intelligensie in die Skepping tot stand kom nie. Die Skepping self is deur ’n oerontploffing se onbeteuelde geweld ingelui.
Die geweld duur voort. In die stil sterrespirale wat so stadig met hul miljoene diamantjies in die hemel draai, gee die magte van geweld geboorte aan nuwe materie en sterre.
Maar te midde van die geweld is volmaaktheid. Of jy na ’n blink sterrespiraal kyk wat met honderde miljoene sterre in sy onsigbare web van swaartekrag swewend in die rondte tol, of na die nietige bousel van ’n waterstofatoom, elkeen is ewe klaar en volmaak. Alles is in ewewig. Die besonderhede is ongelooflik en foutloos.
Alles woelt hier om verandering
Die koorsagtige woelinge en veranderings wat so kenmerkend van die Groot Heelal is, is net so kenmerkend van die subatomiese wêreld. Materie is in wese dinamies. Subatomiese deeltjies is deel van dinamiese patrone wat nie in afsondering bestaan nie. Dit is ’n netwerk van interaksies – energiestrome wat deur die uitruiling van deeltjies voortgeplant word. Soos die patrone sonder einde binne breukdele van sekondes verander, word deeltjies sonder ophou vernietig en geskep, tot in alle ewigheid.
Die wisselwerking van deeltjiepatrone is die bousel van ons materiële wêreld. Dit is op sigself nie staties nie, maar rusteloos skommelend in ritmiese beweging.
Die oorweldigende kenmerk van die heelal, van sy kleinste deeltjies tot sy magtigste bousels, is roering en verandering. Die wese van die werklikheid is ’n siddering van veranderende energie.
Die toevallige heelal
Baie boeke is geskryf oor die verrassende “ongelukke” – oënskynlik toevallige numeriese waardes, verwante patrone en strukturele onwaarskynlikhede wat elk op sy skaal presies so moet gefunksioneer het, of die heelal én lewe sou nooit tot stand kon gekom het nie. Dit is asof ’n Groot Gedagte dit presies so bewerk het.
So veel faktore moet op die regte tydstip presiese waardes binne eng parameters gehad het sedert die eerste oomblikke van die Skepping dat die kanse een uit duisende miljoene is dat dit toevallig so kon gebeur het. Die Skepping is ’n “put-up job”, het Albert Einstein by geleentheid uitgeroep.
Dít alles in ag genome, begin die betekenis van die stelling in die Boek tot die mens deurdring dat elke haar op sy kop getel is. Die mens begin wonder wáárom dit so beskik is dat hy in sy harspan selle gekry het wat hom hierdie dinge laat begin verstaan en vertolk. ’n Stukkie van die heelal wat na homself kyk en oor homself wonder?
’n Dowwe spieël
Die kosmologie is die brandpunt van alle basiese dissiplines. Hier kom alle kennis en wetenskappe bymekaar. Hier vind die fisikus, die wiskundige, die sterrekundige, selfs die teoloog, die filosoof en die digter mekaar.
Maar hulle kyk in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld. Wáárom is dit daar? Wáároor gaan dit? Wát is jou eie rol in die groot bousels wat so volkome nutteloos en ’n vermorsing van kragte sou gewees het as daar nie ’n mens was om dit te sien, uit te pluis en te bewonder nie?
Die sterretjie weet nie hy blink nie. Dit is net die waarnemer wat dit betekenis gee.
Die vreemde heelal
Dit is moeilik om die heelal te begryp. Die mens wat die wese van die werklikheid wil verstaan, sal nie net die kosmos, die oneindig grote, moet verken nie, maar ook dít wat oneindig klein is – die atoom, en die subatomiese wêreld. Dít sal hom tot die uiterste beproef.
Ons sintuiglike waarneming, emosionele instelling en verstandelike vermoë is op die dimensie van ons eie bestaan ingestel, die wêreld tussen dít wat oneindig groot en dít wat oneindig klein is. Ons tussenwêreld lê halfpad tussen die ontsaglike galaksies en die mikrowêreld van die subatomiese kwarke.
Sodra ons buite ons bekende tussenwêreld probeer beweeg, word ons begripsvermoë oorspan. Ons kom in ’n surrealistiese, Alice in Wonderland-wêreld van relatiwiteit en kwantumfisika waar tyd verdwyn en met ruimte saamsmelt, waar massa onstabiel is, waar ruimte buig, krimp of rek, en waar deeltjies hulle gedra asof hulle meer as een baan gelyktydig volg en daarom op meer as een plek gelyktydig kan wees. Selfs die grote Einstein kon hom tot sy dood toe nie met sommige van hierdie verskynsels versoen nie.
Oor die kosmiese en subatomiese wêreld kan ons eintlik nie praat nie. Ons taal het ontwikkel om alledaagse verskynsels te beskryf wat deur ons sintuie waargeneem word. Hoe kan met so ’n taal verstaanbaar oor die wêreld van die kwasar en die kwark gepraat word?
Aan die een kant: gravitasiekolke en slingerende sterrespirale in ’n onbegryplike oneindigheid van ruimte en tyd. Aan die ander kant: die abstrakte, wiskundige aard van die kwantum, en die submikroskopiese dimensies van atoomkerne. Hierdie dinge het geen verband met menslike ervaring nie.
“Die heelal is nie net vréémder as wat ons dink nie, dit ís vreemder as wat ons ons kan indink,” het J.B.S. Haldane (1892-1964), die Britse bioloog, genetikus en filosoof, dit op sy eienaardige manier uitgedruk.
Arthur Koestler (1905-1983), die Hongaars-gebore Britse skrywer, het dit só beskryf: “Die harde, tasbare voorkoms van dinge bestaan net in ons middelgrootte wêreld waarop ons sintuie ingestel is en wat in kilogramme en meters gemeet word. Op beide die kosmiese en die subatomiese skaal word hierdie intieme, tasbare verhouding ’n illusie.” Ons sal ’n vreemde en onwerklike landskap moet betree as ons die abstrakte werklikheid van God se Skepping wil verstaan. Ons sal ’n waagmoedige sprong in die onbekende moet neem.
Fred Alan Wolf (1934—) het sy boek oor die kwantumfisika die titel Taking the Quantum Leap gegee (1981. San Francisco: Harper & Row). In die inleiding skryf hy: “Letterlik is die kwantumsprong ’n klein, maar ploffende sprong wat ’n materiedeeltjie ondergaan as dit van een plek na ’n ander beweeg. Die ‘nuwe fisika’ – kwantumfisika – dui daarop dat alle deeltjies waaruit die fisiese heelal bestaan, op hierdie manier moet beweeg, of dit moet ophou om te bestaan.
“Aangesien jy en ek van atomiese en subatomiese stof gemaak is, moet ons ook die ‘kwantumsprong’ spring. In ’n figuurlike sin beteken die neem van ’n kwantumsprong dat ’n risiko