Gideon Joubert

Die groot gedagte


Скачать книгу

is deur kernfusiereaksies omgeskakel na helium met die gepaardgaande vrystelling van energie. Energie het deur die gaskors buitentoe gebeur en in die ruimte uitgestraal.

      Die eerste sterretjie het in die duisternis geflonker!

      Toe God die dramatiese woorde gespreek het: “Laat daar lig wees,” was dit lank voordat die eerste ster begin flonker het. Dit was ook lank voordat die son op die vierde “dag” van die Skepping begin skyn het. Die ster- en sonlig was, en is, baie anders en flouer as die onbeskryflike loslating van energie (straling, lig) wat ná God se eerste Skeppingsbevel uitgebars het.

      Die Skeppingsoomblik was toe die Oerknal verblindende lig uitgestraal het – toe die ontsaglike hete energie losgelaat is waaruit álles in die heelal mettertyd met verstommende ordelikheid sou voortkom.

      God het gesê: “Laat daar lig wees.” Daar wás lig.

      Nadat die eerste sterretjie begin flonker het, het miljoene eeue verbygesleep, en nog sterre het verskyn. Diep in die hart van elke ster is waterstof in helium verander. Die massaverskil is in die vorm van energie vrygestel, energie wat lig en warmte in die groot, koue duisternis uitgestraal het.

      Daar was nou baie sterre, maar nog geen planete nie en nêrens in die heelal was daar ’n teken van lewe nie. Een na die ander het die sterre se waterstof, die brandstof vir kernkrag, opgeraak. Hulle het gekrimp. Die druk in die harte van die sterre het groter geword en breekpunt bereik.

      Soos die druk in ’n motorband toeneem as dit opgepomp word, en die toenemende druk die band laat warm word, word die binnekant van die sterre warmer soos hulle krimp en die druk toeneem.

      Eindelik word die druk só geweldig dat die sterre op hulleself instort. Die hitte neem duisendvoudig toe.

      Daar is nie meer waterstofatome vir kernreaksies nie. Dit is nou heliumatome wat in die ingewikkelde kernreaksies rondspartel. Die sterre swel op en word enorme rooireuse.

      Helium word in koolstof verander; koolstof in suurstof en magnesium; suurstof word neon; magnesium word silikon; silikon word swawel; en só borrel dit in ’n ontsaglike atomiese en chemiese hekseketel wat die hele aanskyn van die kosmos verander.

      Die groot, rooi en betreklik koel doppe van die reuse-sterre bars oop en dryf in die heelal uit. Die ruimtes tussen die sterre ontvang koolstof, suurstof, stikstof, fosfor en al die swaarder elemente.

      Af en toe ontplof ’n ster dat die buitenste stukke aan flarde geruk en in die ruimte uitgespuug word. Met geweldige kragte, ongelooflik magtig en ontsettend indrukwekkend, word brokke so groot soos vyf of vyftig sonne van die rooi sterre uitgeslinger.

      Soms blaas ’n ster soos ’n ballon af en kleiner flarde soos uitgebrande papier dryf die ruimte in. Só gee die ster aan die ruimte terug wat hy daaruit gehaal het, maar in ’n ander vorm.

      DIE TWEEDE FASE

      Die Skepping duur voort. Ook in die kosmos is die siklus van geboorte, verval, dood en geboorte die patroon. Die heelal het nooit opgehou om skeppend te wees nie.

      Oral in die heelal sterf sterre. Hul liggies verdof en gaan dood, terwyl nuwe sterre sonder ophou gebore word, tot vandag toe. Miljoene en miljoene sterre. Oor en oor word die proses herhaal, in siklusse van miljoene jare.

      Die sterre van die nuwe geslag is egter anders as dié van die eerste geslag. Dit is met swaarder elemente verryk, die elemente wat ontvang is van die gestorwe liggame van vorige sterre.

      Eeue en eeue gaan verby, miljoene eeue.

      Hier en daar in die hemelruim het ook kleiner kolkies in materie gekondenseer. Dié is te klein en te lig om hitte te ontwikkel wat kernreaksies kan aansteek. Die krummeltjies kan nooit sterre word nie. Dit is klein, koue kluitjies materie wat stadig in die gaskolk verkorrel het. Dít is die planete en mane wat om die sterre wentel.

      Tussen al die duisende miljoene sterre stel ons baie in een kleinerige, gelerige sterretjie belang, want dit is ons son. Soos stoffies in ’n draaikolk slinger ook stukkies koelerige materie om hierdie nietige sterretjie. Die korreltjies word dof deur die sterretjie verlig. Dit is klontjies yster, silikon en ander minerale: die planete van ons eie sonnestelsel.

      Party van die groot planete soos Jupiter en Saturnus is koel gasballe wat hoofsaaklik uit waterstof en helium bestaan, met ringe of satellietmane wat daarom hang. Ander planete is kleiner, digter en warmer as die gasballe.

      “God sprei die hemel uit oor die leë ruimte, Hy laat die aarde hang waar niks is nie.” – Job 26:7

      ’n Gedeelte van die gas om één van die ronde, tollende kluitjies het gekondenseer soos dit afkoel. Dit het ’n lagie vloeistof op die kors gevorm: die eerste oseane. Die planeet se ander gasse het nie gekondenseer nie, want die verdigtingstemperatuur is nie bereik nie. Dit word die eerste, primitiewe atmosfeer – ’n digte, troebel misgordyn waardeur die lig skemerig syfer.

      Só, in die ontsaglike, sidderende heelal met sy oneindige vuurwerk van sterre en hemelliggame, is ons aarde gebore. En veel later ons, die wonderwerk van die Skepping. Ons is deel van die Groot Werklikheid. Ons is egter ongelooflik, want ons is werklikheid wat kan dink.

      Die eerste aardse atmosfeer was baie anders as vandag s’n. Dit was hoofsaaklik metaan, ammoniak, swawelwaterstof, waterstof en waterdamp. Ons, en alle hoë lewensvorme, sou daarin verstik het. Daar was geen suurstof nie.

      Die aarde was woes en leeg, of soos dit in die nuwe Bybelvertaling staan, “die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters”.

      Geweldige storms het gewoed. Die donderweer het gebulder. Die modderlandskap, met hier en daar swart rotse en vulkane, is deur die elektriese flakkering van onophoudelike bliksems verlig.

      Die aarde is deur geweldige skuddings geruk. Vulkane het rooi vlamme teen die wolke uitgeblaas, witwarm lawa het sissend in die modder gestort en stoomwolke omhoog laat ontplof.

      Gasmolekule is deur die weerlig en die kokende lawa versplinter. Nuwe, ingewikkelder molekule is gevorm. Organiese molekule het ontstaan.

      Toe het God gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard

      DIE DERDE FASE

      Wat is lewe? Wat is die verskil tussen ’n paar molekule wat in ’n ingewikkelde verbinding daar lê, ’n chemiese samestelling sonder lewe, en ’n identiese molekulêre samestelling wat lééf?

      Niemand weet wat lewe is nie. Niemand weet hoe die eerste lewe ontstaan het of waarvandaan dit gekom het nie. Al wat ons weet, is dat een mooi dag, naastenby 4 550 miljoen jaar gelede, lewe op die aarde opgewek is. Om die Bybel aan te haal: “Toe het God gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard.”

      Die kort, derde fase van die Skepping het begin: die fase van lewende wesens op die aarde.

      ’n Molekuul het ontstaan wat in staat was om in ’n ewebeeld van homself te verdubbel. Die eerste splytplante, dit wil sê bakterieë en eensellige blougroen wiere, het hul verskyning gemaak.

      Dít was ’n wonderwerk so groot soos die onverklaarbare Oerknal waaruit alles uit ’n tydlose niks tot stand gekom het. ’n Wonderwerk so groot soos die hele verloop van die Skepping tot vandag toe, tot met die koms van die mens met sy soekende verstand wat al hierdie wonderlike dinge probeer verstaan.

      Lewe het in die see ontstaan. In minstens sewe-agstes van die bestaan van lewe op aarde het die lewende organismes in die see gebly.

      Omdat sommige molekule hulleself kon vermeerder, het die getalle vinnig toegeneem. Bakterieë het in die see en moerasse gewemel. Die molekule het saamgekoek om ingewikkelder molekule te vorm wat na plekke kon beweeg wat vir hulle gunstiger was.

      Die eerste primitiewe plante het verskyn. Die see en moerassige waters het ’n sop van tierende eensellige lewe geword. Geleidelik het dit die aanskyn van die aarde verander. Groen plante het suurstof vervaardig. Dit was meer as 3 000 miljoen jaar gelede.

      Die atmosfeer het meer en meer suurstof ontvang. Die proses duur voort, tot vandag toe, tot 99 persent van vandag