Duisendmiljoen jaar gelede het die klimaat matiger geword. Eensellige diere het verskyn. Diere? Dit is moeilik om te sê of die eensellige organismetjies plant- of dieragtig was. By primitiewe, eensellige wesens is dit byna onmoontlik om die streep tussen plant en dier te trek. Die eensellige wesentjies wat op daardie tydstip in die waters bestaan het, het nietemin begin om sekere dieragtige eienskappe te ontwikkel.
Alle lewe was in die onstuimige, moerassige see. Die droë grond was steeds ’n verlate maanlandskap, totaal sonder lewe.
Toe het God gesê: Laat uit die aarde groenigheid voortkom, groen plante wat saad gee
Dit is nou 400 miljoen jaar gelede. Die eerste plante verskyn op droë grond – primitiewe, varingagtige plante sonder wortels of blare.
Die kontinente het groen geword. Dit was een van die betekenisvolste gebeurtenisse in die geskiedenis van lewe op aarde. Dit het nuwe ekologieë tot stand laat kom. Dit het gehelp om die grond te ontwikkel en te stabiliseer. Dit het nuwe, groot bronne van atmosferiese suurstof geskep. In die see het yslike skerpioenagtige goggas geswem.
Toe het God gesê: Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg
Die eerste primitiewe visse het verskyn: haaie, longvisse en selakante. Die see het gewemel met ’n groot verskeidenheid van visse. “God het die groot seediere geskep en al die ander lewende wesens waarvan die waters krioel.”
Op die aarde groei die eerste boomvormige varingplante, en later woude in die vogtige moerasstreke.
Miljoene jare sleep verby. Daar kom diere wat op plante parasiteer. Die eerste gewerwelde amfibieë kruip op die strand uit. Duisendpote, myte en vlerklose insekte kruip op die land rond. Suid-Afrika is met ys bedek en Europa het ’n tropiese klimaat.
Dit is 320 miljoen jaar gelede. Reptiele en vlieënde insekte wemel op die aarde. Die ys verdwyn oor Suidelike Afrika, maar Midde-Afrika is steeds toe onder gletsers.
Groot plantvretende reptiele speel in die moerasse van die Karoo. Die lewe op aarde neem steeds toe in kompleksiteit en omvang. Tyd gaan verby. Die lewe word uiters gespesialiseerd, sodat dit by tallose mikro- en makrotoestande kan aanpas.
Soogdiere verskyn. Die wêreld is nou oortrek met broodbome en ander keëldraende plante. Afrika en Suid-Amerika skei met ’n geskud wat berge ontwortel en kranse laat neerstort. Die Atlantiese Oseaan skeur oop en loop vol water.
Dit is 180 miljoen jaar gelede. Eers krap lopende voëls in die naalde onder die denne en sipresse, en later sing vlieënde voëls in die takke. Dit is 100 miljoen jaar gelede.
Die eerste blomme verf helder spatsels tussen die bome, en die eerste eike trotseer die storms. Dit is 70 miljoen jaar gelede.
Die kontinente skei verder. Die aarde begin lyk soos ons dit ken. Bladwisselende bome word algemeen en daar is palmbome in Sentraal-Europa. Die voorvaderlike erdvark snuffel onder die bome.
Dit is 35 miljoen jaar gelede en die eerste ape swaai waarlik in die takke van woude waar Egipte vandag is. Katte maak hul naels aan boomstamme skerp. En êrens blaf ’n hond! Daar is ook ystervarke, dassies en skurwepaddas. Nêrens is ’n mens nie.
Die Alpe en die Himalaja stoot soos molshope uit die aarde op, gepaard met geweldige aardbewings. Dit word kouer. Harige olifante verskeur die bome. In die omgewing van Saldanha en Hopefield groei ruie oerwoude. Sabeltandtiere jag op oerolifante, -renosters en -buffels. Dit is 10 miljoen jaar gelede.
Eeue en eeue gaan verby. Die eerste perd wei in die gras, en jou waarlik, daar tussen die ruigtes is die eerste aapagtige mens wat regop loop. ’n Miljoen jaar later sal sy beskaafde nakomelinge hom die spesienaam Homo erectus gee.
Tiene miljoene spesies van diere het sedert die ontstaan van lewe bestaan. Die meeste het uitgesterf. Vandag is sowat tweemiljoen spesies oor.
Van die primate is daar sowat tweehonderd. Diere het gespesialiseer om hulle by omstandighede aan te pas. Primate het harsings ontwikkel wat hulle goed te pas kom. Die groep of spesie van die Orde Primate met die grootste harsings is dié van die hominide.
Toe het God gesê: Kom Ons maak die mens as Ons verteenwoordiger, Ons beeld
Dit was al laat in die Skepping toe God volgens die Bybel die mens geskape het. Wetenskaplikes stem met hierdie chronologie saam. Kragtens die Skepping was dit soos gister dat Homo sapiens, die mens van ons tyd, sy verskyning gemaak het. Dit was minder as ’n halfmiljoen jaar, waarskynlik eers ’n kwartmiljoen jaar, gelede. Volgens die ouderdom van die aarde net ’n oogknip.
Soos alle lewende en dooie dinge is ook die mens van die stof van sterre gemaak, die atome en molekule wat in die tweede fase van die Skepping in die kookpotte van sterre ontstaan het. Elkeen van ons is uit sterstof geformeer!
Een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die aarde was toe die mens met geluide begin kommunikeer het. Dit het beteken dat hy kennis kon oordra, van mens tot mens en van geslag tot geslag. Mense kon met mekaar praat. Spraak het tot ’n verdieping van denke gelei en die mens het geestelik ontwikkel.
Eers 35 000 jaar gelede het die mens voldoende ontwikkel om eenvoudige voorwerpe soos spiese en else van klip en been te maak. Presies hoe lank gelede is onseker, maar daar was ’n groot deurbraak toe die mens ontdek het dat organiese materie met suurstof verbind as dit verhit word. Hierdie chemiese proses, wat intense en langdurige hitte opwek, word vuur genoem.
Nóg ’n groot deurbraak kom 10 000 jaar gelede. Die mens vind uit hoe om ’n pyl en boog te maak. Hy word ’n jagter en ’n moordenaar. Eers 5 500 jaar gelede is hy slim genoeg om met eenvoudige beeldskriftekens boodskappe neer te krap. Dit was die begin van ’n baie groot deurbraak. Kennis kon opgeteken, bewaar en sonder spraak oorgedra word. Die eerste munte word 2 700 jaar gelede gebruik.
Die Gutenberg-pers is in 1440 ontwerp. Boeke kon op groot skaal geproduseer word. In 1609 kry die mens die eerste keer ’n helderder beeld van die planete en sterre toe Galileo die eerste teleskoop ontwerp.
Toe James Watt in 1765 die eerste stoommasjien bou, begin die nywerheidsrevolusie met al sy ellendes en deurbrake. Die eerste ysterbrug word in 1779 gebou en die eerste vliegtuig vlieg enkele treë in 1903.
Eers in 1948 maak die eerste transistor sy verskyning en in 1993 word die eerste kommunikasiesatelliet gelanseer. Binne dekades bring die ontwikkeling van die rekenaarskyfie, rekenaar- en televisieskerms, en verbindingsatelliete ’n kommunikasie- en kennisontploffing soos die wêreld nog nie van gedroom het nie.
Die elektroniese eeu het aangebreek. Dit laat mense dwarsoor die wêreld in mekaar se voorkamers verskyn. Mense op die mees afgeleë dele kan met mekaar praat en ingewikkelde inligting uitruil. Dit is byna asof elke mens met elke ander mens onmiddellik telepaties kan kommunikeer.
Homo sapiens was die eerste landspesie wat die hele wêreld in so te sê al sy klimaatstreke bevolk het. Hy het die getalrykste spesie geword – geen ander spesie kon dit nog regkry om so ’n groot persentasie van die aarde se biomassa te vorm nie.
Die mens word die planeet se heerser. Hy ontwikkel ’n selfbewussyn, ’n skuldgevoel, ’n wonderlike nuuskierigheid en ’n weetgierigheid.
Die grootste wonder van die Skepping het gebeur met die ontstaan en ontwikkeling van ingewikkelde molekulêre samestellings wat ’n verskeidenheid van gespesialiseerde organe vorm, wat saamspan om die gevorderdste selle aan die lewe te hou: die menslike brein. Selle wat kan dink, wat soek, wat wil weet wát die werklikheid is, wáárom alles is, wáárvandaan dit kom, en wáár dit gaan eindig.
Die mens: ’n Nietige gedeeltetjie van die natuur wat dit met groot erns en toewyding bestudeer, en met groot geduld en moeite die beginsels ontdek waarop die ganse heelal gegrond is.
Tweeduisend jaar gelede ontvang die mens die Boodskap van Liefde en die opdrag om te soek sodat hy kan vind. Hy verwonder hom aan die sterre waaruit hy gekom het en waarvan hy gemaak is. Hy wil die grootste ster en die kleinste atoom verstaan.
Met goddelike nuuskierigheid en eindelose vindingrykheid soek hy antwoorde op die vrae: Wát is werklikheid, en wát